Ek het jare gelede die fliek gesien en die boek gelees daarna. (Definitief vir my die beste volgorde.) Ek het albei baie geniet, maar kan nie onthou dat ek so diep aangeraak was soos hierdie keer nie. (Dis nou behalwe die uiters aangename herinnering aan Robert Redford in die manlike hoofrol.) Of dit die ouderdom is, weet ek nie. Maar ek het al tevore ook opgemerk dat dieselfde storie ‘n mens op verskillende stadiums in jou lewe verskillend aanraak.
The horse whisperer is die baie Amerikaanse storie van die New Yorkse gesin wie se lewens onherroeplik verander word deur ‘n verskriklike ongeluk van hul dogter, Grace en haar perd, Pilgrim. Albei van hulle oorleef, maar nie een is meer dieselfde nie. En soos net ‘n ma kan, tree Annie in en neem hulle lot in haar hande, neem die besluite wat sy as reg beskou, en voer dit roekeloos uit, soos sy haar toploopbaan in die publikasiewêreld hanteer.
So beland sy en Grace en Pilgrim dan op die plaas in Montana en word hul deel van die lewe daar. En leer ken natuurlik vir Tom Booker, die man wat met perde kan toor. En hy toor wel met Pilgrim, maar ook met Annie se hart. Tom word suiwer en sonder melodrama geteken as ‘n ongekompliseerde, kalm mens wat die lewe vat soos hy kom. Dat hy en Annie mekaar moes liefkry, is eintlik onvermydelik. Dat baie mense moes seerkry, ewe onvermydelik.
Die afloop van die verhaal is verrassend en diep hartseer. Maar die leser word nie in ellende gelos om oor Annie en haar gesin bekommerd te bly nie. Want Annie en haar gesin is besig om stadig, stadig weer hul lewens aanmekaar te sit. En die twee nuwe aankomelinge in die gesin help hulle daarmee …
Sekerlik een van die heel mooiste boeke wat ek nog ooit gelees het. Ja, daar is klein dingetjies om te kritiseer, maar ek is nie eens lus nie. Hierdie boek sal ek nie ligtelik vergeet nie.