Left: Security guards dispense hand sanitizer to shoppers entering a mall in the suburb of Noordhoek, Cape Town. Right: shoppers select fresh fruit and vegetables.
- Ouderdom: 55
- Beroep: Verspreider van verfverwante produkte
- Huwelikstatus: Geskei
- Waar woon jy? Bellville
- Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) My dogter en seun
- In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend? Was reeds onder enorme finasiële druk agv totale verlies van besigheid na 2 inbrake en diefstal van alle voorraad en toerusting.
- Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is? Vreesbevange, want ek het reeds die gevolge begin voel en besef in Januarie – Februarie.
- Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is? Verslae en of die mat finaal onder my voete uitgeruk word.
- Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring? Elke miniuut gebruik om nog ‘n laaste paar sente te verdien. Het darem onthou om tussendeur toiletpapier en nie-bederfbare kos aan te koop. Nie uitermate nie.
- Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?Ek het vroeg opgestaan en met ‘n koppie koffie en beskuit in die tuin gesit en probeer sin maak oor hoe nou verder. Ek het soms my gevoelens geteken en geskryf.
- Wat was die moeilikste tydens vlak 5? Geen kontak met vriende en familie en die gevoel van magtelose onsekerheid.
Wat is vir jou positief tydens vlak 5? Daar was tyd vir alles waarvoor daar nooit andersins tyd was nie. Ordentlik voorbereide etes saam met my gesin. Tyd om in my tuin te werk en take in en om die huis te doen. - Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was? Heelwat verbetering in die verhouding tussen broer en suster en daarom ‘n kalmte in die huis.
- Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar? Gelate, want die koeël was nou klaar deur die kerk.
- Wat het jy die meeste gemis op vlak 5? Die see en natuur.
- Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak? Dit het ‘n mate van bevryding gebring, maar ook ‘n vrees van waar ek fondse gaan kry om weer van onder af te begin.
- Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4? Ons kon gaan stap.
- Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4? Die onnodige inperkings wat nie sin gemaak het nie soos verbod op rook. Rook nie self nie, maar dit het mense se fokus laat verskuif na ontevredenheid en onmin en daar het skielik ‘n verdeeldheid ontstaan.
- Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het? Ja – gereeld gaan stap en my werk verg ook fisiese krag wat my gesond en fiks hou.
- Het jy tydens vlak 5 geoefen? Ja
- Hoe het jy dit gedoen? Kon nie gaan stap nie, maar het baie hard binne en buite die huis gewerk.
- Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar? Dit is goed om in die oggend te begin met oefening.
- Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak? Het verligting gebring. Daarmee saam die wonder en vrees oor waar die geld vir alle agterstallige betalings moet kom.
- Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek? Almal in ons huis kon begin werk.
- Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek? Oor die ellende en verwoesting wat gesaai is en die onvermoë van die regering om na die land se nood na basiese behoeftes om te sien.
- Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel? Ervaar uitermatige stres en slapeloosheid agv finansiële nood.
- Is jy finansieel erg geraak? Tot op die rand van boedel oorgee, maar ek sal bly glo dat daar ‘n wonderwerk sal gebeur, want dit is al wat my sal red.
- Wat is nou vir jou die moeilikste? Om in die nag te slaap.
- Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is? Die natuur het gerus, mense kon rustiger wees en tyd saam met hulle gesinne spandeer. Tyd om terug te sit en oor die doel en waardes van sekere dinge te reflekteer.
- Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA? Ek probeer my oor teen die grond hou, maar is meer selektief en volg nie meer die syfers so slaafs soos aan die begin nie.
- Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19? RSG wanneer ek rondry in die dag met aflewerings.
- Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel? Vrees dat ek of een van my naastes dit sal opdoen.
- Bly jy op hoogte van die oorsese situasie? Nie in detail nie. Net die hooftrekke.
- Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel? Australië
- Hoekom? Vriende het aan die begin van die jaar daarheen emigreer.
- Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou? Wanneer die syfers van sterftes bekend gemaak word raak dit my baie diep. Die besef hoe onmenslik erg dit vir die persoon wat gesterf het en die naasbestaandes moet wees om so alleen en verwyderd van omgee te moet sterf of iemand te verloor.
- Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin? Ek kan nie regtig aan iets dink nie. Ek het my tyd so goed as moontlik benut om met nuttige en positiewe dinge besig te bly. Ek sou dalk vroeër begin maskers maak het en minder gestres het. Al die stres het my niks in die sak gebring nie, behalwe ‘n naar kol op die maag.
- Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin? Vroeg opstaan. Tyd maak vir koffie in die oggend. Tyd vir rustige etes. Tyd spandeer saam met my gesin. Baie aandag aan die diere. Tyd maak vir stokperdjies.
- Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het? Ja ‘n hele paar mense.
- Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf? Gelukkig nie.