Man van sy woord

Man van sy woord is die laaste boek in die Man-trilogie en het in 2009 verskyn:

“Pá! Hallo, Pa!”  Die meisiestem klim hoog en opgewonde bo die geroesemoes van mense uit.

“Mignon! Kom hier, dat ek jou behoorlik kan gelukwens!” Die man se stem is ryk en diep, met die onmiskenbare Swartland-bry.

Bianca Grobbelaar vries in haar fyn spykerhakke, die twee glasies sjampanje in haar hande kantel gevaarlik.  Dit kan nie wees nie, dit kan net nie wees nie.

Maar daardie stem het sy na twintig jaar nog nie vergeet nie. Daarby hoor sy onmiddellik hy is ‘n klein bietjie bewoë, en doodverleë daaroor. Dis Lourens se stem, diep en bekend met die Swartlandse bry wat Mignon ook geërf het. Lourens is terug. Na al die jare is haar wegloopman terug.

Sy sluit haar oë ‘n oomblik te midde van die gemaal van menselywe, die vrolike gelag en gepraat van opgewonde jongmense met ‘n splinternuwe graad netjies opgerol in die universiteit se maroen houertjie in die hand; van trotse ouers wat stralend in die son poseer vir daardie onvervangbare foto vol voldoening en trots..

Toe draai sy uiterlik kalm om na die man wat sy vir amper twee dekades uit haar hart probeer weer het, die man wat sy effektief uit hulle kosbare kind se lewe geweer het.  Of so het sy gedink.

Niks is meer dieselfde nie.  Sy’s nie meer die effens bedorwe rykmanskind wat op skaars twintig met ‘n moeilike baba en ‘n ambisieuse man gesit het en nie die skietgoed gehad het om om daarmee te cope nie. Nee, sy’s vandag ‘n volwasse vrou, ‘n sterk vrou wat weet wat sy uit die lewe wil hê. Sy het haar kind alleen grootgemaak, sy’t haar besigheid gevestig. Foute het sy wel gemaak, en baie daarvan. Maar sy en Mignon het anderkant uitgekom. Sonder Lourens Grobbelaar.

Hy staan met sy dogter in sy arms asof hy haar nooit weer gaan los nie. Bo-oor haar kop kyk hy na Bianca, ‘n kyk wat baie dinge sê, ‘n kyk wat sy nie kan lees nie.

Dalk kon ek hom nooit lees nie, dink Bianca. Dalk het ek dit net nie besef nie.

“Lourens,” sê sy en haar stem klink ver en vreemd.

“Hallo, Bianca,” sê hy, sy stem neutraal, sy donker oë reguit in hare.

Mignon draai haar stadig uit haar pa se arms, maar bly styf teen hom, asof sy wil seker maak hy verdwyn nooit, nooit weer uit haar lewe soos toe sy ‘n wipstert kleuter met blou pieringoë en astrante boksterte was nie.

“Mamma, moenie kwaad wees nie – asseblief, Ma!” Haar oë is nat en smekend, haar regterhand klou aan Lourens se mou, haar linkerhand met die astrante diamantjie gryp angstig na haar verloofde se hand. Lukas Bezuidenhout Jnr. vat die grypende hand met sy eie linker vas, steek sy regter oorkruis na Lourens uit met sy kenmerkende gulheid: “Oom Lourens – uiteindelik! Aangenaam, baie aangenaam.”

“Aangenaam, Loekie. Dis ‘n blye dag vir my.”

Bianca staan die toneeltjie stom en aankyk. Hulle het kontak gehad, hierdie ding is lank beplan. Vir jare en jare is daar geen taal of tyding van hom nie, maar steeds het sy kind die verspotte droom gehad om in sy voetspore te volg. Dit lê al swaar genoeg op Bianca se gemoed. Maar noudat al die bloed en sweet verby is, nou is hy skielik by om in die glorie en vreugde te deel. Dis geen toeval dat haar verveemde pa hier aangesit kom op die dag waarop Mignon haar ingenieursgraad verwerf nie.

Hulle het agter haar rug gekonkel, hulle het haar bedrieg, beduiwel, ondergrawe, geminag.

“Ek wag in die motor.”

“Má …” Maar sy luister nie na haar kind nie. Sy loop blind weg oor die groen gras, weg uit die uitbundige skare, weg van die gebou waar sy vanoggend met soveel vreugde en trots al haar grimering afgehuil het toe hulle daardie geel band om haar kind se skraal skouertjies hang.

