Die handsak

“Verskoon my asseblief, maar doen jy dit gereeld?” Ester skrik haar koud en bewerig; deesdae dink die gewone vrou net één ding as ‘n manshand in ‘n skare skielik aan haar skouer raak. En dis nié romantiese gedagtes nie.

Roof, moord, verkragting. Selfs in ‘n helderverligte winkelsentrum in ‘n mens se eie stad voel jy nie meer altyd veilig nie.

Daarby is sy ongelukkig nie meer ‘n doodgewone vrou nie. Nee, sy is Ester Liebenberg – en háár eerste gedagte is: koerantman.
Haar wegkoes en keer met haar hande is suiwer instink. Maar haar hande bly halfpad in die lug hang, die verleentheid styg bloedrooi in haar wange op. Voor haar staan ‘n baie verleë man met ‘n blou trui en baie mooi blou oë.

Hein Combrinck, die land se liefling misdaadskrywer.  Nie dat sy al ‘n woord van hom gelees het nie; sy was te besig om haar eie storie te lééf.
“Ek is verskriklik jammer! Dit was impulsief, ek was net nuuskierig …” Hy kry self ‘n kleurtjie in die gesig. Glad nie ‘n onaantreklike gesig nie, al het die spore van die tyd alreeds daaroor gegaan.
Nie dat haar eie gesig nou meer so glad soos ‘n bababoudjie is nie.
“Wat? Wat doen ek gereeld?” Maar sy het genoeg bedaar om te besef waarvan hy praat. Haar lyf word nog ‘n paar grade warmer. Die man het waaragtig die onnosel ding gesien wat sy netnou aangevang het.
“Die handsak. Jy het die handsak uit die winkel gevat, daarmee uitgestap en na ‘n rukkie omgedraai en dit gaan terugsit.” ‘n Onnutsigheid het in die blou oë gekruip. “Ek kon nie help om te wonder nie – doen jy dit vir die kicks?”

“Kicks? Hoe bedoel jy – kicks?”
“Vir die pret, die opwinding …” Hy bly verleë stil, duidelik spyt oor sy impulsiwiteit.
Hy steek ‘n hand versigtig na haar uit. “Asseblief, kom drink gou iets saam met my. Ek het nie bedoel om jou te ontstel nie … Ek is regtig jammer … én nuuskierig.” Die lag het nou sy mond bereik.
Die effens histeriese lagbui vang haar onkant; sy’t lanklaas iets gehad om oor te lag. “Goed, dankie, dit sal lekker wees,” kry sy met moeite uit en begin stap sommer aan na die koffiewinkel digby hulle.
Teen die tyd dat hulle sit, is die trane in haar oë nie meer lagtrane nie. Sy hou haar kop onderstebo, soek naarstig na ‘n snesie in haar handsak.
Maande lank het sy kalm gebly. En hier verloor sy alle beheer in die teenwoordigheid van ‘n totale vreemdeling. ‘n Baie oplettende vreemdeling.
“Jy huil,” sê hy vir haar. En: “Water, asseblief. En dan koffie,” vir die nuuskierige kelnerinnetjie.
“Ja, ek huil.” Sy is so moeg dapper gewees, ‘n front voorgehou.
“Hoekom? Wou jy graag die handsak gehad het?”
“Ek het ‘n bietjie van ‘n ding oor handsakke, maar ek is nie ‘n dief nie!” Dis haar man wat die dief was. En sy die een wat hom moes verraai.

Sy kyk is helder en oop, belangstellend. “Wat is jy dan?” Hy lyk nie na ‘n man met verskuilde agendas nie. Maar haar oordeel het haar al tevore in die steek gelaat. Lelik in die steek gelaat. ‘n Vrou met goeie oordeel sou in die eerste plek nie voor Marius se sjarme geswig het nie.
“Ek dink ek is ‘n vrou wat besig is om haar varkies te verloor. Ek doen deesdae kort-kort hierdie soort van ding.” Sy gryp amper die glas water by die meisiekind, sluk die inhoud dorstig weg.

“Watse soort ding?”

