Die opgewonde gedruis van die skare groei aan tot ‘n magtige dreuning wat jy tot in jou voetsole kan voel. Die manne van Sons of the Rainbow verskyn een vir een op die verhoog, buig of waai elk op sy kenmerkende manier, neem dan sy plek by sy instrument in. Deborah sug ‘n diep sug van pure lekkerkry. Daar’s niks soos ‘n Sons-konsert om die reënboognasie bymekaar te bring nie. Ryk en arm, jonk en oud, mooi en lelik – almal is hier, saamgebind deur die musiek. En nie sommer enige musiek nie – die gatskopmusiek van Niel van Heerden en sy manne van die Kaapse Vlakte.
Deborah laat sak haar moeë lyf op die luukse leer van haar rusbank, trek haar netjiese werksteweltjies met stadige, lui bewegings van haar voete af. Aa, die verligting … Die baadjie van haar pakkie gly gewillig van haar skouers af, die stywe Franse vlegsel gee maklik mee toe sy die rekkie aftrek en haar vingers deur haar hare woel. So ja, dis beter … Sy strek lui vir die glasie sjerrie op die koffietafel, elke beweging bereken om gereed te wees vir die magiese oomblik waarvoor sy met elke kykslag van die DVD saam met die skare wag – die verskyning van Niel van Heerden en sy bekende geel kitaar.
Ag, en is die man nie elke keer ‘n fees vir die oog nie. ‘n Rockster met spiere, nie iets wat jy op enige verhoog raakloop nie. En dis nie dat sy so danig erg is oor spiere nie, dis net dat dit so ongewoon is in die vermaaklikheidsbedryf. Die meeste manne jol mos asof dit uit die mode gaan in daardie eerste jare op die pad – en na dertig begin dit alreeds so stadig wys. Maar nie hier nie – o nee, op sewe-en-dertig is daardie lyf topfiks en gesond, net gespierd genoeg om die bakvissies na hul asem te laat snak en hulle ma’s delikaat te laat sluk met ‘n bedeesde hand voor die mond. En sy vele manlike bewonderaars – oud en jonk – met afguns te vervul.
Want ja, Niel van Heerden se aanhang strek oor grense van kultuur, geslag en ouderdom. En as hy eers onder jou vel ingekruip het, raak jy nie maklik weer ontslae van hom nie. Natuurlik wil jy ook nie, en met elke nuwe liriek wat jy lees, raak jy vaster aan die man; met elke konsert wat jy bywoon, raak die krag van sy persoonlikheid en sy talent jou nog ‘n bietjie dieper. So is dit vir haar en so is dit vir duisende ander.
Deborah sluit haar oë, laat haar kop slap agtertoe val in ‘n gebaar van pure plesier. Sy ken die video so goed, sy hoef nie eens te kyk nie. Nou lig hy die geel kitaar ‘n oomblik as erkenning vir die applous, maak oogkontak met sy dromspeler … en daar gaan hulle. En die skare is met hulle, vir die volle duur van die konsert van drie uur of langer.
Sy voel dankbaar hoe die spanning van die werksweek uit haar lyf vloei, die gejaag van vergadering na vergadering, die worsteling om deur die stapel nuwe manuskripte te kom wat van hoofkantoor af aangestuur word. Nauurlik is sy dankbaar Boegoe Boeke floreer so ooglopend ten spyte van druk ekonomiese tye, natuurlik is sy dankbaar vir die talle nuwe skrywers wat in Afrikaans na vore tree. Maar dat dit harde werk is om die koring van die kaf te skei, kan niemand ontken nie. En ongelukkig is daar genoeg kaf – swak manuskripte van aspirant-skrywers wat dink ‘n mens kan sommer tjop-tjop ‘n roman aframmel en dit speel-speel verkoop aan huisvrouens met krullers in die hare en niks beters om te doen as stories lees en stofsuig nie.
