Salzwedel, Ilse – Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee

Ons voorouers het oor die Drakensberge getrek toe dinge hulle nie meer aangestaan het nie. Deesdae trek mense oor landsgrense heen, maar vir meer as een rede – regstellende aksie, die resessie, misdaad, die liefde en beter geleenthede … Met hierdie boek wil ons weet waarom Suid-Afrikaners hulle hele lewe oppak om in ‘n ander, soms wildvreemde plek met wildvreemde kulture te gaan oorbegin. En natuurlik ook wat Suid-Afrikaners mis en of hulle dit weer sal doen. Die stories is plek-plek skreeusnaaks en baie interessant, en op ander plakke hartroerend eerlik.
Tot sover die agterbladteks van Seerowers, kameelkoppe en chillies vir tee. Die boek vertel die verhale van ‘n klomp baie uiteenlopende mense wat om baie uiteenlopende redes op baie uiteenlopende plekke gaan bly het. Party beplan om terug te kom, party wik en weeg, party sal nooit terugkom nie.
Wat my  sal bybly, is nie die avonture en die interessantheid van die mense se nuwe lewens nie, maar die groot prys wat betaal word om so ‘n verandering te maak. ‘n Mens kry die indruk dis meestal maar ‘n kwessie van jy het jou bed opgemaak en nou moet jy jou lê kry en klaar. Ek weet nie hoeveel mense dit werklik weer sal doen nie. (‘n Poolse vriend wat jare gelede Australië toe verskuif het, het vir my gesê hy sal dit nie vir enigiemand aanbeveel nie.) Ek vermoed baie mense behou maar hulle trots en praat nie oor alles wat moeilik is nie. En dis selfs moeilik in Engelssprekende lande soos Australië, wat op die oog af soos ‘n SA sonder ons tipiese probleme mag voorkom. Dit laat my ook dink aan die SA boer wat toe in Sydney gewerk het, wat jare gelede op my vraag oor wat hy mis, geantwoord het: My skape, my honde en my vriende. Dit het vir my na flippen baie geklink.
Hieruit vloei dit dat ek my verstom aan die dapperheid en waagmoed van mense om so-iets aan te pak. (En ek praat nie in die eerste plek van die jonges wat met net ‘n rugsak oor die skouer die wye wêreld invaar op soek na avontuur nie. Vir hulle is dit in ‘n sekere sin maklik.) Dis mense wat gesinne hier wegneem wat my verstom. Wat maak jy as een kind byvoorbeeld net glad nie kan aanpas nie? Of een van die eggenote?
Dit bring my by die motivering om hier weg te gaan. Jonges wat vir avontuur gaan en omdat daar lekker werksgeleenthede is, is een ding. Baie van hulle kom ook (hopelik!) weer terug. Maar volwassenes wat hul wortels hier uittrek, moet sekerlik geweldige sterk motivering hê. Ek kan nie help om te dink dat dit dan seker meestal die gevolge is van geweldige negatiewe ervarings in ons liewe land nie. Misdaad, regstellende aksie … Ons ken die rympie.
My finale reaksie? Innige dankbaarheid dat ek nog nooit iets so verskrikliks hier ervaar het dat dit my sal dryf om alles wat ek ken en liefhet, hier te los nie.
Die finale gevoel wat die boek by my laat, is ‘n vae weemoed. Oor al die menslike belewing wat opgesluit is in die stories. Oor die diep eensaamheid wat mense ervaar in die vreemde. Ek vermoed daar lê baie dinge wat nooit uitgespel word nie agter al die stories van interessante ervarings en vreemde kosse en weird karakters.
Die stories word soms ‘n bietjie eenselwig, omdat die mense waarskynlik almal dieselfde basiese stel vrae beantwoord het. ‘n Paar interessante karakters wat ‘n eie kleur aan hul storie gee, help sorg dat dit nie vervelig raak nie. Die leser kan duidelik agterkom watter persoon is die een met ekstra woema, die een met ‘n humorsin wat skrik vir niks. En natuurlik klink dit of dit juis hy is wat die lekkerste tyd het. (Besluit maar self van watter storie ek praat!)
Natuurlik speel finansies ‘n groot rol, maar die dowwe en soms baie klein foto’s doen myns insiens afbreuk aan die boek. Dit sou ook lekker gewees het om darem elke keer die betrokke persoon se gesig te sien. (Ek neem aan party van hulle wou dit dalk nie hê nie.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s