Depressie word dikwels die siekte van ons tyd genoem, maar daar is heelwat ander wat ook kan kompeteer vir hierdie titel. Hiervan is fibrositis of fibromyalgia (ek sien allerhande verskillende spellings hiervan) sekerlik een.
Al hoe meer mense (almal waarvan ek weet, is vroue) word deesdae hiermee gediagnoseer. Ek het nie ‘n idee of daar ‘n toename in die toestand is, of dokters net meer bewus daarvan en ingelig daaroor is nie en of hulle dit maar net vir ons sê as hulle nie weet wat om verder met ons aan te vang nie. ‘n Mens weet nie, maar vermoed daar is voorheen baie mense nooit gediagnoseer nie – of daar is gesê of geimpliseer hulle makeer nie regtig iets nie.
Hieronder plaas ek ‘n opsomming wat ek ‘n hele paar jaar gelede uit verskillende bronne op die internet (wat ek nie meer kan onthou nie!) af gemaak het. Vir ingeval dit vir iemand iets kan beteken. Self vind ek dat ‘n sekere baie goedkoop generiese pilletjie, plus gereelde oefening en ‘n gesonde leefstyl (behalwe vir gereelde Lindt- en ander soetigheidverwante glipsies) my in staat stel om baie gemaklik met die pyne saam te leef. (Ek moet byvoeg dat my pyne seker met die helfte verminder het toe ek myself van my Coke Light verslawing gespeen het.)
FYBROMYALGIA SINDROOM (FIBROSITIS):
Sindroom: Samestelling van simptome waaraan ‘n mens ‘n siekte kan herken, sê die woordeboek. Dikwels simptome wat ook by ander siektes kan voorkom, nie net spesifiek tot hierdie ding nie.
Dit veroorsaak (soms) spierpyn wat jou bewegings kan beperk, en moegheid.
Die pyn kom voor op die plekke waar die spiere vaskom aan bene of ligamente. Die pyn stem ooreen met dié van artritis.
Die gewrigte word egter nie aangetas soos by artritis nie.
Dit begin gewoonlik in een area, dikwels die nek en skouers, en versprei dan verder.
Die meeste mense sê hulle voel feitlik altyd ‘n mate van pyn, maar dit wissel baie a.g.v. tyd van die dag, weersveranderinge, fisiese aktiwiteit of spanning.
Die pyn is dikwels erger na ‘n slegte nagrus.
Slaaploosheid en moegheid is die heel algemeenste simptoom. Baie mense ervaar wisselinge in konsentrasie en gemoedstemming. Ander moontlike simptome is migraine, duiseligheid, krieweling of doodheid van hande en voete, maag-probleme (soos spastiese dikderm), winderigheid.
Behandeling moet die volgende insluit:
- Oefening om pyn te verminder en spiere sterker te maak.
- Gereelde slaapgewoontes
- Medisyne vir slaap en vir ander simptome wat die persoon ervaar
- Emosionele ondersteuning om simptome te hanteer en spanning te verminder.
Die sindroom kan bestuur word sodat die persoon ‘n vol en sinvolle lewe kan hê.
Die ondersteuning van familie en vriende is noodsaaklik. ‘n Mens moet jou nie laat afsit deur tye wanneer dit slegter gaan nie – dit wissel blykbaar dikwels.
OEFENING IS BAIE BELANGRIK. Dit voorkom die verswakking van spiere, laat voel ‘n mens goed en verminder (op die lange duur) moegheid en pyn.
Oefening moet GELEIDELIK vermeerder word.
Stap, swem en oefenfiets trap is goeie keuses.
Strekoefening is baie belangrik, maar moet BAIE versigtig gedoen word.
Sielkundig: ‘n Mens moet probeer dink aan die pyn as maar net een negatiewe aspek in die lewe, en onthou van ander dinge wat nog reg is. Pasiënte dryf hulself dikwels voort tot hulle heeltemal ineenstort, en dan dink hulle hulle is te sleg om te cope.
GOEIE SLAAP IS UITERS BELANGRIK.
‘n Gesonde dieet met lae vetinhoud en baie vesel, baie vars groente en vrugte, is die beste. Daar is nie bewys dat enige spesifieke dieet wonders kan verrig vir die pyn nie.
MANIERE OM SPANNING TE VERMINDER:
DIEP ASEMHALING: Asem stadig in deur neus vir 10 tellings, jou maag moet in en uit gaan (nie jou bors nie), en dan weer uit vir 10. Doen dit 5-10 maal op ‘n keer, ‘n paar keer per dag as jy gejaag/gespanne voel.
ONTSPANNING VAN DIE SPIERE:
Haal stadig asem en span en ontspan jou spiere van jou kop af, geleidelik tot by jou tone, sorg dat jy almal bykom. Span die spiere so styf soos jy kan, en probeer dit dan weer heeltemal ontspan. Dit werk om aan die slaap te raak ook.
ONTSPANNING VAN JOU GEDAGTES:
As jy iets doen, bv. skottelgoed was, konsentreer doelbewus op jou onmiddellike omgewing, bv. die skuim, die temperatuur, ens. Sodra jy weer begin bekommer, keer terug na die rustige ervaring van jou sintuie.
MASSERING verminder spanning en laat jou beter slaap.
Onlangs het ek twee interessante dinge raakgelees:
Eerstens is sensitiewe mense geneig om dit te kry. (Kon nog nie besluit of dit ‘n kompliment is nie!)
Tweedens is daar in studies gevind dat dit dikwels by verkragtingslagoffers voorkom. Hieruit kan ‘n mens seker aflei dat erge trauma dit kan veroorsaak en/of vererger. Self het ek genadiglik nog nooit so iets beleef nie, maar die sindroom het wel ontstaan op ‘n tyd in my lewe toe ek baie besig, gejaagd, gespanne en redelik depressief was. Die gejaagdheid is vererger deur ‘n depressiepil wat my op ‘n onnatuurlike high gesit het. In dieselfde tyd het die artritis in my hande kop uitgesteek. Dokters weier om enige verband tussen hierdie dinge te lê, maar ek dink nogal daar is waarskynlik ‘n verband.
Ek hoor graag van ander mense wat dalk spesifieke dinge gekry het wat vir hulle help!
Erge pyne somtyds nie altyd nie..
Amper 70 jaar