Hierdie idee spook nou al ‘n geruime tyd by my. Gereelde lesers sal weet van my Dagboek van ‘n romanseskrywer. Ek kry die indruk dit word heel gereeld deur aspirant-skrywers geleees. Hopelik besef die lesers dis nie bedoel as ‘n wys hoe dinge gedoen moet word nie, maar as ‘n saamstap en leer uit mekaar se foute. As sulks kan dit vir die lesers én die skrywer van groot waarde wees.
Ek spook nou al ‘n jaar of wat om my behoefte om iets vir depressielyers te doen, te onderdruk … Want ek weet regtig nie waar ek die tyd moet kry nie. Maar die gedagte wil my nie los nie. Ek sou bitter graag ‘n kursus rofweg wou skoei op alles wat ek uit verskillende bronne geleer het en dit vir groepies mense aanbied. Maar dit is ‘n hele nuwe loopbaan – ek het gedink en gedink en besef daar is nie ‘n manier waarop ek dit met my skryfwerk kan versoen en steeds my fokus op laasgenoemde kan behou nie. Verdere nadenke het my by die moontlikheid van ‘n aanlynkursus gebring. Maar twee maande van die jaar is verby – en ek weet steeds nie waar om met so-iets te begin nie.
Tyd vir noodmaatreëls – met doelwitte wat nie bereik word nie, wil ek nie sit nie. Want elke ding wat ‘n mens jouself voorneem om te doen en dan nié gedoen kry nie, trek jou ‘n entjie af in die modder …
Voorneme: Om een keer per week ‘n paragrafie/hoofstukkie/gedagte by hierdie dagboek-in-wording te voeg.
Kom ons kyk hoe dit gaan! (En ja, ek vermoed alreeds ek gaan meer leer as die lesers.)
VRYWARING:
Aan almal wat hierdie dagboek (gaan) lees: Hierdie inskrywings is bloot ‘n poging om my eie pynlike pad te dokumenteer, met die uitsluitlike doel om moontlik iemand anders daardeur te help om groter insig/aanvaarding/kennis oor die saak te kry. Dis NIE die alfa en omega vir die hantering van depressie nie. Ek beweer NIE dat iemand wat dieselfde dinge as ek doen, noodwendig heeltemal gesond sal raak nie. (Ek is nog te bang om eens te beweer ekself kan miskien heeltemal gesond wees!). Ek glo geen twee mense se paadjie sal ooit heeltemal dieselfde wees nie. Hierdie skryfsels is doodeenvoudig ‘n poging om DALK vir iemand anders die pad ‘n bietjie ligter te maak – en natuurlik ook om self meer insig in my eie proses te verkry.
DIE KOPSKUIF:
Die dag toe my dokter my oortuig het depressie is regtig ‘n siekte en nie net my eie onvermoë om met die lewe te cope nie, was jare lank vir my ‘n (twyfelagtige!) hoogtepunt. Ek vermoed dis nie net ek wat diep in my hart dikwels gewonder het of dit nie maar eintlik ‘n persoonlikheidsfout, gebrek aan selfbeheersing, pure ondankbaarheid of die gebrek aan geloof van ‘n patetiese Christen is nie. Die diagnose van depressie as ‘n regte, egte siekte stel ‘n mens vry van (die meeste!) van hierdie simpel opvattings – dit gee jou die reg om siek te wees én daarmee saam die reg om pille te gebruik sodat jy kan beter word. Wat ‘n broodnodige stap is.
Maar aan die ander kant is dit juis ook waar die moeilikheid inkom. As ‘n mens ‘n siekte het, LY jy daaraan. Dis met daardie woordjie ly wat ek die probleem het. As ‘n mens aan ‘n siekte ly, is daar onmiddellik ‘n dimensie van passiwiteit en hulpeloosheid teenwoordig. Jy is siek, jy kan medikasie gebruik – en dan kan jy (hopelik!) gesond word. Al wat jy hoef te doen, is sluk die pille en hoop vir die beste.
Jy dink dis die hele storie – jy besef nie daar is ‘n klomp ander dinge wat jy ook self kan DOEN nie. (LET WEL: Ek sê NIE persone met depressie moet nie medikasie gebruik nie!!!) Vir my was medikasie alleen nie genoeg nie. Die kern van my probleem was dat ek die beheer aan die mediese wetenskap oorgegee het en nie besef het daar is baie wat ekself ook kan doen nie.
Ek het jare lank die pille gesluk (en dit gehaat!) en vir die beste gehoop. (En natuurlik my stryd so ver as moontlik vir ander mense weggesteek – maar dis weer ‘n ander storie.) Hoewel ek op die oppervlak gesien, altyd bly funksioneer het, wou dit nooit permanent goed gaan nie. Vir my het dinge eers begin verander toe ek self begin beheer neem het en dinge begin vind het wat my kan help oorleef. (Die baie kilo’s wat ek deur die jare afgestap het, was een van dié dinge.) Vir jare het ek dit onbewustelik gedoen deur maar net te probeer cope so goed ek kan. Elke keer wanneer ek maar weer dokter toe gegaan het, was dit al ‘n klein stappie vorentoe in die proses om SELF verantwoordelikheid te neem en nie vir iemand anders te wag om my beter te maak nie. Maar ek het dit as negatief gesien, omdat dit elke keer ‘n teken was ek het verloor teen die siekte en moet maar weer die pille begin sluk.
Dinge het vir my begin verander toe ek bewustelik die kopskuif gemaak het van LYER na VEGTER en doelbewus begin soek het na dinge wat ek SELF kan doen om myself te help. (Die term depressievegter kom uit Jeanne Els se boek Ligdans). Dis waar die draaipunt vir my gekom het.
Opsommend: Vir my was medikasie absoluut noodsaaklik. Maar nie genoeg nie. Toe ek aktief begin veg het teen hierdie ding in myself, het dinge vir my begin verander.
Volgende week: Meer oor my ervaring van medikasie.
MEDIKASIE:
Ek het heel van die begin af ‘n vurige liefde/haat verhouding met my antidepressante gehad. Ek weet dis nodig, maar ek haat dit steeds om dit te gebruik. (Darem nie so erg soos daar aan die begin nie.) Diep in my hart wil ek steeds SELF hierdie ding oorwin. Dis nogal eienaardig dat ek aan die eenkant so graag self wou regkom, maar aan die anderkant nie besef het hoeveel ek self kan doen aan my situasie nie (dis nou bo en behalwe die pille drink).
Hierdie stukkie koppigheid/trots het natuurlik gesorg dat ek hopeloos te lank sonder medikasie probeer regkom het. As goeie Afrikanerdogter is ek immers grootgemaak om nie onnodig dokter toe te gaan nie en tog net asseblief nooit pieperig voor te kom nie. Die stigma aan dinge soos depressie was darem nie vir my so ‘n groot struikelblok nie, omdat ek Sielkunde geswot het en dus gemakliker met hierdie soort ding was as baie ander mense.
Toe ek eindelik die pille begin drink het, was daar natuurlik die kwessie van newe-effekte. Daar is net een woord daarvoor – aaklig. Deur die jare is ek deur ‘n verskeidenheid erge en minder erge newe-effekte. Die punt wat ek wil maak, is dat dit die moeite werd is om maar voort te beur en uit te hou en aan te hou tot jy die pille vind wat vir jóú die beste is. (En te probeer om nie te veel te dink aan die farmaseutiese maatskappye wat al die pad bank toe glimlag nie! J) Wat natuurlik die aanpassing nog moeiliker maak, is dat jy ‘n goeie drie weke moet wag voor jy kan verwag om beter te begin voel. Die ander probleem is natuurlik dat die hele kwessie van beter voel so subjektief is – dis bitter moeilik om doodseker te wees dis nou juis die pille wat jou laat beter voel en nie dalk ander dinge wat intussen in jou lewe verander/plaasgevind het nie.
