RSS

Terugblik: Bly by my Deel 1

“KOM, MY GIRLIE, ONS TWEETJIES gaan sommer kar toe.”

Luide aanmoeding van die ouens, oordrewe ekstatiese sugte en gerolde oë van die meisies af.  Net Julie kyk met klipharde kraalogies na my.  Dis immers sý wat hom op die strand opgetel en saamgesleep het.

Christopher.  Nog mooier as sy naam.

Nie dat ek seker is sy sal weet wat om nou eintlik met hom te maak nie.  Of dat ék nou eintlik weet wat om met hom te maak nie.  Maar ek weet darem minstens wat ek nié wil nie.

“Vat sommer jou sakkie, ek en jy gaan lekker lank wegbly.”  Hy lyk of hy dit elke aand doen.  Koel soos ‘n komkommer; lig ewe die hand vir die aanmoedigende halfdronk spul blikskottels om die tafel.  Niemand lig ‘n vinger om my uit die verknorsing te help nie; almal dink dis vreeslik great en vreeslik snaaks.  En ek dag hulle is my lewenslange pelle!

Die wêreld wil-wil draai om my; die trane stoot branderig in my oë op.

Die hele helse jaar flits by my verby:  Die Valentynsdans toe my pa weier dat ek after party toe gaan, die Winterbal waar ek die enigste meisie was wat actually warm aangetrek was, die forty days  party toe my date my gedrop het, die matriekafskeid waar ek weggehol het van die after party toe die klomp kaal-kaal in die bondel begin vry in die swembad.

En hier is ek op sleeptou agter ‘n wildvreemde mansmens wat te oud en te slim is vir my, op pad na sy gehawende Volla met die surfboard op die dak.  En nie vir ‘n entjie gaan ry in die maanskyn nie.

Op Oukersaand, nogal.

Miskien kan ek hol, dis darem een ding wat ek met my regaf voëlverskrikkerlyf kan doen, hardloop.  Maar ek wil nie aan die weghol bly nie; ek wil yskoud en als gewoond met elke situasie cope.  Tot dusver ontwyk dié vermoë my egter volkome.

Ek glimlag met my laaste asem floutjies vir die moroniese spul om die tafel, maar hulle’t klaar van my vergeet; die bottel draai alweer onder luide gelag en simpel kwinkslae.  Ek klou my sakkie soos ‘n reddingsboei vas en laat my by die voordeur uitsleep.

Ek sal my hol moet ken – hy’s so vervlaks nugter; het omtrent niks gedrink nie, ek het hom gewatch.  En dan seker nog fiks ook; die surfery lyk vir my na baie moeite vir min plesier.

Toe die voordeur toeslaan, toe ruk ek los en trek weg dat die klippers spat, by wyse van spreke.  Ek vorder presies twee treë.  ‘n Seningtaai arm katrol my in tot teen sy lyf.  Ek vergaan byna van skrik en lekkerkry; my verraderlike lyf sukkel om te registreer die man is besig om te lag, nie om te verswelg in die hartstog wat ek in hom ontketen nie.

“Komaan, wil jy stoot of stuur?”  Hy los my soos ‘n warm patat en draai om na sy karretjie toe.

“Wát?”  Nou is ék die moroon.

“As hulle ons hoor wegtrek, gaan die hele spul by die voordeur uitpop, en ek het regtig nie meer krag vir hulle nie.  Watter kant toe is jou huis?”

“Jy bedoel …”

“Ek gaan jou nie plattrek in die kar nie, kindjie, ek gaan jou huis toe vat.”  Ek wens ek kan die grinnik van sy bakkies afvee, maar natuurlik is ek te chicken, staan net daar soos ‘n idioot.  ‘n Baie verwarde idioot, totaal verskeur tussen skrik en lus en kuisheid.

“Vir wat?”  kry ek darem uit.  Seker oor ek te lelik is.

“Oor ek dadelik gesien het dié soort party is nie jou scene nie.”  Doodernstig en vaderlik.

So ongeneeslike kloosterkoekie staan op my voorhoof gegrafeer, al my dapper pogings tot uitrafel ten spyt.  En die arme fool dink hy doen my ‘n moviese guns.  “Loop terug en sleep vir Julie kar toe!  Ek weet waar’s my huis, ons kom al van voor die skepping af elke jaar hiernatoe.”

