Black Swan is ‘n besondere fliek – dit sal min mense ontken. Maar die kyker wat die fliek gaan kyk vir ontspanning en omdat hy/sy van ballet hou, kan dalk meer kry as waarop hy gereken het.
Black Swan is nié ‘n goedvoelfliek nie. Dis ‘n ontstellende fliek, ‘n donker, erotiese, weird, onvergeetlike fliek wat jou effens gehawend uit die teater laat steier.
Die karakters bly jou by, selfs al het sommige ‘n baie klein rol. Die ballerina (Natalie Portman) met die perfekte tegniek, maar die onvermoë om haar donker kant te ontgin ten einde die Swart Swaan in Swanemeer suksesvol te dans; die choreograaf/baas wat die beste in haar na vore wil bring en in die proses nie juis haar gevoelens spaar of sy belustigheid in toom hou nie; die senior ballerina wat moet uittree en dit nie kan verwerk nie; die jong ballerina met haar oog op die rol wat klaarblyklik haar vrienskap aanbied aan haar teenstander; die ambisieuse ma wat oënskynlik vir haar dogter en dié se loopbaan leef …
Ek sê klaarblyklik en oënskynlik, want niks is in hierdie fliek soos jy (en die hoofkarakter) dink dit is nie. Op haar pad na die psige van die swart swaan, loop waarheid en verbeelding en vrees vir die ballerina al meer deurmekaar, weet sy (en die kyker) later glad nie meer wat is feit en wat is fiksie nie.
Ek gaan niks verder sê nie. Behalwe dat jy nié ‘n gelukkige einde moet verwag nie …
Lees meer by http://www.imdb.com/title/tt0947798/ – en hou die nuus dop vir die Oscars.
En ja, as jy (soos ek) ‘n sensitiewe kyker is – dink mooi voor jy gaan kyk. En as jy (soos ek) skrik vir tamelik eksplisiete masturbasie en lesbiese seks – dink nog ‘n keer.
Maar as jy met ‘n oop gemoed gaan kyk, wag ‘n onvergeetlike ervaring op jou.
Black Swan
Posted on February 16, 2011 by Marile Cloete
Ek was glad nie beindruk met die fliek nie. 4/10.