Haar onpraktiese hoë hakke swik op die gras, haar uitbundige uitrustig hang verlep aan haar moeë lyf. Die Desemberson het verdof oor die Pieke, die tortels in die kroondenne aan die voet van die berg se lied het verstom.

Lourens is terug. Hy het gekom om sy kind terug te vat, soos hy daardie dag belowe het toe sy in blinde woede sy laaste klere deur die woonstelvenster agter hom aan gesmyt het. “Ek is ‘n man van my woord, Bianca,” het hy kalm gesê, sy oë geskreef teen die son toe hy opkyk na haar. “En dit belowe ek jou vandag – ek sal terugkom. Jy sal my kind nie vir altyd van my kan weghou nie.”

Sy klim nie in die kar nie. Dis in elk geval te warm. Sy skop haar onpraktiese skoene uit en begin aanstap na die Eersterivier wat onversteurd voortkabbel oor sy wit klippe, koel onder die groen van sy eikebome, swaar aan herinneringe van tallose studente wat op sy oewers al beloftes gemaak en beloftes verbreek het. Sy leun uitasem oor die bruggie en huil bitter trane van skok, verwarring en ‘n verskriklike gevoel van eensaamheid.

Niks is meer dieselfde nie, sê sy oor en oor vir haarself. Maar toe sy hand oor haar skouer sluit, weet sy niks het ook verander nie. Hy is ouer, ja, soos sy ook. Maar steeds te aantreklik vir sy eie gesondheid, die donker hare nou gestippel met grys, maar steeds baldadig aan die krul oor sy kraag, sy oë steeds donker en driftig, sy stem pynlik bekend.

En haar eie hart? Het enigiets daar verander? Een ding is seker: verwyt, woede, bitterheid is daar genoeg. Maar is dit al?

“Moenie ons kind se dag bederf nie, Bienkie.” Die ou troetelnaampie kom gemaklik oor sy lippe, asof soveel jare nie tussen hulle lê nie.

“Ek is nie meer jou Bienkie nie– en sy’s mý kind, Lourens! Jy’s niks van haar nie! Hoor jy my? Niks!” Sy wens blindweg sy het nog lang, rooi naels gehad om ‘n pad oor sy mooi gesig te trek. Maar haar naels is deesdae prakties en kort  en sy’s nie meer die onvolwasse snuiter wat alles met trane en histerie wou regmaak nie.

“Ek was ook daar. Of het jy vergeet? Dit was nie ver hiervandaan nie.”

Sy swaai verskrik van hom weg, gryp die reëling van die bruggie vas. Nee, sy het nie vergeet nie. Nie ‘n enkele sensasie van haar eerste oorgawe aan ‘n man het sy ooit vergeet nie. Nie die reuk van gekneusde kappertjieblare nie, nie die fluistering van die rivier nie, nie die volkome tuiskoms van haar lyf teen syne nie.

En ook nie die yskoue skok en woede toe sy na daardie enkele vreugdevolle vergryp waaragtig swanger is nie.

“Dis verby, Lourens. Ek het dit lankal agtergelaat.” Sy dwing haarself om terug te draai en hom vol in die gesig te kyk. “Dit beteken vir my niks.”

Hy kyk haar lank aan. Sy donker wenkbroue loop steeds saam as hy befoeterd frons; daar’s fyn waaierplooitjies om sy oë. “Dit lieg jy, Bienkie. Nie een van ons sal dit ooit vergeet nie.”

“Jy matig jou aan, Lourens. Jy weet niks meer van my nie.” Kalm, bly net kalm. Dis genoeg dat haar gesig pofferig gehuil is, haar hare in wanorde. Hy hoef nie te weet dat haar hart opnuut aan flarde geruk is toe sy omdraai en hom in die son sien staan met sy dogter in sy arms nie.

“Jy’s verkeerd. Maar kom, ons gaan maak eers ons dogter se dag vir haar die hoogtepunt wat sy verdien.” Hy bied sy arm vir haar aan, trek dan self haar arm deur syne toe sy stokstyf bly staan, vou haar vingers in syne toe.

Soos in ‘n droom stap sy terug na die motor waar Mignon en Loekie angstig wag.

“Mamma, moenie kwaad wees nie!” Mignon se grimering is ook alles af gehuil, haar oë rooi en bang, haar mond steeds aan die bewe. “Ek is só jammer ek het Ma nie gesê nie! Maar ek kón net nie – ek het mos geweet Ma gaan woedend wees.”

“Dis niks, my kind. Kom, ons gaan eet daardie koningsete wat ons onsself belowe het.”

Maar dis nie niks nie, hoegenaamd nie.

Sy’t haar ryksmansleefstyl lankal agtergelaat, lankal besluit die tyd van sorgvry teer op die klein fortuin wat haar pa en sy pa versamel het, is verby. Sy hang nie meer alles wat sy het aan haar lyf nie; ‘n groot, groot bedrag het sy ingestoot in die vestiging van haar besigheid, die bou van haar droomhuis, die ontwikkeling van die kleinhoewe.

Maar sy veroorloof haar hierdie één klein plesiertjie: haar motor. Speels en meisiepienk en kookwater, dis haar karretjie. Om verstandig en verantwoordelik en volwasse te wees is een ding, maar vaal en vervelig is gans ‘n ander. En hiervan kan jy haar karretjie nie beskuldig nie.

Loekie het saam met Bianca gradeplegtigheid toe gekom, aangesien Mignon al vooraf daar moes wees. Nou boender sy hom egter vinnig by Mignon in die kar, ten spyte van sy besware. Sy ken dié tweetjies, hulle sal in elk geval eers graag êrens op ‘n mooi plekkie ‘n rukkie wil alleen wees voor hulle saam met die familie begin vier.

Dis egter eintlik sý wat ‘n paar alleen-oomblikke op ‘n mooi plekkie nodig het – om haar asem terug te kry, haar emosies ten minste op die oog af onder beheer te kry. Maar dis veral die woede wat sy moet vasvat, en vinnig ook; die verskriklike woede teenoor Mignon én Loekie, omdat hulle agter haar rug met Louerens kontak gemaak het.

Met presies en waar en hoe hulle hom opgespoor het, het sy vrede. Net soos sy nie ‘n dooie duit omgee hoe hy by die gradeplegtigheid gekom het en hoe hy by die ete gaan kom nie. Of waar hy deesdae bly en wat hy presies doen en … en …

Sy laat die uitgestrekte sportvelde van Coetzenburg agter, glip op die stil pad bokant die universiteitskoshuise verby en stoot haar karretjie se plat neus Helshoogte uit. Sy en gee haar roekeloos oor aan die spoed en die wind. En probeer hard om nie te dink aan die koshuismaat van Lourens wat in hulle studentetyd op hierdie einste pad verongeluk het juis vanweë ‘n oormaat spoed en roekelose plesier nie.

Die plantasies skiet in gelid by haar verby, die vakke aangeplante proteas en tolbosse, die luukse gastehuise, plaasopstalle, vrugteboorde. Sy ry heeltemal te vinnig, maar haar gedagtes hol steeds soos mal perde agtertoe, altyd agtertoe. Na die goeie tye en die minder goeie tye; die tye van ekstase en die tye van ontgogeling.

Dis egter die verskriklike alleenheid wat sy die beste onthou, die algehele verlatenheid toe Lourens daardie dag sy laaste kledingstukke in die straat opgetel en met sy ou tweedehandse motortjie uit haar lewe weggery het. Uit haar lewe en dié van hulle verwarde kleutertjie wat nagte lank gehuil het oor haar pappa – en daarna nooit weer oor hom uitgevra het nie.

Vir baie, baie jare is daar nooit oor Lourens gepraat nie. Eers omdat sy nie kon nie, later omdat sy nie geweet het hoe nie, nog later omdat sy haarself oortuig het sy wóú nie.

Maar eintlik het sy haarself wysgemaak as sy dit kan regkry om hom volkome te ignoreer, sal die pyn dalk wegraak. Iets soos ignoreer die probleem en dit sal weldra verdwyn.

Helaas, dit het nie gewerk nie. Soos die spreekwoordelike seekoei onder die koffietafel, het Lourens ‘n teenwoordigheid in haar en Mignon se lewens gebly.

Deur Pniël se smal straatjies moet sy noodgedwonge spoed verminder. Daar’s kinders en honde en rustige oumense op straat, hier en daar is ‘n motor op bakstene in ‘n agtertuin, die begrafplaas aan die rand van die dorp is sorgvuldig skoongemaak en netjies versorg.

Sy’s natuurlik los voor die ander op die wynlandgoed. Dis buitendien nog vroeg, heelwat tyd voor middagete. Sy parkeer onder ‘n stokou akkerboom en stap sommer ‘n koers in. Net ‘n bietjie asem skep, dan gou kleedkamer toe en haar gesig in orde kry. Dan ‘n vriendelike glimlag opsit ter wille van haar kind, mooi praatjies maak vir die duur van die ete, hoflik wees teenoor Lourens. Dis al wat sy hoef te doen.

Daarna kan sy aangaan met haar lewe.

Daar’s geen rede waarom sy Lourens ná vandag ooit weer hoef te sien nie. Net hierdie paar uur oorleef, dan’s dit verby en hy sal teruggaan na waar hy ookal vandaan gekom het.

“Mens, maar jy kan darem ry!”

Sy swaai om, al sê haar verstand vir haar om aan te hou loop. Hy kom met lang treë oor die gras na haar toe aan, ‘n mooi man, steeds skraal en atleties, donker en soms befoeterd soos toe hy twintig was.

“Dis ‘n vry land.”

“Met ‘n skokkende ongeluksyfer.”

“Het jy gekom om vir my te kom preek?”

“Nooit! Jy weet mos ek’s nie een vir preek nie!” Sy mondhoeke trek na bo, maar so oë bly ernstig. Lourens het haar destyds mal gepreek – oor haar spandabelrigheid, haar onverantwoordelikheid, haar wispelturigheid. Sy het hom uitgemaak as droog, oorverantwoordelik en ‘n ongeneeslike spoilsport. Vandag vermoed sy natuurlik dat sý die onvolwasse, bedorwe en selfsugtige een was.

Die lewe het haar ‘n hele paar lessies geleer. Maar sy weet nog steeds nie hoe hierdie man te hanteer nie. “Staak jou simpel grappies, man,” sê sy dus stram. “Vir wat moes jy nou juis vandag uit jou kassie kom spring?”

“Mignon wou my graag by haar gradeplegtigheid hê.”

“Maar ek nié.”

“Dink jy nog steeds die wêreld draai net rondom wat jý wil hê, Bianca?”

“Die wêreld draai vir my rondom my kind.”

“Sy’s my kind ook.”

“Wat jy weggegooi het.”

“Uit wie se lewe jy my weggejáág het.”

In hul woede kom hul teenoor mekaar tot stilstand, soos diere wat gereedmaak om te veg. Meteens is hul gesigte naby mekaar, veels te naby. Sy oë is dieselfde diep donkerbruin van lank gelede. Come to bed eyes. Slaapkameroë. “Jy’s nog net so mooi, Bianca.” Sy hande pas soos vanouds om haar skouerknoppe. “Nee, mooier. Ryp, volwasse.”

Die jare raak weg asof hul nooit bestaan het nie, haar lyf roep steeds uit na hierdie man. “Vat jou hande van my af, Lourens.”  Sy klink nie sexy en seker nie; sy klink bitter klein en bang. Presies soos sy voel.

Hy lig sy hande dadelik in ‘n oordrewe gebaar, laat hang hulle ‘n oomblik  in die lug bokant haar skouers, asof hulle nie die aantrekkingskrag van haar liggaam heeltemal kan ontsnap nie. “Jy’s my swaartekrag, Bienkie,” het hy altyd gesê. “Jy trek my in, ek kan nie anders as bly sirkel al om jou nie.”

Sy stem is koud toe hy antwoord, terselfdertyd sy hande diep in sy broeksakke druk: “Ek sal jou nie pla nie, Bianca. Ek is hier vir my kind, nie vir jou nie.”

Toe draai hy om en stap weg oor die uitgestrekte grasperk tussen pers agapantus en krismisrose na waar Mignon en Loekie en sy ouers nou stilgehou het voor die statige ou plaasopstal.

In die kleedkamer staar Bianca lank na die bleek vrou in die spieël. Toe spat sy koue water oor haar gesig en herstel met hande wat effens bewe die ergste skade aan haar grimering. Maar die verwarring in haar oë kan nie met ‘n kwas weggetoor word nie; die benoude klop van haar hart kan nie deur haar vasberade asemhalingsoefeninge tot bedaring gebring word nie.

Wat ‘n feesdag moes wees, het hy vir haar in ‘n nagmerrie kom verander.

Sy huiwer in die deur van die sitkamer waar groepies mense besig is om drankies te geniet voor die ete. Die hoë mure, die soliede dakbalke, die blink plankvloere, alles vloei saam tot ‘n eenheid van stylvolle grasie, koel rustigheid. Rose, agapantus en krismisrose uit die tuin pronk op stategiese plekke in glansende koper voor swaar vergulde spieëls; rustige fluitklanke sypel van êrens agter die swaar brokaatgordyne uit.

Mignon en Loekie sit styf teen mekaar, hul hande ineen gestrengel, al hul aandag op Lourens gerig. Oorkant hulle sit Loekie se ouers, Lukas en Helena Bezuidenhout. Ook hulle luister geïnteresseerd na hom. Hy kon altyd mense se aandag kry en hou met daardie rustige brystem, die hande wat beduie, die oë wat maklik lag.

“’n Mens raak dit gewoond,” sê hy nou. “Die wit van die sneeu help ook om die algemene indruk van donkerte te verlig.”

“Nee, o aarde, gee my maar liewer ons hitte,” sug Helena Bezuidenhout.

“Ek sal jou in Februarie herinner aan jou woorde, vrou,” lag haar man, staan dan op toe hy Bianca opmerk. “O, hier is die moeder van onse graduandus! Kom, laat ek jou ordentlik gelukwens!”

Die groot, donker man wat soms so bot kan voorkom, se arms vou gemoedelik om haar. Hy weet presies hoeveel vasbyt het dit Mignon gekos om haar graad te behaal ná sy geen topstudent op skool was nie en boonop eers twee jaar na matriek begin swot het. In die jare van Mignon en Loekie se verhouding het hy en Helena vir Bianca twee dierbare vriende geword. Oor sy skouer sien sy in Helena se oë begrip vir die warboel waarin Lourens haar vandag gedompel het.

“Dankie, Lukas.” Sy probeer tevergeefs die trane wegknip. “Dis dierbaar van julle om tyd af te knyp by die praktyk en Helena se winkel om saam met ons te kom vier.”

“Jy weet mos ons sal dit vir niks mis nie.” Helena se drukkie is meer as blote gelukwense, daar is duiweltjies in haar oë. “Mooie man,” mompel sy ondeund in Bianca se oor.

“Ma, kom sit hier langs my,” nooi Mignon senuweeagtig.

“Wat sal jy drink, Bianca?” vra Lourens en wink na ‘n kelner. “Jy al leer rooiwyn drink?”

“Nee, dis steeds wit, dankie, Lourens.” Hy’t onthou – wat onthou hy nog alles?

Sy gaan sit langs Mignon, vou haar hand gerusstellend oor dié van haar enigste ooilam. Niks en niemand sal ooit weer tussen haar en Mignon kom nie, selfs – en veral – nie eens die kind se eie pa nie.

Die mans sak weer gemaklik terug in die luukse leerbanke. “So hoe lank was jy in Noorweë, Lourens?” vra Lukas.

“’n Goeie tien jaar. Dis regtig ‘n wonderlike land – ongelooflik mooi, ‘n fantasties georganiseerde samelewing. Die mense moet jy net leer verstaan en aanvaar – nie so oop en joviaal soos ons mense hier nie, nie groot praters met vreemdelinge nie.”

“En nou? Wat is jou planne nou?” Helena kyk Lourens streng aan oor haar glas. Enige aap kan aanvoel sy praat van veel meer as sy beroepsplanne. Bianca sou kon lag kry as sy nie so gespanne was nie. Dis nie elke ou wat kan staande bly voor daardie priemende blou blik nie.

Maar Lourens kyk rustig terug, kruis sy bene gemaklik voor hy praat. “Ek is nie haastig nie, die tyd sal leer. Maar ek weet twee dinge: Ek is hier om te bly, en die Kaap is waar ek wil wees.”

Bianca sit versteen langs haar dogter. Die afgrond wat vanoggend voor haar oopgegaan het, raak net dieper en wyer. Nie alleen het Lourens met Loekie en Mignon kontak gehad nie, nee, dis hy wat die idee om in Noorweë te gaan werk in hulle koppe ingeprent het. En seker nog toutjies getrek het om dit moontlik te maak ook.

Is dit sy idee van wraak? Om die kind wat sy hom nie gegun het nie, nou as volwassene te kom terugeis?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s