Mei 25, 2010 at 7:59 nm (Beveg depressie, Depressie, Geestelik, Gesondheid, Uncategorized) · Wysig
Tags: Afrikaans, depressie, depression, Geestelik, life coaching
Hier is ‘n ander opsomming van die basiese menslike behoeftes. Dalk spreek dit jou meer aan as die wat ek tevore onder Life Coaching geplaas het. Dis in elk geval maar verskillende name vir dieselfde goed. Die punt is dat ‘n mens doelbewus kan kyk watter van jou behoeftes word nie bevredig nie – en dan iets daaraan kan probeer doen. Dit sluit dus aan by die belangrike gedagte dat ‘n mens wel self baie aan jou gemoedstoestand kan doen en nie ‘n willose slagoffer van jou emosies hoef te wees nie. Hierdie besef is dikwels vir mense die eerste tree na genesing.
1. Die behoefte om aandag te ontvang – maar ook te gee.
Word gewoonlik vervul deur vriende, familie, kollegas, troeteldiere, kennisse
Een van die gevolge as dit nie bevredig word nie, is dikwels dat die persoon te veel op homself (en sy eensaamheid) gefokus word.
2. Die behoefte aan versorging van die liggaam en die gees.
Word oa vervul deur slaap, rus, oefening, gesonde dieet, vars lug, fisieke aanraking, gesondheidsorg
Oormatige stres, siekte, depressie en angs is van die goggas wat kop uitsteek by gebrek aan hierdie dinge.
3. Die behoefte om aan iets groter as jyself verbind te wees
Word vervul deur aan groepe te behoort, soos buurt, klub, vereniging, vriendekring, gesin.
By gebrek hieraan ervaar ‘n mens maklik ‘n gevoel van isolasie en eensaamheid.
4. Die gevoel dat jou lewe betekenisvol is – doelstellings en doelwitte
Die gevoel dat jou planne vir die toekoms sinvol is en dat jy dit sal kan uitvoer. Wanneer ‘n mens waardes het waaroor jy sterk voel. Ook as jy sinvolle doelstellings met ander mense kan deel.
Sonder hierdie dinge ervaar mense dikwels depressie en ‘n gebrek aan ‘n gesonde selfbeeld.
5. Om jou horisonne te verbreed – maar nie te ver nie!
Dit kom neer daarop om gestimuleerd te wees, maar nie oorgestimuleer nie. Stimulasie behels dinge soos die aanleer van nuwe vaardighede, die gevoel dat jy vorder op ‘n gebied, om jouself uit jou gemaksone te druk.
As dit nie gebeur nie, kan dinge soos verveling, verlies aan energie, depressie en die verlies van humor intree.
6. Die behoefte aan ‘n mate van status:
Hiertoe dra dinge by soos om ‘n plek en rol te he in ‘n werkskring, verhouding, gesin of gemeenskap.
‘n Gebrek hieraan kan lei tot die verlies van selfvertroue, lae selfbeeld, ‘n gebrek aan ‘n doel in die lewe en terneergedruktheid en depressie.
7. Die behoefte aan intimiteit en agting:
Hierdie behoefte word vervul deur ‘n lewensmaat, vriend, familielid of selfs ‘n troeteldier.
Die gebrek hieraan kan lei tot eensaamheid, verlies van selfvertroue, ‘n gevoel van isolasie en verveling, en om nie geliefd te voel nie.
Dit is heeltemal moontlik om in ‘n verhouding te staan, maar steeds nie die vervulling van hierdie behoefte te ervaar nie – ‘n verhouding wat nie werk nie, kan nie jou behoefte aan intimiteit bevredig nie.
8. Die behoefte om te voel jy is in beheer:
Dit kan vervul word deur dinge soos om jou finansies te beheer, jou emosies te beheer, besluite te neem en uit te voer, die aanleer van praktiese vaardighede, die afhandel van administratiewe take.
As jy depressief is, voel jy dikwels jy het geen beheer oor jou lewe nie en jy het geen keuses nie.
‘n Gevoel van buite beheer wees kan dinge soos angstigheid, ‘n gevoel van hulpeloosheid, gebrek aan selfvertroue en depressie meebring.
Een gedagte oor “2. Basiese menslike behoeftes”