Waarom Springsteen?

Ek bevind my in my middel-vyftigs vir die eerste keer in die posisie dat ek werklik vir my rolmodelle gekies het. Voorheen was ek meer geneig om stilletjies jaloers te wees op mense wat ek bewonder. Miskien le die sukses hierdie keer daarin dat ek nie die geringste kans het om ooit te bereik wat my twee rolmodelle bereik het nie. Beslis nie die vlak van die 70 miljoen dollar wat Bruce blykbaar die afgelope jaar verdien het nie! (Dit plaas hom blykbaar vierde onder musikante en sewende onder vermaaklikheidsterre in die algemeen.) Nog minder die moraliteit en grootse menswees van Nelson Mandela. Daar is dus nie sprake van kompetisie nie, net van bewondering.
My agting vir Madiba hoef ek sekerlik nie te verdedig nie. Hy is ‘n ikoon van formaat. Soos iemand gese het – dalk die laaste ware held op aarde.
Maar Springsteen is feitlik onbekend in Suid-Afrika. Ek het ook maar net vaagweg geweet van Born in the USA – wat in 1984 verskyn het. Ek het nie ‘n benul gehad van die lang pad daarvoor of die laaang pad daarna nie.
Bruce se grootste talent is sekerlik sy vermoe om met sy lirieke tonele te skilder wat so helder is asof jy dit self sien. Natuurlik tipies Amerikaanse beelde – hy is so Amerikaans as kan kom. (‘n Spesie waarvoor ek voorheen weinig tyd gehad het!). Maar kyk jy ‘n bietjie dieper, sien jy dis eintlik universele tonele wat hy skilder, dis geldig vir enige mens op enige plek. Want ten diepste is ons almal dieselfde.
Sy tweede groot talent is om met ‘n skare van derduisende mense  te connect soos min ander kunstenaars. Hy raak op die verhoog absoluut hoog op die musiek en hy neem die skare met hom saam. Op die internet wemel dit van mense wat al honderde van sy konserte bygewoon het. Die wonder van DVD’s bring dit natuurlik tot hier op my skerm.

Mettertyd het baie ander eienskappe my ook getref. Die absolute passie wat hy van kindsbeen af vir sy musiek gehad het. Hy het nooit eens ‘n vakansie- of tydelike werk gedoen nie – hy het eenvoudig net gefokus op sy musiek. Hy het as jong musikant geweier om enigiets behalwe sy eie, oorspronklike werk te speel, terwyl almal rondom hom bloot covers gespeel het. In sy kreatiewe lewe bly hy voortdurend aan die soek na nuwe uitdagings, hy bly groei en hy bly eksperimenteer. Hy is in staat om besondere menseverhoudinge te bou. Daarvan spreek die E Street Band se voortbestaan vanself – amper veertig jaar is hulle al bymekaar. (Daar was wel ‘n onderbreking terwyl hy in die 90s met ander rigtings geeksperimenteer het, maar almal het daarna weer saamgekom). Dit klink of deel van hul geheim is dat elkeen ‘n eie lewe en eie loopbaan ook het. Daarby is hy op 61 die toonbeeld van iemand wat sy lyf oppas en gesond lewe. Wat in die vermaaklikheidsbedryf seker nie maklik is nie.
Al hierdie dinge – en nog vele ander – maak hom vir my as kreatiewe mens uiters relevant. Sy loopbaan wemel van voorbeelde van gedrag wat enige mens gerus kan navolg. Geen geldrondgooiery nie (nie dat ek ooit geld sal he om rond te gooi nie), geen losbandigheid of wilde partytjies nie, geen skandale nie (behalwe een glipsie lank gelede!). Hy haal nooit die Huisgenoot se skinderblaaie nie – dis seker die dat hy so onbekend is in SA!
Natuurlik het hy ook al foute gemaak. Maar dit maak hom net nog meer menslik. En derduisende aanhangers is maar te bereid om te vergewe en te vergeet.
Ek ook.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s