RSS

Jooste, Pamela – Môrester

Môrester deur Pamela Jooste (http://www.randomstruik.co.za/about-the-author.php?authorID=4764) is nie meer ‘n nuwe boek nie (2007), dis oorspronklik in Engels geskryf en dit gaan oor bruinmense in die tagtiger-en negentigerjare. Dit alles het meegewerk dat ek die boek al herhaaldelik raakgesien en nié uitgeneem het nie. Nee, nie omdat ek ‘n rassis is nie, maar omdat ek so sukkel om by te bly met nuwe werk wat in Afrikaans verskyn, dat ek nie tyd spandeer op oues nie. Ek reken in elk geval ek ken alreeds die oues wat ek enigsins wíl ken. Daarby het ek ‘n vreemde afkeer aan Engelse Suid-Afrikaanse boeke (behalwe Stuart Cloete wat ek jare gelede vreeslik gelees het  – http://www.stuartcloete.com/biography) en ek is regtig versadig gelees oor die politiek, al is dit ook ‘n onlosmaaklike deel van ons lewe. En dan is ek ook glad nie lief vir vertalings nie – ‘n swak vertaling is ‘n pynlike ding om te lees. Al hierdie (onsinnige) redes het gemaak dat ek vir jare ‘n juweel eenkant gegooi het. Op ‘n vriendin se aanbeveling vat ek toe egter die boek toe hy weer ‘n slag voor my op die biblioteektrollie lê. (Dit voel amper of hy deur die jare met opset so gereeld daar gelê het.)
Ek is van die begin af ingetrek, gehook, betower. Nee, dis geen wonderbaarlike, dramatiese storie nie. Dis bloot die verhaal van twee sussies wat as weeskinders grootword in die Kaap. Klein lewens soos derduisende ander. Die storie word in die eerstepersoon alternatiewelik deur Rose en Ruby vertel. Elkeen fokus meestal in haar vertelling op die ander. Dramatiese gebeure word meestal onderspeel en daar is nie veel van ‘n spanningslyn nie. Die gebeure is ook nie van die grootste belang nie. Dis die liefde vir mekaar wat die eintlike storie is. Moenie dink dis altyd vrede nie. Veral toe hulle ouer word, is daar dikwels verskille en die woordryke Rose vertel tydig en ontydig vir die stil, stemmige Ruby presies hoe dinge nou eintlik gedoen moet word. Die storie word nooit sentimenteel nie en die erns word getemper deur die karakters se humor en die wonderlike gebruik van die Afrikaanse taal. Die susters se behoefte is deurgaans om mekaar gelukkig te maak, te beskerm en te ondersteun, vir mekaar te gee wat hulle nodig het. En op die ou end is dit Rose wat die laaste beurt kry om vir Ruby iets baie spesiaals te doen.
As jy hou van diep menslike stories, is hierdie een vir jou. Die vertaling is vir my uitstekend en het my geensins gepla nie. Dis egter nie ‘n boek wat jou uitgelate en vrolik agterlaat nie. Dis ‘n weemoedige boek, ‘n boek oor gewone mense se gewone vreugdes en smarte. ‘n Boek wat die leser met ‘n gevoel van weemoed laat – en met nuwe mededoë vir elke gewone vrou met ‘n doodgewone lewe.

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: