Nikotien en kafeien het in Huisgenoot van 8 September 2005 verskyn. Let op die verwysings na SMS’e in al die stories van die vroeë tweeduisends – en die stewige Nokias in al die illustrasies.
“Juffrou Dreyer … Dorette … vind jy ooit dat jy te veel dinge tegelyk probeer doen?”
Ek skrik op uit my droomwêreld, waar ek verstanding en bedaard is en altyd die regte besluite neem. Ons ganse personeel sit saamgekoek in die beknopte seminaarkamer vir ‘n kortkursus in kantoorbestuur, die baas se nuutste poging om ons produksie op te stoot. Ons is tam, alreeds ver verby ons limiete gedruk.
Die fasiliteerder is darem iets om na te kyk. En wéér te kyk. Tall, dark and hands all over, soos ons as studente graag die ou sêdingetjie aangepas het. Dis darem iets om voor dankbaar te wees. Ek gryp na strooihalms; ek is gedaan gekursus en opgelei en gemotiveer.
Dis nie net Werner Ludik se sielvolle donkerbruin kykers met die lang, swart wimpers en treffende donker wenkbroue wat pragtig is nie. Ek probeer egter my bes om nie verder te kyk nie; ek het werklik nie nóg komplikasies in my lewe nodig nie.
“Ek vind dit verbasend maklik om ‘n hele paar dinge gelyk te doen,” probeer ek in beheer klink.
Niemand kan my kollegas se gegiggel mis nie. Hulle weet iets wat ons lieflike kursusleier nie weet nie.
Piep-piep! My selfoon. Altyd ontydig. Ek duik onelegant af na my sak en grawe ‘n pynvolle tien tellings voor ek die ding in die hande kry. Te laat besef ek hy sou in elk geval gestop het; dis ‘n SMS, nie ‘n oproep nie. Die oë van my kollegas draai kollektief na my kant toe. Afwagtend. Ek ignoreer hulle en probeer intelligent en nonchalant na Werner kyk.
Myra stamp ongemerk aan my: “Toe, toe, lees!” sis sy. ‘n Deurdringende sis. Ek ignoreer haar.
Lydia stamp minder subtiel van die ander kant: “Toe man, lees!” fluister sy. ‘n Luide fluister. Ek kyk verbete voor my op die tafel.
Ek met my groot mond – die hele personeel weet van my stryd met my selfoon. Ek kan nie mét hom nie, en ek kan nie sonder hom nie. Dis nie die arme foon wat die probleem is nie; dis die twee manne in my lewe.
Vir jare was ek oordrewe preuts, meer as net ‘n bietjie rigied, ongelooflik perfeksionisties – en bitter eensaam. En toe sien ek eensklaps die lig (met die hulp van ‘n goeie sielkundige, natuurlik). Ek word ‘n kléín bietjie minder preuts en báíe minder perfek. En toe ek nie meer so perfek is nie, toe is ek reg.
Reg vir die Liefde.
Alles goed en wel, maar wanneer is dit Liefde met ‘n hoofletter? En wanneer is dit vriendskap, respek, kameraadskap, lus of wanhoop, en nie regtig Liefde nie?
Ek is gedaan. Gedaan uitgeëet, gefliek, tuisgemaakte etes geprys en opgeëet, piekniek gehou, werksplekke besigtig, drome aangehoor.
En veral gedaan SMS’e ontvang.
Hulle hou nie op nie. Dag in, nag uit.
My foon piep my mal. En sit ek die ding af, maak die suspense my mal.
“Dink julle ‘n mens kan dinge op dieselfde vlak doen as jy multi-task as wanneer jy een ding op ‘n slag aanpak?” vra Werner vir die groep. Die mooiste is dat hy effens skamerig is, lyk glad nie na jou deursnee rokjagter nie.
“Vra vir Doortjie hierso,” beduie Myra, die maltrap.
Hy sien ek raak benoud en kom tot my redding: “Komaan, dames en here, Dorette het alreeds haar bydrae gemaak.” Hy’s sowaar nog sensitief ook. Ek werp hom ‘n dankbare blik toe.
Terwyl die ander die baas en mekaar probeer beïndruk, tob ek voort oor my penarie. Ek sal iets moet doen, en gou ook. Dit klink dalk baie prettig om twee kêrels te hê, maar glo my, die pret gaan gou verby. My senuwees is behoorlik aan die uitrafel.
Morné is lank en blond en befoeterd. Vurige geaardheid, vinnige motor, lekker groot vasvathande. Ek het hom ‘n maand of wat gelede raakgedrink in een van ons klomp se gunsteling-uithangplekke. (Ek drink eintlik bitter min, dit klink net so lekker wild.)
Leon is kort (maar nie té kort nie) en donker en flegmaties. Nie opvallend aantreklik nie, maar met ‘n sterk, betroubare gesig. Praktiese motor, stabiele werk. Hy was ‘n maand of wat gelede ‘n naamgenoot en kennis se maat in ‘n groep wat saam gaan opera kyk het. Dorette de Wet. Ek het nog nie weer ‘n oog op haar gelê nie; hoop maar nie daar is kwade gevoelens nie. Ek is ‘n meisie vir vrede en vriendskap; ek glo in leef en laat leef.
Morné spesialiseer in die romantiese aanslag. Sy geselskap is sprankelend (as hy nie sulk oor iets nie), sy SMS’e speels en plesierig, soos gisteraand se laaste enetjie: Trek go jo pantofilkies en kamerjasi an … gat go buite to … is jy da? Kyk go op … tel die *kies … kla gtel? … ditis ho baie jy vi my bteken! Leke slapies!
Ja, ja, ek weet dis hoe moderne jongmense SMS’e tik ter wille van tyd en spasie. Maar vir my as Afrikaans-verslaafde bly steek dit dwars in die krop.
Leon is ernstig en opreg. Sy geselskap is bedaard en beredeneerd, sy SMS’e feitelik en verbeeldingloos. En knaend, ‘n eindelose gedrup soos ‘n kraan wat lek: Vanoggend ver gedraf … My motor se bande laat vervang … Goeie dag gehad … Vanmiddag gaan kos koop … Hy probeer my insluit by sy lewe, ek weet. Maar ek voel ek kan gil. En nie van ekstase nie.
Morné laat lewer delikate lelies en langsteelrose af; duur, eksotiese blomme wat gou verlep. Leon dra asters en proteas aan; bekostigbare, verstandige blomme wat lank hou.
Morné wil my in die bed kry, en hy dink ek weet dit nie. Leon wil met my trou, en hy maak seker dat ek dit weet.
Ek is nie reg vir in die bed spring óf trou nie. Ek is reg vir ‘n bietjie pret en jonkwees. Ek het ‘n hele paar jaar gemis, ek moet darem eers inhaal.
Ek weet nie of ek moet jubel of ween toe die dag eindelik ‘n end kry nie. Dit gaan weer ‘n bésige naweek wees. Werner glimlag alte mooi vir my met die uitstap. Ek gaan hom nooit weer sien nie; ek weet niks van hom nie. Skielik stem dit my diep droefgeestig.
Piep-piep! gil my lus, my las, my vreug onderin my deurmekaar skouersak.
“Toe, toe, lees!” sis Myra.
“Toe man, lees!” fluister Lydia.
“Jy’s ‘n gewilde meisie,” konstateer Werner droogweg.
Ek probeer ontsnap kleedkamer toe. Myra en Lydia sit soos klitsgras aan my. Myra was in dieselfde groep toe ek en Morné mekaar die slag raakgedrink het. Lydia was in die groep toe ek Leon by die opera ontmoet het. Hulle is albei dierbare vriendinne.
Eensklaps kom die son op in my donker harspan! My vriendinne het ‘n verskuilde agenda: Myra is mal oor Morné; Lydia lewe vir Leon. Maar hulle krap nie my oë uit of versprei skinderstories oor my nie. Hulle wag geduldig (?) dat ek my keuse maak sodat die gelukkige een kan storm vir die krummels.
‘n Goeie vriendin laat nie haar maters rondkruip vir krummels nie. ‘n Goeie vriendin gee hulle die hele koek.
Ek glip by die eerste deur in en druk hom stewig toe. Enigste plek waar niemand my kan agtervolg nie. Uit met die selfoon.
Die eerste SMS is van Morné. Hy sê hy kom haal my vanaand vir ‘n romantiese rit met die sweefspoor in die maanlig. Die sjampanje is alreeds op die ys.
Die tweede SMS is van Leon. Hy sê hy het kaartjies vir ‘n kamerkonsert gekry. Daarna kan ons ietsie gaan eet by sy ma-hulle.
Meteens is ek kláár. Finish. Kaput. En ek gaan tot aksie oor; ondeurdagte, impulsiewe, dwase aksie.
Ek bel vir Morné en sê ek het ‘n vieslike verkoue, maar Myra het goedgunstiglik ingestem om hom te vergesel, aangesien hy nou alreeds die dure kaartjies aangeskaf het. Ek kan tog nie met ‘n verkouelyf in die nag op Tafelberg gaan rondlê nie! Hy ruk hom vreeslik op en laat hom toe alte maklik ompraat. Dit laat my dink.
Ek bel vir Leon en sê vir hom ek het ‘n moeder van ‘n migraine, maar Lydia sal hom uithelp, aangesien hy nou al die moeite gedoen het om die kaartjies te bekom. Ek kan tog nie verhewe musiek waardeer met ‘n kop wat klop soos ‘n Afrika-trom nie. Hy laat hom dit so geredelik geval dat dit my nóg meer laat dink.
Daar’s ‘n skuldige geskarrel toe ek te voorskyn kom. Met my maters se ore skort daar niks, dis die harte wat so mankoliek is. Hulle het alles gehoor; kastig vreeslik in hulle eer gekrenk. Maar ek kan ys aan ‘n Eskimo verkoop; dit kos my nie meer as ‘n minuut om hulle te oorreed nie.
Ek verlaat die twee vrolike vinkies met ‘n loodsware gemoed. My boetie sê al van kleinsaf ek het nie al my varkies op hok nie. Vandag besef ek hy is nog al die jare reg: ek het sopas twéé pragtige, hubare mans present weggegee.
Ek SMS Myra en Lydia se adresse vir die gelukkige manne. Toe sit ek my selfoon af en ry in vrede huis toe. Ek eet waarvoor ék lus is (roereiers en bully beef) en luister na die musiek waarvan ék hou (Theuns Jordaan en Mathys Roets). Om een of ander duistere rede verskyn Werner se come to bed eyes kort-kort voor my. Ek spreek myself streng aan: So ‘n vreeslike mooi man is gewoonlik nie te vertroue nie. Sê my ouma. (Maar ‘n ouma kan ook seker soms ‘n ou oordeelsfoutjie maak?)
Kort voor lank is ek uitgekuier met my eie geselskap en siek van nuuskierigheid. Ek hou my hande met moeite van my selfoon af. In my frustrasie doen ek die voorheen ondenkbare: Ek trek ‘n stywe jean en ‘n mooi toppie aan en ek gaan alleen na ‘n pub toe. Nie een van ons gewone uithangplekke nie, so die kans om ‘n bekende daar raak te loop, is skraal. Ondersoek alle dinge … sê ek vir myself.
Dié soort van ding is vir my nuut. Onthou, ek het ‘n agterstand, ek is ‘n late bloomer. Ek sluip die plek soos ‘n verskrikte muis binne. Ek kry ‘n plekkie teen ‘n muur en ‘n drankie wat redelik onskadelik lyk. Die muis bespied die omgewing versigtig. Daar is nog meisies wat alleen is. Hulle lyk nie soos verskrikte muise óf soos straatvroue nie; hulle lyk doodgewoon en op hulle gemak. Ek konsentreer om doodgewoon en op my gemak te lyk.
Bo die geroesemoes van stemme soek-soek ‘n kitaar na die regte akkoord, dan begin ‘n diep manstem sing: Jy’s my nikotien en my kafeïen … my hart loop oor as ek jou net weer kan sien … ddisselblom se heel mooiste liedjie.
