Die leeutemmer

Die leeutemmerDie leeutemmer het in Rooirose van Augustus 2006 verskyn. Let op die verskil tussen hierdie illustrasie en die generiese vrouefigure by al die vorige stories wat ek geplaas het. Ek kon ongelukkig nie die illustreerder se naam kry nie.
My hart is seer oor Rooirose – ek hoop vuriglik iemand kan nog ‘n plan maak om haar te red.
Die idee van die meisie wat moeg en swak is na ‘n lang siekbed kom uit Eleanor Baker se lieflike “Weerkaatsings”,  my gunstelingboek in Afrikaans.
My familie sal moontlik die plaas in die Oos-Kaap herken. Die weemoed loop dik vanaand.

“EK HET NET DIE REGTE plan om jou uit hierdie blues te kry!”  My hartsvriendin plons  geesdriftig oorkant my neer.  Ek okkupeer natuurlik die bed.  Darem al met dagklere aan, maar die mistroostigheid hang steeds in dik voue om my.

My lyf is aan die opstaan, en nou’t my gees gaan lê.

“Jy’t nie eens raad vir jouself nie, Bets,” terg ek halfhartig.  Ek spook hard om my sin vir humor weer op die been te kry.

Genadiglik het ek nog siekteverlof; daar’s min plekke waar ‘n springlewendige humorsin so broodnoodsaaklik is soos die braakland van die onderwys.  Smyt ‘n fyngeboude sproetgesig-vroutjie in die spreekwoordelike leeukuil tussen ‘n trop tienerseuns in, en ‘n skerp en soms genadelose humorsin is een van die effektiefste pyle in haar koker.

Bets drapeer haar lang bruin bene laggend oor die stoelleuning.  “Juis – jy sal maar weer eens moet help!  Hierdie vangs kan ek nie laat glip nie!”  Maar sy kyk my nie reguit in die oë nie.  Daar’s alweer ‘n haakplek.

Met Bets se liefdeslewe is daar áltyd ‘n haakplek.

Ek kyk af na my wit stokkiesbene en sidder by voorbaat.  Bets se liefdeslewe is enige sepieskrywer se droom.  En enige vriendin se nagmerrie; sy’t my al by vele intriges van allerlei aard ingesleep.   En dit was vóór sy my lewe vir my teruggegee het.

Hoe kan ek haar ooit weer iets weier?

 

EK SAK DANKBAAR IN DIE naaste harde lughawestoel neer terwyl die ander passasiers kwetterend by my verby stroom.  Ek haat die ewige moegheid; ek is óp van siekwees.

Wáár is die mense tog?  Hoe kon ek my laat ompraat om by wildvreemdes te gaan afklim in haar plek?  Gaan Bets my nou vir die res van my lewe manipuleer?

Die laaste passasier steun by my verby met ‘n oorlaaide trollie waaraan ‘n string kleintjies hang, hul gretige handjies alreeds in die sakke met presente.  Langs my vou ‘n man met twee ore soos radarskerms stralend sy lang arms om ‘n volronde vrou met  bloedrooi pennetjieshare.  Al die groepies vreugdevol herenigde vriende en familie beweeg kletsend na die uitgange.  Diegene wat vreemdes met ‘n naambordjie ingewag het, is ook almal geholpe.  Die blikstem kondig ander vlugte aan; vlug SAL349 van Kaapstad na Port Elizabeth is geskiedenis.

Almal het maats, net ekke nie.  Mý maat het nie van hospitale gehou nie.  En hospitale was vir ‘n lang tyd deel van die pakket.

Die alleen voeg sy gewig by die moeg op my skouers.  Ons drietjies is ou bekendes.  Maar vriende?  Nooit.

“Sê tog vir my jy’s tante Helena!”  Bets se oom Petrus het nie vir my na die sarkastiese soort geklink nie, al het ek Bets se oom Petrus nog nooit ‘n dooie woord hoor sê nie.  Ek draai stadig om; ek het nie die krag vir verrassings nie.

“Ja, ek is Helena,” fluister ek oorbluf vir die verskynsel voor my.

“Nou toe kom, ek wil voor donker op die plaas wees; soek nie ‘n koedoe deur my voorruit nie.”  Hy vat my tas van die trollie af en begin doelgerig aanstap.

