Steinmair, Deborah – Marike se laaste dans

Marike se laaste dansDie agterblad van dié bedrieglik dun en kleurlose boekie lees soos volg:

Maud se ouma was ‘n siener. En ook Maud word bloots gery deur visioene en drome. Wanneer sy die dag vir Marike de Klerk by die robot sien staan, “roerloos soos ‘n stilfoto”, hou sy met skreeuende bande stil en bied haar ‘n geleentheid aan.
So begin ‘n sonderlinge vriendskap. Ná sewe jaar is Marike, voormalige presidentsvrou, steeds in die Wagkamer: voor sy verder kan reis, is daar iets wat sy moet aanspreek, ‘n vorm van afrekening. Maud weer het pas haar hoeveelste werk verloor, hierdie keer by die groot mediatoring naby die hawe, en sy is moedeloos. Maud het, net soos Marike, sonder kompas op die see verdwaal, en sy dobber tussen minnaars, moederskap en periodieke werkloosheid rond.

“Verbeeldingryk, digterlik, eroties, geseën met die reddende krag van humor.” – Hettie Scholtz

‘n Mens moenie hierdie boek op sy jassie beoordeel nie. Ook nie op sy dikte nie. Of liewer sy gebrek aan dikte. Dis ‘n besondere boek, ‘n weird boek, ‘n boek wat ‘n mens sal onthou. Eerstens omdat die konsep sover ek weet, heeltemal en totaal nuut is. Of dan in Afrikaans, ten minste. Hoe ‘n skrywer iets só oorspronklik uitgedink kry, weet ek regtig nie. Ek kan maar net jaloers toekyk.
Die kort hoofstukke vertel afwisselend die verhaal van Maud se vriendskap met die gestorwene, die backstory van Maud se veelbewoë lewe en die situasie waarin sy haar op die oomblik bevind. Dit gee die leser ‘n goeie balans tussen die magiese, die weemoed en die harde werklikheid.
‘n Mens weet natuurlik nie hoeveel van die realistiese deel van die verhaal outobiografies van aard is nie. Maar na die skrywer se gesprek tydens die Woordfees waar daar openlik gesê is Die Skrywer waarna in die verhaal verwys word, slaan werklik op ‘n baie bekende SA skrywer, kan ‘n mens moontlik aanneem die res van Maud se lewensverhaal hou ook redelik verband met dié van die skrywer.  Dis natuurlik niks nuuts nie, ek het onlangs eers geleer presies hoe outobiografies van aard die Nobelpryswenner Solzhenitsyn se grootste werke was.

As jy reken jy is in staat om die kopskuif te maak – probeer gerus die boek. As jy iemand is wat humor kan waardeer, veral waar dit gebruik word om ernstige stof verteerbaar te maak – probeer beslis die boek.

Ek dink dis die wonderlike humor wat ek die langste sal onthou. En die raak segging, die nuwe, vars metafore. Al hou jy ook nie van die vreemde tema nie, kan jy dit net lees vir die beeldskone Afrikaans wat kort-kort na vore kom.  (O ja, vir eksplisiete seksuele beelde moet jy ook nie terugdeins nie.)

‘n Paar juwele, lukraak uit die teks geneem:

Depressie bloei die kleur uit dinge, Maud … ‘n Nat wind mishandel die sipresse … Vet Charles die eiervormige seun … Haar voorhoof is helder, haar oë is wolkloos. Sy beweeg soos die koningin van Skeba … Die wêreld word ‘n woordslaai. Elke straatnaam bevat ‘n boodskap … Die hoëpriester van teerheid … Hy het my gekraak soos ‘n eenvoudige kode … Op twee begin sy dans, aangrypend soos ‘n feetjie …

Daar is nog baie waar hierdie vandaan kom.

Een gedagte oor “Steinmair, Deborah – Marike se laaste dans

  1. Hierdie boek het my ge’ruk’, juis omdat die real ‘life’ Marike de Klerk se verhaal vir my so aan die hart ruk – en ek vas glo die laaste hoofstuk daaroor nog lank nie vertel is nie.

Lewer kommentaar