“Ingedagte wees, vreemde goed aanvang. Maar dis meer as gewoon ingedagte; dit begin gevaarlik word. Ek het na die handsakke gekyk – ek is vroeg vir ‘n afspraak, ek wou die tyd omkry. Ek het daar weggeloop en drie winkels verder besef ek het een van die winkel se sakke oor my arm. En my dood geskrik, omgedraai, teruggeloop by die wag verby en die handsak weer op sy plek gaan hang. En tien dode gesterf in die proses.” Sy gooi sommer twee lepels suiker in die koffie wat voor haar verskyn.

Hy kyk na haar met ‘n sedige gesig, maar in die blou oë kan sy die lag sien skuil. Sy kan nie anders as om maar weer verleë te glimlag nie. Dit was tevore altyd haar redding – haar vermoë om vir haarself te lag. Maar die afgelope maande kon sy geen rede sien vir lag nie.

Is die lag ‘n teken dat daar nog hoop is vir haar?

“Dink jy nog mense het gesien?” Sy het die hele tyd die hand van die veiligheidswag by die winkel se ingang op haar skouer verwag. Of dié van een van die joernaliste wat haar so verbete jag.
“Niemand het gesien nie. Beslis ook nie die wag wat veronderstel is om die winkel se ingang te bewaak nie.”

“Dink net aan die gemors as hy my gevang het – winkeldiefstal is deesdae so ‘n probleem, hulle sou nooit in der ewigheid my storie geglo het nie. Ek het by voorbaat tien dode gesterf van verleentheid.” Om nie te praat van die sensasie as Marius Liebenberg se weduwee vir winkeldiefstal aangekeer word nie!

“En net toe jou hartklop begin bedaar, toe oorweldig my nuuskierigheid my!” Sy hand rus ‘n oomblik op haar arm. ‘n Mooi, sterk hand.

“Is dit jou gewoonte om vir enige vreemde mens op straat sommer so ‘n ding te vra?”

Hy lyk nou nog meer verleë. “Ongelukkig, ja. Maar dis nie dat ek dikwels sulke vreemde goed sien gebeur soos ‘n vrou wat ‘n handsak steel en dit dan weer gaan terugsit nie.”

“Ek het dit nie gesteel nie!”

Hy hou sy hande gemaak ernstig in die lug. “Okei, okei – per ongeluk gevat!”

“Verlede week het ek duisend rand getrek by die outobank en toe vergeet om dit te vat.”

“En toe?”

“Toe bel die bank die volgende dag en sê die masjien het dit weer teruggetrek binnetoe.”

“Wat ‘n genade!” Hy het nie ‘n idee hoe verlig sy was nie – dis nie dat duisendrande op die oomblik op haar rug groei nie.

“’n Ander keer het ek op ‘n parkeerterrein ‘n vreemde motor wat nes myne lyk, probeer oopsluit – en toe gaan die alarm af.”

“En?”

“Genoeg om te sê, die wagte wou my storie nie sommer glo nie – en die eienaar het nie ‘n sin vir humor gehad nie.” As dit vandag daardie man was wat haar gesien het, was sy nou met haar bas binne-in die polisiestasie.

“My humorsin het my al soms in die moeilikheid gehad.” Die kreukeltjies om sy oë kom sekerlik van baie lag.

“Wel, vandag het dit mý uit die moeilikheid gehou – jy kon die lewe vir my onsmaaklik gemaak het as jy wou.”

“Daar’s genoeg onsmaaklikhede in die lewe.”

Sy lig haar koffiekoppie vir hom. “Inderdaad.”

Hy lig syne ook in ‘n kamma-saluut. “Terloops, ek is Hein Combrinck.”

“En ek is Ester Liebenberg.”

Dit duur net ‘n oomblik voor hy die kloutjie by die oortjie bring. “Ester Liebenberg? Dié Ester Liebenberg?”

Sy neem die laaste slukkie sterk koffie versigtig, met konsentrasie. Toe sit sy die koppie in die piering neer en kyk vir Hein Combrinck reguit in sy mooi blou oë. “Ja – dié Ester Liebenberg. Die vrou wat haar man gaan aangee het toe hy lang vingers ontwikkel het; die vrou wat teen haar eie man getuig het in die hof; die vrou wat in die proses feitlik alles verloor het. Behalwe haar selfrespek.”

