
Naam: Anoniem 1
Ouderdom: 64
Beroep: Deeltydse korttermynversekeringsmakelaar/pensionaris
Huwelikstatus: Getroud
Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.)
Eggenoot en volwasse dogter
In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?
Nie uniek nie, wel uitdagend omdat ek die hele (te groot!) huis skielik alleen moes behartig sonder my huishulp wat twee maal per week kom werk het voor die inperking.
Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?
Baie onseker oor wat die toekoms vir ons gaan inhou. Onseker of ons byvoorbeeld kos sou kon koop as dinge sou vererger, wat ek geglo het wel sou gebeur.
Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is?
My vermoede is bevestig dat dinge uitdagend sou word binne die afsienbare toekoms.
Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?
Ek onthou nie spesifiek die eerste twee nie, maar die laaste dag het ek en my man Hartebeespoortdam toe gery om ons veertigste huweliksherdenking (die 29ste, dus reeds ingeperk) voortydig te gaan vier. Ons was redelik gelate oor die situasie, hoewel ons nie eers meer ’n goeie restaurant kon oop kry nie. Almal was besig om gereed te maak vir die inperking.
Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?
Ek was aanvanklik vreeslik ingestel daarop om te sorg dat daar genoeg kos in die huis is! Die ekstra huiswerk het my baie meer besig gehou as gewoonlik, dus was daar nie tyd vir verveeld wees nie.
Wat was die moeilikste tydens vlak 5?
Die ekstra huiswerk. Dit het my nie juis gepla dat ek huisgebonde was nie, want ek gaan nie besonder graag uit nie. Dit was lastig (is steeds) om alle kruideniersware wat afgelewer is, af te was.
Wat is vir jou positief tydens vlak 5?
Ek het deelgeneem aan ’n hekelprojek, en dit was ’n lekker uitdaging om met my wolvoorraad klaar te kom. Hekel en lees is maar altyd, ook tydens die inperking, my “happy place”.
Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?
Beide my man en dogter het met hulle werk aangegaan vanaf die huis, en het dit goed hanteer. My dogter het later begin swaar trek omdat sy haar koor baie mis, en sy hou nogal daarvan om naweke bietjie te gaan rondstap in ’n winkelsentrum of sommer bietjie te gaan ry.
Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?
Dit was nie vir my ’n verrassing nie, dus het dit my ook nie juis ontstel nie.
Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?
Ons kerkdienste behoort bo-aan die lys te wees, maar die verligting om nie heeltyd bekommerd te wees oor die interaksie met ander mense nie, het swaarder geweeg as die gemis.
Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?
Ek het dit nie juis anders beleef as Vlak 5 nie.
Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?
Was vir my om’t ewe.
Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?
Die sinnelose tye vir oefening
Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?
Stap in die woonbuurt
Het jy tydens vlak 5 geoefen?
Ja, matig
Hoe het jy dit gedoen?
Ons het vroegaand om die huis gestap, uit by die hek en buite van een kant van die hoekerf tot by die ander, dan weer in en om die huis.
Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?
Sinneloos!
Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?
Ek kon my huishulp terugkry, maar het verkies om dit nie te doen nie, agv die openbare vervoer risiko. Ons het dus steeds betaal vir dienste nie gelewer nie, want ons was te jammer vir haar om haar nie te betaal nie. Verder was daar nie juis vir ons ’n verskil nie.
Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?
Kon nou vroegaand stap sonder om te voel ek oortree die wet. Verder maar dieselfde. Die sigarette en drank debakels raak ons nie.
Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?
Ek kon nie insien waarom sekere industrieë meer geraak word as ander nie. Baie van die reëlings het nie sin gemaak nie.
Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?
Ek sou sê redelik goed.
Is jy finansieel erg geraak?
My man se kontrak is opgeskort vanaf 1 Julie, dus is ons nou skielik met pensioen! Dit gaan vreemd wees om nie teen maandeinde ’n inkomste te kry nie.
Wat is nou vir jou die moeilikste?
Die wete dat ek of my mense die siekte enige tyd, enige plek op die lyf kan loop. Gaan steeds die minimum uit die huis uit.
Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?
Elke dag se stukkie dankbaarheid vir ons gesin wat nog gesond is. En dankbaarheid vir tegnologie wat mens in kontak hou met jou kinders wat ver is.
Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?
Nie in geweldige detail nie.
Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?
Ek lees soggens op Twitter wat NCID gerig oor die toetse van die vorige dag, en lees hier en daar op Maroela Media/FB ’n berig. Spandeer minder as ’n halfuur per dag daaraan.
Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?
Dit is vir my byna ’n bevestiging van dit wat ek voorsien het, dus krap dit my nie té veel om nie. Ek was wel bietjie ontspoor toe iemand wat ek persoonlik ken, gister gediagnoseer is. Dit maak dit meer “werklik”.
Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?
Ook maar bolangs. Kyk soms waar lê SA op die lys van lande mbt toe getalle.
Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?
Italië, Engeland en Amerika
Hoekom?
Italië, sommer sentimentele redes omdat ek die land besoek het. Engeland omdat my dogter se vriendin daar woon, Amerika omdat ons gereeld luister na Amerikaanse predikers wat ook nou in leë geboue preek.
Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?
Ek staan nog half op die kantlyn en lees dit soos statistieke, omdat niemand naby my al ’n slagoffer was nie.
Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?
Ek glo nie veel anders nie.
Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?
Ek sou weer dieselfde optree.
Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?
Nee, net iemand wat tans siek is.
Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?
Nee