“AGGE NEE!!” MAGRIET KAN HAAR oë nie glo nie – ‘n volle tweeduisend rand se twintigrandnote lê soos peperduur herfsblare om en oor haar voete gestrooi. En dít van pure lompgeit.
Dis nou presies haar soort geluk – dat die dierbare bankmasjien juis vandag g’n ander note as R20’e het nie, en dat sy juis vandag die pakkie note moet misvat toe die geldgleuf dit uitspoeg.
Dan maar gou op die hurke die spulletjie probeer bymekaar skraap. Nie dat die nou romp eintlik veel help nie. En die paar hemelhoë hakke maak haar in elk geval net lomp in plaas van lank en slank en stylvol.
Skrikbeelde van rooftogte helder oordag flits deur haar kop terwyl sy wild gryp – en mis gryp – na die verspreide note. Iemand wat vandag lus is vir ‘n bietjie regstellende inkopies het nie hier plofstof of vuurwapens nodig nie – net ‘n goeie oog en ‘n vinnige hand.
En hier kom dit ook: ‘n vreemde hand verskyn in haar gesigsveld en pik blitsig na haar swaarverdiende geld. Dis ‘n bloedjong hand met ligte sproetjies en afgekoude naels – en hy vat om raak te vat. Net om die volgende oomblik onsag op die blink teëlvloer van die winkelsentrum vasgepen te word. Deur – van alle dinge – die punt van een of ander hupse oumens se kierie.
“Eina!” Die vingers maak magteloos oop oor die paar note. Die seunstem het nog nie gebreek nie.
“A nee a, kêrel, dis mos nie hoe dinge gedoen word nie!”
Magriet se hande word stil tussen die bruin note, haar asem slaan vas in haar keel. Sy kan haar ore nie glo nie. Die stem is nou bejaard, maar nog netso indrukwekkend. En na al die jare steeds pynlik bekend.
Die gedreun van stemme en haastige voetstappe vervaag om haar. ‘n Goeie twintig jaar lank droom sy oor hierdie oomblik. Die meeste van haar drome het met wraak te doen gehad. En hier staan Ben van Jaarsveld nou in die gedaante van ‘n weldoener voor haar.
Sy bondel die laaste geld halsoorkop in haar skouersak en steier onelegant orent. Daar’s ‘n dowwe suising in haar kop, sy’t die bewerasie van kop tot toon.
Dalk herken hy haar nie. Sy was per slot van rekening net vyftien jaar oud.
“Asseblief, oom!” pleit die kind intussen hoogs benoud. En salig onbewus dat hy meteens die minste van haar probleme is.
“Sodra jy die dame om verskoning gevra het, jonge man.” En die kierie gee so ‘n ekstra drukkie.
“Ekskuus tog, tannie, ek’s vreeslik jammer! Ek moes mal gewees het of iets, tannie, ek doen nooit sulke goed nie!” Hy het mooi bruin oë, treffend by die rooibruin hare.
Die kierie lig. En Magriet neem ‘n besluit. Eintlik twee: Sy sal die ouman nie laat wegkom nie. Maar die kind wel.
“Tannie, ek weet nie wat my besiel het nie! My pa maak my dood … Hy gaan nóú hier wees!”
Haar hart raak bottersag in haar. Sou daar dinge wees wat die seun nodig het? Of dinge wat hy begeer?
Wéét sy dan nie hoe dit voel om te begeer nie?
“Maak dat jy wegkom, boeta,” hoor sy haarself sê. “Jou pa hoef nie te weet nie.”
Steeds met ‘n angstige verskoning op sy lippe raak die seun weg in die malende mensemassa.
“Jy laat hom wegkom met sulke oneerlikheid?” Ben het haar wel deeglik herken; hy verwys na veel méér as vanoggend se voorvalletjie.
Die woede stoot in Magriet op, nuut en vars soos daardie tyd toe hy haar en haar ma ontnugter en bankrot agtergelaat het. Die skynheilige ou derduiwel – wie is hy om ‘n kind te veroordeel?
“Jy’s ‘n mooi een om te praat oor eerlikheid!” Die jare het hom nie goed behandel nie; hy’t oud geword, en krom.
Kan dit wees dat hy ook gely het? Maar sy stoot die gedagte eenkant toe, sy kan nie bekostig om nou sag te raak nie.
“Magriet, jy verstaan nie …” Die huiwerige hand op haar voorarm is vol ouderdomsvlekkies. Die man is oud en hy’s diep ontsteld. Maar sy laat haarself nie toe om te versag nie; sy skud hom af soos ‘n lastige insek.
“Verstaan nie? Wat is daar om te verstaan?”
“Ek wou julle nie seermaak nie.” Hy’s doodsbleek, die hand op die kierie bewe onbedaarlik. Hy moet tog nou nie kom staan en flou val nie. Sy laat lê hom sowaar net hier, sy sweer.
“Nie seermaak nie?!”
“Ek is jammer …”
“Jammer? Jámmer! Wel, ek het nuus vir jou!” Sy verloor nooit beheer nie, sy’s bekend vir haar kalmte en teenwoordigheid van gees. Maar jare se beheer het nou meegegee. Iewers in haar agterkop weet sy sy gaan spyt wees, maar op hierdie oomblik gee sy nie ‘n hel om nie.
“Jy het my en my ma die maan en die sterre beloof! Julle troue was gereël! En nou kom vertel jy my jy’s jammer!”
“Magrietjie, wag nou …”
“Ek is nie meer jou Magrietjie nie! Jy’t vir my soos ‘n pa geword, ek het jou lief gehad … My ma het jou lief gehad!” En onverwags en ongevraag is die trane daar. Die trane wat sy vir soveel jare agter slot en grendel gehou het ter wille van haar dapper ma.
“My kind, ek was vir julle ook lief …”
“Moenie vir my van liefde kom vertel nie! Jy’t verdwyn! Jy’t deel van ons lewe geword en toe ons gewoond is daaraan, vat jy net weer die pad – nie ‘n dooie woord om te verduidelik nie. Is dít miskien liefde?”
Sy’s vaagweg bewus van ‘n kring gesigte op die buiterand van haar visie. Sy weet sy’s besig om ‘n spektakel van haarself te maak in die middel van die winkelsentrum. En dit skeel haar nie ‘n blou duit nie.
Maar ‘n vreemde hand op haar arm laat haar vir ‘n oomblik bedaar. ‘n Groot hand met sproetjies en stompgeknipte naels. “Is dit die tannie, Bennie?” vra ‘n stem wat sy nog nooit gehoor het nie.
Maar dis asof sy die stem herken, asof sy haar lewe lank vir hierdie oomblik gewag het.
“Ja, Pa.” Dis die kind met die mooi bruin oë; die kind wat haar geld wou vat. Hy het waaragtig vir sy pa die hele storie loop vertel. Gaan dit nou ook nog ‘n onaangenaamheid in die openbaar afgee?
Die man is egter doodkalm en vriendelik: “Ek is Christo van Jaarsv …” Maar toe val die hand slap van haar arm af weg. Die groot man met die bos rooibruin hare se sagte bruin oë sien haar nie meer raak nie. Nee, want hy staar in verstomming na die ou man. “Páá?!”
“Christo, my kind …”
Die bitsige woorde op Magriet se tong raak weg, die gesuis in haar kop raak stadig stil. Sy staan hier voor iets groters as haar eie hartseer en woede. Sonder dat sy dit besef, steek sy haar hand na die seun uit. Verstom staar hulle na die twee mans; die een oud en krom en verslae, die ander fors en sterk en vol magtelose pyn.
Dis asof die ou man krimp voor sy seun se blik. Hy maak sy oë ‘n oomblik toe, vat-vat met die los hand in die lug asof hy vashouplek soek. Toe sak hy met ‘n sagte sug inmekaar op die gladde, blink vloer. Die kierie klater langs hom neer, uit die nuuskierige omstanders klink skrikuitroepe op.
Die verpleegkundige in haar neem onmiddellik oor. En die liefde wat sy as vaderlose tiener vir Ben van Jaarsveld gehad het, roer onverwags iewers diep in haar. “Staan terug,” beveel sy die nuuskieriges, haar selfoon alreeds in haar hand, haar verstand besig om die situasie professioneel te analiseer.
By haar voete is Christo alreeds op sy knieë, sy kalm hande besig om knope los te maak en na ‘n pols te soek. Toe hy ‘n oomblik opkyk in haar gesig, sien sy dit ook in sý oë – die liefde van ‘n kind wat ten spyte van skeiding en misverstand nooit heeltemal vergaan het nie.
“Is dit my oupa Ben, Pa?” vra die seun verstom langs haar.
“Dis jou oupa Ben, my kind.”
Hy’t sy seun van sy oupa vertel, al was daar klaarblyklik vervreemding. Meer nog, hy het sy pa vernoem, al het die kind sy oupa nie geken nie.
Magriet se kop begin opnuut draai. Het Ben hulle gelos terwille van sy seun? Kan sy hom kwalik neem? ‘n Seun het tog immers sy pa nodig.
Maar sy het hom ook nodig gehad, vervlaks. En lief gehad, bewonder, vertrou.
Sy bly sover moontlik op die agtergrond, staan en kyk uiteindelik stil hoe die ambulansmanne die ou man wegneem. Sy draai weg van die hand wat Christo na haar uitsteek, ontwyk sy oë vasberade. Sy kan nie sien hoe daar ooit iets positiefs tussen hulle kan wees nie.
Ben van Jaarsveld het haar weer eens van iets kosbaars beroof, nog voor sy dit kon hê.
“MA KAN DIT NIE VAN my verwag nie!” Magriet kan haar hare uit haar kop trek. Vir wat kon sy nie maar net stilgebly het nie? Maar nee, sy moet mos toe die hele affêre gaan uitblaker. Nie dat haar ma haar juis ‘n kans gegee het nie – daai twee skerp oë het gesien daar’s fout die oomblik toe sy haar voete oor die drumpel sit.
Margaret stryk haar netjiese driekwartbroek onnodig glad oor haar knieë. “Ek sou self gegaan het, my kind, as ek nie so bang was die skok is dalk te veel vir hom nie. Erg genoeg dat hy hom binne ‘n kwessie van minute in jou, sy seun én sy kleinseun vasgeloop het. Ek kan sowaar nie ook nog daar staan as hy sy oë oopmaak nie. Ás hy hulle ooit weer gaan oopmaak.”
“Ma gee na al die jare nog om!” Sy kan nie glo wat sy sien nie; dit voel vir haar asof al die vastigheid in haar lewe stelselmatig onder haar voete aan die wegkalwe is.
Margaret dink lank voor sy antwoord. Haar oë word sag, Magriet kan sien sy herleef die goeie tye. En daar wás goeie tye saam met Ben van Jaarsveld, baie goeie tye. “Ek weet nie of ek nog omgee nie. Miskien. Maar miskien is ek net nuuskierig.”
“Ek sal gaan, Ma. Ek sal vanaand gaan en kyk hoe dit met hom gaan en minstens uitvind waar hy bly.” Maar dit sal al wees, sy sal haar nie verder laat manipuleer nie.
“En of hy sorg het. Vind uit of hy iemand het om hom te versorg as hy uit die hospitaal kom.”
Het haar ma dit waaragtig in gedagte dat hulle die ouman moet versorg as dit nodig is? Híér, in die tuiste wat hulle met soveel moeite en pyn destyds geskep het, honderde kilometers van hul eertydse tuisdorp waar almal van hul vernedering geweet het?
“Ek gaan hom nié verpleeg nie, Ma!”
Haar ma glimlag rustig: “Jy hou jou verniet so hardekwas, my kind. Jy’t nog nooit jou rug op iemand gedraai nie, en jy sal ook nie hierdie keer nie.”
