
- Ouderdom: 40
- Beroep: Voltydse ma en Phd-student
- Huwelikstatus: Getroud
- Waar woon jy? Stellenbosch
- Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.)
My man, ons drie kinders (dogter 17, dogter 15, seun 13), kleinniggie wat by ons loseer.
In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?
Sowel ek as my man is tans besig met doktorale studie. My man moes boonop ook volstoom aanlynonderrig aan sy studente gee. En dan is daar drie tieners wat ook aanlyn moes leer. En ʼn huis wat homself nie gaan skoonmaak nie. Baie daarvan dus nie besonder uniek nie, maar beslis uitdagend.
Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?
Ek het dit sien kom en het gevoel dis die regte ding om te doen. Ek moes ook aanvaar dat ʼn navorsingsgeleentheid van 6 weke in Estland daarmee heen is, maar dit was ook nie te moeilik nie omdat almal se planne in die wiele gery is.
Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is?
Omdat ek die buitelandse nuus gevolg het, het ek ook geweet dit is onvermydelik. Die nood van mense wat sonder inkomste sou sit, was egter vir my ʼn groot bekommernis. Dat die regering ekstra geld daarvoor beskikbaar gestel het, het my moed gegee. Ek was trots op ons president en die manier waarop hy dit hanteer het. Maar ek het wel gevoel dat sommige maatreëls onnodig streng en onsinnig was. Die ergste was die feit dat ons nie buite ons erwe kon oefen nie
Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?
Ek was die naweek voor die noodtoestand afgekondig is, saam met twee vriendinne gery na ʼn naweekwegbreek om die Oystercatcher tussen Mosselbaai en Gouritsriviermond te hardloop. Een vriendin het daardie naweek koors ontwikkel en ons het met ons terugkeer na Stellenbosch al drie in selfisolasie gegaan – net vir ingeval (dit was skaars twee weke ná die eerste geval in SA aangemeld is, dus was ons maar skepties dat dit al so naby ons was, maar tog…). Die dokter wou haar nie toets nie, omdat sy nie bewus was van iemand met wie sy in aanraking was wat positief getoets het nie. ʼn Week later het sy wel die nuus gehoor dat ʼn ander vriendin wat saam met haar by die Woordfees was, positief getoets het, en sy het toe ook gegaan vir ʼn toets en dit was toe ook positief. Ek was dus die drie dae direk voor inperking nog in selfisolasie, hoewel ek op my eie of saam met ons kinders gaan draf of fietsry het. Ek het aanlyninkopies gedoen en sommer gou besef dat dinge nie meer so maklik en vinnig is soos voorheen nie – almal wou nou deur PicknPay, Dischem en Woolworths voorrade laat aflewer! Gelukkig was van ons winkels op die dorp baie kreatief en het vroeg reeds bestellings per WhatsApp aanvaar, en ʼn nuwe onderneming het begin om inkopies af te laai. Ek het baie lusteloos gevoel en die nuus en sosiale media met ʼn valkoog dopgehou.
Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?
Ek het vir myself gesê “come hell of high water” – my huis sal nie ineenstort nie. So ek het begin skrop en regpak en bestekopname doen. So sonder huishulp en al, ek dink nie ons huis was al ooit so netjies sedert ons kinders gebore is nie, en ons hoofmaaltye saans was nog nooit so gebalanseerd en klokslag betyds op die tafel nie. Ek was nog nooit so min uit om kruideniersware te koop nie, en wanneer ek wel winkel toe gegaan het, was dit met my fiets om darem ʼn bietjie oefening te kry. Om nie so baie vir kinders te moes rondry nie, het soveel tyd oopgemaak en ʼn vreedsaamheid gebring wat wonderlik was. My man het die eerste drie weke baie tyd in die tuin deurgebring en nuwe beddings uitgelê en ʼn heerlike kuierhoekie met ʼn uitsig oor die Jonkershoekberge in ons voortuin gemaak. Ons het baie tyd daar deurgebring met ʼn koppie koffie of tee – ek het soms ook daar sit en werk. Die weer het gelukkig ook mooi saamgespeel.
Wat was die moeilikste tydens vlak 5?
Dat ons nie buite ons erwe kon oefen nie.
