Man van min woorde is die eerste boek in die Man-trilogie en het in 2008 verskyn:
Die oomblik toe die voordeur oopgaan, is die yslike hond op haar en oor haar. Francesca klou aan haar wankelende ewewig en ruk haar kop so vinnig weg dat ‘n steekpyn deur haar arme nekwerwels skiet. Die uitbundige rooi tong kry nietemin ‘n skrams lek of twee in. Teen die tyd dat sy die aanslag afgeweer het, is sy bleek en bewerig en skoon uitasem geskrik.
Dit kon seker erger gewees het – dit kon být in plaas van lek gewees het.
Sy kan maar netsowel omdraai en huis toe ry. Die geverfde modepoppie by die dierehospitaal het sekerlik iemand anders in gedagte gehad. Hierdie mnr. Van der Merwe lyk nie vir haar na die betroubare teler en afrigter van Duitse herdershonde waarvoor sy hom uitgemaak het nie. Hy het vervlaks netso min beheer oor sy hond as die man in die maan. Francesca het ‘n goedgemanierde metgesel en beskermer in gedagte, nie ‘n onbeheerbare bondel spiere wat met sy twee yslike voorpote teen jou bors vastrap en jou gesig betakel met sy nat tong nie.
Maar sy word verras: “Inge, af!” beveel Van der Merwe streng. ‘n Meisiehond dus. Snaaks, maar sy is bly. Die manlike spesie bly maar vir haar ‘n geslote boek. Of dit nou mens of dier is, hulle het altyd ‘n paar trieks in die hoed om ‘n vrou te verwar.
Tot haar stomme verbasing gehoorsaam Inge onmiddellik.
Sy sien nou eers die man agter die hond behoorlik raak. Duidelik ‘n man wat nie nonsens van kabouters vat nie. Sy gesig is streng en sy oë kyk reguit, sonder skroom. Maar koel, afstandelik. “Inge, sit!” En waaragtig – Inge sit.
“Inge, groet!” Die hond se regterpoot gaan sonder huiwering na haar uit. Francesca vat die poot half verleë en kyk in die slim bruin oë.
En verloor haar hart net daar op die plek.
“Ek is Francesca Badenhorst,” sê sy met ‘n stemmetjie wat syself amper nie herken nie. Sy’s sowaar skoon bewerig geskrik vir die pragtige hond se onskuldige verwelkoming.
Die man se hand is koel en afsydig, soos sy oë. “Ek weet, kom binne. Inge, plek!” Die ontvangsdametjie by die veeartse het hom dus laat weet van haar oproep, haar seker nog aan hom beskryf ook.
Francesca kyk verstom hoe die hond gretig na haar baas se linkerkant beweeg en afwagtend na hom opkyk. Genoemde linkerkant lyk nie te sleg nie. Haar oë vee vinnig oor die regterkant ook – ja, sag op die oog. Dis nou te sê as jy van die sedige, skoon voorkoms hou. Persoonlik was sy nog altyd ‘n meisie vir bultende spiere, ontwerperstoppels en ‘n goeie skoot testosteroon.
Nie dat dit haar nog veel in die sak gebring het nie. Behalwe die seker wete dat die manne met die spiere nie noodwendig die manne met die verstand of die hart is nie. En die genade dat sy nie vir Siebert met sy martelaar-voorkoms geval het nie.
Sy stap half skrikkerig voor die man die huis in. ‘n Mens weet nooit of daar dalk nog êrens ‘n trop honde gaan uitpeul nie. Dis netjies, maar onpersoonlik. ‘n Huis met nie veel van ‘n hart nie. Anders as die tuin, wat ‘n weelde van kleur en tekstuur is. Definitief nie ‘n tuin waarin honde vrye teuels gegee word nie. Tog net nie ‘n puppy factory waar honde in aaklige omstandighede aangehou word en eenvoudig net moet aanhou en aanhou kleintjies kry om vir hul base geld in die sak te bring nie!
