De Kock, Nadia – Heildronk op ‘n gypsyromp

Heildronk op ‘n gypsyromp was een van die aangename verrassings van 2011. Ek het kennis geneem van sy (haar) verskyning, maar nie moeite gedoen om dit in die hande te kry nie. Maar as ‘n nuwe boek per ongeluk (geluk) voor my op die trollie lê, gryp ek!
Daar was al redelik diskoers oor of ons nou eintlik chick-lit in Afrikaans het, of ons dit wil hê of nie, of dit ‘n genre met bestaansreg is of nie, ens. ens.  Na my mening is Gypsyromp volbloed chick-lit en probeer dit niks meer of minder wees nie – en dis waarskynlik wat dit geslaagd maak.
Sover ek weet is drie dinge belangrik in chick-lit: ‘n professionele enkelvrou, gewoonlik so skuins oor die dertig, haar loopbaan en haar vriendekring (urban clan). En dan eers kom haar liefdeslewe. Daar is dus gewoonlik ‘n liefdesverhaal betrokke, maar dis nie noodwendig die belangrikste element in die storie nie.
Mieke is ‘n kleurvolle, impulsiewe, kreatiewe, warm vrou met twyfelagtige skoenesmaak, ‘n wonderlike passie vir die woord en ‘n indrukwekkende vermoë om haar drank te vat (behalwe soms). Die storie gaan oor haar stryd om in die harde sakewêreld met haar eenman(vrou) uitgewery te oorleef. Daar is heelwat nuttige sakewenke goed verskuil in die verhaal; dit word nooit prekerig nie. Daar is ook baie pret en ‘n hele klomp kleurvolle en moderne karakters. En baie menslikheid, liefde en vriendskap deur dik en dun.
Op ‘n stadium was ek so bekommerd dat die skrywer haar waaragtig met verkeerde man gaan opsaal, dat ek maar geloer het, net om seker te maak … Jy hoef nie bekommerd te wees nie – sy gaan met die regte man Ierland toe!
As jy lus is vir iets lig, modern en eg-Suid-Afrikaans – go for it! Aan die begin het die styl my effens gehinder, en soms is daar regtig onnodige detail, maar dit het gaandeweg minder opvallend geword. Wat beteken die storie het my so gevang dat ek vergeet het van die goedjies wat my pla.
En nee, Heildronk op ‘n sigeunerromp werk eenvoudig nie so goed nie. (Ek was mal oor die teenstelling tussen die sakevrou met haar neutrale klerekas in wit, room en swart en die maltrap met haar kas vol kleurvolle gypsyklere.)

Een gedagte oor “De Kock, Nadia – Heildronk op ‘n gypsyromp

Lewer kommentaar