RSS

Marina se kubereksperiment

“Máá, Facebook is nie vir oumense nie!

“En hoekom nogal nie?” vra Marina moedswillig.

Tania kyk haar moedeloos aan, asof dit die onnoselste vraag van alle tye is. “Dis net nie reg nie, Ma, dis al.”

Marina gooi nog ‘n stompie op die vuur. Die nat Kaapse koue dring deur murg en been. “Weet jy, my kind, dis nie soos ek jou grootgemaak het nie. Ek het jou nooit iets geweier sonder ‘n ordentlike, geldige rede nie.”

Tania is in ‘n hoek. Dit wys in die verergde fronsie tussen die twee blou oë; die neerplak van die koffiebeker op die vloer langs haar stoel, waar hulle albei weet sy gaan dit omskop sodra sy uit daardie stoel opstaan. “Dis nie dieselfde nie, Ma!”

Hierdie gesprek het grappenderwys begin, maar nou gaan dit skielik om veel meer as die moets en moenies vir die gebruik van die virtuele sosiale netwerk wat die wêreld op hol het. Hierdie gesprek gaan om die generasiegaping; dit gaan oor respek vir ouer mense; dit gaan oor openlikheid tussen ouer en kind.

Marina haal diep asem en steek haar hand na haar meisiekind uit: “Kom sit nou hier by my en vertel my wat die werklike rede is waarom ek – ‘n doodnormale, intelligente, verantwoordelike ses-en-veertigjarige vrou – ten alle koste nie Facebook mag gebruik nie.”

Tania ontspan onmiddellik, kom nestel teen haar aan. “Dis net … dis net dat ‘n mens nie altyd lus is dat jou ma alles moet lees wat jy skryf nie.”

“Skryf jy dan goed waarvoor jy skaam is, Taans?”

“Nee, Ma! Dis net ‘n kwessie van privaatheid!”

“Maar my skat, dan verstaan ek jou nou glad nie. Op die internet is niks privaat nie!”

“Niemand kan ‘n mens se besonderhede sien as jy hom nie toestemming gee nie, Ma.”

“Nou ja, dan gee jy my net nie toestemming nie – so eenvoudig soos dit. Of nog beter: ek vrá nie jou toestemming nie. Want eerlikwaar, my kind, ek hoef sowaar nie jou toestemming te vra vir enigiets wat ek wil doen nie.”

“Dis nie regverdig nie! Ek wil ook my eie baas wees!” Daardie nukkerige trekkie op die mooi gesig het sy definitief by haar pa geërf.

“Jou tyd sal kom, my kind, byt net vas!” Sy druk die meisielyf ‘n oomblik teen haar vas. Wat kan haar kind dan ook verstaan van die eensaamheid wat soms te veel word? Van die behoefte om kontak te maak, maar ook die vrees vir blootstelling, vir intimiteit?

Is dit dalk maar dieselfde redes hoekom die jongklomp so gek is na die kuiernetwerk wat wêreldwyd beskikbaar is vir elkeen met internettoegang? Die behoefte om deel te wees van ‘n groter geheel, maar veilig agter jou rekenaar, altyd in beheer van hoeveel inligting jy aan wie verskaf? Waar jy iemand summier kan blokkeer as sy opmerkings jou nie aanstaan nie; waar jy na willekeur by groepe kan aansluit of hulle verlaat; waar jy selfs ‘n alternatiewe identiteit kan aanneem as jy regtig wil.

Marina glimlag stout by haarself. Haar liefste kind weet maar net nie hoe op die punte van haar vingers sy al die hele speletjie het nie. Haar liefste kind weet nog nie dat selfs in ‘n veertigplusser se lyf die nuuskierigheid en voortvarendheid van ‘n sestienjarige kan skuil nie.

Die hart van ‘n vrou verander nie regtig met die jare nie. Dis maar net die omslag wat ‘n bietjie meer gehawend raak; die inhoud bly presies dieselfde. En hierdie vrou se hart het werklik behoefte aan ‘n bietjie opwinding; hierdie boek is reg vir ‘n paar nuwe inskrywings.

DIS SATERDAGAAND, TYD VIR DIE JONGKLOMP om die strate te vat. En vir die oues om alleen agter te bly. Marina skink ‘n glasie sjerrie, kry haar kniekombersie en skuif agter die rekenaar in. Buite stuif die winterreën geluidloos neer. ‘n Aand om saam met ‘n maat te wees.