“Julie se lus hang darem te ver uit; genoeg om enige man die wilde weghol te gee.  Ek wil nie by wees as die rowwe manne op varsity háár beetkry nie.  Hoe oud is julle klomp?”  Hy klim in, haal die Volla uit rat.  “Toe, stoot.  Ek wil bed kry, wil môre vroeg weg wees.”

“Waarnatoe?”  Ek stoot maar ewe gedwee; tjoef-tjaf toe hoes die Volla en ek kan inspring.  En angstig terugkrimp in my hoekie, die grote man so naby my rattle my geheel en al.  Dat ek hom sowaar kon glo – hy gaan nou natuurlik reguit bosse toe met my.  My klamgeswete hand krul om die deurknop.

“Waar’s jou huis?  En los maar die deur, ek gaan jou nie ontvoer nie.”

“Tweede straat regs, derde aan linkerkant.”  Waar my ma-hulle se monde gaan oopval as ek so vroeg terugkom.  “Waarheen gaan jy môre?  Dis môre Kersdag!”  So lank gebaklei om Oukersaand te kan uitgaan, en hier kom ek skaars tienuur druipstert by die huis aan.

“Ek gaan waar die branders is.  En ek weet dis Kersdag; ek vra hoe oud is julle?”  In die doflig lyk hy sagter, nie heeltemal so gevaarlik nie.  Of dalk raak ek te gou gerus.

“Die meeste van ons het nou matriek geskryf.”  Hy was van sy instap af hartlik verveeld met die infantiele geselskap.  En nie soos ek te pateties om dit te wys nie.

“En jy?”

“Matriek geskryf.”  Koponderstebo, asof dit ‘n sonde is.

“Hoeveel onderskeidings verwag jy?”  So akademiese wrak staan ook op my voorkop.

“Ek hoop vir sewe.”  Dat ek sowaar kan skaam wees daarvoor.

Hy stop voor ons strandhuis, vanaand vol lig en warmte, soos my hele lewe nog.  Ek klem my arms koulik om my lyf.

“So ek neem aan jy gaan varsity toe?  Stellenbosch?” Leun so ewe oor en maak die deur vir my oop.

“Ja, Ingenieurs.”  My pa wou die horries kry, glo sowaar nog dis ‘n man se werk.

Nou-nou kom hy nog hier uitgestorm, reg om sy laatlammetjie se eer te beskerm.  Soos hy darem kan aangaan oor die gevare van die ou wêreld!  Dat hy dalk reg kan wees, is lankal meer as net ‘n vermoede.  En het vanaand ‘n nare sekerheid geword.

“Dan beter jy hierdie soort van pret uit jou gestel kry.  Op varsity vreet die seniors eerstejaartjies wat probeer cool wees lank voor brekfis op.  As jy dink spin the bottle waar die ouens kamer toe gaan is rof, dan beter jy weer dink.”

Ek wil nie vaderlik aangespreek wees nie, ek kry oorgenoeg daarvan by die huis.  “Los maar die preke, ek weet wat ek doen.”

“Jy’t nie ‘n kat se clue wat jy doen nie.”  Die Volla brul ongeduldig.  En die voordeur gaan oop, soos voorspel.

Ek spring uit en blits die trappies op, maar ek’s klaar te laat.  “A nee a, Bollie, wie’t jou huis toe gebring?”

Ja, jy’t reg gehoor, ek ís agtien en my pa noem my nog Bollie.

“Nooi die mense in vir koffie, hoe’s dit dan met jou?”  En af met die stoep stoom hy, sy gul boerestem rol voor hom uit:  “Kom nader, kom nader!”

En sowaar, my redder klim uit en steek sy hand soos ‘n ware boereseun na my pa uit.  Op met die trappies, in by die helder verligte woonkamer.  Ek sluip agterna en kyk met genot hoe my pa se oë oor die lang, sonverbleikte hare gaan, oor die oorring, die baggy shorts, die bandjie om die enkel, die kraletjies om die nek.  Maar hy hou nogal sy pose: “Sit, kêrel, sit.  En vanwaar is jy, het jy gesê?”

“Ek het nie gesê nie, oom, maar ek’s van Gauteng.”  Vir mý word die lang, sonverbleikte hare, die oorring, die baggy shorts, die bandjie om die enkel en die kraletjies om die nek by die minuut mooier.

