Checklist om ‘n moeilike dag te red!

Blink idee gloeilampHier is my lysie van dinge waarna ek moet kyk as ek voel ek begin afgly in die put. (En ‘n mens moet vinnig optree, voor jy te diep gegly het om meer duidelik te kan sien!)

  1. Het ek vandag gesond geëet? En genoeg, maar ook nie te veel nie? Te veel suiker? Te veel koolhidrate?
  2. Het ek al oefening gehad? Verkieslik in die buitelug. Iets waarvan ek hou, nie iets wat lyding behels nie!
  3. Is ek besig met iets wat my bevrediging verskaf? ‘n Bedrywigheid wat vir mý sinvol is – nevvermaaind wat ander daarvan dink! Verkieslik iets skeppends. (Vir my tel huiswerk beslis nie as skeppend nie.) Dit kan ‘n ete se kook of ‘n kongres se reël wees … enigiets.
  4. Het ek al vandag vir iemand anders iets gedoen? (En nee, die gewone huistake vir my huismense tel nie.) Iets vir iemand wat in een of ander opsig minder gelukkig as ek is.
  5. Het ek al sinvolle kontak met mense gehad? Nie leë oppervlakkige of niksseggende praatjies (of skinder!!) nie – kontak wat dieper as die oppervlak strek.
  6. Het ek al gelag?
  7. Is daar musiek in my lewe? (En nee, dit hoef nie noodwendig Springsteen te wees nie!! Dit kan Beethoven wees – of Nicholas Louw as dit moet …)
  8. Is daar orde in my omgewing? Dit help selfs om net die rytjie skoene voor my kas haaks te skuif … En nee, ons praat nie van obsessiewe gedrag nie, net van doodgewone orde.
  9. Het ek vandag iets afgehandel wat my al lankal irriteer? Betaal ‘n rekening, sorteer vinnig die tydskrifte, skryf ‘n e-pos … Dit werk om dinge te kan doodtrek in jou dagboek. En trek hulle fisies dood, hard en duidelik.
  10. Is ek oormoeg? Plaas ek te veel druk op myself?
  11. Te min geslaap? Of dalk te veel?
  12. Het ek vandag iemand toegelaat om my te manipuleer of te misbruik?
  13. Het ek ja gesê toe ek moes nee gesê het?
  14. Is daar onsekerhede wat my teister? Kan ek dalk iets daaraan doen? Moet ek dalk iemand iets vrá i.p.v. net in angs en stilte wag?

Natuurlik verg dit vasbyt om sover te kom om actually iets te DOEN aan hierdie lysie. Maar glo my, dit werk!
Ek hoor graag van dinge wat vir ander mense werk. Onthou, hierdie is bloot my eie ondervinding – nie die alfa en omega nie!