“En haar humorsin.”

Sy glimlag teensinnig. “Lyk darem so, ja.”  En, het haar prokureur vanoggend bevestig, die huis en die inhoud daarvan. Waaraan sy nie met ‘n tang wil raak nie.

“Jy sal weer opstaan.” Hy sê dit met soveel gesag, sy smag daarna om hom te glo. “En vir iemand wat deur soveel trauma is, is dit niks ongewoon om ‘n bietjie deur die blare te wees nie, te sukkel met die gewone dingetjies nie. Daar is doodgewoon te veel groter dinge in jou kop.”

“Dis goed om te hoor. En dankie vir die koffie.” Sy moet wegkom hier, voor een of ander koerantman haar raaksien by die bekende skrywer – voor Hein Combrinck weet waar hy is, het die media hulle twee die paartjie van die jaar gemaak. Vir maande lank was Ester Liebenberg nuus, sappige nuus. Hulle gaan nie so maklik laat los noudat alles verby is nie.

Met sy selfmoord het Marius die kroon gespan op haar ellende – en op die media se fassinasie met haar.

Sy stap vinniger. Sy is reeds laat vir haar afspraak met Pierre. Vandag is dit tot siens Ester Liebenberg met die formele haarstyl en smaakvolle snyerspakkies. En hallo Ester Rheeder, doodgewone Ester Rheeder, soos sy was voor Marius haar betower het met sy skitterwit glimlag en sy bruisende ambisie.

Vir tien jaar het sy hoog gevlieg saam met Marius. Nou is dit terug aarde toe met haar. En hopelik kan sy haar ou self nog daar êrens vind.

‘N HALFUUR LATER KYK SY verstom na haarself in die haarsalon se spieël. Rondom haar op die vloer lê haar lang hare versprei, patetiese simbool van die vrou wat sy jare lank was. Haar oë kyk groot en ontsteld na haar uit ‘n té skraal gesig. ‘n Gesig wat steeds geseënd is met ‘n goeie beenstruktuur, maar met fyn plooitjies om die oë en ‘n onmiskenbare bitter trekkie om die mond.

Van nou af sal hierdie mond weer lag – al moet sy dit ook máák lag.

Dis eers toe sy met die betaalslag haar hand uitsteek na die handsak oor haar skouer, dat sy besef dis nie daar nie.

Die skrywer, die koffiewinkel – sy’t weer een van haar stommiteite gepleeg! En Pierre gaan sweerlik dink dis ‘n truuk om nie te betaal nie.

Maar met Pierre het sy haar al tevore misgis. Hy wuif haar verskonings met die hand weg. Sy stap flink en verlig terug na die koffiewinkel. Sy voel lig en vry, asof sy alreeds ‘n deel van haar verlede afgeskud het. Sy kan nie wag om in doodgewone jeans en tekkies te kom nie. Net eers haar sak by die koffiewinkel gaan vra; die man sou dit sekerlik daar ingegee het.

TOT HAAR STOMME VERBASING SIT Hein Combrinck nog presies waar hy gesit het; haar handsak staan presies waar sy dit langs haar stoel vergeet het.

“Ester!” Hy kom vinnig orent, verrassing skyn in sy oë. “Jy lyk splinternuut!”

“Ek voel splinternuut.” Sy lig die handsak verleë tot in sy gesigsveld. “Sien jy, ek het dit alweer gedoen.”

“Dit sal van nou af beter gaan. Kom, drink nog iets voor jy gaan.”

Sy gaan sit teen haar beterwete. “Dit was nie nodig dat jy wag nie.”

“Ek wou wag. En vir ‘n skywer is ‘n koffiewinkel in ‘n arkade ‘n absolute paradys.” Sy oë bly op die menigte wat by hul tafeltjie verby stroom. “Waarneming, jy weet?”

Dalk is hierdie man net die persoon om haar waansinnige idee op te toets. Onbetrokke, hopelik sonder verskuilde agendas; vlymskerp, met ‘n formidabele mensekennis.