Vir my ma ook, ek kyk haar so onderlangs.  My ma skryf vrystories vir die Huisgenoot, sy’t ‘n oog vir ‘n mooi man; sy maak hulle bymekaar in haar kop vir latere gebruik.

“Julle ook hier vir die vakansie?”  My pa ken elke mens wat vir die afgelope honderd jaar sy voet op hierdie plekkie gesit het.

“Nee, oom, my ouers is op ‘n LSD-trip Australië toe; ek is op my eie.”

Drugs is een van my pa se favourite topics.  “LSD?  My magtag, Bollie, watse mens het jy hier aangebring?”

“Look, see and decide,  hulle wil emigreer, oom.”

“Nou vir wat?  Ek dag die chicken run is lankal verby; mens hoor heeldag hoe kom die ouens terug.”  Ná hy uiteindelik die kopskuif baasgeraak het, is my liefste pa ‘n begeesterde lid van die reënboognasie; sy oordeel oor weglopers is kras en genadeloos.

“Sal nie weet nie, oom.”  Kortaf, amper ongeskik; sy lewendige gesig het meteens eenvoudig toegemaak.  Hy vat darem die skinkbord by my ma, ek sien hoe sy in haar kop vir hom ‘n punt bysit.

My pa weet nie van laat los nie, hy skuif vererg vorentoe in sy stoel:  “Wil jy vir my sê jy laat jou sommer net saamsleep land uit?  Ag nee, man, het julle kinders van vandag dan wragtag g’n murg in julle pype nie?”  My dierbare pa met die sensitiwiteit van ‘n renoster op volspoed.   Ek cringe in my stoel, my ma vroetel onnodig met die koffiegoed; ons ken hom lánk.

Ons gas ledig sy koppie met ‘n paar slukke, plak dit neer met ‘n beleefde “Dankie, tannie” wat hom nog ‘n punt besorg, en kom vinnig orent uit sy stoel.  Hy is ‘n goeie kop langer as my pa, wat nie ‘n klein mannetjie is nie.  En hy’s woedend.

“Ek laat my van niemand saamsleep nêrens heen nie, oom, my ma-hulle se planne het niks met my te make nie.  Nag, oom, tannie, nag Belinda.”  En daar gaat hy, die man van my drome, om nooit weer terug te kom nie.  Danksy my liewe ou vader.

Maar ek het nie rekening gehou met my liewe, liefste ma nie.  Sy haal hom op die laaste trappie in.  “Seun, die oom bedoel nie kwaad nie.  Waar is jy tuis so alleen?”

“Ek slaap sommer in my kar net waar ek kom, tannie.”

“Ag nee, my kind, met daardie lang lyf in dié petieterige ou karretjie!  Vannag slaap jy by ons.”

“Dankie, maar ek is fine, tannie.”

“Ek vat nie nee vir ‘n antwoord nie, kind, kry jou goedjies bymekaar.  Kom, Belinda, vat aan hier.”   Sy begin sommer uitlaai uit die deurmekaar mossienes op die Volla se agtersitplek.  As hy nie pasop nie, doen sy nog sy wasgoed ook vanaand.

“Nou maar goed, dankie tannie, maar môre vroeg wil ek weg wees.”  Dalk is die alleenryery ook maar nie so danig lekker nie.

“En waarheen nogal, as ek mag vra?”  My ma is soos ‘n stoomtrein as sy eers koers gevat het.  Onstuitbaar.  En dan kla sy oor my pa!

“Net waar die branders my vat, tannie.”

Sy skud haar kop.  “Die branders gaan nie weghol nie.  Môre staan jy oor by ons, vir ‘n ordentlilke Kersmaaltyd. ”  My ma verlang na iemand om te voer; my broers en hul gesinne is vanjaar by die onderskeie skoonouers vir Kersfees.

Die oomblik toe die buitekamer se deur met finaliteit agter Christopher toeklik, takel ons my arme pa.  “Jy het niks met die kind se persoonlike sake uit te waai nie, waar kom jy daaraan om ‘n vreemde so uit te vra?”

“Pa, hierdie ou het my vanaand uit groot strooi gered, en kyk hoe behandel Pa hom nou!”

Oeps!  Pa en Ma vergeet hul verskilletjie onmiddellik, en draai soos een man na my met pieringoë en grootskrik-monde. “Wát, Belinda?!”