Run Baby Run bars meteens uit haar selfoon op die koffietafel. Dit bly maar een van haar gunstelingliedjies, die verhaaltjie van die jongman op vlug van die dwelmbase van die Vlakte; ‘n lied van hoop, vol van die smagting na ‘n beter lewe op ‘n beter plek. Teensinnig strek sy vir die foon, probeer na die skermpie loer terwyl sy Niel op die TV-skerm ook in die oog probeer hou.
A, dis Felicity. Deborah se lus vir die lewe styg sommer ‘n paar grade. Dis altyd ‘n vreugde om met Fee te praat. Sy is altyd tot barstens toe vrolik en lus vir die lewe. Antie Stienie het destyds geweet wat sy doen toe sy haar jongste spruit ‘n naam gee wat gelukkig beteken. Felicity Adams is die gelukkigste mens wat Deborah ken. Maar vanaand oortref sy haarself, Deborah kry omtrent nie ‘n woord in nie.
“Debs!” gil Felicity, “Jy sal dit nie glo nie! Ek kan dit nog self nie glo nie! Ek sê vir my ma Deborah gaan uit haar twee grand steweltjies spring as sy hoor …”
Deborah glimlag lui. So ken sy vir Fee – sy’s permanent in die sewende hemel oor iets wonderliks wat met haar gebeur het. Fee is so positief, sy’s soms ‘n pyn vir normale mense wat darem partykeer ‘n bietjie asem ook wil skep. “Ek is klaar uit my skoene,” sê sy droog.
“Sit jy? Sorg dat jy sit – en sit jou wyn eers neer!” Natuurlik weet Felicity presies wat sy op die oomblik aan die doen is, netsoos sy weet Felicity sit waarskynlik by antie Stienie se kombuistafel met ‘n lekker beker warm koffie terwyl haar ma die pannekoekdeeg ‘n laaste keer deurroer.
“Moet ek nie my kaggelvuurtjie ook eers blus nie? En wat nog? Dalk die noodnommer bel voor jy ‘n toeval kry?” Maar sy sit wel haar glas neer, stel vir Niel en die manne teensinnig ‘n bietjie sagter. “Toe, uit daarmee – is dit ‘n nuwe kêrel?” Felicity het minstens elke maand ‘n nuwe kêrel, dis al wat dit kan wees.
Maar dalk het sy haar misgis, want Fee klink nou na aan trane. “Debs,” kom dit saggies, ademloos, “ek het kaartjies.”
Deborah se gedagtes het vasgesteek by die laaste kêrel, die een wat nog laasweek met leepoë by haar kantoor kom soebat het sy moet tog met Felicity praat. “Kaartjies? Vir die sokker?” vra sy verward. Die voortdurende sokker op TV is genoeg om haar tande stomp te maak; ‘n behoefte om in ‘n skare fanatici met vuvuzelas te gaan sit, het sy regtig nie.
“Vir Niel, Deborah – ek het kaartjies vir Niel van Heerden!” Deborah hou die foon in verstomming ‘n ent van haar oor af. Felicity het nou die kluts kwytgeraak. En sy wat Deborah is, gaan haar gehoor kwyt wees as haar vriendin so aanhou gil.
“Niel tree nie meer op nie, Fee.” Wat vir haar ‘n konstante hartseer is. Amper twee jaar is sy stem al stil, sy manne is druk besig om hul eie solo-loopbane te vestig of op ander plekke in die vermaaklikheidsbedryf te werk. En van hom hoor jy nie ‘n piep of ‘n kwaak nie.
“Dis wat ek ook gedink het.” Sy kan sweer Felicity is besig om soos ‘n kind op en af te spring. “Maar toe loop ek vanmiddag hierdie tannie van my raak … Jy weet mos, antie Alice wat met oom Solly … aag, nevermaaind – antie Alice vertel vir my haar dogter Maureen se vriendin … Nou wat’s haar naam tog nou weer?”
Deborah strek vir haar wynglas, sak weer terug op die bank. Hierdie gesprek gaan nog lank word. Terwyl Fee haar asem terugkry, kyk sy ingedagte hoe die reën in silwer strale teen haar ruite afloop. Sy gaan nie verniet bly word nie, Niel het die kalklig vaarwel toegeroep. Sy hart is gebreek toe sy model-vrou hom eers verneuk en dit toe self in die media uitgeblaker het. Hy’s verlore vir sy duisende bewonderaars, hier en oorsee. Dalk is hy lankal landuit, dalk pak hy vis in Alaska, dalk het hy ‘n kluisenaar geword êrens in ‘n woestyn.