Van honde weet sy soveel soos ‘n kat van saffraan, maar vir wreedheid – van enige aard – het sy nie ooghare nie.
Sy soek tevergeefs na foto’s van honde of rakke vol trofeë. Al wat sy sien, is rekenaars by die dosyne, in elke moontlike stadium van aftakeling, op elke moontlike oppervlak.
Dalk is sy by die verkeerde huis, maar die aanwysings was tog duidelik. Dalk het die popsie by die dierehospitaal haar vir die gek gehou. Of dalk stel hierdie man bloot nie daarin belang om ‘n enkele hond te verkoop nie. Maar waarom dan sy verwysing by die veeartse gee?
“Sit.” Praat hy nou met haar of met die hond? Sy gaan sit haastig op die naaste stoel. Normaalweg laat intimideer sy haar nie sommer nie, maar hierdie mansmens se koel afstandelikheid vang ‘n mens onkant. En haar selfbeeld is hoeka nie wat hy moet wees nie, om dit nou sagkens te stel. Weer eens te danke aan Siebert Jooste.
Hy gaan oorkant haar sit, die hond nou doodrustig aan sy voete, terwyl haar slim oë die hele tyd vertrouend opkyk na hom.
Genade, soveel aanbidding en gehoorsaamheid kan vir geen mens goed wees nie, al kom dit van ‘n hond. Die mansmens dink natuurlik hy kan die res van die skepping ook so gemaklik manipuleer.
“Hoekom laat jy jou hond toe om ‘n niksvermoedende besoeker so te bespring?” Dis sweerlik nog nattigheid van Inge se tong wat sy in haar nek kan voel. Sy vee vies oor die vaal streep wat op haar hemp agtergebly het van die entoesiastiese verwelkoming. Dis ‘n ou hemp, maar dis die beginsel wat tel – sy soek nie ‘n onbeheerbare dier nie.
Maar Inge is nie ‘n onbeheerbare dier nie, dis tog nou so duidelik soos daglig. Het die man Inge met opset toegelaat om haar so te bespring? Put hy een of ander perverse plesier daaruit om besoekers so te verskrik?
“Iemand wat deur hulle grootte geïntimideer word, is nie geskik om ‘n Duitse herdershond te hanteer nie.” Sy gesig versag onmiddellik toe hy sy hand laat sak en Inge goedig om die ore vryf, soos hy ook gedoen het na elke bevel wat sy so stiptelik uitgevoer het.
Francesca sug innerlik. Hy is gemakliker met honde as met mense.
Hy’t ook seker maar êrens ‘n skrik gekry, ‘n stel of twee afgetrap. Wel, dit het niks met haar te doen nie. Sy het tog regtig nie krag vir nog ‘n verwonde siel nie.
En vervlaks of sy haar gaan laat afskrik. “So dis ‘n toets?” vra sy op die man af. “Pluk jy altyd jou voordeur oop en laat jou hond elke voornemende koper so bespring? Ek kan nie glo jy kry ooit ‘n enkele hond verkoop op hierdie manier nie!”
Aan ‘n gebrek aan woorde het sy nog nooit gely nie. As Hendrik van der Merwe net in enkelsinne kan praat, moet hy nie dieselfde van haar verwag nie. Sy was nog nooit goed met woorde tel nie en sy is ook nie van plan om nou te begin leer nie. Vervlaks of sy ‘n persoonlikheidsverandering sal ondergaan net om een van sy gesogte honde in die hande te kry.
Sy gesig vertrek nie ‘n spiertjie nie, maar die lyftaal spel dit duidelik uit: bly weg, los uit! “Jy kan dit seker so stel.” Die arms wat hy oor die netjiese hemp se bors vou is skraal, maar gespierd. En net sonbruin genoeg om te wys hy bring nie al sy tyd hier tussen die rekenaars deur nie. Dalk ‘n tennisspeler. Persoonlik het sy g’n erg aan ‘n gehardloop agter ‘n bal aan nie. Of dit nou rond of ovaal, hard of sag, klein of groot is – dit laat haar koud.
“En ek het gedop, neem ek aan?” Onwillekeurig vou sy haar eie dun, wit arms oor haar ontoereikende bates. Hierdie man moenie kom staan en torring aan haar nie; hy kan dalk meer kry as waarop hy gereken het. Sy is nou al weke lank onrusbarend kalm ná Siebert die pad gevat het – êrens gaan sy ontplof, en dit gaan nie ‘n mooi gesig wees nie.
“Ongelukkig, ja.” Die koel, blouerige oë kyk haar reguit aan.
Wel, wat ‘n hond betref is dit dan tot daarnatoe. Smeek gaan sy in elk geval nie; daar móét tog êrens in die Kaap nog ‘n teler wees. Dalk een met sosiale vaardighede, iemand wat werklik daarin belang stel om sy honde te bemark. Hendrik van der Merwe kort definitief ‘n kursus in verkoopstegniek. Of dalk bloot in goeie maniere.
“Dan sal ek jou nie langer pla nie.” Sy kry haar handsak van die vloer af en staan op. So dis dan dit – sy gaan nie vir hom óf sy hond weer sien nie.
Die tamheid wat die laaste tyd soos ‘n bloedhond op haar spoor bly, sak genadeloos oor haar toe. Sy voel soos ‘n ballon wat geprik is, die entoesiasme wat sy met soveel moeite opgewerk het vir hierdie projek eensklaps en volkome daarmee heen.
Inge se ore lig belangstellend, die mooi oë draai vraend na haar toe. Wat ‘n pragtige dier! Sonder om te dink, sak Francesca op haar knieë neer en druk haar brandende gesig ‘n oomblik teen die sagte pels. Die behoefte aan iets moois om lief te hê, lê swaar in haar binneste; die wonde wat Siebert op haar ego gelaat het, is nog rou en pynlik.
Is dit die grootste behoefte wat Siebert by haar vervul het – die behoefte aan iets om te versorg en te vertroetel? Wel, dan behoort ‘n hond uitstekend te werk. En beslis minder moeite en komplikasies as ‘n man mee te bring.
Francesca is gewoond om mans vierkant in die oë te kyk, maar hierdie een kyk gemaklik op haar af toe hy ook orent kom. Sy kry ál meer die gevoel van verskuilde krag onder die kalm oppervlak. “Ek laat my nie sagmaak nie.” Sy oë is nie heeltemal blou nie, daar skuil groen ook in die koel dieptes.
Sy probeer nog diep asemhaal, maar dis klaar te laat. Die woede, die vernedering en teleurstelling, die angs en ontreddering van die afgelope weke borrel soos lawa na bo. “Hoe durf jy? Hoe durf jy die een oordeel na die ander fel oor iemand wat jy van geen kant af ken nie? Jou hond is pragtig, sy is absoluut pragtig en ek is mal oor haar en sy weet dit en aanvaar dit, maar jy sit hier op jou troontjie en skryf my summier af net oor ek geskrik het toe sy teen my opspring! Het jy nie ‘n ma wat jou kan maniere leer nie? Hoe kry jy ooit ‘n hond verkoop as dit is hoe jy besoekers ontvang?” Sy bewe van kop tot tone; sy is lus en slaan die man met haar handsak of iets oor sy arrogante kop.
“Sit. Ek maak vir ons tee.” Sonder om ‘n oog te knip oor haar tirade.
Verstom gaan sy sit. Meteens wens sy alles was so eenvoudig soos hy dit laat lyk. Van verskuilde agendas en verborge motiewe het sy in haar lewe al genoeg gehad. Sy bly doodstil sit, haar hande vou instinktief om die kop van die hond wat gerusstellend teen haar bene kom aanleun het. Haar angstige vingers kom gretig tot rus in die sagtheid van die pels, die wakker oë kyk met die grootste vertroue na haar toe op.
Wat sy ookal van die man dink, agterdogtig teenoor mense is sy hond beslis nie. Inge is definitief nog nooit deur iemand afgeknou of verskree nie; sy lyk ook nie afgerem deur te veel kleintjies of swak voeding nie. Inteendeel, sy lyk stralend gelukkig en ultra-gesond; die neus lekker nat, die ore penorent, die pels glansend en glad.
Dalk het sy te vinnig geoordeel. Dalk het Hendrik van der Merwe net met sy verkeerde voet uit die bed opgestaan.
Dit was Nicola se gek idee dat sy ‘n hond moet kry, ‘n groot hond wat beskerming en geselskap kan verskaf. Wat sy – of Nicola – van honde af weet, is gevaarlik. Maar die groot huis weerklink hol om haar ná Siebert se vertrek, die alleenheid dawer oor die blink plankvloere, bly hang onder die hoë plafonne, skree na haar uit die kaal kolle waar hy sy paar skilderye afgehaal het voor hy uit haar lewe weggery het. Al het hy sy eie kamer bewoon en hom dikwels daarin teruggetrek as een van sy donker buie op hom toesak, was hy darem altyd dáár. Sy kon die vreeslike stilte na haar ouers se dood tot ‘n mate besweer met Siebert se veeleisende teenwoordigheid.
Maar nou het die alleenheid haar konstante metgesel geword. En mettertyd het Nicola se belaglike plan vir haar al minder belaglik begin klink. Tot sy haar moed bymekaar geskraap en begin navraag doen het.
Haar arms gaan vanself om Inge se nek, sy voel die krag én die sagtheid in die lenige lyf. Dit moet ongelooflik wees om jou huis – jou lewe – met so ‘n lieflike dier te deel. Maar sy’t klaar gedop; sy sal nooit in staat wees om so ‘n groot hond te leer en te beheer soos hierdie man nie. ‘n Kat sal dit maar
moet wees, ‘n kat en ‘n skietding, afgryslike gedagte wat dit is. Veiligheidshekke en diefwering en ‘n alarm het sy klaar; die huis se inhoud is eenvoudig te waardevol om kanse te vat.
Maar katte is merendeels oor hulself besorg; hulle gee nie die soort onvoorwaardelike liefde wat uit Inge se helder oë straal nie.
“Hierso. Melk?” Hy plak ‘n skinkbord sonder lappie, met onpaar koffiebekers en melk netso in die kartonnetjie sonder seremonie op die tafeltjie langs haar neer. Ten spyte van die gebrek aan afronding styg die geur van sterk tee teen die daaglikse katastrofes gerusstellend na haar op.
“Nee dankie.” Nou’t sy ook stom geraak, heel van taal af oor die onverwagse goedheid van die man wat nou twee lepels suiker by haar beker inroer en dit sorgsaam vir haar aangee.
“Waarom is jy so ontsteld?” Hy roer sy tee nadenkend terwyl hy na haar kyk met sy seewater-oë wat nou glad nie meer koud lyk nie.
“Oor jou ongeskiktheid, natuurlik.” Die tee brand ‘n warm paadjie in haar keel af, vorm ‘n klein, warm kolletjie net daar waar die leegheid en verskrikking so stewig nesgeskop het. Sy ondervind moeite om hardekwas te klink. Huil, dis waarvoor sy nou lus is. Lank – en hard. Sy sluk verbete. Hy mag dalk gawer wees as wat hy lyk, maar voor sy voete verkrummel in trane? Aikona.
“Ek was nie ongeskik nie, net reguit. En jy is buite verhouding ontsteld.” Nee, ‘n ongepoetste vent is hy nie regtig nie, eerder iemand wat besonder fyn kan waarneem.
Sy onderdruk met moeite die belaglike begeerte om hierdie vreemdeling alles te vertel. Sy sluk nog ‘n keer en fokus vasberade op die honde-kwessie: “Dit was gemeen van jou om die hond so op my los te laat. Hoe moes ek geweet het sy gaan nie byt nie? Doen jy dit altyd met voornemende kopers?” Dit werk, sy begin alweer warm raak onder die kraag van haar afgeleefde t-hemp. “Verkoop jy ooit ‘n enkele hond?”
Dankie tog sy het in haar oudste klere hier aangekom, Inge se verwelkoming sou korte mette gemaak het met haar gewone vloeiende klere en baie krale. Gelukkig maar dat sy die laaste tyd haar gewone sinnigheid vir mooi aantrek kwytgeraak het. Hopelik net tydelik. Al was Siebert se komplimente vals en leeg, was dit steeds lekker om te hoor, goed vir haar stukkende siel na haar ouers se dood.
Siebert Jooste het net haar tjekboek in die oog gehad. Hy het êrens gehoor van die jong kunshandelaar wat haar ouers se klein fortuintjie en kosbare huis-cum-galery geërf het, en hy’t toegeslaan.
Sy sal moet bykom; Siebert was ‘n oordeelsfout, dis al. En dank die goeie Vader haar hart is ongeskonde. Dis net die brose vroulike ego wat op die oomblik nie te goed lyk nie.
“Ek het geweet jy kom. Mignon waarsku my altyd as sy dink ‘n potensiële koper is nie geskik vir my honde nie. Maar sy weet ek wil almal self ontmoet en my eie besluite neem. Partykeer het mense net ‘n bietjie inligting en aanmoediging nodig.”
“Dis gemeen!” Sy sit haar beker hard neer en kyk hom woedend vol in die gesig. “Dis absoluut gemeen! En wie is Mignon miskien? Die popsie by die veearts?” Sy onthou die bottelblonde hare, die slaappopoë, die vol, rooi lippe. Klein merrie! Nog nat agter die ore, en matig haar al klaar die reg aan om ‘n ander te oordeel.
“Inge of Debbie se verwelkoming skei gewoonlik die kaf baie effektief van die koring.” By die hoor van haar naam skuif Inge weer na hom, sy vingers bly vroetel liefdevol al om die waaksame ore.
“So ek is nou deel van die kaf?” Sy’s so kwaad, sy kan stik. “Jy veroordeel ‘n onbekende summier op grond van wat daardie bogkind vir jou sê?” En hou natuurlik snags haar bed vir haar warm. Maar dit kry sy darem op die nippertjie teruggebyt.
As dit oor sy honde gaan, sukkel hy duidelik nie met ‘n gebrek aan woorde nie: “Dis nie so erg nie. Ek laat gaan net nie my honde na enige Jan Rap of sy maat nie. My kopers moet ingelig wees, bereid om die verantwoordelikheid van so ‘n groot en intelligente hond op hulle te neem. Elke ernstige teler het maar sy maniere om voornemende kopers te toets.”
So dis hoe hy haar sien. Kaf. Of Jan Rap en sy maat. Overantwoordelik.
Verdómp.
‘n Onkeerbare behoefte om hom kwaad te maak, kom in haar op. Baie kwaad. “Natuurlik is dit so erg. En hoe seker is jy onse Mignon keur nie dalk voornemende kopers op ietwat ander gronde as wat jy dink nie?”
Sy netjiese donker wenkbroue lig vraend. “Hoe bedoel jy?”
Sy weet sy’s buite perke, maar sy’s soos ‘n wegholtrein, onkeerbaar op die afdraande. “Hoeveel hubare, aansienlike dames beveel sy ooit aan? Is dit nie dalk net die skadelose ou tannies en seniele oompies wat na jou verwys word nie?”
Hy vat eenvoudig nie die aas wat sy so skaamteloos uitgooi nie. Inteendeel. Hy strek sy lang bene gemaklik uit, sit sy beker rustig langs hare neer. Die glimlag begin in sy oë, roer die kraaispoortjies by die hoekies, plooi dan tydsaam om sy mond. Mooi om te sien. “So jy beskou jouself as hubaar en aansienlik?” Hy kyk nou met warm oë na haar, sy koudheid was net oppervlakkig.
Maar sy versluk haar nog steeds omtrent van verontwaardiging. “Dit het niks met die saak uit te waai nie!” Sy gryp weer eens haar handsak van die vloer af. “Ek loop. Dankie vir die tee.” Dis ‘n jammerte, sy’t nog skaars drie slukke gedrink. En dis lekker tee, met goeie bedoelings gemaak.
Sy’s nie gewoond deur ‘n man bedien of bederf word nie. Haar pa was uniek, enig in sy soort.
Die deursnee man is beslis beter met neem as met gee.
“Bly.” Sy hand rus net ‘n oomblik op haar bo-arm. In daardie oomblik sien sy die sonbruin en die krag daarvan afsteek teen haar bleek vel. “Ek kan nie my honde laat gaan na mense wat nie die geskikte temperament het om met so ‘n intelligente dier te werk nie.”
Sy klem die handsak angstig op haar skoot vas, asof die stomme stuk leer vol rommel haar kan beskerm teen die aanslae van die lewe. “Wat het die kind jou van my vertel?” Pleks sy maar net gebel het, maar nee, sy móét toe mos persoonlik gaan vra of hulle dalk van ‘n teler van wolfhonde weet. Sy het die hele tyd gevoel die meisietjie weeg haar met die oë, en nou weet sy sy is toe te lig bevind.
Maar nou weet sy ook dit was nie om die hondjie nie, maar wel om die halsbandjie.
“Mignon is ‘n baie bekwame ontvangsdame en as ‘n reël peil sy mense heel akkuraat. Sy’t gesê jy’s fyn gebou en fynbesnaard, te sag vir ‘n groot hond wat ferm hanteer moet word.” Sou dit nou ‘n kompliment wees? Klink meer soos ‘n beskuldiging. Sy’s kan mos nie help sy’s nie ‘n dikvellige Amasone nie, en sy’s buitendien taaier as wat sy lyk.
“En sy? Kan sy miskien so ‘n hond met gemak hanteer? Sy lyk vir my maar bitter effentjies!” Sy is meteens woedend jaloers op die meisie. As die mooie Mignon ‘n hond soos Inge kan hanteer, kan sy ook – en beter.
Maar Hendrik van der Merwe kyk haar aan of sy met die maan gepla is. “Mignon? Sy ráák nie aan een van my honde nie! Of aan enige ander dier nie.”
Fuuut! Afgeblaas is haar ballon. “Sy werk by ‘n veearts en sy hou nie van diere nie?”
“Sy hou van diere. Op ‘n afstand. Haar werk is om die ménse gelukkig te hou. Daarom laat weet sy my ook van potensiële kopers wat sy nie as geskik beskou nie, sodat ek self die finale keuring kan doen. Ek vertrou haar oordeel tot ‘n groot mate, maar ek wil self die laaste sê hê.”
“O.” Al haar veggees het haar verlaat. Sy wens sy kan net hier bly sit, in salige stilte saam met Hendrik van der Merwe en sy lieflike hond. Maar sy kan nie. Sy moet terugry na haar huis en die skerwe van haar selfbeeld begin optel.
Vir Hendrik van der Merwe moet sy in die mooie Mignon se geverfde kloutjies agterlaat. En daarmee ook die lieflike Inge en die onbekende Debbie oorlaat aan die genade van ‘n vrou wat geen ware deernis vir hulle het nie.
Sy’s verskriklik hartseer toe sy wegry. Natuurlik oor Siebert. En oor die wondermooie, hoogs intelligente wolfhond wat sy nooit gaan besit nie.
Die onverwagse besorgdheid in Hendrik van der Merwe se mooi oë het niks, maar niks, te doen met die feit dat sy met moeite die pad kan sien deur ‘n skielike stortvloed van trane nie.