“Hy het ‘n seun wat na hom kan kyk, Ma. En ‘n kleinkind, so daar moet ‘n skoondogter ook wees.” Dís die ding wat haar bloots ry van die oggend af – dat daar ‘n vrou ook moet wees.
“Daar was verwydering – dis nie te sê die seun gaan vir hom sorg nie.”
Sy dink aan die wisselende emosies op Christo se gesig toe hy sy pa herken. “Die seun het noodhulp toegepas, saamgery hospitaal toe. Hy lyk nie vir my na die haatdraende tipe nie.”
En wat maak dit háár? Die haatdraende tipe?
Sy sal vanaand hospitaal toe gaan, ja. Maar nie regtig net terwille van haar ma nie. Nee, sy sal ook gaan omdat sy Ben weer wil sien, omdat sy meteens magteloos bang is hy gaan dood sonder dat hulle ordentlik gepraat het.
En om vir Bennie weer te sien, die klein blikskottel wat met sy onbesonnenheid meteens ‘n handvol mense se lewens op hul kop staangemaak het, die kind wat spontaan haar hand vasgegryp het toe dinge vir hom te vinnig gebeur het.
Aan sy pa laat sy haarself nie eens toe om verder te dink nie.
MAAR NATUURLIK LOOP SY HAAR heel eerste in hom vas. In die restaurant van die hospitaal sit hy, sy skouers geboë oor sy koppie koffie, die wêreld se sorge op sy gesig. Maar sy oë verhelder toe hy na haar opkyk, sy glimlag is vinnig en warm.
“Ek het nie gedink ons sien jou weer nie,” sê hy met iets soos ‘n versigtige vreugde in sy stem. Of is dit bloot haar oorgretige verbeelding?
Die man het vervlaks ‘n vrou; natuurlik het hy ‘n vrou.
“Dis net terwille van my ma,” antwoord sy koel, maar dit voel vir haar hy kyk dwarsdeur haar fasade tot by die diepste plekkie in haar hart.
“Ek het vanoggend heelwat gehoor van jou en my pa se gesprek. En ek voel ek moet jou sê dat ek destyds geweet het van jou en jou ma.”
Haar bene wil-wil onder haar padgee, sodat sy teensinnig neersak op die naaste stoel. Sonder om te vra staan hy op en gaan haal vir haar ook koffie. Sy vat dit soos ‘n mens wat nie by sy volle positiewe is nie, begin roer verbete sonder dat daar ‘n korreltjie suiker ingegooi is.
Ben het ‘n dubbele lewe gevoer. Toe hy verdwyn het, het hy bloot teruggekeer na sy gesin. En hulle het geweet van sy dwaling.
Iets moes gebeur het om hom te laat kies. Kan sy hom kwalik neem dat hy sy eie kind bo haar gekies het?
Sekerlik nie. Sy en haar ma het geen reg op hom gehad nie.
Met moeite kry sy die woorde uit: “Jou ma?”
“Sy’s laasjaar oorlede, maar hulle was al vir jare geskei. Kom, kry suiker.” Die suikerkoevertjie lyk ekstra klein in sy groot hande.
Soos die ander vrou, dis hoe sy nou voel. Al was sy destyds net ‘n kind, verward tussen grootmense wat sy liefhet, maar nie verstaan nie. “Hulle is oor ons geskei? Sy’t geweet van ons?”
“Nee, net ek het geweet. Ek was twintig, vol hormone en voortvarend. Ek het lont geruik, speurder gespeel, my pa begin agtervolg – en meer uitgevind as wat ek kon hanteer.”
“En toe vertel jy jou ma?”
“Ek wou. Maar ek kon nie. Jy en jou ma was eerlike, goeie mense; julle was ooglopend lief vir hom. As julle ‘n swak tipe mens was, sou dit vir my makliker gewees het.”
Hierdie man het die mag gehad om haar en haar ma te verwond. En hy het dit nie gebruik nie. Of sou dit vir almal beter gewees het om die volle waarheid te weet? “En toe?”
“Toe dreig ek my pa af. Óf hy breek onmiddellik en finaal met julle óf ek vertel my ma.”
“En toe los hy ons.”
“Toe los hy julle. Maar ek kon nie my geheim hanteer nie, ek het sy lewe hel gemaak. Op die ou end is ek weg uit die huis sonder dat my ma ooit die ware rede geweet het. En het hulle huwelik tog maar mettertyd verbrokkel.”
“So niemand het gewen nie.”
Hy kyk haar met sy eerlike bruin oë aan, ‘n groot man wat té jonk besluite moes neem waarvoor hy nie opgewasse was nie. En die prys daarvoor betaal het. “Absoluut niemand nie.”
“Doodgewone eerlikheid sou vir almal beter gewees het.” Sy sê dit sonder verwyt. Wie is sy om te oordeel, sy wat jare lank ‘n wrok vertroetel het sonder dat sy die ware toedrag van sake geken het?
“Waarskynlik, ja.” Hy sit lank stil, maar toe hy opkyk is sy oë helder. “Maar dis nie te laat om reg te maak nie.”
Haar maag trek angstig saam. Hierdie dag is eens te veel, sy kan nie meer byhou nie. “Ek weet nie of ek kans sien nie.”
Sy hand vou oor hare; sy mooi oë kyk ernstig in hare, smekend: “Gee hom ‘n kans, Magriet. Hy’s by sy bewussyn; hy vra na jou. En na jou ma.”
“Gaan hy dit maak?” Ja, sy gee nog om; sy gee baie om.
“Hy’s buite gevaar. Ons het vandag almal ‘n tweede kans gekry.”
Ben gaan lewe – en die res is haar keuse.
“Waar’s Bennie?” vra sy om tyd te wen. Bennie – die kind wat alles ontketen het deur ‘n enkele impulsiewe misstap. Die kind wat haar hart aangeraak het.
Christo se gesig versag onmiddellik: “By die huis, ongeduldig om sy oupa te leer ken. En vir jou.”
“Sal sy ma nie omgee nie?” Hopeloos deursigtig, maar weet moet sy weet.
Hy kyk met sy eerlike oë na haar oor die tafeltjie met suikerkorrels op die geruite tafeldoek: “Ek het nie ‘n vrou nie, Magriet. Dis net ek en Bennie.”
Reguit vrae kry by hierdie man reguit antwoorde, dit kan sy sien. Dus kan sy ook vra: “Waar’s jou vrou dan?”
“Jare gelede al weg.”
“Hoekom?”
“Sy’t my van ontrouheid beskuldig. Onder andere.”
“En was jy skuldig?”
“Ja, in die sin dat ek nooit van jou kon vergeet nie.”
Sy stort haar koffie in die piering van verstomming. “Van mý? Jy’t my nie geken nie!”
“Ek het beelde van jou in my kop gehad, waarvan ek haar ongelukkig vertel het. Aan die begin, toe ek nog probeer eerlik wees het. Sy’t bedreig gevoel, mettertyd het dit ‘n kwessie geword.”
“Ek is jammer.” Sy weet nie of sy moet lag of huil nie. Hoe het sy in hierdie situasie beland?
“Daar was baie ander dinge ook; dit kon nooit werk nie. Dis lankal verby, die wonde genees.”
“En nou?”
Die glimlag maak sy hele gesig sag en jonk: “En nou vra die Van Jaarsvelds ‘n tweede kans van jou en jou ma. Ek en my pa en my seun, ons het julle almal nodig. En mekaar.”
Sy steek haar hand versigtig uit na syne. “Dit gaan nie maklik wees nie.”
Sy vingers vou gretig om hare. “Kosbare dinge is nooit maklik nie.”
Tweede kanse is inderdaad skaars en baie, baie kosbaar.
Goeie verhaal..leer oor vregifnis..