Loots, Kristel – Katerina se mojo

Katerina se mojoMet boeke soos Lemoenseisoen, Eendagmooi en Die ander vrou het die ervare Kristel Loots haarself in ʼn nuwe nis gevestig – dié van ʼn stem om die verhaal van die moderne vrou binne die moderne huwelik te vertel. Tradisioneel eindig die liefdesroman wanneer die tweetjies teen die sonsondergang wegstap, hand aan hand en met drome in die oë. Oor die aanpassing na die konfetti en die wittebrood trek ons gewoonlik maar die sluier. Maar nie Kristel nie. Kristel pluk die kamerdeur oop en waag dit in die situasies waar die huweliksbed ʼn slagveld word, waar uiteenlopende verwagtings en die harde realiteit van Suid-Afrika goeie mense se liefdesverhale kan laat misluk.
Die belewing van die lyflike binne die huwelik vorm – soos in die werklikheid – ʼn belangrike deel van haar verhale. Hierdie stories bevestig wat moderne vroue lankal weet: Die huwelik is geen kortpad hemel toe nie en daar is nie altyd ʼn pot goud aan die einde van die reënboog nie. En die huweliksbed is nie altyd met rose bestrooi nie.
Die moderne vrou verwag baie van die huwelik. Nog nooit in die geskiedenis het individue tot so ʼn mate hulle hoop op mekaar gevestig vir bevrediging in alle opsigte nie. Dis dan ook nie ʼn wonder dat soveel huwelike vandag in egskeiding eindig nie. Ons verwagtinge is dikwels eenvoudig te hoog vir vlees en bloed om op langtermyn by te kom.
In so ʼn verhouding waar teleurstelling aan die orde van die dag is, kan ʼn vrou natuurlik haar mojo verloor. Maar wat is ʼn mojo? En hoe verloor mens dit? En hoe kry jy dit terug? In my oë is jou mojo dit wat jou jý maak, dit wat jou uniek en besonders maak, jou persoonlike bron van energie, die bron van jou persoonlike woema. Mens verloor dit wanneer jy nie in ʼn situasie is waar die beste in jou na vore kan kom nie en veral wanneer jy verbind is aan ʼn persoon wat miskien nie eens weet ʼn vrou (en ʼn man!) het so ʼn ding soos ʼn mojo nie. En jy kry dit terug deur weer beheer oor jou lewe oor te neem.
Katerina is ʼn vrou met wie vele lesers sal kan identifiseer. Sy is ʼn inherente sterk vrou met haar eie talente (waaronder ʼn eiesoortige skoonheid en ʼn lieflike humorsin), wat probeer oorleef in ʼn situasie waar sy nie meer tot haar reg kom nie. Haar man is ʼn werkslaaf en ingesluk deur die ongenaakbare werklikheid van die mediese beroep in Suid-Afrika. En dan is daar Jennifer – beeldskoon, knap en die staatmaker aan Simon se sy.
Die twee tieners in die huis maak ook nie dinge makliker nie, maar beslis interessant vir die leser. Hulle is net moeilik genoeg om kleurvolle karakters te wees, maar word nooit eenkantige karikature van werklike moderne tieners nie. En eintlik wil hulle maar net hulle ma en pa bymekaar hê.
Die kwessie van emigrasie is natuurlik so relevant as kon kom. Simon wil gaan en Katerina wil bly. So eenvoudig – maar die soort gegewe wat huwelike kan laat wankel. Soos Katerina dan ook agterkom.
Katerina se mojo is ʼn relevante en eietydse verhaal oor die afgronde wat binne die huweliksbed kan oopgaan, verskuil in ʼn lighartige jassie van gevatheid en die soort kwinkslae wat lesers al outomaties van Kristel verwag.
Moenie vir Katerina onderskat nie. Lees en word wys.

NS. Ek dink steeds Broccoli is nie blomme nie sou die ideale titel gewees het. Hoekom? Jy sal maar moet lees en uitvind!

Lewer kommentaar