Ek het die ander dag ’n interessante gesprek op die internet gevolg wat begin het met iemand wat sy opgewondenheid oor die Wêreldbeker-sokkertoernooi uitgebasuin het.
Die reaksie daarop was klassiek.
Ene Lenie: “Sokker is lawaaierig. Gewoonlik hou beskaafde mense nie van so ’n lawaai nie. Ek leer my kinders in elk geval: Moenie so raas nie, ons is beskaafd.”
Dan was daar enetjie wat verkondig het: “Ek weet niks, maar níks van sokker nie.” (Sy het darem onderneem om steeds sokker op die televisie te kyk.)
En dan was daar die een wat gevra het: “Ronaldo wie?”
Nou ja, dit is seker verstaanbaar dat sokker nie in die verlede groot aanhang in die meeste Afrikaanse huishoudings gehad het nie en dat mense daarom taamlik onkundig oor die spel sal wees.
Maar kan jy jou indink hoe Lenie op ’n dag tydens die Wêreldbeker-toernooi in ’n ry staan agter ’n groep uitbundige Brasiliaanse sokkerondersteuners en skielik by die gesprek betrek word: “Are you from South Africa?”
Lenie sal knik en weer verder staar na die voorblad van die Huisgenoot in haar mandjie.
“We love your country! It is so beautiful! We want to come back and bring our families! What do you think are Bafana Bafana’s chances?”
Lenie sal vasberade antwoord (soos sy haar kinders leer): “We’re civilized. We don’t watch soccer.”
As daardie buitelanders skerp is, sal hulle net hoef te tik teen ’n berig op die voorblad van ’n plaaslike koerant wat hulle as aandenking wil koop: “Will Zuma take a fourth wife by July?”
Ai, Lenie. Ons is almal saam in hierdie ding.
Dis maar presies soos wanneer jul gesin mense vir aandete verwag en julle almal hou duim vas dat pappa nie ’n paar doppies gevat het op pad terug van die werk af nie.
Jy verdedig maar jou mense teen vreemdes. Jy blameer maar die hoesmedisyne wat nie met pappa se stelsel akkordeer nie.
’n Vriendin van my het dit die ander dag só oor die radio gestel: “You take out the best biscuits and the best china.”
Ons het nou ambassadeurs nodig.
En wat ook al die waarheid is of nie, in hierdie tyd is dit belangrik dat ons ons familieskandes vir onsself hou en eerder fokus op die talle positiewe aspekte van ons land.
Hoe lui daardie uitdrukking? “Hou ’n goeie front voor.” En moet asseblief nie vir die res van ons kom vertel jy is nie gewoond hieraan nie.
Ek wonder of daar een gesin in hierdie land is wat nie al ’n onsmaaklike gebeurtenis probeer verdoesel het nie.
Solank die bure net nie agterkom nie … Of nog erger: dominee. Ons is almal kenners op dié gebied.
Ons skandes is óns skandes. Ons moet en kan ons eie oplossings vind. Dit is niemand se saak nie behalwe ons eie.
Ons het bronstige rugbyspelers, sokkerspelers, sangers en politici?.?.?. en die ander lande het nie? Selfs die grote Cristiano Ronaldo is mos al met prostitute betrap.
En wat van John Terry van Chelsea wat al talle kere aan sy vrou ontrou was? Selfs Wayne Rooney van Engeland het ’n smakie vir prostitute ontwikkel, onder andere die 52-jarige “Auld Slapper”!
Die lys gaan aan: Deco, Stefan Postma, Frank Lampard, Jermaine Defoe … en ja, David Beckham (onthou jy Rebecca Loos?).
Nog ’n ding wat my pla, is die onwilligheid van talle mense om ’n Suid-Afrikaanse vlaggie op hul motor aan te bring. Is dit werklik soveel gevra?
Dit is maar dieselfde as om seker te maak dat die kinders skoon klere dra en nie droë snot op die bolip het voordat die gaste opdaag nie.
Kan ons nie maar net ’n paar weke voorgee dat ons ondanks ons probleme nog lief vir ons land is nie?
Die vlag is boonop bes moontlik die enigste aandenking wat ons tans kan koop sonder dat Fifa die grootste gedeelte van die wins vir homself vat.
Iemand het my laat weet sy wil ’n vlaggie op haar motor aanbring, maar haar man wil haar dit nie toelaat nie.
Sjoe! Sy dra seker ’n sluier of het een Gretha Wiid-DVD te veel gekyk.
Te hel met jou man. Laat wapper jou vlaggie as jy wil! Ons moet soos ambassadeurs lyk.
Laastens: Niemand het gesê jy moet jouself só in sokker bekwaam dat jy die volgende afrigter van Manchester United kan word nie.
Maar maak ten minste seker jy weet in hierdie tyd iets van die spel, al is dit net die basiese.
Jy gaan bes moontlik in ’n gesprek met ’n buitelander beland en wil tog nie daar sit soos ’n volslae idioot nie.
Dit sal effe vreemd lyk as ’n inwoner van die WB-gasheerland nie ’n idee het hoe die beautiful game werk nie.
Dis een ding as buitelanders dink ons is bronstig, maar asseblief tog nie bronstige idiote nie!
Kam daai hare, wys daai vlag. Ontgrendel daai deur. En kom ontmoet die wêreld!