Alleen mag sy wel wees en helaas nie meer sestien nie, maar laat dit nie van haar gesê word dat sy verbeeldingloos en afgestomp is nie. As die lewe dan nie na haar toe wil kom nie, dan sal sy hom gaan soek en kaalhand uit sy gat uit sleep.

Al is dit dan onder effense valse voorwendsels.

Handig log sy by Facebook in: Maryna Maree. Tog nie so ver van Marina Malherbe af nie.

Password: 730505. Haar geboortedatum. Wel amper. Wat is tien jaar nou tussen kubervriende? En ja, sy weet dis ‘n swak password, dat ‘n mens liewer iets met letters én syfers moet kies, wat iemand anders nie so maklik sal kan ontsyfer nie. Maar dis die enigste manier om seker te maak sy vergeet hom nie dalk  nie; al word ‘n mens ook stokoud, jou geboortedatum sal jy darem seker altyd onthou.

Sy’t ‘n mooi foto’tjie van haar Kietsiekat opgesit vir ‘n profielfoto. Lankal agtergekom dat mense se profielfoto’s glad nie noodwendig ‘n doodgewone foto van hulself is nie. Daar’s blommetjies en filmsterre en wat nog alles op mense se profiele. Net so hier en daar is iemand konserwatief en verbeeldingloos genoeg om ‘n doodnormale kop-en-skouers-foto op te laai.

Sy wou sien of dit kan werk om ‘n vals identiteit te skep. En ja, dis beslis moontlik en verstommend maklik. Tweedens wou sy sien of mense bereid is om onbekendes as friends te aanvaar en hul dus sodoende toegang tot hul profiele en persoonlike inligting te gee.

Sy’t eers versigtig met vrouename begin. ‘n Paar groepe opgespoor wat met Afrikaanse musiek te doen het, en elke aand as Tania al slaap, gou-gou ‘n paar van die lede uitgenooi. En soos klokslag is die uitnodigings aanvaar.

Opgewonde het sy begin om gesprekspunte te inisieer: Is Afrikaanse musiek op die afdraande? Is daar meriete in kommersiële musiek? Wat dink julle van backtracks?Moet ons vir Steve vergeef?

Haar teleurstelling was groot.  Die nuwe vriendinne – almal lid van ten minste een groep wat oor Afrikaanse musiek gaan – is glad nie geïnteresseerd in gesprekke oor musiek nie. Nee, elkeen is maar net besig met die klein besonderhede van haar eie lewe.

Marina het gou genoeg agtergekom dat sy hoegenaamd nie belang stel in die beuselagtighede van vreemdelinge se lewens nie. Na nog ‘n rukkie het sy besef dis g’n skande nie, dit wys doodgewoon sy het nog ‘n lewe van haar eie.

Maar op die lange duur raak dinge toe tog vir haar interessant: Elke gebruiker wend blykbaar die program volgens haar eie behoeftes aan. Susan en Jane en Sunet en Coba sit weekliks ‘n sober stelling op hul profiel. Bloot feitelike informasie, niks meer nie. Goed soos: Ek het bevordering gekry, of: My kind se blindederm is uitgehaal. Marina verbeel haar hulle moet ordelike vroue wees met stywe kapsels; vroue wat miskien selfs nog sykouse dra. Saai mense wat hul saai lewens op ‘n saai manier met ander verbeeldingloses probeer deel.

Maar genadiglik is daar ook Thea en Louise en Marné en Jacolien. Hulle soek klaarblyklik ‘n klankbord, ‘n anonieme oor wat luister en verstaan. Nie dat hulle inskrywings maklik is om te verstaan nie, ‘n mens voel altyd jy moet inside information hê om die kloutjie by die oor te kan bring.

Thea is een vir mooi gedagtes: Vandag is môre se gister … You must be the change you want to see in this world … Louise kry haarself bitter jammer: Lying here in the ditch of sorrow … trying to understand … Marné is beslis baie jonk en baie jeukerig: Come, let me ease your pain … let’s share the ecstasy … Jacolien treur sekerlik oor ‘n verlore liefde: Die verlange suig die krag uit my siel … Jou oë maak steeds merke op my lyf …

Heel vermaaklik, maar nie genoeg om Marina se dowwe hartseer te verdryf nie. Sy neem ‘n slukkie sjerrie, rol dit ‘n oomblik in haar mond. Buite sjoer ‘n motor deur die reën, op rsg begin Fonnie met ‘n Raps voor middernag … Vandag is Cobus nege jaar dood.

En niemand het onthou nie. Nie sy susters nie, nie sy dogter nie. Net sy vrou. En sy ma sou, as sy nog hier was. ‘n Ma is die één wat nooit vergeet nie.

Is dit ‘n teken dat die lewe voortgaan, dat ook sy moet voortgaan met haar lewe? Maar hoe?

Marina sluk die sjerrie vinnig weg en neem die sprong. Enigiets om haar gedagtes net in ander rigtings te stuur. Sy kliek weer op die groep wat hulself noem Kom ons sing weer Afrikaans. Vierhonderd-drie-en-sestig lede. Uit vierhonderd-drie-en-sestig moet daar tog één wees wat regtig in musiek belang stel, één met wie ‘n mens ‘n doodgewone, eerlike kubergesprek kan voer.

Sy kies die eerste vyf name. Gerrie Basson, Juan Wakeham (Engelsman wat van Afrikaanse musiek hou?), Darius Cronjé, Willem Goosen, Wynand Cilliers. Sy kliek vinnig op die Add as friend ikoon. Gerrie Basson will have to confirm you as friend before you can see his profile … Ja, ja … Sy stel nie so danig belang in Gerrie Basson of enigiemand anders se profiel nie. Eintlik wil sy net uitkom uit hierdie dodelike verveling, hierdie eenselwige lewe …

Toe Tania se sleutel in die voordeurslot draai, skrik Marina skuldig op. Haar hande bewe in haar haas om vinnig uit die program te gaan.

“En wat vang Ma aan dat Ma so skuldig lyk?” Tania skud die druppels uit haar hare.

“Ag, ek het sommer weer daai video van Susan Boyle op YouTube gekyk, my kind,” jok sy vir haar kind. Haar kind wat sy grootgemaak het met eerlikheid as een van die mees basiese waardes.

Tania kyk haar ‘n oomblik deurdringend aan, besluit toe blykbaar om haar te glo: “Ja, is dit nie ongelooflik nie! Sy lyk soos ‘n outydse tannietjie en almal lag hulle half dood toe sy op die verhoog verskyn – het Ma daai beoordelaars se gesigte gesien? En toe sing sy soos ‘n engel! ‘n Mens sou nooit kon dink sy kan soveel in haar hê  nie!”

Wat het ék nog in my, wonder Marina toe sy later tussen die koue lakens inskuif. Het ek nog iets om die wêreld te bied?

TWEE DAE LATER HET AL vyf manne haar aanvaar as Facebook vriend, sonder enige vrae of vertwyfelings. Sy is netmooi aan die gang voor die rekenaar toe Tania haar kop om die deur steek. “Wat maak Ma?”

“Ag, ek Google maar sommer vir Susan Boyle,” jok sy weer eens. “Wil net sien hoeveel inligting is daar al oor haar bekend. Ek weet nog net sy het haar ma opgepas tot haar dood en haar kat se naam is Pebbles. En jy ken tog vir  my, ek wil altyd meer weet … Het sy sangonderrig gehad? Het sy in pubs gesing? Die kerkkoor? Hoe is dit moontlik dat niemand nog ooit besef het sy het so ‘n ongelooflike stem nie? Hoe kry sy dit reg om met soveel selfvertroue voor die yslike gehoor en daardie drie siniese beoordelaars van  Britain’s got talent te gaan staan?”

Tania glimlag so ‘n snaakse glimlaggie. “Ma jok vir my. Ma is op Facebook.”

Marina trek haar skouers agtertoe. “Ja, my kind, ek is op Facebook en ek het nie jou toestemming daarvoor nodig nie. Maar ek wonder regtig oor daardie Skotse vroutjie ook, hoor! Meer as honderdmiljoen mense wat haar vertoning op die internet gesien het. En toe kom sy uiteindelik tweede. Hoe hanteer sy al die roem? En die uiteindelike teleurstelling?”

“Máá, as Ma so babbel, het Ma altyd ‘n skuldige gewete! Waarmee is Ma aan die gang?”

“Ag, my kind, ek eksperimenteer maar net ‘n bietjie.”

“Tieners is veronderstel om met goeters te eksperimenteer, Ma, nie oumense nie!”

Sy bly haar dogter ‘n antwoord skuldig.

Binne ‘n paar dae kry Marina haar eerste twee Friend requests. Van twee wildvreemde mans. Ene Marinus Mouton en Wessel Landman wil haar albei as friend hê. Wel, so kom ek kom, so kom ek om, dink Marina en kliek die Accept as friend wat haar toegang tot albei se profiele gee.

Marinus Mouton is regtig ‘n baie mooi man. Lyk glad nie na die vyf-en-veertig wat hy as sy ouderdom aangee nie. Verdere besonderhede is maar baie skraps. Bly hier in die Kaap, hou van musiek. Ongetroud, as ‘n mens hom kan glo.

Wessel Landman lyk doodgewoon. Veilig. Wewenaar met een dogter, woon ook in die Kaap. Sy glo hom. Vervelig.

Sy kyk die opsies wat die program ‘n mens gee, mooi deur. Maklik om iemand te blokkeer as jy nie gemaklik voel met wat hy/sy skryf nie. Of heeltemal uit te vee. Sy sal die twee manne fyn dophou. Laat een net hans word – net een kliek en dis klaar met hom!

Marina se saai lewe kry meteens ‘n nuwe dimensie by. Want Wessel Landman en Marinus Mouton laat hoor soos klokslag van hulle. Weliswaar uiteenlopende boodskappe, maar dis juis wat dit so interessant maak. Wessel gesels geesdriftig musiek: Ek dink ons moet ruimte maak vir kommersiële sowel as ernstiger kunstenaars. Marinus se kop werk in ‘n ander rigting: Ek is bitter alleen, my hart smag na ‘n maat. Wessel: Vir my is daar ‘n verskil tussen ‘n liedjie en ‘n song … Hoe dink jy? Marinus: Jy moet ‘n baie mooi vrou wees … Ek droom van jou …

O genade, keer voor, vee uit! Maar sy doen dit nie. Sy hou teen haar beterwete aan met terugskryf. En Marinus Mouton se boodskappies word stilletjies meer intiem, effens gewaagd, net so ‘n bietjie suggestief. Wessel Landman s’n bly beleefd, ‘n bietjie vervelig.

Die dag toe Marinus ‘n ontmoeting versoek, sit sy lank met haar vinger op die muis. Een kliek – en dis klaar met hom. Maar sy is so vrek nuuskierig!

EN ‘N DAG OF TWEE  later vra Wessel jou waarlik ook of hul dalk kan ontmoet. Marina kry ‘n slim plan – daar’s immers veiligheid in getalle, of hoe? Sy reël met albei vir dieselfde tyd, dieselfde plek. Koffiewinkel in die naaste winkelsentrum, helder oordag. Wat kan nou verkeerd loop? Vir Marinus sê sy sy sal ‘n rooi rok dra, vir Wessel sê sy dis ‘n swart jas. Sy’t ‘n voorsprong, sy weet hoe hulle lyk. As hul foto’s eg is, natuurlik.

Sy trek haar swart jas bo-oor haar rooi rok aan en begewe haar bibberend van opwinding na die afgespreekte plek. Gelukkig gaan Tania vir die Saterdagoggend na ‘n vriendin toe, stel dankie tog glad nie belang in haar uitstappie nie.

Sy huiwer in die deur, bespied die vertrek benoud. Wessel Landman lees die koerant, ‘n koppie koffie by sy elmboog. Hy kyk kort-kort senuweeagtig op. Van Marinus Mouton is daar geen spoor nie. Marina veg teen die teleurstelling. Dit wys net haar aanvoeling was reg – die man is bad news.

“Hallo,” sê sy skaam soos ‘n skooldogter vir Wessel Landman.

Hy stamp amper sy koffie om. “Hallo, kom sit.” Hy’s net so verleë soos sy. Sy gaan sit, probeer ongemerk rondkyk of Marinus nog inkom. Sy’t vervlaks gehoop vir ‘n bietjie opwinding.

Die gesprek sukkel om aan die gang te kom. Sy val nog meer oor haar woorde toe sy onthou sy’t haar ouderdom tien jaar te jonk aangetoon. En ‘n vals naam! Wat moet die man van haar dink?

Maar hy dink klaarblyklik niks vreesliks nie, want hy ontspan mettertyd en begin gemaklik gesels. Aangename man, baie aangename man.

Marina begin die gesprek geniet. Wessel Landman is miskien nie ‘n oil painting nie, maar hy’t ‘n humorsin. En hy’s eerlik. Meer as wat ‘n mens van meneer Mouton kan sê. Die ellendeling is seker sewentig en half seniel. Dalk ‘n pervert, dalk siek in die kop. Good riddance, dink Marina en aanvaar die aanbod van ‘n tweede koppie koffie.

Die deur gaan oop. ‘n Pragtige jong meisie kom saam met die koue ingewaai.

Háár meisiekind. En sy peil sonder ‘n oomblik se huiwering op Marina en die vreemde man af.

Marina skrik haar skoon verstorwe. Wat sê sy vir haar kind? Sy’t kastig kom skoene soek – en hier sit sy met ‘n wildvreemde mansmens.

Tania lyk nie of sy enigiets vreemd vind nie. Sy omhels haar ma liefdevol, groet vir Wessel met haar gewone spontane vriendelikheid. Asof sy vreemde mans in Marina se geselskap honderd persent gewoond is.

Maar net toe Marina begin ontspan, laat bars sy die bom. Onbeskaamd, voor Wessel: “En het Ma toe vir Marinus Mouton ontmoet?”

Marina sit soos ‘n hasie in die skietlamp se lig. “Wat weet jy van Marinus Mouton, Tania?”

“Ek weet als van Marinus Mouton, Ma.”

‘n Nare vermoede begin groei in haar kop. Haar kind het haar met ‘n slap riem gevang. “Tania, het jy …?”

“Ja, Ma – ék is Marinus Mouton!”

“Maar hoe ..?” Marina wens die aarde wil oopgaan en haar insluk. Maar niks gebeur nie. Behalwe dat Wessel Landman se glimlag al groter word.

“Hoe kan Ma so onverantwoordelik wees?” Van Tania se vriendelikheid is nou weinig oor. Die rolle het omgeruil; Marina is nou die dwase tiener. “Ek het vir Ma gesê Facebook is nie vir oumense nie! Dat Ma wragtig so onnosel kan wees …”

“Stadig nou, Tania … Ek dink jou ma kry die boodskap.”

Nog ‘n skok. Sy kyk verstom na die twee gesigte. Hulle lyk nou ewe skuldig. Waaragtig kop in een mus!

“Wat gaan hier aan?”

“My dogter is ‘n klasmaat van Tania. Vivien Landman. Ek wou jou graag ontmoet.”

Tania se glimlag breek weer deur: “Oulik, né? Vivien het ons gewed dit sal nie werk nie. Maar sy ken nie my nuuskierige ma nie!”

Marina begin stadig glimlag. “Jy’t geweet ek sal nie die versoeking kan weerstaan nie!”

Tania skater dit uit: ”En ek was reg – soos gewoonlik!”

Marina draai na Wessel. Sy was nog altyd ‘n reguit mens. “En jy dink ek soek ‘n man?”

Hy glimlag rustig terug: “Nee, ek hoop jy verlang dalk na ‘n vriend, iemand om mee te praat. Soos ek.”

Marina kyk hom lank aan. Sy sien haar eie versigtige hoop in sy oë.

“Goed,” sê sy. En trek haar sober swart jas uit. Nou nou af is dit die rooi rok, al die pad.

Toe ry sy huis toe en gaan delete die fiktiewe Marinus Mouton van haar profiel af. Die werklikheid is heeltemal interessant genoeg, dankie.

Advertisements
 

3 responses to “Marina se kubereksperiment

  1. Mariëtte

    04/10/2010 at 06:06

    😀 nice!

    Ek het ook ‘n kubereksperiment(e)! meer as 230 mense het sonder vrae my friend requests aanvaar :O en nog ander vreemdelinge het hierdie eksperiment ge-add…

    Ek speel baie so rond met facebook, ek geniet dit! Ek doen dit seker nou al vir 3 jaar, as ek nou daaroor dink is dit ‘n tipe navorsing miskien van “facebook mentality”. En vandag help dit my met bemarking op facebook 😀 wat ek nooit sou gedink het nie…

     
  2. Alma Carstens

    05/10/2010 at 06:26

    Baie oulik, Alta. Jy het my tot die einde aan die raai gehou!

     
  3. theaholland

    09/10/2010 at 14:35

    Slim, Marilé!

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: