Bogaards, Japie – Tussen middernag en dagbreek

Japie Bogaards se debuutroman Tussen middernag en dagbreek  is veel meer as die roman oor dwelmverslawing waarvoor ek dit aanvanklik aangesien het.

Hoewel die bose kringloop van verslawing in die lewe van die immigranteseun Marco Verkerk met amper brutale eerlikheid uitgebeeld word, is dit die lot van die ander twee prominente karakters wat hierdie leser die diepste geraak het.

Sam het as die seun van ‘n plaasarbeider opgegroei en leer haat toe hy die vernedering en uiteindelike vernietiging van sy pa intiem beleef  het. Hy is onvermoeid op soek na die wraak wat, glo hy, vir hom verlossing sal bring.

Hottie word in die tronk deur Sam beskerm en na sy vrylating weer onkeerbaar in Sam se donker kring ingetrek. Ten spyte van sy voortdurende behoefte aan ‘n terugkeer na ‘n beter lewe, slaag hy nie daarin om uit die dodelike siklus van geweld en armoede te ontsnap nie.

Hierdie drie karakters plus verskeie ander, pyl in die verhaal onkeerbaar af op die tragiese nag waarin hulle lewenslyne op bloedige wyse verstrengel word. Elkeen van die karakters maak keuses eie aan sy persoonlikheid, vir elkeen is die prys uiteindelik ongelooflik hoog.

Ten spyte van die geweld en haat en bloedvergieting in Sam en Hottie se lewens, ten spyte van Marco se klaarblyklike onvermoë om sy verslawing te beveg, dwing elkeen van hierdie karakters die leser tot die besef dat niemand sommer vanself sleg is nie, dat daar altyd talle faktore in mense se lewens aan die werk is.

Tussen middernag en dagbreek is nie ‘n gemaklike verhaal nie. Dis ‘n ongemaklike verhaal uit ‘n ongemaklike deel van ons geskiedenis, ‘n verhaal wat jou na albei kante van die munt laat kyk, wat jou laat besef hoe ingewikkeld ons situasie eintlik is. En dat daar geen maklike antwoorde is nie.

Tussen middernag en dagbreek is nie ‘n boek om gou te vergeet nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s