Ek tou soos ‘n kermende kleuter agterna.  “Wie’s jy?  Waar’s oom Petrus?”  Enigste probleem:  hy’t alreeds ‘n kleuter aan die hand, hy soek beslis nie nog een nie.  Dié verkyk hom so aan my, hy vergeet skoon om te kerm.

“Ek is Jan Malan en oom Petrus is siek.”  Hy lyk soos ‘n manjifieke leeumannetjie.  Dis nou die pa; die welpie lyk soos ‘n effens verwaarloosde huiskatjie van onsekere afkoms.

Ek word oorval deur intense verleentheid; dis vir die mense ongeleë om my te ontvang.  Bets se reëlings is soos gewoonlik verdag, meer goeie bedoelings as praktiese uitvoerbaarheid.  Ek gaan ‘n oorlas wees, ‘n vyfde wiel aan die wa.  Bets se familie het uitgesien na tien vrolike dae saam met hul maltrap niggietjie.  Nou sit hulle met ‘n wildvreemde geraamte wat te moeg is om te lewe.

“Hoekom is jy so maer?” vra die seuntjie ongeskik.

“Ek is tannie Helena,” sê ek deur geklemde kake, “en ek is so maer oor my ma my nie wil kos gee nie.”

“Is sy ‘n heks?”  Hy’s meer geïnteresseerd as sy pa.

“Stil, Jan,” sê Jan.  Iets aan die kleintjie is vir my vaagweg bekend.

Ons bereik ‘n vuilgroen landrover, stofbedek en ietwat gehawend.  Ek leun verleë teen die voertuig; my bene wil nie ‘n enkele tree verder nie.

Die leeu het geelbruin oë soos sy broers in die bos.  Hy kyk vir die eerste keer ordentlik na my.  “Jy is sieker as oom Petrus,” is sy bondige bevinding.

Ek’s keelvol vir mense se simpatie.  “Wás siek,” sê ek onnodig heftig.   Nou vir die gewone taktvolle gevis wat noodwendig moet volg.

Maar hierdie een stel nie belang nie.  Hy gooi bloot my goed agter in sy voertuig, lig my sonder meer na binne en gee ‘n denimbaadjie aan om onder my kop te sit.  “Dis ‘n goeie paar uur tot op die plaas, slaap solank, die laaste ent sal jy moet hekke oopmaak as jy kans sien.  Die meeste is nog te moeilik vir Klein Jan,  en self oopmaak en deurry en weer toemaak vat ‘n helse klomp tyd.”

“Hoekom het hulle nie laat weet die oom is siek nie?”

Jan Malan se tande flits wit in die donkerblonde baard.  “Oom Petrus is net so min siek as wat jy tant Helena is!”  Die kind lyk sprekend op sy pa.  Behalwe die baard, natuurlik.

Ek besef nou eers wat hy flussies daar binne gesê het.  “Tánt Helena?”

“Ja, tannie Jossie se liewe vriendin uit die Kaap.”  Die glimlag het nou sy oë bereik.  Nie ‘n man wat sommer kliphard lag hierdie nie.

Die tannie se vriendin?  Ek?  Ek het die tannie in my lewe nog nie met ‘n oog gesien nie.

Berge val op my, heuwels bedek my – die mense probeer Cupido speel!  Is dit nou Bets se siek sin vir humor?  Hoe moet ek met my maer lyf en spookwit gesig lyk vir hierdie man met die wildheid van die groot katte in elke beweging?  Dink hy ek is in op dié gekonkel?  En waar’s die kind se ma?

“Ek is nie die tannie se vriendin nie.  Ek wás hulle niggie Betsie se vriendin, maar ek dink dié vriendskap is pas verby.”  Die trane brand agter my ooglede; ek klink en voel soos ‘n imbesiel.

“Moet jou nie so ontstel nie, hulle is twee dierbare mense.  Ek is gewoond mense soek vir my vrou; ek sal jou nie lastig val nie.”  Waar sou hy dan aan die seuntjie gekom het?  Waar ookal, van dissipline het hulle hom daar nie veel geleer nie; die kind is onuitstaanbaar.  Nie ‘n oomblik stil nie, en steur hom weinig aan sy pa se flou betigtinge.

Maar o, om weer deur ‘n aantreklike man lastig geval te word!  Ek wil-wil  glimlag; in die goeie ou dae sou ek nou die ys met ‘n skerp opmerking gebreek het.  Deesdae het ek min te sê.

