Helder Somerkersfees 2

Helder Somerkersfees 2Desember, ‘n jaar later:

Esther Lategan se oë is blou. En koud, soos haar stem. Heeltemal onvanpas in die blakende Kaapse somer. Blonde boskaas met ‘n bont serp weggebind. Fyn sweetlagie op die voorkop. Kortbroek, kaalvoet, uitspattige bont hemp. Bordevol versnaperinge staan elke moontlike oppervlak vol. Daniël se fyn oog sien elke keer raak hoe mooi haar kosse is.  Lekker ook, want die mense staan volgens Mandy tou vir haar dienste.

En dan natuurlik die ellendige skildery, fokuspunt van die vertrek. Kind in die son. Mandy op so nege of tien. Laggend in die son, die donker hare warrelend om haar skouers. Maar nou lag sy vír hom, die skepper wat nie meer kan skep nie.

Die Kersatmosfeer hang Esther woonvertrek, identies aan sy eie, vol. Hy herken grepies uit Koos du Plessis se Somerkersfees … Gee ons ‘n helder Somerkersfees … In hierdie land, o Heer. …Dis nie die leë lawaaierige atmosfeer van die winkels nie. Dis iets vaags, ondefinieerbaar, maar goed, wat hy herken uit iewers in sy verlede toe die lewe nog goed was. Dit het sekerlik te doen met die Kersmusiek en die Kersboom en die kleurvolle versierings. Of dalk het dit iets te doen met die huisbaas se aura van rustigheid en tevredenheid. Behalwe natuurlik met hom. Met hom, arme drommel, is sy beslis nie tevrede nie.

“Daniël, kry dit net in jou kop – ek rokkel nie jou kind moedswillig by jou af nie. Dis eenvoudig vir haar lekkerder by my as by jou. En sy help my baie. Jy sien tog ek is toegegooi met bestellings.” Sy praat afgemete, soos met ‘n balhorige kleuter. Hy kan sien Esther se geduld is op met sy alewige gekerm dat Mandy moet huis toe kom, asof sý ‘n balhorige kleuter is.

Soos altyd word sy oë onwillekeurig getrek van die vrolike hare, oor die netjiese lyf, al is dit veertig jaar oud – weer eens volgens Mandy – tot by die volmaakte ronding van die sonbruin kuite. Hy was nog altyd ‘n man vir bene. Sy irriteer hom grensloos, sy bly inmeng van sy verlede jaar sy ellendige lewe gered het, sy probeer nou al ‘n jaar lank sy dogter afvry – en slaag uitmuntend daarin – maar by elke konfrontasie kan hy nie sy oë van daardie bene afhou nie. Mooi was nog nooit lelik nie.

Hy maak sy mond oop om haar te sê hy is nie haar Daniël nie, hy is Menéér de Lange en hy is moeg vir haar inmengery, maar die verkeerde woorde kom uit. Wat sê hy? Ja, waarlik, hy sê: “Jy’t mooi bene.” Van alle stompsinnighede wat hy al die afgelope jaar kwytgeraak het …

Hy gryp sy giggelende tienerkind summier aan die hand soos die kleuter wat sy lankal nie meer is nie en sleep haar sonder seremonie terug huis toe. Sy lag só dat sy nie eens veel teenstribbel nie.  Sy ore brand soos dié van ‘n verliefde skoolseun. Esther se lag agtervolg hom tot hy hulle voorhekkie agter hom en die verraaier toeklap. Maar dis nie ‘n smalende lag nie; dis ‘n uit-die-maag-uit lag van pure lekkerkry. “Dankie vir die kompliment!” roep sy nog agterna, net om dit goed in te vryf.  Veranderlike vroumens – sy wou oomblikke gelede nog sy nek omdraai!

Die oomblik toe die voordeur agter hulle toeklap, is die magic verbreek. Mandy bly staan soos ‘n ongemaklike kuiergas in die middel van die deurmekaar woonvertrekkie, die gesiggie meteens weer geslote, die lag soos met ‘n mes afgesny. Die kontras met Esther se plek sal die dikvelligste waarnemer laat steier. Dié plek roep om hulp. Vuil koffiebekers, vuil wynglase, vuil kwaste, halfvoltooide doeke staan met moedelose gesigte die hele plek vol. Arme Mandy probeer netjies maak, maar hy mors net voort, moedswilig soos ‘n vermakerige kind. Die tweede mislukte uitstalling is pas agter die rug, en hy voel ellendig. Mense soek nie meer sy werk nie, so eenvoudig soos dit. Die figure op sy pogings lyk meestal of hulle iewers diep ‘n pyn het. Soos hý het. Almal lyk woedend. Soos hý is. Charmaine is al meer as ‘n jaar gelede met sy beste vriend en sy meisiekind hier weg en hy is nog steeds woedend.

Die egskeiding is maande gelede al afgehandel – ná elke denkbare poging van sy kant af om dinge te vertraag.  Twintig jaar nietig verklaar deur ‘n enkele stukkie papier. Waarom het hy so teengeskop? Tere ware liefde was daar tog lankal nie meer tussen hom en Charmaine nie. Maar Michael van alle mense! Michael is aan die bles word! Michael dra donker driestukpakke en maak ‘n lewe deur ander mense se geld rond te skuif, as hy nie besig is om sy eie te troetel en te laat kleintjies kry nie.  Kapitalistiese social climber – dis wat hy is. Teenpool van hom wat Daniël is, die rustelose soeker na skoonheid, die aartsromantikus. Met sulke vriende het jy wragtag nie vyande nodig nie.

Hoekom was hulle dan vriende? Wás hulle ooit vriende? Dis die besef dat Michael al die tyd maar net agter Charmaine aan was, wat soos ‘n klip in sy binneste bly lê.  Dat hý die hele tyd die fool was. Is dit tog maar die berugte manlike ego wat die seerste gekry het?

Maar hy het sy kind teruggekry. Ten spyte van sy buie, sy onvoorspelbaarheid, sy humeur en sy drinkery, wil sy kind by hom bly. En wie moet hy bedank? Esther met die mooi bene en die gul lag. En wat doen hy? Hy dryf Mandy van hom weg, en word dan woedend as sy meer by Esther is as hier by hom.

Ander tieners hang uit in rave clubs en rook en drink en wat-nog-alles hulself in ‘n koma in. Syne leer kosmaak by ‘n lieflike (hubare) vrou twee huise van hom af. En hy reageer asof die duiwel self daar skuilhou.

Die arme kind kan dit nie by hom uithou nie. Soek gedurig na ‘n verskoning om weg te glip; die een so deursigtig soos die ander. Sy het haar ma en ‘n opwindende nuwe lewe in ‘n nuwe land vrywillig opgegee ter wille van hom. En hy maak dit vir haar niks makliker nie. Gun haar ook nie ‘n plaasvervanger vir haar ma nie.

Die vrou het jou lewe gered en haar oor jou verwilderde, ontwrigte tiener ontferm, sê die ou ordentlike Daniël wat nog iewers verwaarloos en verlate lê. En oor jou hond, omtrent net so verwilderd en ontwrig. Dis ‘n jaar gelede en het jy al ooit regtig dankie gesê? Nee, jy het nog net die een onbeskoftheid op die ander gestapel.

Hy onthou met skaamte hoe boos hy was toe hy agterkom die hond bly by haar. En dat sy sy plek skoongemaak het. En op hoogte was met die polisie se vordering. En sy tuin natgespuit het. En solank voorlopig met die assuransie onderhandel het. Maar die heel kwaadste was hy oor sy waarskynlik sy armsalige lewe gered het.

Nie dat sy haar eintlik aan hom steur nie! Sy gaan maar rustig haar gang; maak haar lekker kosse, reël haar gesogte funksies. Altyd ‘n lag en ‘n woord vir almal, volgens Mandy. Haar open house partytjies is legendaries in die kompleks. Nie dat hy al ooit gegaan het nie. Hy, die ongeneeslike sosiale dier, het nou g’n sin in ‘n ligsinnige gekuier met vreemdes nie. En natuurlik kan hy daardie skildery van haar nie aanskou nie, maar dit hoef sy nie te weet nie. Anders as Mandy wat dit as ‘n Teken gesien het. Teken van wat? wonder hy.

“Dis vandag twee jaar dat Tannie Esther se man en dogtertjie verongeluk het, ” dring Mandy se stem tot hom deur.

“En sy lyk of dit Krismis is,” brom hy.

“Dit ís amper Krismis, Pa! Dis alweer amper Krismis, en dis tyd dat Pa ook ‘n slag bykom! Pa kan nie vir ewig sulk oor Ma en oom Michael nie. Hulle het die tyd van hulle lewe in Kanada en hier sit Pa nog steeds in sak en as en byt almal wat probeer gaaf wees, se koppe af.” Sy mooi dogter, die hartklop van sy bestaan, gooi haar kamerdeur dawerend agter haar toe.

Hy trek sy asem in om die hardekwas meisiekind die waarheid te vertel.  Hy blaas die asemteug saggies weer uit. Die hardekwas meisiekind is reg. Hy sak op die bank neer met sy kop in sy hande. Laska hou hom behoedsaam dop, kom skuur nie soos in die ou dae nie. Agter die toe kamerdeur is dit onrusbarend stil. Wat máák die kind? Hy weet nie wat in haar kop aangaan nie. Maar Esther weet, en dis wat hom so kwaad maak vir haar. Hy vat die naaste vuil glas, gaan skink by die yskas. Sy kind het uit eie vrye wil teruggekom na hom toe, en hy weet nie hoe om haar te wys hoe ontsettend bly hy is nie!

Hy onthou die vorige Kersdag. Hy nog verward en vol pyn in die hospitaalbed, pas die vorige dag sy bewussyn herwin. Die pyn van sy driedubbele verlies en die fisiese pyn van die inbrekers se aanranding nog verstrengel in sy kop en sy lyf. Hy het ingesluimer onder die Kersdiens op die radio, wat hy nie wou hoor nie. Nie die energie gehad om die skakelaar by te kom en dit af te skakel nie. Hy wou nie hoor van geboorte en vreugde nie. Vir hom was daar min oor.  Hy het sy vrou verloor, sy kind en sy beste vriend.  Sy talent en sy hond was al wat hy oorgehad het. Hy het nog nie geweet of hy ooit heeltemal sou herstel van sy beserings nie.

Toe maak hy sy oë oop. En in die deur staan die engel van die vorige aand weer. Nee, daar’s twee. Die een sag en blond met ‘n lag in die blou oë omring deur fyn plooitjies – die vrou wat die bure se kat kom versorg het, en wat langs hom was toe hy uit die donker opkom.  En langs haar die ander enetjie: vaal van die moegheid, verslete denim, eina-hempie soos vandag se meisies dra. “Kyk wat het Vader Krismis vir jou gebring!” het Esther gesê en vir Mandy vorentoe gestoot. Sy meisiekind, wat in die lente huilend weg is Kanada toe, oorweldig deur Charmaine se emosionele afpersing en Michael se beloftes van geld en opwinding.

Sy het teruggekom na hom toe. Toe die polisie hulle opspoor met die nuus dat hy halfdood in die hospitaal lê, het sy eenvoudig op Charmaine se skuldige gewete bly hamer tót sy die geld vir die vlug in haar hand gehad het. En sy het gekom om te bly. Op skaars sestien het sy geweet sy wil by haar pa bly en sy wil in Afrika bly.

Die skok en die vreugde was vir hom so groot dat hulle hom later ‘n inspuiting moes kom gee, onthou hy nou in sy deurmekaar voorkamer met die hoeveelste glas van die dag in sy hand. Hy was so bly, sy stukkende lyf was te klein om die vreugde te hou. Hoekom was dit nie vir hom ‘n keerpunt nie? Hoekom was die terugkeer van sy kind nie genoeg om sy woede en bitterheid te genees nie? Hoekom kon hy nie sy hart oopmaak vir haar nie? Hy is een van die gelukkiges; sy liggaam het herstel. Maar sy gees bly stukkend.

Esther kon vir haar ‘n nuwe lewe opbou ná ‘n groot verlies, baie groter as syne. Waarom kan hy nie dieselfde doen nie? Bloot omdat hy ‘n man is? Te trots dalk? Of sommer net plein te onnosel?

Hy kyk op toe hy ‘n geluid hoor. In haar kamerdeur staan Mandy, toksak oor die skouer.  Haar oë is hartseer, maar kalm. “Ek gaan maar terug, Pa. Dit werk nie vir ons twee nie. Ma het gesê dit sal nie uitwerk nie; sy het daardie tyd al die geld saamgegee vir ‘n retoerkaartjie.”

So Charmaine was weer eens reg. Soos altyd. Sy het altyd haar kop gebruik. Koelkop medikus. Nie soos hy, skeppende gees, wat meer voel as dink nie. Hoe kon hulle ooit gedink het dit kon werk tussen hulle? En dit op twintig, studies onvoltooid, afhanklik van hul ouers. Propvol hormone en drome, nie ‘n krieseltjie realisme nie. Van hom kan jy dit nog glo, maar wat het in Charmaine gevaar?

“Ek gaan slaap by Tannie Esther. Ek sal môre my goed kom kry.” Die deur knip met ‘n verwytende sug agter haar toe. Laska maak fyn tjankgeluidjies voor sy die aftog blaas na haar slaapplek. Die stilte sing in die huis rondom hom. Die doeke vol ongelukkige vrouens staar hom stom aan. Hy skink sy glas weer vol. En weer. Hy skink en skink en die alleenheid pers sy asem uit sy lyf.

 

Hy moes later ingesluimer het. Toe hy wakker ruk, staan Esther soos ‘n woedende blonde feniks half bo-oor hom gebuk. Die blou oë is yskoud in die harde elektriese lig wat sy genadeloos in sy gesig aangesit het. Sy is lus vir baklei en sy gaan haar nie van hom laat afsit nie: “Jy is die onnoselste, ondankbaarste mansmens wat ek nog in my dag des lewens gesien het!”

Hy kom vervaard orent, hou sy arm half beskermend oor sy oë teen die skerp lig. Sy eerste deurmekaar gedagte is aan die engel Gabriël wat op hom neerdaal. Esther ruk die arm summier weg: “Jy gaan jou kind verloor! En al wat jy kan doen, is sulk en suip!”

Hy sak terug teen die kussings, verslae en verslaan. Sulk en suip. Inderdaad.

Meteens huil sy: “Ek sal enigiets gee om my kind terug te kry. Joune het vanself na jou toe teruggekom, en jy doen jou bes om van haar ontslae te raak!”

Sy mond hang ongelowig half oop. Hy kan nie glo dis die vrolike allemansvriend wat hom so inklim nie.

“Ja, gaap my maar aan met jou papgesuipte lyf! Jy’s nie net permanent half dronk nie, lyk my jy’s nog stompsinnig ook!” Die een kompliment op die ander!

Trane van dronkverdriet wel opeens in sy oë op. Hy tas blindelings na haar sagte kwaai lyf. Sy stamp hom nie weg nie. Sy sak langs hom neer en laat hom toe om teen haar bors skuiling te soek. Sy is sag en sy ruik lekker, na iets wat hom aan sy ma laat dink.

Dis toe nie so moeilik om uit te kry nie. Net drie woorde: “Help my, Esther.”

Sy glimlag geduldig: “’n Goeie begin sal wees om te gaan stort en jou roes af te slaap. Ek sal solank hierdie varkhok van jou opruim. Maar jy moet net nie dink ek gaan ‘n gewoonte daarvan maak nie!” Word hy mal, of voel hy haar hand in sy hare?

Die befoeterde Daniël de Lange laat hom gedweë aanstoot badkamer toe. Sy troos darem toe sy die deur tussen hulle toetrek: “Mandy slaap, moenie bekommerd wees nie. Maar ek moes lank troos; sy wil nie regtig weggaan nie.”

En wat sê hy? Ja waarlik, hy sê: “Kom was my rug!” Haar lag vul sy dowwe kop met vreugde.

 

Die son sit al hoog toe hy wakker word. Daar is lemoensap en hoofpynpille voor sy bed. Sy woonkamer is opgeruim. In die yskas is nie ‘n druppel drank nie. Voor die agterdeur staan ‘n rytjie leë bottels netjies op aandag. Sy het waaragtig al sy drinkgoed uitgegooi!

.Meteens skrik hy, storm terug woonkamer toe. Sy skilderye! Alles is weg! Ná ‘n paniekerige soektog kry hy hulle in die garage, die kwaai gesigte mooitjies muur toe gedraai. Miskien is dit waar hulle hoort, dink hy. Niemand wil tog hierdie gepynigde goed van hom hê nie.

Die esel staan op sy gewone plek in die woonkamer, waar die lig goed val, met ‘n skoon doek daarop, gereedskap ordelik langsaan uitgepak. Die esel lyk vir hom diep gelukkig soos hy daar staan en wag. Langsaan staan Esther se Kind in die son mooi staangemaak. G’n mens kan die boodskap mis nie!

Hy kan nie help om te lag nie, al is sy situasie alles behalwe snaaks. Dié vrou het guts. Hyself weet die heel beste hoe omgesukkel hy kan raak. Sy humeur was een van die vele duiwels tussen hom en Charmaine. Dis duidelik dat hierdie Esther vir géén duiwel sal stuit as sy op ‘n sending is nie.

Hy lê dit mooi duidelik vir homself uit dat dit Mandy is wat die onderwerp van haar sending is. Dit het niks met hom te doen nie; hy is net die vark in die verhaal. Maar diep diep roer ‘n gedagte, of dalk die begin van ‘n skamele hoop? Hy waag nie eens om dit ‘n naam te probeer gee nie.

Hy maak koffie, vat hier, los daar, draai rond. Toe steek hy die bietjie trots wat hy nog het in sy sak, maak sy skouers reguit, roep sy hond en stap die entjie na Esther se huis toe. Onder sy arm dra hy haar skildery. Hy dink aan die beroemde woorde van Neil Armstrong: “One small step, one giant leap for mankind.” Hy weet hy gee sy persoonlike reuse sprong terug na die lewe toe.

Esther, Mandy en die alomteenwoordige Sokkies lyk of hulle hom en die hond en die skildery lankal verwag. Daar is blomme en eetgoed en jubelende Kersmusiek. Hy hang Kind in die son plegtig terug op sy plek.

Toe draai hy na die vrou wat al bykans ‘n jaar lank geduldig wag dat hy homself bymekaar kry.

Toe sy sag word in sy arms dink hy nie aan sy ma nie.

 

Kersdag, nog ‘n jaar later:

Die ryk orrelklanke vul die ou klipkerk. Gee ons ‘n helder Somerkersfees … In hierdie land, o Heer … Die bruid se knielengte rok wys haar mooi kuite. Die bruidegom se grys oë is sag en blink as hy na haar kyk. Die strooimeisie se donker hare waaier oor haar skouers. Sy kyk laggend op in die geel Afrikason.

Op die amptelike troufoto verskyn drie laggende mense, ‘n laggende hond en ‘n waardige swart kat met spierwit voetjies.