Destigmatiseer depressie en selfdood

Ek het die vrymoedigheid geneem om die volgende brief aan Die Burger van prof. Lizette Rabe, bekende joernalis en akademikus, volledig hier te plaas. Ek dink wat sy sê, is geldig en baie belangrik:

Oor die aktrise wat probeer het om haar lewe te beëindig (DB, 07.07): In ’n tyd waarin ons oorbewus is, uiteindelik, en met reg, van menseregte en onsensitiewe woorde, word terminologie om depressie, die mens se waarskynlik mees verskriklike siekte, steeds gebruik sonder enige inagneming van dié wat daaraan ly, of sterf.

Ek verwys na die frase “selfmoord pleeg”. In ’n tyd dat ons so bewus is van basiese regte, behoort ons dié wat ly aan die siekte wat die oorsaak van selfbeëindiging is, met meer respek en menswaardigheid te behandel. Bowendien is die term argaïes en gelaai met inkriminasie en morele veroordeling.

Ons behoort die frase wat so sonder nadenke gebruik word wanneer iemand sy lewe aan depressie verloor, uit ons woordeskat te weer. Meer aanvaarbaar is “aan selfdood sterf”, of “eie lewe neem”, of die veel meer humanitêre: dat iemand aan depressie gesterf het – soos wat iemand aan kanker kan sterf. Die media behoort ook ’n leidende rol hierin te speel.

Só kan die siekte gedestigmatiseer en gedemistifiseer word en word hopelik ’n bietjie meer begrip gekweek vir die feit dat dit ’n biologiese siekte is, veroorsaak deur die chemiese wanfunksionering van die brein, op sy beurt veroorsaak deur endogene of eksterne faktore. Indien ons die siekte normaliseer, sal meer mense besef hulle moet vroeër vir behandeling gaan vir ’n beter kans op lewensgehalte en oorlewing. Daarmee word ook die onkunde daaroor verbreek, want soos ander biologiese siektes vereis dit medikasie en behandeling.

Die algemene onkunde blyk uit kommentaar in die berig oor Lindie Stander: “Ek is seker sy is sterk genoeg om hierdeur te kom.” Nee, ’n depressielyer wat haarself probeer vernietig, is terminaal siek en kan nie net “sterk genoeg” wees nie. Mediese behandeling is nodig sodat die brein weer normaal kan funksioneer om uit die selfvernietigingspiraal te kan kom.

Lizette Rabe

Somerset-Wes

Lewer kommentaar