Eloff, Karin – Stiletto

StilettoStiletto is ‘n boek wat sekerlik bedoel is om te skok en dit sekerlik regkry. En ek reken nogal ek is darem nie meer so maklik om te skok soos ‘n paar dekades gelede nie. Die skrywer noem ‘n graaf beslis nie net ‘n f-en skopgraaf nie, maar minstens ‘n bulldozer. ‘n Mens kan nie help om te wonder of die taalgebruik bedoel is om te skok en of dit maar net is hoe hulle praat in die seksbedryf nie. Waarskynlik ‘n kombinasie van die twee. (En nee, daar was nie woordjies wat ek glad nie ken nie … 🙂 Dit gaan meer oor hoe hulle ingespan word. En natuurlik klink dié dinge vir ons erger in Afrikaans as in Engels!)
Die boek is goed geskryf en ‘n mens kan agterkom dis nie ‘n leegkoppie aan die woord nie. Daar is ook ‘n skerp sin vir humor en ironie merkbaar. Hoewel die leser natuurlik nie weet wat is alles die werk van die mede-skrywer nie.
Ek weet nie van nog so-iets in Afrikaans nie. In daardie opsig is dit seker goed. ‘n Mens wonder net hoeveel word dit gelees uit die behoefte om die seksbedryf en die mense daarin beter te verstaan, en hoeveel word dit eenvoudig vir amper-porn gebruik. Ek reken dit kan werk vir laasgenoemde. Waar ‘n mens die moed kry om sulke dinge van jouself onder jou eie naam te publiseer, verstaan ek nie. Kan eerlikheid nie ook te ver gevoer word nie? En wat van daardie dogtertjie wat eendag nie meer drie jaar oud gaan wees nie? Hoe verwerk ‘n tiener dit as sy agterkom dís wat Mamma gedoen het toe sy jonk was?
Die verslawende aard van die werk is nie vir ‘n buitestaander maklik verstaanbaar nie, maar die boek laat kry jou tog ‘n idee daarvan. Dat geen mens dit sonder drugs en drank kan doen nie, is duidelik. Dat die meisies uitgebuit word en ongoddelike ure moet werk, het my die diepste geraak. En as jy nie perform nie, is jy uit. Dat mans hulle soos drek behandel, is seker ook nie vreemd nie. Dat dit die Afrikaanse man is wat telkens uitgesonder word as die varkerigste, gemeenste en onbeskofste, is nogal vir my erg. Dat dit toegeskryf word aan sy opvoeding en eng godsdienssin, is tragies. En ongelukkig heel moontlik akkuraat.
Ten spyte van die kruheid (of dalk juis as gevolg daarvan?) maak die boek baie duidelik die stelling dat dit nie is wat seks veronderstel is om te wees nie en dat dit nie ‘n lewe is wat ‘n mens jou grootste vyand moet toewens nie. Dalk sou dit nie so effektief oorgekom het as dit in sedige standaard taal geskryf was nie.
Moenie lees as jy delikaat van nerf is wat seks betref nie. Ook nie as jy skrik vir skopgrawe en/of bulldozers nie. As jy bloot lus is vir ‘n cheap thrill – of dalk regtig die behoefte het om beter te verstaan – lees gerus! Want die boek gaan uiteindelik oor die keuses wat almal in die lewe het. Jy het ook die keuse of jy dit wil lees of nie.

Een gedagte oor “Eloff, Karin – Stiletto

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s