Klynsmith, Igna: Wat sê die prokureur?

Wat sê die prokureurRegsake is seker van die heel onderste items op my lysie van belangstellings. Ek vermoed daar is dalk duisende soos ek wat maar net hoop hul kry nie eendag gespesialiseerde regskennis nodig nie. En wat reken die hof is ‘n plek waarvan gewone mense liewer moet wegbly.
Wat sê die prokureur? word al so lank op RSG aangebied dat baie luisteraars ten spyte van ‘n gebrek aan belangstelling al teen wil en dank ‘n stukkie regskennis hier en daar opgedoen het. Igna Klynsmith se kalm stem het al baie gedoen om die reg vir talle leke so ‘n titseltjie meer toeganklik te maak.
Die boek wat uit die een en twintig jaar se programme saamgestel is, is ‘n aanwins vir al die siele wat eintlik niks van regsake wil weet nie, maar tog diep binne-in vrekbang is mens kry dit dalk êrens nodig en dan duik jy in die hek weens jou onkunde. Hier het jy nou ‘n yslike klomp gespesialiseerde inligting tussen twee vrolike oranje buiteblaaie saamgebind – vir ingeval jy dit eendag moet lees.
Net vir die lekker is daar ‘n interessante afdeling ingevoeg met kort stories oor beroemde/berugte Suid-Afrikaanse gifmoordenaresse, ‘n paar hofsake wat die wêreld verander het (o.a. Jesus se verhoor en dié van Nelson Mandela) en ‘n paar interessante sake uit die tyd toe – ongelooflik soos dit vandag mag klink – diere wel soos mense in die hof gedaag kon word, asook ‘n paar besondere hofsake.
Afdeling B verskaf die pitkos. Vele sake word aangeraak wat wel alte dikwels regskennis van die leek vereis. Kort, saaklike en heel verstaanbare antwoorde word gegee. Ook hier is Igna se stem herkenbaar en hier en daar skyn ‘n sprankie humor in die droë regsomgewing.
Huweliksreg, grondregte en regsaspekte van aftreeoorde en tyddeel word redelik breedvoerig bespreek. Talle relevante vrae word hier beantwoord. Ander sake wat aangeraak word is plantereg, uitsettings, strafreg, vuurwapens, musiekreg, boedels en testamente.
Die keurige uitleg met duidelike opskrifte en onderafdelings werk mee om die boek vir die leek toeganklik te maak.
‘n Welkome toevoeging is die voorbeelde van ‘n lewende testament, ‘n diensooreenkoms vir huiswerkers en ‘n saamwoonooreenkoms wat in die boek ingesluit is. Soveel van ons weet hierdie dokumente is eintlik nodig, maar weet net nie waar om te begin nie.
Wat sê die prokureur? is ‘n baie welkome toevoeging tot RSG se groeiende reeks publikasies en kan ‘n gerusstellende teenwoordigheid op mens se boekrak wees.
Lesers wie se belangstelling deur die boek geprikkel is, kan gerus ook na ‘n paar potgooie uit die program gaan luister by www.rsg.co.za met die sleutelwoord regsake.
Die boek is keurig uitgegee deur Naledi en by alle goeie boekwinkels te kry.

8 gedagtes oor “Klynsmith, Igna: Wat sê die prokureur?

  1. n Kerk amptenaar het nie n dienskontrak nie,net n beroepsbrief. Daar word nie melding gemaak van n bonus in die beroepsbrief nie. Elke jaar is n bonus betaal. In 2020 agv COVID, minder werk en kerk se inkomste wat baie gedaal het, kan kerk nie bonus betaal nie. Amptenaar het volle vergoeding elke maand vir 11 maande ontvang. Gedurende die jaar is daar genoem dat daar nie bonusse betaal word nie. Moet die kerk n bonus betaal aan die amptenaar of is dit billik die redes wat hul skriftelik aangegee het.

    1. Hallo Christine, Igna het ongelukkig nie hier toegang sodat hy vrae hier kan antwoord nie. Hoop jou situasie het intussen duideliker geword. Groete!

  2. Goeie middag
    Ons het laas November Desember waterskade eis gehad… N pyp het gelek en stort deur op n stadium in bak v d stort geval, en daarna water gelek.
    Makelaar het n betrokke Kontrakteur gestuur… Ons het hom vir n kwotasie gevra om ons bad kamer so effe van n Facelift te gee… Die kwotasie was aanvaarbaar en ons het al nodige tëels ens self voorsien.
    Ons het onmiddelik besef die tëeler wat kontrskteur voorsien het kon glad engels of afrikaans praat nie en het niks geweet van tëelwerk nie…. Die tëels is in die badkamer gesny, hulle het nie die bad toegemaak dat dit beskadig nie… Ons het gevra dat hy n ander tëeler sal voorsien… Waarop hy ons beledig het, al sy gereedskap en werkers kom haal… Ons het Makelaar attent gemaak op die gemors en skade aan bad en algemene slordige werk..
    Na bewyse gelewer aan Makelaar wat ons moes spandeer om badkamer semi bruikbaar te maak, het kontrakteur belowe om die bad te laat skuur, ons was nie gelukkig nie. Teen daardie tyd was ons vinnig oppad na Kersfees..
    My man het Covid opgedoen in Januarie, jy was letterlik dood, hart en al sy organe het gaan staan… Genade van Bo het hulle hom weer bygekry, hy was nmaand in d hospitaal… Hy was ongeveer 2 weke tuis en 24/7 op suurstof toe wil hulle die bad kom skuur.. Ek het verduidellik dat my man homself nie kan help nie of kan skuif nie en die stof sal gevaarlik wees vir sy swak longe.
    Ek het gereeld terugvoering aan Makelaar gestuur en toe laat weet hulle kan die bad kom skuur, t m 1 x p week, sonder enige reaksie, tot op hede..
    My man is steeds nie volkome herstel nie en nie in staat om enige inspanning aktiwiteite kan doen nie…. Ons moet ons huis verkoop en ek moet alles alleen hanteer ens.. Ek het alle bewyse, foto’s, whattsap ens.. Staan ons enigsins n kans asb.. Sal u terugvoering opreg waardeer.

    1. Hallo Marian
      Die skrywers en/of programleiers gaan ongelukkig nie hier lees nie, hoor. Ek wens ek kon help, maar jy sal direk aan die program by RSG moet skryf. Groete en sterkte!

  3. wil graag weet huurders wat by jou huur het gepeuter aan krag ons was onbewus daarvan nou is meter uitgehaal en ons as eienaars moet nou boetebetaal van R25000.00 voordat hulle weer krag aan die huis verskaf

  4. Igna.

    Ek soek asb raad, nie net ek nie, die hele straat. Ons sit hier met ‘n motorfiets ryer, ene Hosepipe, kon meer “rev it right” gewees het.

    Niemand hou niks teen motorfietse en die ryers daarvan nie, inteendeel, ek was self ‘n “biker”. Ons, my probleem.

    Hosepipe het nie die regte uitlaat stelsel op die fiets nie. Die gevolg, jy hoor die vent al myle vêr, want dit is net oop kele, en dan sal hy nog staan en brul in die huurhuis, waar hy woonagtig is. Hy put blykbaar baie genot uit die geskreeu van die fiets. Die huis eienaar het verhuis na Lichtenburg, en is dus onbereikbaar, ook rolstoel gebonde.

    Behalwe om hom met pikstele in te wag, wat staan ons te doen? Die TPA bestaan net soms hier in Klerksdorp, en ek glo die een motorfiets ”
    speedcop”, is te lig in die broek om Hosepipe aan te vat.

    Oor die wette so herskryf is, en elke hosepipe die reg het om te maak soos hulle wil, sit ons met hand in die hare. In ons straat, bly ‘n mengelmoes van oud en kruppel, tot jonk en skool gaande. Nie alleen versteur die man die oues en siekes nie, elke hond, kat en vlermuis word versteur.

    Jou insae op die, sal hoog op prys gestel word

    By voorbaat dank

    Fred van Klerksdorp

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s