Die behoefte aan beheer (kontrole) is een van die basiese menslike behoeftes. As ‘n mens depressief is, voel jy dikwels jy het geen beheer oor jou lewe nie. Ons vergeet dan dat ons wel invloed kan he op baie dinge en dat dit nie altyd nodig (of moontlik) is om alles honderd persent te kan beheer nie. As ons voel ons het geen beheer nie, word ons ‘n slagoffer en vergeet ons van die invloed wat ons wel kan uitoefen.
Soms besef ons nie hoe futiel dit is om dinge te probeer beheer wat ons op geen manier beheerbaar is nie. ‘n Mens mors dan jou energie op goed wat jy nie kan verander nie, soos byvoorbeeld die weer, pleks van net konsentreer op die invloed wat jy kan he, deur byvoorbeeld meer plooibaar te wees en jou program by die weer aan te pas waar moontlik.
Die geheim is om buigsaam (flexible) te wees in jou manier van dink. Dis die buigsame denkers wat hul probleme kreatief kan aanpak sonder om paniekerig te dink alles is nou buite beheer. ‘n Mens kan wel die vaardigheid aanleer om buigsaam te dink. Om te veralgemeen (jy’t een dom dingetjie gedoen en nou aanvaar jy sommer jy is dom en tot niks intelligents in staat nie) en te globaliseer (een man het jou teleurgestel en nou glo jy al die mans op die hele aarde is presies dieselfde) is twee voorbeelde van rigiede denke. Die persoon wat buigsaam kan dink, is gewoonlik die persoon wat ‘n probleem die gouste en beste kan oplos.
Buigsame denkers besef ‘n mens kan gewoonlik nie totale beheer oor enige situasie he nie. Hulle neem aan die ander kant ook nie sommer aan hulle het geen beheer nie. Hulle leer aan om die onderskeid te tref tussen dinge wat hulle kan beheer en dinge waaroor hul invloed kan he.
Die beheervraat (control freak) probeer alles en almal rondom hom beheer. Dit help hom om minder angstig te voel. Hy is gewoonlik ook ‘n perfeksionis en iemand wat alles-of-niks-denke (all or nothing thinking) toepas – as iets nie honderd persent volmaak en perfek is nie, is dit ‘n totale flop. Hy kan nie die middeweg sien nie. Die beheervraat kan die lewe vir almal rondom hom (en homself) baie moeilik maak deur van almal (en homself) perfeksie te verwag – niks en niemand kan ooit perfek wees nie. Hy maak homself dus oop vir voortdurende teleurstelling en frustrasie.
Wanneer ‘n mens leer om buigsamer te dink, besef jy die heel beste manier van beheer uitoefen is om te weet wanneer jy iets kan beheer en wanneer jy iets net kan beinvloed. As ‘n mens eers hierdie onderskeid leer maak het, word die lewe sommer baie lekkerder.