Kate Zaayman

  1. Ouderdom: 49Durban
  2. Beroep: Werwingskonsultant
  3. Huwelikstatus: Getroud
  4. Waar woon jy? In die Vrystaat.
  5. Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) Man en 2 kinders.
  6. In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?

My man kan nie stilsit nie. Hy is ‘n vreeslike ekstrovert wat heeltyd tussen mense wil wees. Dit werk op my senuwees as hy so rusteloos is. En die ekonomie is ‘n groot bron van kommer vir almal. Ons het baie vriende en familielede wat gedurende hierdie tyd hulle inkomste verloor het.

  1. Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?

Ek was heel oukei, maar my man was dadelik gespanne. Sy gemoedstoestand plaas weer spanning op my.

  1. Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is?

Bekommerd oor vriende/familie en ons eie finansies en die algehele impak op die ekonomie, maar andersins was ek oukei.

  1. Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?

Ek het ons werknemers wat nie oor hulle eie vervoer beskik nie, winkel toe geneem om hulle maandeinde voorraad te gaan koop. Ek het ‘n laaste vinnige kuier of twee ingewerk en verder het ek gewerk.

  1. Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?

Ek moes my kinders met aanlynskoolwerk help en dit was regtig nie maklik nie. My een kind werk wanneer hy by die skool is omdat almal om hom doen ook skoolwerk, maar tuis het dit vir hom gevoel asof hy die enigste een is wat skoolwerk moet doen.

  1. Wat was die moeilikste tydens vlak 5?

Om te hoor hoe mense finansieel en andersins sukkel.

  1. Wat is vir jou positief tydens vlak 5?

Ek het verskriklik baie werk gedoen gekry, want ek het nie nodig gehad om skool toe te ry, ens. nie.

  1. Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?

My kinders wou maats hê, maar was nog oukei. My man was baie rusteloos.

  1. Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?

Ek was vies daaroor, weens die spanning waaronder mense gebuk gegaan het. Daar is regtig mense wat hulle totale inkomste verloor het en dis baie erg.

  1. Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?

Ek was oukei op vlak 5, maar vanaf vlak 4 het ek vriende regtig begin mis. En die fantastiese onderwysers by die kinders se skool.

  1. Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?

Ek was dankbaar, want so ‘n polisiestaat voel na ‘n bedreiging.

  1. Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?

My man (en ander vriende) kon weer besigheid doen.

  1. Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?

Dat dit nog nie vlak 3 was nie en dat ander lande dit op die oog af makliker gehad het en beter beheer het.

  1. Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?

Ek het slegs op ons plaas gestap en ek het ‘n stilstaande fiets.

  1. Het jy tydens vlak 5 geoefen?

Ja, ek het gestap.

  1. Hoe het jy dit gedoen?

Ek woon op ‘n plaas en kon stap. Ek was dus nie slegs tot my woning beperk nie.

  1. Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?

Geen impak.

  1. Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?

Ek het vir die eerste keer winkel toe gegaan. Ek kan eintlik redelik lank op my eie funksioneer. Al is ek mal oor mense, is ek nie so afhanklik van tussen mense wees soos my man nie.

  1. Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?

Die groter vryheid en meer mense wat kon terugkeer werk toe.

  1. Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?

Die ekonomie en hoe die politici dinge hanteer.

  1. Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?

Ek is oukei, maar soos genoem is my man nie en dit veroorsaak vir my spanning.

  1. Is jy finansieel erg geraak?

Darem nie te erg nie.

  1. Wat is nou vir jou die moeilikste?

Om met my man se rusteloosheid en my kinders se skoolwerk genoeg tyd te kry om my eie werk te doen.

  1. Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?

Ek kan onder moeilike omstandighede fokus en die beste maak van ‘n slegte saak, weet ek.

  1. Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?

Ek het, maar ek kyk nie tans meer elke dag na die stats nie.

  1. Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?

Ek lees slegs nuus aanlyn.

  1. Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?

Dit maak mens bang, maar ek wil ook weet wat gebeur. Terselfdertyd is ek vasberade om heel aan die ander kant uit te kom, want ons het twee minderjarige kinders.

  1. Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?

So min of meer, ja. Ek is eintlik so besig dat ek nie altyd tyd het om gereeld na die nuus te kyk nie.

  1. Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?

Europese lande. Swede, Duitsland, ens.

  1. Hoekom?

Want hulle het minder drama met lockdown. Dit lyk asof hulle probeer doen wat die beste is vir die algehele bevolking.

  1. Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?

Ek probeer om nie te veel daaraan te dink nie. Dis onvermydelik, al is dit sleg.

  1. Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?

Niks nie. Ek het baie hard gewerk en hoop dit werp vrugte af.

  1. Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?

Net so hard werk as vantevore.

  1. Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?

Nie persoonlik nie, maar ek weet van vriende van vriende, ja.

  1. Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?

Nee.