Ek versluk my amper aan my (redelik) onskadelike drankie. Dis hy! Werner. Die mooie oë is afgewend, die donker kuif hang oor die voorkop, die lang lyf is liefderyk gebuig oor die kitaar. Sy stem vloei soos ryk, donker heuning oor my. Hy is nie ‘n natuurlike performer nie; hy sing meer vir homself as vir die gehoor. En vir my, maar dit weet hy natuurlik nie. Hy sing die musiek wat my hart laat bokspring van plesier: Afrikaanse musiek, lieflike, moderne, welluidende, volronde Afrikaanse musiek. Vier seisoene kind van Laurika. Pennies op die spoor van Dozi. Sê vir my, Katriena van Wynand Strydom. Soos bloed van Theuns Jordaan. Hemel op Tafelberg van Kurt Darren. (Spesiaal vanaand vir Morné en Myra, mag hulle geseënd wees.) Hy sing homself onwetend pens en pootjies binne-in my hart in.
Ek vergeet om selfbewus te wees. Ek sit doodgewoon en luister na musiek wat tot my spreek en kyk na ‘n mansmens wat vir my pragtig is. My selfoon se snater is gesnoer. My lewe is weer my eie. Ek vergeet van die tyd. Ek vergeet van al my nietige ou probleempies.
Ek tref Moeder Aarde met ‘n slag toe hy eindelik die donker kuif uit sy oë vee en opkyk. Hy glimlag verleërig vir die gehoor asof hy hulle nou vir die eerste keer raaksien. Die applous gaan aan en aan. Sy lyftaal gee hom weg: hy’s bitter skaam. Te mooi vir woorde, sensitief én nog nederig ook.
En toe gaan staan my bloed in my are. “Hierdie laaste enetjie is spesiaal vir Dorette.” Hy het my raakgesien!
Jy’s my nikotien en my kafeïen … ons twee saam is soos vuur en paraffien … ddisselblom se heel mooiste liedjie.
Ek spin van plesier. Werner pak sy kitaar liefdevol weg, en kom na my toe aangestap. Die jean en help-my-sterk-lyk-hempie pas hom soos ‘n handskoen, stukke beter as vandag se bedeesde pak en das.
Helaas, die hemel is my nie beskore nie. Werner Ludik kyk my ‘n oomblik in die oë, knik vriendelik en stap verby na Dorette de Wet, ‘n paar tafels agter my. Ek word in dertig sekondes stokoud en sinies en so suur soos asyn. Dorette de Wet sit haar lang rooi naels op Werner se arm en stap een-vir-jou-een-vir-my met haar nou broekie en sexy spykerhakke daar uit. Aan haar linkerhand blits ‘n knewel van ‘n klip.
Laataand kyk ‘n verslae en verslane ek met die inkruipslag na die Inbox van my getroue ou selfoon. Nie dat ek enigiets verwag nie, blote mag van die gewoonte. Blind van smarte druk ek per abuis die knoppie vir Sent items. En sluk byna my eie kosbare asem in: Ek het die adresse omgeruil! Lankmoedige Lydia is saam met vurige Morné teen Tafelberg uit; maltrap Myra is saam met flegmatiese Leon kamerkonsert toe! Wat ‘n lieflike gemors, gepleeg deur die einste ekke.
Teen voordag verlos die manne se jubelende dankbetuigings my uit my angstige drome. Maandag kom my maatjies by die werk aangetrippel met voetjies wat net so hier en daar grond raak. Mý stoere paar nommer sewes word omtrent sopnat gesoen. (By wyse van spreke) Romantiese rose en praktiese proteas van die twee dankbare manne baklei vir oulaas vir ‘n plekkie in my piepklein aardse woning.
Die gange gons daarvan: Dorette is die meester van alle matchmakers. Niemand besef Dorette is nou ook weer amptelik kêrelloos nie. Dis nog netso mistroostig soos in my preutse, rigiede, perfeksionistiese, eensame dae. My selfoon swyg bot. My twee beste maters het skielik iedere aand ‘n afspraak – met die kêrels wat ék vir hulle present gegee het.