“Ek gaan dit verkoop. Alles.”

Die blou oë swaai verbaas na haar: “Wat? Jou klere?”

“My uitrustings, ja. En my aandrokke, die hele boel van hulle.” Die idee raak al aantrekliker. “En die huis. En al die meubels. En Marius se motors, sy boeke, sy CD’s.”

“Jy wil skoonmaak, nuut begin?”

“Dis reg. En my kop optel.”

Hy dink ‘n oomblik, toe breek die nou al bekende glimlag oor sy gesig: “Hou ‘n veiling, Ester – jy gaan ‘n fortuin maak! Die publiek gaan ‘n fortuin betaal vir een van Ester Liebenberg se aandrokke, die stoel waarin Marius Liebenberg TV gekyk het … jy’s ‘n genius!”

Daarvan is sy nie so seker nie. Eerder ‘n wanhopige vrou wat ‘n manier soek om te oorleef.

“Dit voel of dit besoedelde geld sal wees.” Maar geld wat vir haar ‘n nuwe lewe kan koop.

Sy hand rus net ‘n oomblik op hare. “Ek weet hy was jou man en jy was seker eens op ‘n tyd lief vir hom. Maar regtig, hy’t jou verneuk en verneder op soveel maniere … Ek het die hofsaak in die media gevolg, Ester – jy verdien ‘n nuwe begin.”

“Dankie.” Sy moet by die huis kom; die lag is verby, die trane sit nou vlak. Sy sal moet begin reël voor haar moed haar begewe.

Toe sy net eenmaal omkyk, sien sy dat hy haar stip agternakyk. Sy glimlag wrang. Dalk kan sy vir hom as inspirasie dien. Uit die perd se bek kan sy dit vir hom gee. Van skelmstreke weet sy immers oorgenoeg.

DIE BRIEFIE BINNE-IN HAAR HANDSAK ontdek sy eers twee dae later. Mag die pyn gaandeweg dowwer word. Mag vergifnis vir jou moontlik wees. Mag die lig binnekort weer vir jou deurbreek. En dan die reddingsboei aan haar, ‘n onbekende: die adres van sy huisie op die platteland, ‘n ope uitnodiging om dit te gebruik as sy dit ooit sou nodig kry.

DIE VEILING IS ‘N WEGHOLSUKSES. Die media het die storie opgepik en laat waai daarmee, sodat mense in hul hordes saamdrom op die groot dag. Met haar kort hare, alledaagse klere en ‘n yslike sonbril, eien niemand haar in die skare nie. Sy huiwer  ongemerk op die rand van die opgewonde gewoel, neem stil-stil afskeid van elke item. Sy stort nie een enkele traan nie.

Sy is klaar gehuil oor haar man; sy is klaar gehuil oor haar eie foute. Van nou af is daar net een pad – en dis vorentoe.

Maar toe haar handsakke – al 168 van hulle – aan die beurt kom, gaan skuil sy agter ‘n boom en vee ongemerk ‘n traantjie weg. Kan dit wees dat dit is wat sy die meeste gaan mis? Haar handsakke?

En wat sê dit van haar prioriteite? Van haar verlede? Van haar toekoms?

Die afslaer is op sy stukke, besing elke item se lof met oorgawe. Die eerste gaan vir ‘n ongehoorde prys. Die tweede ook. Die derde ook. Iemand jaag die pryse op.

Ester beweeg skigtig agter haar boom uit, fynkam die kopers sistematies van ‘n kant af.  Hulle trek al by Item 76 voor sy hom kan eien.

Hein Combrinck. Anoniem in ‘n groot baadjie en groot donkerbril. Nog iemand wat graag ongesiens wil bly. Terwyl hy haar hele formidabele handsakversameling teen ‘n klein fortuintjie opkoop.

Ester gaan skuil verward agter haar boom. Hoekom doen hy dit? Kry hy haar jammer? Het hy toe tog ‘n verskuilde agenda?

Sy weet nie en sy het ook nie die krag om te probeer uitvind  nie.

TOE ALLES UITEINDELIK VERBY IS, klim sy moeg in haar klaargelaaide kar. Sy skrik toe die figuur by haar venster verskyn, druk vervaard die vensterknoppie mis.

“Waarheen gaan jy?” Hein Combrinck buk by die venster, groot en vreemd gerusstellend.

“Ek weet nie.”

“Hier’s die sleutel van my plek. Dis so twee ure se ry. Ek kom net naweke daar, maar hierdie naweek gaan ek nie.” Dis Donderdag, dit gee haar agt volle dae.

“Dankie.”

“Ry mooi. En rus goed uit.”

SY IS VOOR DONKER DAAR. Die dorpie lê knus tussen berge; die huisie het ‘n spits sinkdak, ‘n outydse stoep en geen televisie nie.

Sy doen wat Hein gesê het – sy rus. Sy stap en sy slaap en die tyd glip stil-stil verby. Sy raak so ‘n bietjie van ‘n celebrity op die dorp. Almal weet wie sy is, maar niemand karring aan haar nie. Stadig, stadig gaan lê die duiwels in haar gemoed.

Die begeerte om haar storie – háár storie, nie Marius s’n nie – te vertel, groei ongemerk tot ‘n dringendheid aan, tot sy kwalik aan iets anders kan dink. Vrydagoggend skakel sy Hein se rekenaar huiwerig aan. Sy staar lank na die skerm. Toe begin sy tik met bewende hande:

Hier volg die verhaal van ‘n vrou wat alles verloor het. Maar sy’t haar selfrespek behou. En haar sin vir humor …

Sy verloor haarself in haar eie lewe; haar passies, haar dwaashede, haar berou en haar keuses. Toe Hein Combrinck skemeraand die deurknop draai, is haar lyf so styf dat sy kwalik kan orent kom, haar verleentheid pynlik en vernederend. Sy moes al weg gewees het. En hier sit en tik sy by een van die land se voorste skrywers se rekenaar haar eie klein, patetiese verhaal.

Die vreugde op sy gesig vang haar egter onkant. “Jy’s nog hier,” sê hy spontaan.

“Ek’s nog hier.” Sy struikel half teen die tafel aan, haar lyf onwillig, haar kop meteens dolleeg.

“Ester.” Sy arms is vas en seker, sy blou trui gerusstellend bekend. “Jy’t heeldag getik? En niks geëet nie?”

Sy’t nie die krag om hom weg te stoot nie. “Ek is jammer … ek sal gaan …”

“Jy sal niks van die aard doen nie. Jy sal bly en jou storie klaarmaak.”

“Maar …”

“Ek het vir jou ‘n verrassing gebring. Het maar gehoop jy’s nog hier. Ek wou jou nie steur met oproepe nie.”

Haar kop draai, van moegheid en van skrik. “n Verrassing?”

“Gaan bad eers, ek maak solank iets om te eet.”

Sy draai willoos weg. Wanneer kon sy haar lewe laas oorgee in die hande van iemand wat omgee?

Wat laat haar dink Hein Combrinck gee om?

Maar toe sy terugkom in die woonkamer, toe wéét sy hy gee om.

Op elke moontlik oppervlak is hulle gepak: haar handsakke. Sweerlik al 168 van hulle.

“Is jy verras?” Sy laggie is ‘n bietjie verleë, maar die blou oë vonkel.

“Ek’s vreeslik verras.” Sy raap ‘n handsak op, dan nog een en nog een. Dis soos verlore vriende wat teruggekeer het.

“Dankie, Hein, dankie!” Haar trane loop, maar dis bevrydende trane, blydskaptrane.

“Hier’s nog iets.” Nou lyk hy werklik verleë.

Dis die einste handsak wat sy daardie dag weer gaan terugsit het in die winkel.

Sy raak die sagte leer met dankbaarheid aan. Hierdie man verstaan haar hart.

“Het ons ‘n kans, Ester?”

Sy kyk lank na hom, na die see van handsakke, die spesiale een in haar hande. Toe knik sy haar kop. “Ja, ek dink ons het ‘n baie goeie kans,” sê sy.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s