Ek lê gehoorsaam terug in my hoekie teen die baadjie wat na veld en vuur ruik.  Al die maande van naalde en pype en vreemde hande op my lyf het my op die harde manier geleer:  baklei teen die onvermydelike is dikwels ‘n blote mors van energie.

So kom ek om, so kom ek om.

 

EK KOM TOT MYSELF met die ruie baard en leeu-oë onverwags naby; ek dink vir ‘n enkele gekke oomblik ek is weer in die hospitaal.  Of dood, en die duiwel lyk soos ‘n boswagter.

Maar ek is hoegenaamd nie dood nie; ek voel verbasend lewendig en uitgerus. Ons staan by ‘n vulstasie op ‘n klein dorpie waarvan ek die naam nie ken nie.  Dis warm, my hemp kleef aan my rug vas, onder die kopdoek jeuk en kriewel dit.  Stowwerige bakkies met groot, hartlike mense kom en gaan; die petroljoggies roep na mekaar met helder Afrikaklanke.

Op die agterkussing slaap die klein nagmerrie genadiglik.  Pure engeltjie nou; handjie onder die wang, kwyldruppeltjie op die soenbare bekkie.

Ek vat die energiedrankie gedwee en begin versigtig drink.  My lyf het gewoond geraak aan voeding uit ‘n sakkie.  Ek moes leer om die pype te verduur, en toe weer om sonder hulle klaar te kom.  Nou is ek met elke sluk nog bang die naar kom weer terug, die hele helse siklus begin dalk nog ‘n keer.

Ons ry verder oor geel grasvlaktes met kolle-kolle bos tussenin, veraf rante wat die uitgestrekte landskap omsluit, plaashuise met koel sipreslanings en landerye gespikkel met skaap en angorabokke.  My oë kan hul geluk nie glo nie; hulle brand van al die lekkerte.  Niks is wit of steriel nie, die kleure is ryk en aards, die lug hang swaar van stof en mis en hitte.  Ek sit nou penorent in my hoekie, elke sintuig hongerig gerig op die nuwe wêreld wat om my oopgaan.

In ‘n vorige lewe het ek die Bosveld van die noorde geken; die Oos-Kaap is vir my ‘n openbaring.  Gedagtes aan die bos bring gedagtes aan Gerhard; nie dat hy ooit lank uit my gedagtes is nie.  Gerhard wat ongemaklik was met Die Siekte, verleë en lomp in al die steriele wit, verdwaald tussen die pype en sakke en naalde.

Toe hy sy ring so geredelik terugvat, het ek gedink nou kan ek maar doodgaan.  Maar ek het nie doodgegaan nie.  Om een of ander duistere rede het ek aanhou lewe.  En hier sit ek nou langs ‘n bot vreemdeling met ‘n ongedissiplineerde kind, op pad na ‘n vreemde plaas met twee vreemde oumense.

Maar die grootste vreemdeling is ekself.  Van die jolige party animal  en avontuurvraat het min oorgebly; ek is maer en swak en bang. Die Siekte het my egter ook aanpasbaarheid geleer; ek moes maar altyd reg wees vir ‘n nuwe bal wat onverwags na my kant toe kom.  Ek sal hierdie een darem seker ook kan baasraak.  As mense net wil ophou om my soos ‘n invalide te behandel, kan ek dalk ophou om een te wees.

Dierbare Bets, altyd aan die matchmaker speel.  Al kan sy haarself nie eens help nie.  Iewers – voor ek deel van haar lewe was – het iets skeef geloop in my pel Bets se lewe.

Dinge wat skeef loop het gewoonlik – áltyd – met ‘n man te make.

Die wildewragtig lyk of hy van my vergeet het.  Maar tog nie:  “Het jy kanker gehad?”  Geen taktvolle geskimp nie, dankie tog; min mense kry die gevreesde k-woord so maklik oor hul lippe.

“Leukemie.”  Ek is moedswillig net so pront.

Hy trek nie ‘n spiertjie nie; gewoonlik hap hulle na asem van pure verleentheid.  Dis wat ernstige siek mense vir blakend gesonde mense is: ‘n verleentheid.  “En jy is nou skoon?”

“Ja, ek’s veronderstel om gesond te wees.”

“Maar jy vóél nie gesond nie?”  Nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie, hierdie een.

“Nee, ek sukkel met die aanpassing.”

“Het jy al daaraan gedink dat dit dalk normaal kan wees?”

