1. Aanvaar die persoon wil jou persoonlik bykom en gebruik die kwessie waaroor dit gaan net as ‘n verskoning.
2. Sien jouself en jou werk as een en dieselfde ding. Moenie die twee van mekaar skei nie.
3. Sê onmiddellik vir die persoon presies hoe jy oor sy kritiek voel. In duidelike taal. Dan is dit van jou hart af.
4. Alternatief vir nommer 3: Moet vir NIEMAND enigiets sê nie. Hou dit vir jouself. Selfbejammering is soveel lekkerder as ‘n mens dit alleen kan geniet.
5. Aansluitend by nommer 4: Broei daaroor. Aanhoudend. Sommer vir die res van jou lewe.
6. Of vertel vir almal wat jy ken. Of hulle nou wil weet of nie. In detail.
7. Moenie aarsel om hulle presies te vertel hoe jy oor die persoon voel wat die kritiek gelewer het nie.
8. Moet onder geen omstandighede begin dink die kritiek was dalk nodig en heeltemal grondig nie.
9. Nog minder moet jy daarvan begin toepas en jou gedrag begin verander!
10. Onthou hierdie ervaring vir die res van jou lewe. Maak sommer ‘n gewoonte daarvan om dit gereeld op te rakel en jou wrewel weer ‘n slaggie blink te poets.
Bonus – nommer 11: Moet nooit weer enige waagstuk aangaan nie. Dan is jy gewaarborg om nooit weer bogenoemde ervaring te hê nie.
Waarskuwing by nommer 11: Jy mag dalk vir die res van jou lewe dodelik verveeld wees. En nooit enigiets bereik nie.
Maar wat, dis mos ‘n geringe prys om vir rus en vrede in jou gemoed te betaal.
Of hoe?