Play it cool, Belinda, play it cool.  Ek haal my skouers ewe nevermaaind op.  “Aag, niks vreesliks nie.  Dit was net ‘n simpel party.  Ek gaan ook maar inkruip.”  Ek maak ‘n bee-line vir my kamer.  En maak die deur met finaliteit voor my bekommerde ouers se neuse toe.

DIS ‘N DROOM, ‘N AAKLIGE nagmerrie wat net aanhou en aanhou.  Tot ek die stem herken: Julie.  ‘n Julie wat beslis nie haarself is nie.

Hulle is voor my venster, my strandmaters van baie sorgvrye Desembervakansies.  En hulle serenade vir my.  ‘n Aaklige, aaklige dronkserenade.  Don’t forget to remember us … Opsetlik trekkerig, die valsheid iets verskrikliks.  Pure kattekoor in Augustus.

My venster is direk langs my ma-hulle s’n.  Deur die genade is Christopher veilig in die buitekamer om die hoek.  Maar sy Volla staan lewensgroot voor die deur.

Hulle’s nou klaar gesing.  Daar’s ‘n dowwe gestommel, onsamehangende stemme praat deurmekaar.  Gaandeweg word dit duideliker.  Julie:  “Pelle maak nie so nie – jy’t hom net vir ‘n halfuur gekry, Bollie!”

Bertus:  “Ek wou darem ook nog ‘n beurtjie gehad het!”  En dan sing hy so vals-vals: “Sê net of jy dit wil doen …” Nicholis Louw sing van úítgaan in daardie liedjie, maar dit sal jy nooit raai as jy vannag na onse Bertus luister nie.

Julie:  “Jy’t hom sowaar gesteel vir die hele nag!” en:  “Christopher!  Weet die oom waar slaap jy vannag?”  En sy was my pel van doekedae af.

Vannag maak my pa my dood.  Ek panic so, ek’s skoon verlam.

Die volgende oomblik slaan Ma se stem soos ‘n sweepslag agter my: “Belinda, wat gaan aan?  Spill the beans!”  As Ma eers begin Engels praat, dan weet Bollie Ma meen besigheid.  Pa verskyn onheilspellend stil agter haar.

Dus spill ek maar: “Ons het spin the bottle gespeel, Ma.”

Pa ontspan merkbaar. “O, dan moet jy die outjie soen?  Groot sports gewees in my dae!”  Hy is dadelik reg vir ‘n trip down memory lane.  Siestog, so onskuldig nog.

“Deesdae soen hulle nie meer nie, ou man, deesdae gaan hulle kamer toe.”

Pa staan ‘n oomblik heeltemal verstom.  Sy voete staan nog stewig in die vorige eeu geanker.  Vróég in die vorige eeu.

Toe brul hy ‘n groot brul:  “En jy’s met hierdie klein .. klein … windlawaai kamer toe?!”  Windlawaai is nie eintlik wat hy wou gesê het nie.

“Nee, Pa.”

“Wat dan, Belinda?”

“Hy’t gemaak of hy my kar toe vat om te … Pa weet … en toe bring hy my huis toe.”

“En jy stap maar ewe saam?”

“Nee, ek het probeer weghol.”

“En toe vang hy jou en vry jou vuurwarm en bring jou huis toe?”  Daar’s sowaar ‘n lag in my ma se stem.

“Toe vang hy my en lag hom half dood vir my en bring my huis toe.”  Teen dié tyd loop die trane.

“Ag, my arme kind.”  My ma se liefhê-arms is nog net so sag soos kleintyd.  Buite teem die kattekoor entoesiasties voort.

Opeens in die nag die onmiskenbare geluid van ‘n tuinslang wat oopgedraai word.  Wýd oopgedraai word.  Gevolg deur onaardse gille, ‘n paar gedempte kragwoorde, geluide van val en opstaan, ‘n motor wat brullend vertrek, laggende dreigemente agtertoe geslinger.  Toe stilte.  Salige stilte.

Ek en Ma vou dubbel in hulpelose lagbuie.  Dit sal die blikskottels leer!  Pa grom iets onhoorbaar, maar hy kan nie sy glimlag heeltemal wegsteek nie.  En nie ‘n geluid uit die buitekamer nie.

“Kom, ons gaan slaap.  Pa sal môre regmaak met Christopher.  Né, Pappie?”  As Ma eers vir Pa begin Pappie, dan Pappie beter spring.

“Reg, Mammie.”  Foeitog, hy berou seker daagliks  hierdie laatkind wat hy op sy oudag moet grootworstel.  Dit word skoon sag in my van liefgeit vir die ou korrelkop.

“Ek het regtig niks verkeerd gedoen nie, ek sweer.”  Nooit geweet wat hulle dink is vir my so belangrik nie.

Die ou groot grofgewerkte hand vee lomp oor my hare:  “Ons glo jou, my kind.”

DOUVOORDAG GEE DIE VOLLA net een woedende brul, en wég is hy.  Die bed in die buitekamer is netjies opgemaak.  Op die kussing lê ‘n enkele lang goue haar.  Ek gaan sit hom met eerbied in my Bybel.  Ek voel baie, baie ouer as my agtien opstandige jare.

“Wat sal tog die kind so jaag?” sug Ma in haar kamerjas agter my.

‘n Uur later jaag mý smart my ook uit die huis.  Lankal agtergekom ‘n mens kan enige geraas in jou kop tjoepstil hardloop as jy rêrig wil.  Ek haak my MP3-speler in my oor en vat die grondpad kuslangs.  En ek hárdloop hom.  Met die musiek dreunend in my harsings hardloop ek blindelings in die opkomende son in.  “Kom bly by my … “ sing Nicholis my grootste begeerte uit.  Te laat, helaas, te laat.

Ek val omtrent oor die Volla voor ek hom raaksien.  Teen die ou karretjie se stomp neusie leun die liefde van my lewe.  Sy skouers ruk en sy wange is nat.  Heeltemal onverhoeds betrap.

Ek skrik my oor ‘n mik.  Weet nie of ek moet weghol of stilstaan nie, het nog nooit ‘n groot man sien huil nie.  Toe staan ek maar en sweet en blaas tot hy homself bymekaar het.  Ek voel so sterk as jy langs my staan …

“Ek is jammer ek was gisteraand so hardegat met jou pa.  Onbeskof.”  Die son kom goud op in sy hare, die nat omkrulwimpers is vir my vreeslik mooi.

“My pa suffer bietjie met al my dinge, jy weet, hy’s amper oud genoeg om my oupa te wees.”

“Shame, en hy kon nie weet my ma-hulle se trip is ‘n teer puntjie nie.”  Verdomp of ek sal vra hoekom.

“Kom saam huis toe, my ma smag na nog iemand om te mother.”

“Nee dankie, ek soek nie die huislike scene nie.”  Rou verlange skuif vir ‘n oomblik oor sy gesig; hy check homself te laat om my te bluf.  “En ek’s ‘n vreemdeling vir julle.”

“Nie na gisteraand nie.  En jy’s nogal knap met ‘n tuinslag ook, selfs my pa was beïndruk!“   My hart is aan die brand oor jou …

“Jy’s ‘n special girl, jy moenie dat pelle jou in ‘n blik druk nie.“  Hy maak die Volla se deur vir my oop.  “Kom, ons ry.”

Die doodgewone somerdag is meteens in suiwer goud gedompel.  Die see breek stralend oor die rotse; die meeue sing ‘n vreugdelied; die Volla spin soos ‘n vet, tevrede kat.

Ek kan my geluk nie glo … Die ritme in my ore pols tot binne-in my blye hart.

 

 

4 responses to “Terugblik: Bly by my Deel 1

  1. erik

    23/04/2010 at 12:52

    PUIK GESKRYF EN N LEKKER LEES STORIE SOOS NET ONS MENSE REGTIG LEEF EN TIPIRSE AFERIKAANSE GESINS MANIER VAN OPTREE. GOED GEDOEN

     
  2. erik

    23/04/2010 at 12:54

    BAIE NETJIESE STUKKIE WERK – HOU SO AAN ! HET DIT ENIET

     
  3. Anzel Gerber

    25/04/2010 at 11:15

    Marile, ek het my amper dood gelag. Dit is presies soos jongmense vandag praat. Puik!🙂

     
  4. Lelani

    07/06/2010 at 13:24

    Dit was nou voorwaarlik uitstekend…my donker mood ook sommer in sy kannon…waar kan ek ook so ‘n held kry albeit in ‘n volla en nie ‘n wit perd nie!

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: