Bets Smith is nie net ʼn gunsteling by romanselesers nie, maar is ook besig om vir haar ʼn reputasie as skrywer van spanningsverhale op te bou. Met Bloedspoor maak sy ʼn waardevolle bydrae tot die groeiende skat van geloofwaardige, vindingryke spanningsverhale in Afrikaans. Haar vorige spanningsroman Skrikkelmaan, word ook nou heruitgegee om met die verskyning van Bloedspoor saam te val.
Bloedspoor speel op die kampus van ʼn universiteit af en die simpatieke tekening van die studentelewe is deel van die bekoring van die verhaal. Llyn Morgan en haar huismaats word elk as individu uitgebeeld en bly nie net karikature van die ‘tipiese’ student nie.
Die leser kan nie anders as om aangeraak te word deur die spanning wat op die kampus ontstaan as gevolg van die reeks moorde nie. Llyn se twyfel oor wanneer ʼn situasie werklik potensieel gevaarlik is en wanneer sy onnodig spoke opjaag, laat mens onwillekeurig dink aan die gewone Suid-Afrikaner se dilemma met die daaglikse keuses wat in verband met veiligheid gemaak moet word. Wanneer is jy paranoïes, wanneer is jy bloot versigtig en verstandig? Waar is die lyn tussen die uiterstes?
Die tonele waar die moordenaar uitgebeeld word, skep ʼn mitiese atmosfeer en laat werklik mens se bloed koud word. Die aanhalings uit Caledonia bring onmiddellik die Keltiese konneksie na vore. (Luister gerus hier: https://www.youtube.com/watch?v=wP8A9rtg0iI) Die feit dat daar telkens ʼn Keltiese item op die toneel agtergelaat word, versterk die indruk dat die moordenaar ʼn kenner van die Keltiese geskiedenis is en maak op grond van hulle vakkennis van vier dosente moordverdagtes.
Moet Bloedspoor versterk Smith die groeiende geledere van vroulike misdaadskrywers wat dikwels meer menslikheid na die moordtoneel bring en die psige van die mens op ʼn unieke manier ondersoek. Haar navorsing is deeglik gedoen en verskeie interessante vakgebiede word betrek.
Bloedspoor word sterk aanbeveel vir lesers van spanningsromans!