Wat is vir jou positief tydens vlak 5?
Die tyd wat ons as gesin saam kon spandeer. En dat ek vir die eerste keer in jare weer voel asof ek ʼn mate van beheer oor my huishouding het…
Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?
My man en oudste dogter floreer! Behalwe al die aanlynwerk, kon my man ʼn groot deel van sy skripsie skryf, terwyl ons oudste dogter (graad 11), die ekstra tyd benut het om meer musiek te oefen, ekstra kursusse te volg (onder andere filosofie en Latyn) en vir internasionale opstelkompetisies in te skryf. Ons jongste dogter (graad 10) het dit minder positief ervaar – sy sukkel om sonder struktuur haar skoolwerk te doen en musiek te oefen. Aan die ander kant lyk dit of haar angstigheid oor skool grootliks verlig is – om merendeels net met haar nabye vriende kontak te hê, was vir haar goed. Sy het ook vir aanlynkursusse ingeskryf (fotografie en nou ook “voice-over acting”) en musiekverwerkings gedoen. Ek is egter bevrees dat sy te veel tyd op sosiale media spandeer en ek dink nie die virtuele aktivisme oor sosiale kwessies is noodwendig gesond vir ʼn tiener nie… Ons seun (graad 7) sou ʼn totale “couch potato” geword het as dit nie vir sy skoolwerk was wat hy moes doen, of die oefenprogram wat hy moes volg nie. Hy het sy maats die meeste gemis en was daarom bly toe hy weer kon terugkeer skool toe. Hy speel heeltemal te veel aanlynspeletjies, maar lees darem ook boek voor slaaptyd.
Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?
Ek het dit ook eintlik verwag, maar ek onthou hoe dit vir my gevoel het asof ek voor ʼn afgrond staan. Gelukkig het ek werk gehad waarop ek moes fokus, en natuurlik die huishouding. Ek het ʼn tipe “resignation” ervaar.
Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?
My eie spasie, om in ʼn koffiewinkel te kon werk, om in Jonkershoek of teen Stellenboschberg te gaan draf, om te kom en gaan soos ek wou.
Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?
Behalwe die feit dat ons toe tussen 6-9 buite kon oefen, het ons lewe maar dieselfde gebly as in vlak 5. Ek was al meer bewus van die toenemende nood in ons gemeenskap.
Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?
Baie beslis dat ons weer buite kon oefen!
Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?
Sommige van die regulasies en berigte oor die veiligheidsmagte se vergrype.
Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?
Ja
Het jy tydens vlak 5 geoefen?
Ja
Hoe het jy dit gedoen?
Ek het ʼn roete om ons huis gehad en myself byna van my trollie af gedraf.
Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?
Dit het gevoel soos tydelike vryheid! Om weer op Stellenboschberg en langs die Eersterivier te kon draf, was hemels! Omdat almal dieselfde tyd moes oefen, het ek baie bekendes raakgeloop, en die bergpaadjies het veiliger as ooit gevoel omdat daar orals mense was. Om voor 9 terug te moes wees by die huis, was egter moeilik, en soms was ek ʼn bietjie laat…
Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?
Ek was net baie bly dat baie mense weer kon terugkeer werk toe om ʼn inkomste te verdien. Later kon eers ons seun, en later die dogters, terugkeer skool toe. Ons huishulp en tuinier kon weer kom werk. Ek en my man is egter steeds by die huis.
Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?
Dat daar weer ʼn mate van struktuur in ons lewens is met die kinders wat stuk-stuk terug is skool toe. Dat die engel wat reeds 18 jaar vir ons werk, kon terugkeer en die skoonmaakwerk doen sodat ek op ander dinge kan konsentreer. Dat ons enige tyd kan gaan oefen.
Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?
Daar is steeds onsinnige regulasies … Ons rook byvoorbeeld nie, maar ek is deeglik bewus van die impak wat die rookverbod op mense se lewens kan hê. Dit onstel my byvoorbeeld geweldig dat smokkelsigarette teen astronomiese bedrae verkoop word – die mense wat daardie geld nodig het vir kos en elektrisiteit en warm klere vir hulle kinders, spandeer dit op die peperduur smokkelgoed.
Dat drank, wat in my oë ʼn baie groter euwel as sigarette is, weer beskikbaar is, en dat weerlose vroue en kinders dit nou weer ontgeld.
Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?
Eintlik besonder goed. Om eerlik te wees, was ek voor die inperking op ʼn emosionele laagtepunt. Danksy die inperking kon ek ʼn paar groot kopskuiwe maak, ek het nuwe gewoontes en goeie oorlewingstrategieë aangeleer en voel nie meer angstig nie. Ek is dankbaar vir my gesin en ons huis, dat ons veilig is tot nou toe. Ek het vir die eerste keer in ʼn lang tyd weer energie om dinge aan te pak en deur te voer – ook dinge waarvoor ek voorheen sou terugdeins.
ʼn Paar dinge het my op emosionele vlak geweldig baie gehelp: Francois Esterhuizen se Fresh Perspective podsendings wat ek van ʼn kant af begin deurwerk het (https://www.francoisesterhuizen.com/podcast), op ʼn ompad het ek toe by Yale Universiteit se uitstekende gratis kursus op Coursera uitgekom, The Science of Well-being (https://www.coursera.org/learn/the-science-of-well-being), hiervandaan The Happiness Lab se podcasts deur dieselfde professor Laurie Santos van Yale, en laastens het Francois toe ook ʼn nuwe kursus van stapel gestuur, Unstuck, wat my binne 7 dae fantastiese nuwe selfinsig gebied het.
Ek het besef dat ek sekere slegte gewoontes moes uitsny wat my terughou, en goeie gewoontes aanleer – en hiervoor is daar genadiglik ook ʼn app of twee om te help! As deel van die Yale-kursus is daar ʼn “rewirement challenge” waarvoor hulle ook ʼn toepassing ontwikkel het om jou te help om nuwe gewoontes en rituele te vestig (ReWi-app). Sommer eenvoudige dinge op ʼn bewuste manier doen, soos om te sorg dat jy tussen 7-8 uur per nag slaap, daagliks mediteer, dankbaarheid verwoord of iets soos jou koffie of jou kos behoorlik geniet (“savouring”), gereeld oefen, uitreik na ander, doelwitte verwoord en ʼn aksieplan opstel, ʼn goeie daad vir iemand anders doen. En dan het ek nog ʼn wenner ontdek: The Fabulous. Met hierdie toepassing kan ek vir myself daaglikse roetines en gewoontes opstel, en aan uitdagings deelneem wat my help om die gewoontes te vestig, sonder om my oorweldig te laat voel. Ek kry dit byvoorbeeld nou baie maklik reg om soggens op te staan – selfs voor my alarm afgaan! Ek eet ʼn goeie ontbyt, sorg dat ek my vitamiendoepa sluk, verminder my koffiedrinkery en drink meer water.
In plaas van om te kyk wat ander mense eet of snaaks vind of wat hulle kinders aangevang het, of ʼn Netflix-reeks wat so losweg op die lewe van ʼn historiese figuur gebaseer is dat dit eintlik net vrot fiksie is, kyk ek nou eerder ʼn TED Talk – Brené Brown was byvoorbeeld ʼn groot ontdekking!
Ek is dankbaar hiervoor. Dit was nie ʼn reguit paadjie nie, en my akademiese werk is maande agter (daar was eenvoudig nie genoeg kopspasie om lank genoeg daarop te fokus nie – hoewel ek intussen danksy al die selfondersoek besef het dat ek my eie ruimte nodig het en daarin móêt belê, en nou met ʼn mooi en goed toegeruste hoekie in die leefvertrek spog waar ek uiteindelik die oorfone in my ore kan druk en werk terwyl hoor en sien vergaan). Ek wens ek het jare gelede hierdie ontdekkings gemaak, maar nou het dit ʼn pandemie gekos om my tot op hierdie punt te kry!
Is jy finansieel erg geraak?
Hoewel my man steeds sy volle salaris verdien, het ons vir die een student wat by ons loseer en sedert die begin van die noodtoestand terug is by sy ouerhuis, die huur verminder. Ons het ook reeds besluit om nie die huurprys op te stoot volgende jaar nie. Ons het natuurlik ook baie geld gespaar aan brandstof en besoeke aan koffiewinkels en wegneemetes. So nee, ons is nie finansieel erg geraak nie, maar ons besef ook dat die situasie enige tyd kan verander.
Wat is nou vir jou die moeilikste?
Die onsekerheid van alles. Wanneer kan ons weer vir die toekoms beplan? Of hoe ver in die toekoms in kan ons waag om te beplan? Onsekerheid oor hoe die land en wêreld post-Covid-19 gaan verander. Om te sien hoe mense swaarkry, om te sien hoe sommige mense ander in hierdie tye uitbuit.
Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?
Ek het die ekstra tyd vir persoonlike groei aangewend. Dit was vir my baie kosbaar en ek stap sterker hieruit as wat ek voor die pandemie was.
Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?
Nee, ek volg die nuus en sosiale media minder. Ek het nie beheer daaroor nie en wil nie hê dat dit my gedagtes oorneem en my lewe oorheers nie.
Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?
Aanvanklik het ek elke moontlike Guardian-berig gelees, later deur Google Newsfeed ook ons plaaslike nuus gevolg. Facebook en Twitter. Maar intussen het ek ʼn bewuste besluit geneem om my blootstelling aan nuus oor Covid-19 tot die absolute minimum te beperk. Ek is minder op sosiale media en probeer ook meer struktuur rondom my gebruik daarvan te skep.
Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?
Dit het my vreeslik angstig gemaak aan die begin van die grendelstaat en die eerste paar weke daarvan. Dit het my energie totaal gedreineer en verhoed dat ek baie dinge gedoen kon kry.
Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?
Aanvanklik, ja. Maar nou net hooftrekke. Ek weet byvoorbeeld dat die situasie in die VSA treurig lyk, en dat België nou weer ʼn effense styging in gevalle toon.
Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?
Ek het die situasie in Italië redelik gevolg – ook omdat ek ʼn vriendin/kollega het wat daar woon. Ek kry nuusflitse uit België (ons het ʼn ruk daar gewoon en het ook goeie vriende daar). Ek het die malligheid in die VSA en VK gevolg, maar later ook laat staan. Alles het te veel geword.
Hoekom?
Reeds bo beantwoord.
Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?
Ek volg nie meer die nuus nie. Die nood van mense wat by ons aanklop of in die dorp vir kos vra, raak my egter intens, en omdat dit binne my sfeer van invloed is, probeer ek daar doen wat ek kan.
Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?
Ek sou baie minder tyd op sosiale media deurgebring het (veral aan die begin – dit het bygedra tot verlammende angstigheid), en vroeër begin het met verskillende aanlynkursusse en meer gelees het. Ek sou my blokkieskombers van dag een af uitgehaal het en elke dag ʼn blokkie gehekel het (dan was dit nou al klaar!).
Ek sou ʼn vaste roetine gevestig het deur die week en daarby gebly het.
Ek sou elke dag tyd vir my navorsing en skryf ingerig het as deel van die roetine (ek het eenvoudig nie die emosionele kapasiteit gehad nie, en was oorweldig deur alles wat ek in die huis moes doen).
Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?
Aanhou oefen het, my huis onder hande geneem het, goeie maaltye saam met my gesin, die kursusse wat ek gevolg het, ekstra tyd met ons troeteldiere, die nuwe babahondjie. Kospakkies opmaak en uitdeel aan mense in nood. Betrokke raak by Stellenbosch Unite met datavaslegging vir die hulpverleningsprojek. Daaglikse meditasie.
Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?
Ja, die vriendin wat saam met my op die Oystercatcher-naweek was, en ʼn ander vriendin se man (hy was gehospitaliseer, maar is intussen ontslaan).
Ek vermoed dat ek dit self ook gehad het, maar my simptome was te lig en die dokter wou nie daardie tyd laat toets nie. Ek het my reuksin grotendeels verloor en alles proe maar flou – dit is blykbaar ʼn klinkklare bewys van Covid-19. Dit neem glo ʼn tyd vir die reuksin om weer te herstel (hopelik herstel dit!) Ek sou graag vir ʼn teenliggaampietoets wou gaan om te bevestig ..
- Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?
Nee