Van Rooyen, Marietjie – Huis teen die skuinste

Huis teen die skuinsteHuis teen die skuinste is nie net nóg ‘n vrag VIGS-inligting wat op ‘n voos publiek afgelaai word nie. ‘n Mens kry nie die gevoel die skrywer se doel is om die VIGS-probleem as sulks aan te spreek nie, maar deur die vertel van hierdie verhaal van liefde en lojaliteit en menslike swakheid word dit dalk juis treffender gedoen as deur al die amptelike pogings uit verskillende oorde.

Die verhaal van Katerine en Karyn  gee ‘n eerlike en empatiese blik op diegene wat die lyding van ‘n geliefde met vigs moes aanskou en wat uiteindelik moes agterbly. Maar Huis teen die skuinste is ook ‘n verkwikkende liefdesverhaal (met seker die onwaarskynlikste, maar eg-menslike, romantiese held ooit) en dit werk mee om die verhaal op ‘n hoopvolle (maar nie volmaakte) punt af te sluit. Katerine is ‘n argitek wat haar werk en lewe in Gauteng opgee om haar suster in die Kaap te kom verpleeg. En uiteindelik bly sy en Lilliane se dogter alleen agter en moet hulle probeer om sin te maak uit hulle ervarings en emosies. Terwyl hulle tevore altyd ‘n hegte en liefdevolle verhouding gehad het, is dinge nou nie meer so eenvoudig nie. Albei worstel met die verwerking van Lilliane se dood, met die stigma wat steeds daaraan kleef, met die nuwe rolle wat hulle moet aanleer. In die verloop van hulle belewing word Lilliane se siekte en dood ook deur middel van terugflitse vertel, maar dit word nooit die kern van die verhaal nie.

Huis teen die skuinste  bly ‘n verhaal van lewe, nie een van dood nie. Katerine se worsteling en pogings om die kits-ouerskap van ‘n tiener te hanteer, word eerlik en onsentimenteel geteken. Sy is intens bewus van haar gebrek aan ervaring, maar sy verwag van haarself om alles volmaak te hanteer. En in die proses dryf sy haarself amper ten gronde. Maar gelukkig is pastoor Arnold haar goeie vriend …

Die randkarakters word lewensgetrou en met deernis geteken en is almal funksioneel in die verhaal. Daar is onder meer Katerine en Liliane se ietwat eksentrieke ma, wat ook  op haar eie  manier haar verliese probeer verwerk. Daar is Irma, Katerine se vriendin, wat ‘n kind bo alles begeer. Daar is Leonora, haar eerste groot kliënt in die nuwe werksomgewing. En natuurlik die rumoerige familie Jones wat langsaan intrek. Almal warm, menslike karakters.

Die volgehoue humor sorg dat die verhaal nooit ‘n treurmare word nie, al gaan dit oor so ‘n morbiede onderwerp. Die skrywer en haar karakters kyk altyd met ‘n glimlag na die lewe, al is dit ‘n glimlag met ‘n traan. Die parallele tussen Katerine se werk as argitek en die huis teen die skuinste wat sy en Karyn by wyse van spreke moet probeer bou, word fyn deurgetrek deur die verhaal. Soos die onderhandelinge met Leonora vorder en Katerine gaandeweg insigte en inspirasie oor die bouwerk op die moeilike terrein kry, vorder haar en Karyn se verhouding ook stappie vir stappie.

Die skrywer skram nie weg van die negatiewe emosies waarmee diegene wat agterbly worstel na die dood van ‘n vigslyer nie. Die toneel waar Karyn erken dat sy op een vlak eintlik bly was toe haar ma uiteindelik oorlede is, is van die aangrypendste in die verhaal. Almal wat al skuldgevoelens na ‘n geliefde se dood ervaar het, sal daarmee kan identifiseer.

Daar is ‘n paar dingetjies wat hierdie leser gepla het, byvoorbeeld die ongewone name van die karakters. Dit val eenvoudig nie lekker op die oor nie. Soms was die oorgange tussen hede en verlede ook nie heeltemal duidelik nie en was ‘n mens nie mooi seker presies waar en wanneer ‘n toneel afspeel nie. Dit is egter kleinigheidjies wat heel moontlik deur ander lesers verskillend ervaar sal word. As geheel is Huis teen die skuinste ‘n uiters aangename leeservaring, ‘n relevante en hoopvolle verhaal vir die samelewing van vandag.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s