“Hulle sê so, ja.”

“Maar jy glo dit nie?”

“Dit voel nie normaal nie; dit voel verkeerd.”

“Tannie Jossie sal jou gou-gou regsien; sy’s nie een vir fieterjasies nie.  Het jy nie meer ‘n ma nie?”

“Nee, net verlangse familie wat nie regtig belang stel nie.”  Besoektye was elk sy eie happie van die hel met besorgde familie wat om die ander pasiënte saamdrom, terwyl my ou klompie vriende en kollegas met die maande se verloop meedoënloos uitgedun het.  Mense raak verleë; praatjies oor hul werk of sosiale lewe klink onvanpas en onsensitief.  Mettertyd bly hul maar weg.  Bets is die blinkste van die paar juwele wat uiteindelik oorgebly het.

“Beenmurg gekry?”

“Ja, by my einste maatjie Bets wat my in hierdie penarie ingepraat het.”

“Dit hoef nie noodwendig ‘n penarie te wees nie.  Jy is niks aan my verskuldig nie; ek moes in elk geval inkom stad toe.”

“Is jy ‘n buurman?”

“Fotograaf.  Kamp dikwels in dié omgewing.”  Hy draai op ‘n grondpad af.  “Nie meer ver nie.  Hier’s ‘n paar hekke; sal jy dit maak?”

“Natuurlik, ek’s nie lam nie.”  Weer onnodig heftig.

“Nes jy wil.”  Dankie tog, hy’s nie die ag-foeitog-ag-siestog soort nie.

Plaashekke is toe nie sommer net hekke nie; die goed het elkeen ‘n lewe en persoonlikheid van sy eie.   As ek een kontrepsie baasgeraak het, fnuik die volgende een my weer met ‘n nuwe patent.  Ek blaas en sweet en sukkel.  Jan Malan roer nie ‘n vinger om my lyding te verlig nie; slaan elke klein veldslag rustig gade terwyl hy onverstoord tussen sy tande deur sit en fluit.  Dié bot man verstaan sowaar ek wil nie gepiep word nie.

Janneman lewer deurlopend kommentaar. Hy’s nie beïndruk met my nie.

Die gevoel is wederkerig.

“In jóú is daar nog hope skop oor,” is al wat Jan te sê het toe ek na die laaste hek triomfantlik terugsak teen die kussing.

Dis goed om te hoor; nou moet ek dit net glo ook.

 

DIE OPSTAL Lê IN ‘n kom tussen golwende heuwels, beskut deur stokou bloekoms, toegevou in ‘n liefdevol versorgde grasperk.  Ons hou voor die agterdeur stil:  leiklipstoep silwerskoon gevee, rooi malvas tuimel uit wit potte, gemmerkatte lê soos rangskikkings op die warm klip.  Die plek se naam is Rus-en-Vrede.

Tannie Jossie is toe nie die goedige tante wat ek verwag het nie; sy’s slank met dik, golwende hare en klein raakvat-hande.  Die oom lyk meer soos ‘n oom, met Bets se gelaatstrekke en ‘n stink pyp wat hy liefdevol vertroetel.  En ooglopend blakend gesond.

Op die lang kombuistafel staan die koffiegoed reg.  In die vensterbank sit ‘n glansende donkerbruin kat met alwetende goudgeel leeu-oë.  Oor die rand van ‘n mandjie spoel ‘n stroom klein katjies in ligter skakerings van room en bruin.

Wat ìs dit met my en leeu-oë vandag?

“Annabel en haar kroos, my vierbeenkinders,” glimlag die tante. “Vir Alberta sal jy aanstons ontmoet, haar tyd is naby, het al haar intrek in die kraamkamer geneem.”

“Wat natuurlik ons slaapkamer is,” glimlag die oom rondom sy pyp terwyl hy sy koffie aanvat en die bord met ellelange mosbeskuite na my toe stoot.

Annabel kom klim met waardigheid op Jan se skoot.  Die groot hand vou sagkens om haar kop, krap onder die kennetjie dat haar oë eintlik toegaan van pure lekkerkry.  Twee vrye geeste  wat mekaar perfek verstaan.

Ek word vroegaand in die bed gesit in ‘n kamer met ‘n koperbed en gul geel rose in ‘n swaar glaspot.  In die gang hang ‘n hele galery van foto’s van die omgewing.  Treffende studies in verskillende seisoene.

