Love happens

Ek het die fliek net uitgeneem vir ingeval ek nie goed vaar met My sister’s keeper nie. En toe is dit vir my die lekkerste een van die twee. Terwyl dit maar ‘n 5.5 kry op die webwerf wat ek gebruik vir flieks. (En nee, ek is nog nie daar dat ek actually voor die tyd gaan navorsing doen en dan ‘n ingeligte keuse kan doen nie).

Jennifer Aniston van Friends-faam was natuurlik ook ‘n trekpleister. Die vrou word darem goed ouer, hoor. Die manlike hoofspeler (Aaron Eckhart) het ek nie eens geken nie. En wat ‘n lekker verrassing was hy nie. ‘n Baie aantreklike man vir hierdie fynproewer van helde! Maar hy het vir my die rol besonder goed gespeel van die man wat opgeslurp is in die sukses van sy boek oor die verwerking van ‘n geliefde se dood, terwyl hy self sy smart nog glad nie verwerk het nie.

Die opsigtelike pogings om die storie ‘n romantic comedy te maak, het my eintlik gepla. Dis eenvoudig ‘n te ernstige onderwerp. Maar die liefdesverhaal is pragtig – en die papegaai ook!

Kyk gerus as jy nodig het om in die goeie dinge te bly glo!

Lewer kommentaar