Gunter, Helena – Met koffer en kaart

Omdat ek baie lief is vir kortverhale (dalk kom dit van die dae met klein kindertjies toe ek myself tot tydskrifte en kortverhale beperk het, weens my frustrasie as ek nie ‘n lekker boek kon vat en klaar lees nie), is ek altyd bly as daar iets nuuts verskyn. Populêr of letterkundig of enigiets tussenin – almal spreek my aan. Van almal kry ‘n mens goeies, swakkeres en al die grade tussenin. By almal is die leser se eie belangstelling, persoonlikheid en stadium van sy lewe ook faktore wat help bepaal of hy die verhale geniet.
Helena se eerste bundel, Op ‘n plaas in Afrika is hoog aangeskryf en het my ook aangeraak. Ek het haar ook by ‘n boekoggend van Protea Boekhuis op Stellenbosch hoor praat en respek gekry vir haar as mens en as skrywer.
Dis sekerlik moeilik om met ‘n tweede boek gemeet te word aan ‘n eerste poging wat so uitstekend was. Daarom is dit seker nie die grootste ramp dat hierdie een nie soveel lof ontvang nie (van wat ek al gesien het). Dit maak dit hoegenaamd nog nie swak nie. Die verhale is steeds goed geskryf en spreek werklikhede van ons land en ons tyd aan.
Ek het dit steeds geniet en is deur veral van die eerste verhale diep aangeraak. Dit spruit seker ook maar uit my vrou-wees, want dis die stories oor aborsie en geboorte wat my die meeste geruk het. Die manier waarop die verhale in groepies ingedeel is, verhoog ook die impak daarvan, veral dié in Triptiek, ink op papier, waar die lot van wit en bruin aangrypend verbind en verweef word. Mense en groepe word nie as goed of sleg voorgestel nie, maar almal word in hul menslikheid, verwikkeldheid en swakheid geteken.
Die laaste groep het my egter nie so sterk geboei nie. Die reise en worstelings van die vrou is relevant in ons tyd en ek kon sterk daarmee identifiseer. Ek het egter ‘n spanningselement daarin gemis – ek soek maar steeds in die eerste plek ‘n boeiende storie.
Die voorblad is vir my baie mooi, hoewel dit dalk foutiewelik die verwagting kan skep van verhale van weemoed na die goeie ou dae, wat dit nie is nie.
As jy lus voel vir iets wat nie ontspanningsleesstof is nie, maar ook nie moeilik verteerbare letterkunde nie, probeer gerus hierdie boek!

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s