“Alles Jan se werk; hy los jaarliks sy ateljee in die Baai en kom kamp ‘n ruk hier.”

“Julle het vir Jan gejok oor my.”

“Ons moes, my kind, hy’s vir ‘n vroumens so bang soos ‘n vegetariër vir ‘n lekker braaitjop!”

“Hoekom?” Bly om te hoor my ou nuuskierigheid lig darem weer sy kop.

Die tannie se besige hande huiwer ‘n oomblik bo die rose.  Toe lyk dit of sy tot ‘n besluit kom.  “Jy weet nie van Bets en Jan  nie?”

“Bets en Ján?!”  ‘n Meer onpaar paartjie kan ek my kwalik voorstel.  Omtrent iets soos Skoonlief en die Ondier.

Sies vir jou, Helena, die man is nie so onaardig nie.  Net baie bot en baar.

“Getroud gewees; sy’t hóélank ‘n vuurwarm vryery met sy vennoot aan die gang gehad.  Haar gewete pla haar darem; sy soek knaend vrou vir Jan.”

Nou toe nou.  Ek is verslae; ek dag ek ken my pel.

“Solank sy net besef ek soek nie man nie.”   Ek draai my gesig muur toe; ek is moeg tot in my siel.  En seergemaak, verneuk.

Sy trek die koel laken sorgsaam oor my maer skouers op.  “Natuurlik nie, my hartjie, ons sê almal so.  Tot die regte een opdaag, dan verander ons gou van deuntjie.”

Die regte een het lankal opgedaag.  En toe weer weggegaan.

“Sy soek seker maar ‘n ma vir haar kind ook.”  Tannie Jossie trek die deur saggies agter haar op knip.  Ek lê verlam van skok in die koperbed; meteens versmoor die rose my.

Bets het my gestuur om haar plek in te neem.

 

VOORDAG SKRIK EK BEANGS wakker met die gewig van die dood op my bors.  Maar die dood  het ronde geel oë wat my stip aanstaar en sy giet haar liefde met diep spingeluide oor my lyf uit.  Ek krap onhandig agter die groot regop ore; ek ken nie katte nie.  Onmiddellik skakel die spin na ‘n volgende rat oor;  die voorpote knie-knie van plesier.

“Alberta, jou stouterd!” Dis die tannie, apologeties.  “Boender haar gerus af, kind, sy raak so oordadig liefdevol as dit amper haar tyd is.”

My hand vou vanself vaster om die sagte moederlyf.  Ek is uitgehonger vir liefdevolle aanraking.

“Is die katte nie gevaarlik vir jou nie, kind?  Jy’s nie dalk allergies nie?”

“Glad nie, tante, en die dokters verseker my ek kan nou ‘n normale lewe lei.”

“Dan laat ek julle twee aan mekaar oor; van ontspanning en rus kan die mensdom by katte baie leer.”  En weg is sy met haastige stappies op die blink plankvloer.

 

IN HELDER SONSKYN skrik ek wakker van die tante se ontstelde stem.  Slegte nuus, dit kan ‘n blinde sonder ‘n stok voel.  Teen my lyf slaap Alberta diep.

Ek glip versigtig uit die bed.  In die gang draai die tante huilend van die foon af weg.  Dis toe ek wat tee maak,  rondsoek vir alles in die vreemde kombuis.    “Kind, die oom sal moet kom, ons sal moet ry, so gou as kan.”  Sy beweeg na die burgerbandradio.  “Petrus, kom in!  Kom in, Petrus!”

“Pappie, dis Madeleintjie, sy was vanmôre in ‘n kaping!” Teen dié tyd huil ek net so hard soos die tannie, maar om my eie selfsugtige redes.  O, om ‘n ma te hê wat so oor my sal huil!

“Ek kom, Mammie,”  is al wat die oom sê.

Opeens kalm draai sy om na my toe:  “Nee kind, jy gaan nie dadelik vertrek nie; jy en Jan gaan bly en na my vierbeenkinders kyk!”

Vader tog, Alberta gaan kraam!  Die benoudheid slaan my asem weg.  “Tante, ek weet niks van katte nie!”  Ek wonder hoeveel van my skrik het te doen met Jan Malan.

“Katte kort net liefde en respek, en dié het jy.  Gaan trek gou aan, jy sal vir Jan moet gaan haal, hy’t nie ontvangs by sy kamp nie.”