Maandagaand pak ek verbete kaste reg. Dinsdagaand was ek wanhopig ruite. Woensdagaand sjampoe, pluk en waks ek tot ek soos ‘n skoupoedel lyk en soos ‘n geplukte hoender voel. Donderdagaand eet ek selfbejammerend my koskas dolleeg. Vrydag huil ek heelaand.
Nee, nie oor Morné se raakvathande nie. Ook nie oor Leon se opregte goedheid nie. Oor Werner Ludik se smeulende kykers en lieflike lyf. Oor Werner Ludik se kitaar en diep, diep stem. Maar veral oor Werner Ludik se sensitiewe, nederige siel.
Ek het die man twee keer gesien, en my hart wil hom nie laat gaan nie.
Saterdagoggend gaan pak ek teen dubbeltarief my smarte af op my geduldige sielkundige se breë skouers. Met die afskeid vertel hy my ewe stralend hy het onlangs verloof geraak. Blitsromanse, iets wat hy nooit tevore sou aanbeveel het nie. Nogal aan ‘n Dorette, wat ‘n toeval. Dorette de Wet, ken ek haar dalk?
Ek weet nie lekker hoe ek by die huis gekom het nie.
Saterdagaand wend ek my bange skrede na dáárdie pub. Ek is hopeloos te vroeg, hy is nog nie daar nie. Angstig sit en stoom ek oor my drankie.
Ure later (of so voel dit altans) daag hy eindelik op. Saam met my sielkundige en sy verloofde, Dorette de Wet. Hulle sien my nie waar ek in my hoekie sit en sweet nie.
Toe hy begin sing, vergeet ek van my smarte. Ek raak weg in sy stem; ek beland in ‘n ander wêreld waar ek nie verstandig en bedaard en daadkragtig hoef te wees nie. Waar ek maar net ék kan wees; deurmekaar en onprakties, impulsief en warm en liefdevol, met baie om te gee. Vir die regte man.
Daar’s ‘n weerloosheid aan Werner vanaand. Sy liedjies dwing al na die droefgeestige; aan die gehoor steur hy hom min. As hy ‘n loopbaan uit sy sang wil maak, sal hy moet werk hieraan. Asof ék ‘n sê het oor hom! So sit en wroeg ek in my hoekie, wrokkig en wanhopig en alleen.
Maar o geluk, o vreugde der vreugdes, die hemel ís my toe beskore. In die middel van Nikotien en kafeïen slaan hy daardie paar kykers hartseer hemelwaarts. En sien my raak.
Voor my verstomde oë sprei ‘n yslike vreugde oor sy gesig. … my hart loop oor as ek jou net weer kan sien…ons twee saam is soos vuur en paraffien … Die res van die liedjie is net vir my. En híérdie keer is daar geen misverstand nie.
Hy kom met lang treë na my toe aan. En sukkel toe om iets uit te kry. Maar daai oë spreek boekdele. As hierdie man nie opreg is nie, is my naam Rakkertjie Rob.
Ek laat hom liefdevol stowe in sy eie sous. Sy woorde struikel oor mekaar: “Dorette, ek kon jou nie uit my gedagtes kry nie! Die ander Dorette is ‘n pel wat vir my hierdie gig gereël het, sy reken nog altyd ek gaan beroemd word. Ek het haar net bedank met die liedjie; sy’s verloof aan ‘n ander ou, sy’s regtig niks van my nie.”
“O,” sê ek waardig. Laat hom ly. Maar net ‘n klein bietjie; my vingers krul vanself om syne.
“Moenie weggaan nie, asseblief!”
Ek stoot hom streng terug na sy verhogie: “Gaan sing klaar; ek gaan nêrens nie.”
Roem was Werner toe nooit beskore nie; hy het skielik sy hande te vol gehad. (Letterlik ook; ek is geen brandmaer feetjie nie.) Sy hart was ook nie meer daarin nie; sy hart het knussies sy lê gekry in die holte van my hand.
Nodeloos om te sê, dit was die einde van enige multi-tasking vir my. Ek en Werner bied deesdae saam motiveringskursusse vir moeë sakemense aan. Ons beveel glad nie multi-tasking aan nie. Ons glo daarin om wat ons doen, met oorgawe te doen. Soos mekaar Liefhê. Mét die hoofletter.