Moet vir geen oomblik dink ‘n boek met die woorde vier begrafnisse in die titel is noodwendig een lang gewroeg nie. Dulcie-Anne Douglas het heelwat rede vir wroeg, maar dit gaan altyd gepaard met ‘n glinstering in die oog en ‘n lag wat kort-kort onkeerbaar uitborrel.
Dulcie is ‘n vrou met ‘n groot hart, ‘n smaak vir die mooi dinge in die lewe, ‘n innige begeerte om die stof van Gumaville finaal van haar stiletto’s af te skud – en ‘n tydbom in haar handsak. Nou nie ‘n regtige bom nie, maar steeds een wat haar nuwe lewe in Roxy met een hou uitmekaar kan blaas.
Oënskynlik is haar grootste bekommernis wat die bure gaan sê oor al die kom en gaan by Chesterlaan 199. En watter bykomstighede om haar uitrusting mee af te rond. Maar soos die leser haar beter leer ken, kom jy agter haar diep, opregte besorgdheid is oor die wel en weë van haar twee uitgegroeide kinders – en oor die hele uitgebreide gesin. Daar is Ashwin, haar seunskind wat nou wragtig met ‘n meisie uit Gumaville by haar aankom. Daar is Cheryl se dik vriendskip met ‘n tamelike butch vroumens. Daar is Sparky, die wewenaar van die ontslape Hanna – en daar is Fanny Mabaso. En die fabelagtige bed in Sparky se garage. Daar is ook oorlede Hanna se broer Dudley, wat op ‘n haar na soos Peter Sellers met ‘n pruik en ‘n snor lyk. En die wit eiendomsagent Rocky van der Merwe wat haar huis aan haar verkoop het –en steeds ywerig na haar belange omsien … Daar is ook Hanna en Sparky se seun Enver-Lewis wat met sy wit Amerikaanse roos en die twee woelige seuns vir die begrafnis gekom het. En Rose se 38D-cups wat die manne uit alle hoeke van die reënboognasie chronies op hol het. Daar is ook Shorty … en Louwkie en Oubaas wat nie bene het nie …
‘n Mens lag saam met Dulcie, jy huil saam met haar en jy vier die lewe saam met haar. As jy van Pat Stamatélos se vorige boeke gehou het, is hierdie een vir jou – net heelwat vroliker en ligter, maar nie sonder die eg-menslikheid en die weerloosheid onder die oppervlakte nie.
Is dit nie ‘n lekker boek om te lees nie ? Ek het ook haar eerste 2 boeke baie geniet (Kroes & Die Val van die Dice),wat,ek dink,baie biografies is,maar toe kom die Portier,wat my redelik koud gelaat het,gedog sy’s ook nou maar ‘n “flash in the pan” wat niks te sê het na haar eie lewe uitgeskryf is ….. en toe hierdie een !!! Hoop daar kom nog baie boeke uit haar pen !!!!
Dan wil ek ook net sê dat ek lanklaas so baie tv gekyk het as van Saterdag-laatmiddag af ….. dis nou om bietjie weg te kom van Somersneeu af !!!! Is nou eers halfpad met die boek (en einlik lees ek baie vinnig !!) en is soooo verveeld ….. maa ek gaan hom deurlees,sy moet iets te sê hê ……..
Ek is besig om my ou stukkies van my blog af na Goodreads te copy en sien nou hierdie. Wonder hoekom het ek nie destyds geantwoord nie? Dalk nog nie geweet hoe nie!
Jy gesien daar is ‘n nuwe een van Pat op pad?