RSS

Die moeite werd

“EINA! MAGTIG, MAN, KAN JY nie kyk wat jy doen nie?” Ek kan sweer sy’t die naald ‘n paar draaie gegee in my arm. Sy’t sowaar nog al die jare oor my sondes gebroei. En hier het sy my nou waar sy my wil hê: hulpeloos op my rug – met die naald in háár hand. Sy stry verniet – natúúrlik onthou sy die debakel met ons matriekafskeid destyds.
Elaine Mouton bly egter so koel soos ‘n komkommer; ‘n mens sal nooit dink ons twee het ‘n geskiedenis nie. “Probeer ontspan, ons sal weer moet probeer.”
Die koel blou oë, die netjiese wenkbroue en die weerlose mond begin swem voor my, ‘n vreeslike naarheid kom oor my. En ‘n sonbesie begin skril in my ore lawaai.
“Siestog, die tawwe outjie het sowaar uitgepass!” Dis die lawwe assistentjie se woorde wat yl na my toe aankom voor die donker oor my vou. Suster Mouton sal nooit so ‘n onprofessionele ding sê nie, daarvoor is sy eens te perfek.

DIE VERTREK KOM STADIG WEER in fokus, die gesing in my ore word gaandeweg dowwer. “So ja, dis beter! Hier, drink eers voor ons weer probeer.” Sy’s doodrustig, seker gewoond om erger dinge te hanteer as ‘n yslike mansmens wat flouword van ‘n simpele naald in sy arm.
Ek vat die glas koeldrank uit haar hand, drink dit met ‘n paar slukke leeg en mik om orent te kom.“ Jy gaan niks nêrens weer probeer nie – ek loop! Ek het genoeg van hierdie blerrie spul gehad.”
Maar toe ek regop kom, begin die wêreld van vooraf draai om my. Ek sak magteloos terug in die haatlike stoel. Wat de hel is dit vandag met my dat ek net wil omkap? Die frustrasie van die afgelope weke stoot bitter in my keel op en stort oor my lippe: “Ek is gatvol vir die hele blerrie spul! Ek is gesond – hoe meer ek vir julle sê ek is gesond, hoe meer karring julle met julle ewige gechemo, chemo!”
“Louis, sit asseblief nou stil en luister na my!” Sy staan nou reg voor my, téén die stoel. Haar wange is pienk en haar oë het hul koelheid verloor.
Ek sit stil, hoofsaaklik omdat ek nie kán orent kom sonder om haar uit die pad te stamp nie. Maar ek luister nie. Ek is keelvol geluister na mediese boffins … Ek is gelukkig dat die kanker so vroeg opgespoor is; dit was dapper en volwasse van my om onmiddellik ‘n dokter te raadpleeg toe ek onraad vermoed het; dis verstandig om voluit te gaan vir die voorkomende behandeling. Ensovoorts. En so meer. En aan en aan, tot satwordens toe.
“Dit sal belaglik wees om jou chemoterapie op hierdie tydstip te stop. Na vandag het jy nog net twee dae om te gaan. Ek weet dis nie lekker nie, maar jou liggaam hanteer die behandeling eintlik baie goed …” Ek kan hoor sy is eintlik lus om my ordentlik in my maai te stuur, dat sy aan die laaste rafeltjie van haar geduld vashou. Maar dit traak my netmooi niks. Van saamwerk en inskiklik wees het ek genoeg gehad.
“Nie lekker nie! Jy weet niks, man! Wat weet jy van die naarheid? En die moegheid? Ek is vir weke al dag en nag naar – ‘n flippen swanger vrou se moses. Die simpelste goed laat my maag draai, my eetlus is in sy kanon in. Ek leef van Provitas en Marmite, ek is te pateties om te oefen, ek beteken niks by die werk nie. En jy reken dit gaan goed!”
Ek is gewoond dat vrouens – my ma en my meisie ingesluit – nie bestand is teen my humeur nie. Hulle vat óf die pad óf gaan aan die huil. Of albei. Maar nie hierdie ene nie. O nee, sy draai kalm om en maak die deur van die chemokamer met ‘n ferm gebaar toe. Toe draai sy terug na my, vat my ander arm in ‘n ystergreep vas, bewerk hom blitsvinnig met haar wattetjies en goetertjies en druk die naald met een vloeiende beweging in die aar.
“Nou sít jy en jy luister vir my!” Haar oë is nou twee skerfies glas, haar stem laag en gevaarlik.
Ek sit. Nie dat ek juis ‘n keuse het nie.
Haar gesig is so naby myne dat ek die fyn waterpokkiemerkie tussen haar wenkbroue kan sien. Sou cute gewees het as omstandighede anders was. “Het jy een enkele keer al gebraak van die behandeling?”
“Nee, maar …”
“Een enkele infeksie gehad wat nie gesond wou word nie?”
“Nee, maar …”
“Het een enkele haar al van jou kop af geval?”
“Nee, maar …”
Sy spring triomfantlik op, asof sy ‘n oorwinning behaal het. “Luister na jouself! Jy het ‘n maar vir elke woord wat ek sê. Waar is jou dankbaarheid? Besef jy watter lot jy vryspring deur die vroeë opsporing en die voorkomende chemoterapie? Het jy al gesien wat hierdie siekte aan mense kan doen? Moet ek jou ‘n bietjie in die kankersaal invat?”
Ek hóú van die vurige Elaine wat ek na tien jaar so onverwags weer raakgeloop het. As sy destyds maar soveel woema gehad het … maar sy was die nerd van die klas, bleek en briljant en tot sterwens toe skaam. En ek was die grootste jock, uitdagend en lawaaierig en ‘n haan onder die hennetjies. Sekerlik ‘n resep vir ‘n katastrofe.
Wat toe ook plaasgevind het. My pelle het my gedare, ek het haar geskiet vir die matriekafskeid – en haar toe in die steek gelaat. Onvergeeflik.
Ek lê gedwee terug in die stoel, probeer my asemhaling weer rustig kry terwyl die giftige konkoksie in my are inloop. “Sorry, man.”
Sy’s dadelik weer die ene ontferming: “Ek is jammer ek moes hard met jou praat.” Haar bekwame hand rus ‘n oomblik op myne wat hulpeloos op die armleuning lê, gekoppel aan die drup wat die een sakkie vreemde chemikalieë na die ander in my lyf intap. “Dis normaal om moedeloos te word, veral vir iemand wat eintlik op die oomblik heeltemal gesond is soos jy.”
“Dis net dat ek so ellendig moeg is. En die hele tyd naar – dit gaan net nooit heeltemal weg nie.” Die pamflette wat hulle my in die hand gestop het, gaan mos aan en aan oor hoe jy oor jou kanker moet praat. Wel, hier kry ek dit eindelik reg. Maar nou voel ek soos ‘n ondankbare luis.
Elaine Mouton gee elke dag van haar lewe vir kankerpasiënte hul chemoterapie. Mense wat ernstig siek is en die punch vat met ‘n smile. Sy’s seer sekerlik nie lus vir die gemor van ‘n blakend gesonde mansmens wat eintlik nie veel het om oor te kla nie.
Ek onderskat egter haar geduld en empatie: “Ek verstaan dat dit vir jou moeilik is om nou die voordele van die voorkomende behandeling in te sien.” Handig verwyder sy die leë sakkie, hang die een met die soutmengsel wat die are moet skoon spoel, netjies aan sy hakie. “Miskien is jy te hard op jouself. Laat jou ma en jou meisie jou maar nog ‘n bietjie vertroetel, dalk kry jy nooit weer die kans nie!”
Nogal snaaks dat sy nie uitvra na my ma nie. Op ons dorpie het almal mos destyds vir almal geken.
My ma en my meisie is egter die twee heel laaste mense waaraan ek nou wil dink. En die rede gaan Elaine beslis nie goedkeur nie. “Ek’s nie die soort wat ‘n fuss om my soek nie,” sê ek bot.
“Jy verdien ‘n bietjie fuss – jy’s eintlik baie dapper, al is jy so beneuk. Laat hulle maar ‘n bietjie kloek om jou!”
“Ek kom reg, ek het nie ‘n gekloek nodig nie.”
Die raakvathande word eensklaps stil, die wakker oë is weer vlymskerp op my: “Jy hét tog seker ‘n meisie?” Op skool het ek áltyd ‘n meisie gehad, soms meer as een.
Ek’s vas, ek kan nie vir haar lieg nie, nie terwyl sy in beheer is van die medikasie wat in my lyf inloop nie. “Ja.”
“Hoekom kom sy nooit saam met jou nie? Jy weet tog ‘n familielid of vriend is welkom om die pasiënte te kom ondersteun!”
Sy staan nou hande in die sy voor my, skud haar kop ongelowig: “Jy steek dit waaragtig vir haar ook weg!” Hoekom sê sy ook? Sy kan tog nie weet my ma … Maar haar volgende woorde laat vergeet my van die ook: “Die mense die heel naaste aan jou wéét nie daar’s testikulêre kanker by jou gevind en …”
My senuwees pluk op ‘n knop by die aanhoor van die vervloekte woorde uit die mond van hierdie pragtige herinnering aan my wilde jeug. “Sjuut man, magtig! Wil jy hê die hele wêreld moet jou hoor?”
Ek kan nie dink dat ek ooit daarmee sal kan vrede maak dat ek die helfte van my manlikheid moes inboet nie. Ek van alle mense – van seunstyd af die toonbeeld van viriliteit, die groot casanova. Dis net die vrees dat die ander helfte ook in die slag kan bly wat my tot dusver gedryf het – dwarsdeur die vernederende proses van sperme laat vries vir ingeval ek later heeltemal onkapabel raak, deur die voorkomende chemo vir ingeval daar êrens in my lyf nog ‘n kankerselletjie skuil wat nie deur die peperduur skanderings en bloedtoetse opgespoor is nie.
Elaine sak in die stoel oorkant my neer. “Jy kan dit nie geheim hou nie! Jy maak dit vir jouself onnodig moeilik! Niemand gaan minder van jou dink nie. ‘n Man se manlikheid sit netso min net in sy testes as wat ‘n vrou s’n in haar borste alleen sit. Ek gaan met Dokter praat, ons kan jou die naam van ‘n goeie sielkundige gee …”
“Vergeet dit.” Ek draai my kop weg en maak my oë toe. Hierdie gesprek is wat my betref afgehandel.
In doodse stilte voltooi ons die res van die sessie. Die oomblik toe die naald uit my arm is, spring op en storm by die deur uit. Ek ignoreer die duiseligheid, haal net-net die kleedkamer. Daar leun ek moedeloos teen die wasbak, kyk met afkeer na die bleek, lustelose siel in die spieël. Ek ken myself nie meer nie.
Hoe kan ek Madelein van hierdie ding vertel? En hoe kan ek met haar – of enige ander meisie – trou sonder om dit te doen?

DIS FEITLIK DONKER TOE EK by my meenthuiskompleks indraai. Ek het hierdie week se sessies vir laatmiddag geskeduleer met die hoop dat ek darem soggens by die werk iets gedaan sal kry, maar dit het ook nie gewerk nie. Ek voel pap en nikswerd en niks wat ek kan doen, gaan dit blykbaar laat verdwyn nie.
Met hierdie ding is daar net een manier: foeter dwarsdeur die ellende en anderkant uit. Maar dis of ek fut verloor het, daar is ‘n skrale twee dae se behandeling oor – en ek kan net nie meer nie.
Ek het ‘n fout gemaak om die nagmerrie waarin ek so onverwags beland het, vir my mense weg te steek. En om nou met die hele sak patats te voorskyn te kom, gaan ‘n helse drama afgee.
Ek moet óf alleen deurdruk óf bieg. Die een voel so onmoontlik soos die ander.
My probleem word vir my opgelos: Toe ek by my voordeur instap, wag Madelein my in. Sy is beeldskoon soos altyd. En woedend.
In haar hand het sy een van die vele doktersverslae wat die afgelope paar weke deel van my lewe geword het. En sy’t nog nooit veel simpatie gehad met enige siekte nie.
“Wat gaan hier aan, Louis?” Sy swaai die brief so wild voor my dat ek nie kan gesien kry presies watter verslag van watter dokter dit is nie. Sy’t in my goed gekrap. Maar ek het nie eens krag vir kwaad word nie.
“Ek … Kom, ek skink vir ons iets, dan praat ons.” Toe die woorde uit is, besef ek my fout. Alkohol is die heel laaste ding waarvoor ek nou kans sien, die blote gedagte is genoeg om my kiewe inmekaar te laat trek.
“Sal jy nog kan kinders hê?”
Is dit al waarin sy belang stel? Of ek nog pa kan word? Dis nie dat ek en sy nou juis enige oomblik gaan trou nie – ek kan nie onthou dat die woord al ooit werklik tussen ons gesê is nie.
Sy gaan sit, vat die glas wyn by my en sluk dit vinnig leeg. “En wanneer is die operasie gedoen? Toe ek in Windhoek was?” Sy kom nie eens agter ek drink niks nie.
“Ja.” Ek gaan sit vinnig; my bene begin bewe onder my. Ek weet nie of dit die newe-effekte is wat inskop of pure skok is nie.
“Is dit van die chemo wat jy so ellendig is die laaste tyd? Ek is al hartlik keelvol vir jou oumansmaniertjies … nee, ek is nie lus vir gaan dans nie … ook nie vir uiteet nie … ook nie vir fliek nie …”
En ek dag ek het my miserabelheid so goed weggesteek. Hoe onnosel kan ‘n mens wees? “Hulle sê die moegheid is normaal, dit sal gou oorgaan as die terapie klaar is. Die naarheid is darem nie té erg nie. Dis net dat dit nooit oorgaan nie, dit bly die hele tyd …”
“Jy klink soos ‘n ou vrou, Louis.”
“Ek voel nogal baie soos ‘n ou vrou,” sê ek eerlik. ”Of dalk eerder ‘n swanger vrou. Naar en moeg tot sterwens toe.”
“Jy weet ek’t nie geduld met kleinserige mansmense nie.” Sy staan op, kry haar handsak. “Ek loop. Bel my as jy in ‘n beter toestand is.”
Ek bly sit vir ‘n ewigheid so, met my kop moedeloos in my hande. Ek is nie eens verbaas toe die trane tussen my vingers deur begin drup nie. As ek ooit getwyfel het, weet ek dit nou: My meisie is ‘n harde mens sonder enige empatie.
As ‘n man die aarde só hard tref, ken hy net een pad, al is hy sewe-en-twintig jaar oud en volkome selfstandig: die pad na sy ma toe.
Ma bly skaars ‘n kwartier van my af. Ek het nog ‘n sleutel; ek sluit oop en stap in soos ek gewoond is. In die kombuisdeur steek ek egter viervoet vas.
Teenoor my ma sit Elaine Mouton. Sy huil en hou my ma se hande vas. En sy sê: “Ek kry hom so jammer, tannie! Hy’s so dapper en koppig, maar hy maak dit onnodig nog moeiliker vir homself.”
Die woede stoot in ‘n rooi vlaag oor my brein. “Waar de hel kom jy aan die reg om my sake met my ma te bespreek? Hoe’t jy in elk geval geweet sy bly hier?”
Elaine lyk of sy ‘n spook gesien het. “Louis …”
“Dis nou te laat vir verskonings! Dis my private goed wat jy hier sit en uitblaker – dis onprofessioneel! Ek kan jou dagvaar!”
Ek kies die uitweg van die lafaard. Ek draai op my hakke om en ry terug na my eensame meenthuis toe. Niemand kom agter my aan nie.

DONDERDAG VERDUUR EK DIE BEHANDELING in ‘n ysige stilte wat veronderstel is om Elaine te straf. Maar eintlik sterf ek van nuuskierigheid. Het sy waaragtig my ma opgespoor en my ellende gaan uitblaker? Hoe de joos het sy geweet ek steek dit weg?
Toe ek opstaan om te loop, praat sy vir die eerste keer: “Ek bly al ses maande langs jou ma.”
“En toe sê jy haar.” Die ergste kwaad is al uit my uit, die verligting begin nou inskop.
“Toe ek agterkom sy weet van niks, het ek haar gesê. As dit verkeerd was – skiet my maar gerus.”
“Ek wou haar die skok spaar.”
“Ma’s wil nie gespaar wees nie – hulle wil help.” Die blou oë kyk my ernstig aan. “Gaan na jou ma toe, Louis.”
Ek gaan na my ma toe, dadelik en met ‘n blye hart. Elaine het my ‘n yslike guns gedoen. Meteens voel ek sterk, sterk genoeg om my ma se wrewel te verduur. Want ek weet sy’t my waarskynlik al lankal vergewe.
My ma wag vir my. En haar arms is nog net so gerusstellend soos toe ek ‘n wilde laaitie met rowe op die knieë was.

VRYDAG BEL MADELEIN NA TWEE dae se ysige stilte. “Jy maak mos vandag klaar met die spulletjie? Kom ons gaan dans vanaand, man!”
My moed sak in my skoene. Ek is pas terug van my laaste sessie. My bene voel bewerig en ek het net een allesoorheersende begeerte – om in my bed te klim en die naweek om te slaap.
“OK, ons kan so maak,” sê ek ter wille van die vrede.
En ek weet ek gaan vanaand my alie sien. Sonder ‘n spieël.

EK DANS GRAAG EN EK dans goed. Normaalweg. Maar vanaand hou ek skaars ‘n uur, toe’s ek dood op my voete. Madelein jol vrolik voort met al wat voorkom; van my ellende is sy onbewus. Of dalk gee sy doodgewoon nie om nie. Ek strompel na buite, trek die stadslug gulsig in my longe in.
Uit die verligte saal kom Elaine uit op die skemer stoep. Sonder haar uniform en professionele glimlag lyk sy klein en weerloos. Maar ek weet nou van die staal onder die sagtheid. “Kom, ek vat jou huis toe,” sê sy kalm. “Ek het klaar vir Madelein gesê. Sy’t het genoeg bewonderaars om die aand verder te geniet.”
“Hoe’t jy geweet …?”
Sy vat my ferm aan die arm. “Jou ma het gevra. Sy weet julle kom gewoonlik hier dans.”
Ek’s nie eens kwaad nie, ek het eenvoudig nie die krag nie.
By die huis laat ek my doodgewillig in die bed sit. En daar bly ek vir die res van die naweek.

MAANDAGOGGEND staan ek in die chemokamer met die grootste bos blomme wat ek enigsins kan bekostig. Suster Mouton ontvang my met haar koel, professionele glimlag.
Onder haar pasiënt se skerp oë oorhandig ek die blomme formeel. “Om dankie te sê, suster. Vir alles.”
“Dis ‘n plesier, meneer Liebenberg.” Ek mis nie die blyskap in haar oë nie. Ook nie die belofte nie.
My beproewing was nie verniet nie. Dit was deur en deur die moeite werd.

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: