Julia Joubert

Skool

  1. Ouderdom: 48
  2. Beroep: Onderwyseres
  3. Huwelikstatus: Getroud
  4. Waar woon jy? Paarl
  5. Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) Man en 2 dogters
  6. In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?

Uniek omdat ek nie soos gewoonlik my petrol tenk kon vul met my vriendinne se geselskap en koffie nie. Ek moes leer om dit wat ek nodig het uit myself te kry en nie uit ander mense nie. Ek moes leer om op ‘n heel ander manier oor my beroep te dink en dit anders te benader. My skool se kinders het nie almal toegang tot internet en google classroom nie, so ons moes ander plan maak. Daar is absoluut niks wat mens nie per whatsapp kan doen as jy moet nie (ek het klasgegee met demonstrasie videos en werkvelle per whatsapp)

Uitdagend omdat ons ons lewens heeltemal moes herontwerp. (Een keer per week inkopies doen en dan moes jy beplan waar en wanneer jy wat wil koop) Finansieel was dit baie uitdagend omdat ons slegs een inkomste gekry het en daarmee moes klaar kom. (Met genade van Bo het my salaris gerek en gerek en gerek en ons het niks kort gekom nie). Ek kon nie my ma wat in Huis Vergenoegd bly meer daagliks sien nie (genadiglik kan ons vir hulle inkopies doen en hulle wasgoed gaan haal. En hulle word super goed na gekyk en kry alles wat hulle nodig het). Dit is egter baie moeilik vir my om nie my ma te mag besoek nie.

  1. Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?

Ek was onseker, bang en benoud oor wat vir ons voorlê. Maar soos die dae weke geword het, het ek die nuwe normaal aanvaar en maar die beste van ‘n slegte saak gemaak. Dit het baie gehelp dat my kinders by die huis was en hulle net normaal aangegaan het met hullle oefen programme en skoolwerk.

  1. Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is?

Dit was ‘n groot aanpassing en ek was onseker oor hoe ek die situasie sou hanteer.

  1. Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?

Ek het skool gehou en alles in plek probeer kry vir ingeval die inperking aangekondig sou word. Ek het die nodige skoolwerk huis toe gevat en ook dit wat op die rekenaar gestoor is vir myself ge’mail’ sodat ek by die huis kon werk. Daar was toe reeds sprake van inperking. Ek het nie soos die ander mense die winkel ingevaar en alle moontlike brood, pasta en toiletpapier gaan koop nie (my budget het dit nie toegelaat nie) Ek het wel die gewone maandelikse inkopies gaan doen. Ek het seker gemaak my ma het die nodige kruideniersware sodat sy vir die volgende week of twee nie iets sou benodig.

  1. Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?

Waar ek elke dag gou winkel toe is om dit wat vir aandete nodig is te gaan koop, moes ek nou beplan wat ek vir die week nodig sou hê. (wat ‘n baie beter opsie is). Ek moes in ag neem hoeveel melk, eiers en vars produkte nodig is vir ‘n week.

Toe die skool eers “begin” het, het ons elke oggend die werk agter die rug gekry en dan moes die huis aan die kant kom.

Die lewe het baie meer teruggekeer na dit wat ek as kind as normaal ervaar het. Die pas van dinge doen was stadiger en almal was rustiger ten spyte van die onsekerheid.

Internettoegang het ook ‘n noodsaaklikheid geraak om op datum te bly met skoolwerk en klasse.

  1. Wat was die moeilikste tydens vlak 5?

Om nie my vriendinne te kon sien vir koffie nie. Sosialisering.

Vir my kinders was dit ook die moeilikste deel van die inperking.

  1. Wat is vir jou positief tydens vlak 5?

Ons het as gesin weer nader aan mekaar beweeg aangesien almal se lewens nie meer     so besig was nie. Ons kon weer rustig sit en koffie drink in die middag en in die aand saam ’n fliek kyk. Ek was meer betrokke by die kinders se skool/universiteits take en wat hulle gedoen het.

  1. Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?

My man het dit die moeilikste hanteer aangesien hy ‘n mate van depressie het. Hy moes ook vir ‘n tyd lank die werkloosheid ding in die gesig staar aangesien die boubedryf gesluit was en hulle nie kon werk nie … en dus nie ‘n inkomste kon kry nie. Ek en die kinders het relatief maklik deur die inperking gekom aangesien ons kon fokus op skoolwerk en alles wat ons gewoonlik nie by uitkom nie.

  1. Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?

Teen daardie tyd was ons al in ‘n nuwe roetine en dit het ons nie so baie aangetas nie. Die wete dat die inperking verleng is was erger as die verlenging self.

  1. Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?

Sosialisering met vriende, om by my ma te gaan kuier, vryheid om sommer in die kar te klim en gou by iemand in te val.

  1. Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?

Daar was so bietjie meer vryheid, maar dit het ons nie vreeslik geraak aangesien ons voorgegaan het met die manier van doen van vlak 5.

  1. Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?

Dat meer winkels oop is sodat meer mense ‘n inkomste kon kry.

  1. Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?

Mense wat dink die corona virus is nou weg en dat hulle kan maak soos hulle wil.

Mense wat nie hulle maskers dra nie en so nie respek aan ander toon

Mense wat nie omgee of hulle ander mense aansteek deurdat hulle maak en breek soos hulle wil. Nie hou by die reels.

Die feit dat alkohol beskikbaar gemaak is bo sigarette alhoewel alle logika vir my sê dat mense wat te veel gedrink het hulle nie aan ‘n masker of sosiale distansiering sal steur nie

Winkels wat nie hou by die reels en so my in gevaar stel as ek hulle wil ondersteun. (Vinyard Spar is puik wat sanitering en spasie betref so ek koop al my kruideniersware daar)

  1. Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?

HAHA. Nee glad nie. Maar dit het ‘n invloed op my jongste gehad wat elke dag sport doen. Sy het egter ‘n baie positiewe ingesteldheid en het haar oefen program verander en steeds elke dag haar ritmiese gimnastiek en hokkie geoefen in die tuin.

  1. Het jy tydens vlak 5 geoefen?

Nie ek nie, maar wel albei my kinders.

  1. Hoe het jy dit gedoen?

Die oudste het joga en core oefeninge gedoen in die huis, terwyl die jongste in die tuin haar ritmiese oefeninge gedoen het en ook haar core oefening in die huis gedoen het. Ons het gelukkig ‘n heerlike groot vertrek waar hulle kon oefen.

  1. Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?

Dit was heerlik om net uit die erf te kom en te gaan stap en ander mense te sien. Kon darem so in die verbygaan opvang met al die mense in die buurt. My jongste kon haar fiets vat en ook gaan draf.

  1. Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?

Dit frustreer my aangesien mense nie ag slaan op die reels. Skole is weer oop en ons kan in die klas sien watter ouers leer nie hulle kinders respek vir ander en om by die reels te hou. Dit is daardie leerders waarmee ons die hele tyd moet sukkel om slegs op hulle eie banke te sit en nie hulle maskers af te haal nie.

  1. Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?

Ons kon teruggaan skool toe alhoewel dit ‘n groot aanpassing was. Dit is egter ook baie lekker aangesien mens net die helfte van die klas op ‘n slag by die skool het en dus baie meer individueel kan werk met die kinders. Dit is lekker om weer my klas te sien.

  1. Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?

Dat mense so ‘ignorant’ is oor die situasie waarin ons is.

  1. Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?

Dit gaan verbasend goed met ons almal in die Joubert huis. Ek het rustiger geraak oor baie goed, en ek kon fokus op dit wat vir my belangrik is. Ek het geleer dat ek emosioneel baie sterker is as wat ek somtyds dink. Ek het ook weereens bevestiging gekry dat ek eintlik ‘n baie positiewe mens is wat nie lank tob oor dit wat moeilik is of wat my onstel nie.

  1. Is jy finansieel erg geraak?

Ja ons is, want my man kon geen werk doen nie. Maar ons het nooit honger gely of swaar gekry. Ons het eintlik so baie om voor dankbaar te wees.

Ek kon ook nie enige van my Wiskunde klasse gee nie, so my salaris was aansienlik kleiner as gewoonlik.

  1. Wat is nou vir jou die moeilikste?

Om klaar te kom met minder ( My wiskunde klasse mag nog nie begin)

To pick my battles…

  1. Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?

Dat mens baie meer op jou geloof moet staat maak.

Dat ons eintlik met baie minder kan klaarkom as waaraan ons gewoond is.

Dat die goed wat ons voor lockdown as belangrik beskou het, nie eintlik so belangrik is nie.

  1. Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?

Redelik, maar ek spandeer nie tyd om dit na te vors. Sien maar so toevallig wat aangaan en hoor wat op die nuus gesê word.

  1. Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?

Sosiale media, netwerk 24 (koerant en tydskrifte)

  1. Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?

Dis hoekom ek nie so baie daarna luister nie … Die media het die vermoë om mense heeltemal te veel op te werk en alles baie erger te maak

  1. Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?

Net wat ek raaklees.

  1. Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?

Nee

  1. Hoekom?
  2. Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?

Dit is baie sleg dat mense hulle geliefdes verloor en dat mense nie by hulle geliefdes kan wees in die hospitale nie. Ek is bekommerd omdat so baie mense sterf, maar ek glo en vertrou dat alles sal normaliseer.

  1. Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?

Nie veel nie.

  1. Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?

Ek sou nogsteeds dieselfde hoeveelheid tyd saam met my kinders spandeer het. Ons het weer begin om naweke koek te bak en tyd saam te spandeer in plaas van om heeltyd aan  die jaag te bly na wind.

  1. Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?

Ja ‘n hele paar mense

  1. Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?

Nee