So gebeur dit dan dat ek met ‘n plaasbakkie en ‘n ekstatiese skaaphond die vreemde veld invaar op soek na Jan Malan en sy stout kind.  En skoon vergeet dat ek beangs, depressief en swak is.  En dat ek nie my kopdoek omgebind het nie.

 

‘N WEEK LATER KYK EK tranerig hoe Jan se groot hande versigtig seker maak dat elke katjie lewendig en welgeskape is.  Janneman sit styf onder my blad, die ogies blink van verwondering.  Hy’s toe nie só ‘n onaardige kind nie.

Ek het al wilder seuns getem as hierdie outjie:  tieners, hardebaardmanne uit die Kaap se betonoerwoude.   Ek is nie verniet onder hulle as Die Leeutemmer bekend nie.  Toe een van my gunsteling belhamels die slag vir sy pelle uitbasuin juffrou Lamprechts moes liewer ‘n leeutemmer geraak het as ‘n onderwyser, het hy vir my dié naam geskep wat ek met trots dra.

Daardie aand huil tannie Jossie weer die lyn van Johannesburg af vuurwarm, maar hierdie keer van pure blygeit:  “Kindjie, Madelein het eindelik bygekom, die ergste is verby.”

Ek en die tannie maak ‘n bielie van ‘n span; ek tjank so dat Jan moet kom praat:  “Alberta het vyf pragtige kleintjies, Tante.  En bly gerus so lank dit nodig is; Helena regeer ons almal hier met ‘n ysterhand.”

Hy’s reg, daar’s toe nog heelwat skop in my.  Ek moes net vir ‘n slaggie van myself vergeet.

 

EN DIS HOE GERHARD ons kom kry.  Dis naar, maar dis ongelukkig waar:  My beste pel (met die verlede) en my verloofde het toe al die tyd ‘n ding aan gehad.  Dit was nie Die Siekte wat hom van my gesteel het nie, dit was die voorste sieketrooster.

Jobstrooster.  Witgepleisterde graf.  Slegte ma.

Bets het vir my blomme en troosgoed aangedra en my verloofde se bed vir hom warm gehou.  My pel Bets is ‘n tweegesig met die sedes van ‘n straatkat.

Wat ‘n belediging vir die kattespesie.  Katte is minstens toegewyde moeders.

Gerhard se gewete het hom al die pad uit die Kaap tot op Rus-en-vrede gejaag.  Dinge  wou nie werk met Bets nie; hy’t bly verlang na my.  Hy kan my nie vergeet nie; hy weet nie wát hy gedink het nie.  Hy’s nog al die pad lief vir my; hy was verward, hy sal vergoed.

Pandemonium.

Ek raas en huil tot die katte die huis uit vlug en Janneman verbouereerd aan sy pa se bene vasklou.  Gerhard se bruin oë soebat, sy mooi hande lok my nader, sy lieflike lyf wag vir my.  Hy’t die ring saamgebring.  “Of ‘n ander een – enigiets, Helena, énigiets.”  Dié beeld van ‘n man is op sy knieë voor mý, brandmaer voëlverskrikker met verdwaalde donsiehaartjies op ‘n knopperige eierkop.

Jan staan en bekyk die affêre só.  Toe draai hy kortom, vat sy kind en ry.

Ek is op my eie.

Toe hulle vier-en-twintig uur later terugkom, is ek uitgewoed.

 

EK ONTMOET EERS OP ONS troudag vir Madelein.  Sy’t volkome herstel en sy is Bets se ewebeeld.  Bets wat toe tog ná alles veel meer as my lewe aan my teruggegee het.  En wat nou vis pak in Alaska; mag sy daar vind wat dit ookal is wat sy so naarstigtelik soek.

En sy’s nog steeds my pel.

Vir ons wittebrood kamp ons op Jan se ou staanplek tussen Rus-en-vrede se verste ver rantjies.  Saans sit ons tot laat om die vuur terwyl die sterre tydsaam oor ons skuif en die mense van Rus-en-Vrede se trougeskenke om ons speel:  twee katjies met goue leeu-oë en glansende sjokoladebruin lyfies.

Jan Malan het sy leeuhart vir my oopgemaak; ek teug weer gulsig aan die lewe.  En die welpie nestel in my skoot; ek het hom lief soos my eie.

 

* Alberta en Annabel is Burmese katte en woon in die werklikheid as Tisha en Twiggy         op Caledon in die Overberg.