‘n Pa vir Pieter

Seuntjie met teddieVandag gaan ek vir die eerste keer graad R toe. “Volgende jaar is jou tyd vir speel verby,” sê Pa. My pa glo nie aan speel nie. Hy sê ‘n man moet van kleinsaf leer werk.  My keel trek toe as hy so praat. Sê nou ek kan nie al daai werk doen nie?

Ma stap saam met my klas toe. Gelukkig het Pa nie saamgekom nie; hy is te kwaad. Ek weet hoekom hy dié keer kwaad is. Ek en Teddie luister elke aand op die trap as hulle baklei. Pa wil hê ek moet na sy ou skool toe gaan, waar net seuns is. “Daar sal hulle die verpiepte mamma-se-seuntjie van jou gou regruk. En knip tog die belaglike krullebol af!” sê Pa kort-kort saans as hulle dink ek slaap. Ma hou van my hare; sy knip dit nie af nie.

Ma wil hê ek moet in hierdie skool wees waar dogtertjies ook is. Ma sê ek is sensitief en ek kan in die hoërskool na Pa se skool toe gaan. Pa sê Ma maak ‘n sissie groot. Ma sê die nuwe man is in voeling met sy vroulike kant. Pa sê nuwe man se maai; ‘n man is ‘n man en klaar. (Dis nie heeltemal wat Pa sê nie, maar Ma het my geleer om nie lelik te praat nie.)

As hulle die aand kwaai baklei het, trek Ma die volgende dag ‘n trui aan, al is dit hóé warm. En dié aand bring Pa blomme huis toe. Dan sit Ma dit in die water en huil ‘n bietjie, en dan is alles weer reg. Vir ‘n rukkie.

My nuwe juffrou is Juffrou Mariaan.  Ek staan doodstil soos ‘n stok voor haar. My gesig voel styf; ek kry nie ‘n woord uit nie.  Juffrou Mariaan kerm nie ek moet praat nie; sy stoot my net na die kleitafel se kant toe. Die speelklei is sag en geel soos die son. Ek druk en rol, druk en rol die balletjie klei. Stadig word my gesig weer lewendig. Ek sien ek hoef nie te praat nie; almal los my uit. Ek is so mal oor goeters maak uit klei, ek vergeet skoon van die bang.

 

Die aand is Pa vroeg by die huis. Ek kan sy asem ruik, al suig hy ‘n peperment. Kort na ete jaag hy my bad toe en begin baklei met Ma. Ek gaan haal vir Teddie dat hy langs die bad kan wag, en maak die deur toe. Ek lê lank met my ore onder die water. Toe my vingers gekreukel is en die water amper koud, moet ek maar uitklim. Ek en Teddie luister versigtig by die middeldeur.

Meteens brul Pa dat ek en Teddie hop: “En wie het jou en die kind feitlik op straat opgetel en ‘n lewe gegee? Toe, sê my – wie?” Opgetel? Vir my en Ma? En ons ís mos lewendig! Ek en Teddie hol soos hase kamer toe en maak of ons slaap toe Ma kom nagsê. Ons wil haar vra van die optel, maar my tong is te bang.

Op ‘n dag sê Pa hý sal my van nou af by die skool gaan aflaai. Ek sien Ma wonder wat nou aangaan, maar sy sê niks.  Miskien hou Pa nou meer van my.

Pa laat sit my voor in die kar, nie agter soos Ma nie. Hy gesels met my soos met ‘n grootmens. Pa het nog nooit met my gesels nie. Hy lyk vir my mooi met sy swart pak en spierwit hemp. My pa is ‘n sakeman en hy maak baie geld.

Ek kom eers agter toe ons al by die hekkie is. Ek vlieg om terug kar toe, maar Pa is te vinnig vir my. Hy vat my arm vas dat ek nie kan roer nie. Môre sal ek ook moet lang moue dra.

Die juffrou is ook mooi en gaaf. Juffrou Ria. Pa se oë sê vir my om stil te bly. Ek weet ek sal hom nooit kan weghol nie. Ek weet ook nie hoe om by my regte skool te kom nie. So ek kan niks doen nie; ek kan net staan.

“Ek is so bly jy kon jou vrou oortuig, Meneer Brandt,” sê Juffrou Ria, “Sy sal sommer gou-gou sien hoe gelukkig is die seuntjies hier!”

Ek staan soos ‘n stok; ek kan niks doen nie.

Toe Pa my die middag kom haal, vertel die Nasorg-tannie hom hoe soet ek was. Sy weet nie ek was maar net te skaam om stout te wees nie. Pa lyk trots. Pa was nog nooit trots op my nie.

Na ‘n paar dae besluit Ma sý neem my nou weer skool toe.  Hulle vergeet skoon van my soos hulle baklei.

Ma skree: “Jy het jou nog nooit aan die kind gesteur nie, watse belangstelling is dit nou skielik?”

Pa skree harder: “Jy’t ‘n pa gesoek vir die kind, en nou’s dit ook nie goed as ek iets vir hom probeer doen nie!”

Ek is nie die kind nie, ek hét mos ‘n naam.

Maar ek is slimmer as wat ek self gedink het, want ek weet al klaar wat nou gaan gebeur.

Juffrou Mariaan is bly om my te sien: “Môre, Pieter! Ek hoop jy is nou heeltemal gesond!”

Ek trek my asem diep in en ek sê hard: “Ek was nie siek nie. Ek was in ‘n ander skool.” Maar dit kom nie hard uit nie. Dit kom sag en deurmekaar uit. Ek sien sommer Juffrou verstaan nie reg nie, so ek los dit maar.

So werk dit toe dat ek vir ‘n rukkie na twee skole toe gaan. Net ek en Pa weet wat aangaan. Dis ons twee se geheim. Dis vir my lekker om saam met Pa ‘n geheim te hê, al is hy nie vir my lief nie.

 

En toe eendag wag Ma ons in toe Pa met my van Nasorg af kom:  “Juffrou Ria het gebel om te herinner Pieter moet môre die rekenaarpapier saambring wat jy die skool belowe het.”

“O, dankie,” sê Pa so ewe en stap drankkas toe vir sy eerste dop.

Ma klink of iets haar asem toeknyp: “Pieter se juffrou is Mariaan Malan, en ek het verlede week vir hulle rekenaarpapier gevat.”

Pa maak sy glas met drie slukke leeg en trek sy swart wenkbroue op: “So?”

Ma begin skree: “Jacobus Brandt, vandag sien ek eindelik dwarsdeur jou.

Jy is ‘n manipuleerder wat aggressief raak as jy nie jou sin kry nie! Ek gaan nie langer met my laat mors nie!”

“Ek hou julle nie teen julle sin hier nie,” sê Pa terwyl hy nog ‘n dop skink.

“Ek was sonder werk en sonder ‘n pa vir my kind. Ek het jou mooi beloftes geglo!” My ma is baie mooi. Haar wange is eintlik rooi van kwaadgeit, maar ek kan sien dis vir Pa ook mooi.

Sy mooiste glimlag kruip oor sy gesig: “Jy weet ek is lief vir jou, Christine. Ek kan nie sonder jou lewe nie.” Hy trek haar styf teen sy lyf vas, maar Ma rem agtertoe. “En julle leef lekker hier by my; jou kind het alles wat hy nodig het.”

Ma wil nie weer goed raak soos gewoonlik as Pa so mooi glimlag nie: “’n Kind kort ook liefde en aanvaarding, Jacobus. Dis goed wat geld nie kan koop nie!”

Pa se stem klink skielik half na huil: “Ek het jóú lief, Christine. Jy is al wat vir my tel.”

“Dis nie meer vir my genoeg nie, Jacobus,” sê Ma saggies. Toe vat sy my aan die hand en trek my uit die vertrek. Ek kyk om na Pa toe. Hy lyk nie so groot en sterk soos altyd nie; hy lyk alleen en hartseer.

In die kombuis raak Ma skielik haastig. Sy pluk my by die deur in wat garage toe gaan. Sy sluit die deur en ruk haar karretjie se deur oop. Op die agtersitplek wag Teddie vir my. Ek sien die kar is volgepak met ons goed. Ma jaag by die hek uit, sy mis die pilaar net-net. Pa kom by die voordeur uit en waai met sy arms en skree iets. Ma luister nie; sy jaag. Ek en Teddie knyp ons oë toe en klou so al wat ons kan.

Toe ons baie later versigtig ons oë oopmaak, sien ek die tydskrif op die sitplek langs my. Daar is ‘n klomp foto’s van ‘n oom wat goeters van klei maak. Dis ‘n mooi oom, maar hy lyk baie arm. Sy hemp rafel uit om sy nek en hy dra ‘n snaakse bont hoedjie. Sy hare krul om sy ore. Sy hare lyk nogal baie soos myne.

Ma kyk vir my in die spieël. Sy ry nou ‘n bietjie stadiger. “Pieter, ek moet jou iets vertel,” sê Ma.

Ek word yskoud tot in my derms. Sy gaan my terugvat en by Pa los. Sy wil my nie meer hê nie. Ek is nie slim genoeg nie, en ek is te simpel om te praat in die skool.

“Pa is nie jou regte pa nie.” Dít weet ek hoeka lankal, ek hoor mos hoe hulle praat. My asem loop stadig terug in my lyf.

“Die oom daar in die boek is jou regte pa.” Dít is nuus vir my. “Sy naam is Petrus. Hy is ‘n pottebakker.”

“O,” sê ek. Ek weet ‘n pottebakker maak potte van klei. Ek weet nie wat om nog te sê nie.

Teddie vroetel tót ek vra: “Hoekom bly ons dan nie by hom nie?”

Ma bly ‘n lang ruk stil. Toe sy praat, is haar stem sag en hartseer: “Ek het nie gedink hy sal ‘n babatjie wil hê wat skree as hy wil werk of slaap nie.  Hy was baie arm, maar al wat hy wou doen, was potte maak. Dit sou vir hom vreeslik gewees het as hy ‘n ander werk moes begin doen net om vir ons twee te kan sorg. Toe gaan ek weg, nog voor hy geweet het jy is in my maag. Ek het ‘n groot fout gemaak.”

Ek kyk weer na die foto’s: “Hy lyk vir my maar nog netso arm. Kyk hoe klein is sy ou huisie.” Die huisie het ‘n swart dak en wit mure en ek sien die see agter uitsteek.  Daar’s nie eens ‘n tuin nie, sommer wilde bome en bosse.

Ons is al uit die stad en dit begin donker word.  “Pieter, ons ry nou na jou regte pa toe. Hy is ‘n goeie man.  Hy sal vir jou baie lief wees.”

“Hoe weet Ma?” laat Teddie my vra. Hy’s nou skielik baie astrant, net oor hy gesien het Pa jaag nie agter ons aan nie.

“Ma weet nie,” sê sy na ‘n rukkie, “Ma hoop maar net so.”

Dis al pikdonker toe ons by die huisie kom. Ek kan die see hoor en ruik. Ek en Teddie het ‘n ruk geslaap, maar nou is ons wakker. En ons is bang. Sê nou die oom jaag ons weg?

Teddie klou my so vas, ek kan amper nie asem kry nie. Ma staan eers lank voor die deur en toe klop sy hard. Dis die oom van die foto’s wat die deur oopmaak. Hy is nog mooier as in die boek. Sy hare lyk rêrig nes myne. Dis te donker om sy oë lekker te sien, maar ek wéét sommer hulle is ook blou soos myne. Sy hande hang langs sy sye; hulle gaan oop- en-toe, oop‑en-toe. Hy kyk lank na Ma. Toe kyk hy lank na my en Teddie. Ons probeer mooi regop staan en glimlag, maar ons bewe so ons lê naderhand omtrent teen Ma se bene.

“Petrus, ek het jou seun gebring. Sy naam is Pieter.” Ma se stem klink bewerig en bang.

Die oom sê niks; hy kyk net. Na ‘n láng tyd kruip ‘n glimlag stadig oor sy gesig tot in sy oë met die plooitjies om.  Toe maak hy sy arms wyd oop. Ek en Ma en Teddie pas netmooi in sy arms.

My bang is nou helemaal weg.