“Jy dink verniet ek vertel sommer stories, Debs! Daai vriendin van Maureen het êrens ‘n kontak wat haar twee kaartjies laat kry het vir ‘n show wat omtrent nie eens geadverteer is nie – môreaand in die Seaside Theatre … en vanmôre staan sy met ‘n dik keel op – sy het pampoentjies!” Nou is Fee sweerlik bo-op die kombuistafel, of minstens bo-op haar stoel. Sy gil daardie pampoentjies uit asof sy die wenner van die sokker Wêreldbeker aankondig.
Deborah se mond raak droog, haar hand wat die foon vashou, begin liggies bewe. Kan dit waar wees? Sê nou maar … “Hoe is dit moontlik dat ek nie van die show weet nie, Fee?”
“Man, dit klink vir my dis nie juis veel geadverteer nie – dis blykbaar soort van ‘n glorified dress rehearsel; hy’s iets nuuts aan die uittoets, as jy my vra.”
“En?” Deborah kry amper nie die enkele woordjie uit nie.
“Ek het daai kaartjies, Debs, ek het hulle hier in my hand! Ons twee gaan môreaand Seaside Theatre toe en ons gaan vir Niel van Heerden en sien en ons gaan …”
“Jy’s ernstig, jy’s sowaar ernstig.” Deborah vee fyntjies die enkele traan uit die hoek van haar oog weg. “Ek glo dit nie.”
“Ek is ernstig. Ons twee gaan hom sien,” antwoord Felicity nou kalm. Maar dan styg haar stem weer: “En ons gaan heel voor reg in die middel sit, Debs – reg onder die man se oë! O, my hart, ek gaan dit nie hou nie. Want waar Niel is, daar is Sonny Boy ook!”
“Hoe het jy dit reggekry?” kry Deborah deur ‘n droë keel uit. Sy ken haar ou pel, êrens sal daar ‘n slang in die gras wees. En hy sal in haar rigting oppad wees. “Wat het jy gedoen om daai kaartjies in die hande te kry, Fee?”
“Ag, nie veel nie.” Doodonskuldig.
“Is die kontak van tannie Alice se dogter se … Ag los dit … Is hierdie kontak dalk ‘n skrywer, Felicity? ‘n Sukkelende aspirant-skrywer?”
“E … ja …”
“Het jy haar belowe ek sal na haar manuskrip kyk, Felicity?”
“Ja, ek het.” Fee het darem die ordentlikheid om ‘n bietjie verleë te klink. “Maar jy sal mos, sal jy nie, Debs? Ons gaan vir Niel …”
Deborah huiwer net ‘n oomblik, toe gryp sy haar glas, spring orent en gooi ‘n wye draai in haar netjiese sitkamer sodat arme Kiki in sy koutjie hom asvaal skrik. Hy sit hoeka daar en kry homself jammer omdat sy hom nie kan uithaal terwyl ‘n vuur aan die gang is nie. Vir gebraaide budjie sien sy beslis nie kans nie. En Kiki is nie sommer enige budjie nie, hy’s die een met wie sy haar diepste geheime deel – en sy deel nie haar binnewerke met enigeen nie.
“Ek sal tien van die swakste skrywers in die land se manuskripte lees hiervoor, Fee – ek het gedink niemand gaan hom ooit weer sien nie, hy gaan nooit weer optree nie … Maar die Seaside is te klein vir die Sons, hoe gaan hulle …”
“Dis net hy, Debs, dis nie die groep nie. Niel gaan ‘n solo-vertoning gee, van Afrikaanse liedjies – veral Koos du Plessis se liedjies.”
Deborah val agteroor op die rusbank, bly verslae lê. Niel is ‘n veelsydige rocker met sy voete stewig in die musiek van die Kaap. Hy’t verskillende genres op sy unieke manier bymekaargebring, ‘n klank geskep wat tegelyk eg-Suid-Afrikaans en internasionaal bemarkbaar is. Hoe de joos wil hy nou vir Koos du Plessis begin sing?
“Maar hy kan mos nie,” fluister sy. “Sênou hy maak ‘n vreeslike gek van homself?”
Felicity voel vere vir Niel se selfbeeld of sy loopbaan. “Traak my min,” lag sy sorgeloos. “Solank hy net vir Sonny Boy by hom het.”
“Jy’t dan nou net gesê dis net hy?” Soos Deborah oor Niel voel, so voel Felicity oor sy boesemvriend en saksofoonspeler, Sonny Boy Pieterse. Sy voel hy’s haar geesgenoot, hy skryf sy liedjies spesiaal vir haar, speel hulle spesiaal vir haar – al het hy haar nog nooit met ‘n oog gesien nie.
“Dis net Niel wat gaan speel, maar jy weet mos hy gaan nêrens sonder Sonny Boy nie. Ek sweer hy gaan daar wees. En ek gaan hallo sê, Deborah, ek gaan môreaand vir Sonny Boy Pieterse ontmoet – en hy sal my nie sommer weer vergeet nie!”
“Solank jy net nie verwag ek moet ook …”
Maar sy kry nie eens haar sin gevoltooi nie. “Natuurlik gaan jy saamkom! Moenie onnosel wees nie, Debs – jy gaan nooit weer so ‘n kans kry nie.”
“Volstrek nie. Ek gooi my voor g’n man se voete nie, al is sy naam Niel van Heerden. Ek sal saamgaan en ek sal jou niggie se vriendin se … wie ookal … Ek sal haar manuskrip lees, maar dis dit.”
“Jy’s ‘n pyn in die dinges, Deborah de Villiers,” raas Felicity goedig. Hulle twee ken mekaar donkiejare, verstaan mekaar se geite.
“Ek weet. En jy’t my nodig in jou lewe.” Sy was nog altyd vir Fee die stem van rede wat haar soms tot bedaring moet roep as sy holderstebolder in ‘n ding wil spring. En vir haar is Felicity die stem wat dit af en toe regkry om haar uit haar geordende bestaan te ruk en ‘n dol ding te laat doen. Soos vanaand.
Felicity sug oordrewe. “Ook weer waar. Sien jou môre – ons ry lekker vroeg, dan gaan eet ons iets voor die tyd. Of loop ‘n draai op die strand … Dalk kry ons hulle nog …”
“Niel van Heerden en Sonny Boy Pieterse gaan nie op Kampsbaai se strand uithang voor ‘n show nie, Fee.”
“Spoilsport.”
“Nag, Fee. En dankie. Groot dankie.”
“My plesier.” Maar dan kry die stemmetjie opnuut ‘n histeriese noot: “Ek sweer ek gaan niks slaap nie, sênou hulle …”
“Nag, Fee.” Deborah bly netso agteroor lê, laat die gedagte rustig insink. Sy’t Niel van Heerden ‘n goeie drie jaar laas gesien optree, in ‘n stadion voor duisende mense; sy uitgebreide orkes agter hom, Sonny Boy soos altyd aan sy regterhand. Hoe gaan hy regkom in ‘n klein, intieme teater, net hy alleen? Hoe gaan hy Koos Doep se lirieke tot hul reg laat kom?
Is dit die pad wat hy die afgelope twee jaar geloop het? Van superster met die wêreld aan sy voete tot introvert met sy kitaar, wat die gehoor skaars in die gesig wil kyk?
Maak nie saak nie, vir haar bly hy die heel beste wat daar is. Want hy is vir haar geen vreemdeling nie, sy ken hom al ‘n goeie vyftien jaar lank. Toe hy op ‘n skrale twee-en-twintig die kalklig ingebars het, was sy daar – aan sy sy. Die vele oppe en affe van sy loopbaan het sy almal saam met hom belewe.
Net jammer hy weet nie eens van haar bestaan nie.