Ek het vir jare die pille teensinnig en wrokkig gedrink en dit gehaat. Vandag besef ek dat ek dus elke dag vir myself ‘n stewige skootjie negatiwiteit gevoer het i.p.v. dankbaar wees dat die goed wel beskikbaar is. Dan is daar nog die gevaar om dit nie gereeld te gebruik nie. Ek dink dis noodsaaklik om hulle stiptelik volgens voorskrif te drink en tog asseblief tog nie te verminder en te vermeerder volgens jou eie oordeel nie. En om godesnaam nie (soos ek) elke paar maande op te hou met die goed nie. Elke keer sit jy jouself weer deur die hele siklus van ophou met die pille, afgly in die put, die stryd om jouself te oortuig om weer dokter toe te gaan, die gevoel van nederlaag wanneer jy wel gaan, die nuwe aanpassing op die volgende pille. En die finale ding wat ons so geneig is om te doen – die summiere staking van die pille wanneer jy voel jy is nou hartlik keelvol vir die spulletjie. Dit kan jou dieper as ooit in die put laat beland as jy die goed net summer staak – moet dit asseblief tog nie doen nie! Dis baie slimmer om geleidelik te begin en geleidelik op te hou volgens die dokter se voorskrif.
Om op te som: Die jare het my geleer medikasie is vir my noodsaaklik. Ek drink dit steeds, hoewel op ‘n baie lae dosis. Die fout wat ek gemaak het, is om te dink dis nou AL wat ek hoef te/kan doen. Moenie daardie selfde fout maak nie! Medikasie is net die wegspringplek in jou stryd, nie die begin en die einde nie.
Volgende week: Meer oor die noodsaaklikheid van terapie.
DIE WAARDE VAN TERAPIE:
Ek het jare lank duur antidepressante gedrink en hard probeer om met die lewe te cope. Dit terwyl ek met my bietjie Sielkunde-agtergrond eintlik geweet het van watter waarde terapie vir ‘n mens kan wees. Terugskouend lyk dit of daar vir my meer van ‘n stigma aan terapie gekleef het as aan die drink van die pille. Dit was natuurlik ‘n goeie twintig jaar gelede. Ekself het darem ‘n ver pad gekom in dié tyd. Maar ek vermoed die meeste mense sal nog steeds baie makliker die pille sluk as om vir berading te gaan. Ons leef eenvoudig in ‘n kultuur van pille sluk vir elke pyn. Die gevolg is (onthou, dis my persoonlike mening!) dat massas mense jare lank die paadjie loop wat ekself jare lank geloop het – sluk die pille, probeer cope so goed jy kan – en groei self emosioneel nie ‘n dooie duit nie.
Toe ek eindelik sover kom om ‘n sielkundige te sien, het ek dit saam met my man gedoen. Fout. Nie oor enigiets wat hy gedoen of nie gedoen het nie, maar bloot omdat ek makliker alleen met iemand praat. Die tweede fout was dat die terapeut iemand was by wie ek nie aansluiting gevind het nie. Hieruit is dus twee lesse te leer: Stel vas wat vir jóú die beste werk – alleen of saam met jou maat? En tweedens: Soek tót jy ‘n sielkundige kry by wie jý aansluiting vind. Iemand by wie jy gemaklik is, iemand wat jou werklik laat voel hy/sy aanvaar en verstaan jou. Ek persoonlik kan glad nie met ‘n man praat nie – dit was altyd ‘n vrou by wie ek myself kon wees. Vir jou mag dit dalk andersom wees.
Die groot gevaar by terapie (myns insiens!) is dat mense van die sielkundige verwag om raad te gee wat alles sal regmaak, om vir jou te vertel presies wat jy moet doen om jou probleme op te los. M.a.w. maar net ‘n ander manier om die pilletjie te sluk. TERAPIE WERK NIE SO NIE. Terapeute het ook nie die oplossings vir al jou probleme nie. Hulle is opgelei om jou te help oopmaak in ‘n atmosfeer van aanvaarding en deur die práát kom die eintlike verligting. Hulle is NIE opgelei om vir jou kitsoplossings te gee nie. DAAR BESTAAN NIE KITSOPLOSSING NIE. Hulle kan jou wel lei om SELF in te sien waaraan jy kan werk of wat in jou lewe moet verander. Hulle sal later dalk hier en daar ‘n praktiese wenk gee, maar dis hoofsaaklik die kliënt self wat moet begin insien wat hy self kan doen om sy lewe (en die depressie) beter te maak.
En dit bring ons weer by die ding waarop ek so bly hamer: Die neem van verantwoordelikheid vir jouself. Eers wanneer jy SELF besef daar is vir jou geleenthede om te leer en te groei, gaan dinge regtig vir jou begin beter word. Maar dit sal steeds tyd vat. Daar bestaan eenvoudig nie vinnige oplossings vir probleme wat donkiejare geneem het om te vorm nie.
Wanneer hierdie dinge vir jou duidelik raak, kan jy die eerste tree gee op ‘n wonderlike pad van innerlike groei, van doelgerig stap op die pad van volwassewording (ja, al is jy al stokoud!), van jouself leer ken en verstaan, van deernis ontwikkel vir jouself en van aanvaarding van jou sterkpunte én jou swakpunte.
Vir my het my eerste besoek aan ‘n sielkundige by wie ek aansluiting gevind het, die eerste (pynlike) tree op die (laaang) pad na herstel beteken. Mettertyd het dit vir my makliker geword om van tyd tot tyd, wanneer ‘n spesifieke kwessie my wou pootjie, terug te gaan vir leiding en die begrip van ‘n onbetrokke persoon met ervaring en insig. Gelukkig is dit vandag glad nie meer so ‘n vreeslike gedagte soos ‘n klompie jare gelede nie. Meer mense aanvaar nou dis doodlogies om na ‘n deskundige te gaan as jy swaarkry met ‘n spesifieke aspek van jou lewe, of as daar ‘n moeilike ding gebeur het wat jy graag sinvol wil probeer verwerk.
En ja, natuurlik is hulle duur. Maar vir my was dit elke sent werd.
Die eerste sessie by ‘n terapeut was vir my ‘n deurbraak, die begin van ‘n meer positiewe pad. Dit kan vir jou dieselfde wees.
WAAR HET DIT ALLES BEGIN?
Waar begin depressie? Die antwoord is eenvoudig: Ek weet nie! Maar ek het ‘n paar sterk vermoedens …
Eerstens: Is dit oorerflik? Ek vermoed nogal so. (Onthou, hierdie is nie ‘n wetenskaplike artikel nie, maar ‘n persoonlike relaas.) Maar nie net noodwendig in die fisieke sin van die woord nie, m.a.w. in die sin dat dit van geslag tot geslag oorgedra word en die arme nasate is gedoem tot die ellende en kan niks daaraan doen nie. (Dit mag wel tot ‘n mate fisies oorerflik wees, maar dis nie die hele storie nie.) Dit bring ook mee dat ‘n mens ongelukkig nie net al die skuld vir jou ellende op jou voorgeslagte kan plaas nie.
Ek dink die oorwerwing is meer subtiel. En daarom soveel gevaarliker. Ek dink die gevaar lê in maniere van dink en doen wat (onbewustelik) van geslag tot geslag oorgedra word. Dis belangrik om te onthou dit gebeur onbewustelik. Ons het almal seker klein (en groter!) griefies teen ons ouers – geen ouer is tog perfek nie en elke grootmens sweer hy sal sekere van sy ouers se foute nie met sy eie kinders maak nie. (Maar dan maak ons natuurlik ‘n klomp splinternuwe foute van ons eie!)
Ons ouers is ons eerste voorbeelde in die lewe, ons weet tog ‘n kind volg outomaties sy ouers na in alles wat hy doen. Tot hy natuurlik vol tienerhormone raak – dan verwerp ons weer die meeste van wat ons ouers doen. Maar die feit is, ons volg hul voorbeeld na. En as daardie voorbeeld ‘n leefwyse insluit wat depressie bevorder, volg ons dit ook na. Ek dink dis ‘n gegewe, niemand kan dit help nie. Party kinders besef dit miskien vroeg, en rig hul lewens doelbewus anders in. Party kinders het nie ‘n geaardheid wat hul geneig maak tot depressie nie. Maar ander is miskien so aanmekaargesit dat die saadjie maklik ontkiem en ‘n groot, giftige boom raak.
Maar natuurlik kan ons iets daaraan doen. (En natuurlik sê niemand dis maklik nie!) Eerstens kan ‘n mens die probleem identifiseer. Byvoorbeeld: “My pa het nooit oor sy gevoelens gepraat nie en ek het met die persepsie grootgeword ‘n man praat nie oor emosies nie. Of nog beter – ‘n man hét nie eens emosies nie! Maar ek het gesien dit werk nie vir my nie. En ek gaan dit van nou af anders doen.”
Ek stel nie voor ons almal begin nou met ‘n sessie van parent bashing nie. Nee, ons weet hulle het ons lief (gehad) en het hul beste vir ons gedoen. Die beste waartoe hul in staat is/was. Nou kan ons begin om eerstens te probeer identifiseer watter patrone ons oorgeërf het wat ons nou tot nadeel strek. Tweedens kan ons begin werk daaraan om ons ouers (en hul ouers en hul ouers) vir hul onvolmaakthede te vergewe. (Wat natuurlik ‘n lang proses kan wees.) En derdens kan ons begin werk daaraan om die patrone te verander. (Wat natuurlik ‘n lewenslange proses kan wees.)
Dit alles kom maar net weer eens daarop neer dat die blaming game geen blywende voordeel inhou nie. Dis ongelukkig maar weer ekself wat vir myself moet verantwoordelikheid neem.
Of ek dit altyd perfek regkry? Nee, natuurlik nie!!
Volgende week: Moet ek almal rondom my vertel ek het depressie? Of moet ek my las alleen dra?
STILBLY OF VERTEL?
Ek het vir jare en jare verbete weggesteek. My man en my ma het geweet, en dis omtrent al. En ook maar net omdat dit onmoontlik was om dit vir hulle weg te steek. Ek onthou dat ek vir eersgenoemde probeer verduidelik het. Ek is ewig dank aan hom verskuldig vir sy volgehoue pogings tot begrip. Jare later het hy die (vir my) onvergeetlike woorde geuiter: “Ek glo in depressie soos ek in God glo – ek kan dit nie sien nie, maar ek weet dit is daar.” Dit spreek vir my van ‘n man wat regtig probeer verstaan. En ek weet daar is baie wat eenvoudig nie probeer nie.
Met my ma kon ek ongelukkig nooit openlik daaroor praat nie. Al het ek geweet sy blameer haarself (soos ouers maar maak) en het gevoel sy het dit aan my oorgedra. ‘n Briefie wat sy vir my geskryf het na ek in die hospitaal beland het, is vandag een van my kosbaarste besittings. Vandag wens ek sy kon die kanse tot inligting, terapie, ondersteuning, kennis en groei hê wat ek vandag ervaar. Destyds was daar nie ‘n keuse nie – jy moes maar net aanfoeter en deur jou dae probeer kom. Wat sy na die beste van haar vermoë gedoen het. En in die proses sewe kinders en armsvol kleinkinders grootgemaak het. Saluut, ouma Sannie!
Toe breek die krisis aan en ek beland in die hospitaal. En my man moet my skoolhoof bel. En hy moet dit in die personeelkamer aankondig. Out in the open! Vandag kan ek glimlag daaroor – niemand het eintlik met my daaroor gepraat nie, want niemand het geweet wat om te sê nie! Maar die seekoei was minstens wat myself betref, uit onder die tafel. ‘n Paar jaar later het ek eers werklik besef dat dit die begin van ‘n nuwe pad vir my was. ‘n Pad waarop dit o.a. al hoe makliker geword het om my skanse en maskers en voorgee af te gooi en vir ander mense my swakheid te wys. ‘n Pad waarop dit vir ander mense al hoe makliker geword het om hul eie swakheid voor my te wys. ‘n Baie bevrydende pad.
Maar ek praat steeds nie sommer met enigiemand daaroor nie. Dis glad nie vir my moeilik om hier daaroor te skryf nie, maar in ‘n geselskap sal ek nooit sommer daaroor praat nie. En wanneer ek in die put beland (ja, dit gebeur nog af en toe) kan ek dit steeds vir niemand sê nie. Dalk is dít die donkerste oomblik van depressie – die absolute alleenheid. Ook dat dit jou so volledig op jouself fokus dat jy dit feitlik onmoontlik vind om na iemand uit te reik. In daardie opsig is dit beslis ‘n baie selfsugtige toestand.
Een van die redes hoekom ek stilbly, is steeds dat ek nie die etiket van depressielyer wil dra nie. Want ja, hoewel dit baie meer sosiaal aanvaarbaar en bekend geword het, etiketteer mense jou (en allerhande ander mense met allerhande ander skete) steeds en beoordeel (maar ek dink darem nie VERoordeel nie!) jou volgens daardie etiket. Ek ek wil net as mens, as ma, as skrywer beoordeel word, nie op grond van my probleme nie.
Vir my persoonlik het geheimhouding dus nie gewerk nie. ‘n Probleem wat gedeel word (met die regte mense!), word eenvoudig net draagliker. Maar ek glo nie daaraan om dit los en vas met al wat leef te bespreek nie. En baie beslis NIE om daaragter te (probeer) skuil nie.
Maar soos met alles in die lewe, is dit hier ook belangrik dat elkeen uitvind wat vir hom of haar spesifiek die beste werk.
SOMMER SO TUSSENIN:
“Depressie bied die moderne mens die kans vir ‘n helde-reis na binne en vir die moderne man bied dit ‘n baie bepaalde uitdaging. Sam Keen skryf in Fire in the belly: On being a man ‘n man moet beweeg van numbness to manly grief.”
Laat ‘n mens dink, ne?
Ek hoop jy’s reg vir jou persoonlike helde-reis! Self strompel ek dapper voort op myne …
Uit: Reis na binne deur Truida Heymann
DINGE WAT DEPRESSIE BEVORDER – PERFEKSIONISME:
Goeie Afrikaner-kinders van my geslag is grootgemaak om hard te werk en altyd hul beste te gee. Die meeste van ons se ouers het uit relatiewe armoede uitgestyg deur loutere en eerbare harde werk. Vandag hoor ‘n mens dikwels van Afrikaanse jongmense wat oorsee uitstaan a.g.v. hulle sterk werksetiek, iets wat deesdae nie oral ewe volop is nie.
Ongelukkig gaan ‘n behoefte om jou werk PERFEK te doen, soms saam met daardie werksetiek. Party van ons se ouers het dalk baie van ons verwag, veral ook omdat ons dikwels die eerste geslag was wat die geleentheid tot naskoolse studie gekry het. Party van ons (nudge, nudge, wink, wink … ) het grootgeword sonder aanmoediging en positiewe versterking – nie weens ‘n gebrek aan liefde nie, maar weens ‘n vrees om windgat (pragtige Afrikaanse woord vir my!) mense van ons te maak. Ons ouers het dikwels nog so hard gespook om ons gevoed en geklee en geleerd te kry, dat daar definitief nie tyd en energie was vir werk aan ‘n kind se selfbeeld nie. Vandag weet ons egter hoe maklik hierdie benadering daartoe kan lei dat ‘n kind nie voel hy word aanvaar ten spyte van sy tekortkominge nie, en sy lewe lank goedkeuring probeer verkry deur homself disnis te werk en onrealistiese verwagtinge van homself te hê.
Hierdie is maar ‘n paar van die dinge wat kan lei tot perfeksionisme. Die probleem is dat ‘n perfeksionis homself opstel vir mislukking. (Set yourself up for failure – hoe vertaal ‘n mens dit?) Met ons verstand wéét ons niemand is perfek nie, maar ons probeer nog steeds. Dit lei soms daartoe dat ons 90% van ons tyd spandeer aan die laaste tien persent van ‘n taak se kwaliteit. Dikwels weet ons nie wanneer om op te hou werk aan iets nie, en hou aan en aan om klein veranderinge aan te bring – en spandeer tyd wat aan iets anders bestee kon gewees het. Soms lei dit daartoe dat ons liewer ‘n taak vermy, omdat ons mislukking vrees. Want alles wat nie PERFEK is nie, voel vir ons na mislukking. ‘n Tweede plek is dieselfde as verloor. ‘n Punt van kritiek kanselleer al die positiewe terugvoer uit.
Wanneer jy voortdurend voel jy is nie goed genoeg nie, is dit die maklikste ding ter wêreld om jouself met negatiewe selfspraak te vergiftig: Ek is nie goed genoeg nie … Ek sal dit nooit regkry nie … En voor jy jou kom kry, het die depressieduiwel ‘n vastrapplekkie gekry.
DINGE WAT DEPRESSIE BEVORDER – STILBLY EN STERKWEES:
Daar is seker mense wat van nature stil en sterk is. Ek is nie een van hulle nie. Ten minste, ek het vir baie jare die rol gespeel. Maar dit was nie baie geslaagd nie. O, ek was baie oortuigend – ek het myself saam met almal rondom my oortuig! Maar mettertyd het ek agtergekom ek maak ‘n helse fout. Dis glad nie wie ek is nie.
Wie is ek? Sterk is ek nie regtig nie. (Behalwe af en toe in krisissituasies – vir ‘n rukkie!) En as ek stil is, is daar gewoonlik fout. Ongelukkig het ek baie jare geneem om dié eenvoudige waarheid agter te kom. En nog ‘n paar jaar om dit te aanvaar. Maar nou ervaar ek dit as baie bevrydend. Geen gesukkel om die masker op te hou nie. Geen gesukkel om tawwer voor te kom as wat ek is nie. En meteens werk ander mense ook nie so hard om hul maskertjies voor my in posisie te hou nie. Nie eens my storieboek-helde probeer dit doen nie. Nee, hulle sukkel soos die res van ons met hul swakhede en die vraag oor hoe om op aanvaarbare wyse uitdrukking te gee daaraan.
Wat gebeur as ‘n sensitiewe, emosionele mens probeer om na buite ‘n beeld van beheer en krag te projekteer? Eenvoudig – die persoon leef ‘n leuen. En as jy lank genoeg en met genoeg toewyding ‘n gesig vir die wêreld wys wat nie regtig jý is nie, is depressie amper onafwendbaar. Dink ek.
Moet ‘n mens dan die hele tyd vir almal vertel van al jou vrese en verlangens en geraamtes in die kas? Nee, ek dink nie so nie. Dit kan net wees dat jou geliefdes gou-gou begin vlug! ‘n Mens wat net die heeltyd oor homself praat, is ‘n vreeslike vermoeiende ding. Veral as dit oor sy ellende is. En wie van ons het nie ons eie ellendes (groot of klein) nie?
Maar dis sekerlik goed om een of twee of dalk meer mense te hê vir wie jy op gereelde grondslag kan sê hoe jy regtig voel. Sonder om veroordeel te word of met ‘n klomp wyse (of onwyse!) raad toegegooi te word. En sonder dat dit vandaar outomaties deur jou hele vriendekring en/of familie gaan versprei! As een van daardie persone jou significant other kan wees, des te beter. Kinders werk ook goed. Vriendinne natuurlik ook.
Ek is beslis nie ten gunste daarvan om die hele tyd met jou hart (en al jou ander binnegoed!) op jou mou te loop nie. Maar om oor iets te praat, bring eenvoudig meestal verligting. Om jou swakheid toe te gee, bring meestal ook verligting vir die luisteraar, want onmiddellik weet hy jy gaan met sy swakhede ook meer geduld hê.
In ons kerkdiens is vandag gesê die wêreld het ‘n groot behoefte aan genadige medemense. Ek dink as ‘n mens jou eie swakheid kan wys waar nodig, is jy ‘n treetjie nader daaraan om vir iemand anders ‘n genadige medemens te wees. En hy vir jou.
DINGE WAT DEPRESSIE BEVORDER – ONREALISTIESE VERWAGTINGE:
Nee, ek bedoel nie ons moet almal nou sinies word en nooit meer na iets uitsien nie. Dan sou daar darem maar min pret oor gewees het. Maar wanneer ‘n mens se uitsien na iets onrealisties raak, grawe jy daarmee ‘n gat vir jouself.
Gaan jy see toe en voel dis jou reg dat die son elke dag moet skyn en die wind nooit moet waai nie, selfs al weet jy dit gebeur maar bitter min by die strand? Die Engelse sê dit so mooi: You are setting yourself up for disappointment. Die werklikheid van die natuur is eenvoudig teen jou in hierdie geval.
Trou jy met jou man/vrou en verwag dat julle vir altyd en altyd gelukkig moet wees sonder enige noemenswaardige laagtepunte? Een of ander tyd gaan jy teleurstelling ervaar – die werklikheid van die mens se aard is teen jou in hierdie geval. Ons is almal menslik en mense maak almal een of ander tyd ‘n fout.
Verander jy van werk en verwag dan jou nuwe werk moet altyd fantasties wees net omdat jou vorige baas nie meer daar is om jou lewe te versuur nie? Teleurstelling is een of ander tyd jou voorland, want as dit nie jou nuwe baas is nie, gaan daar iemand anders wees met wie jy nie volmaak oor die weg kom nie.
En so kan ek aangaan …
Maar nee, ek bepleit nie pessimisme en ‘n lewe sonder enige verwagtings nie. Ek bepleit net realisme. Gaan met vakansie, maak voorsiening vir die reëndae – en wees dankbaar oor die reën! Trou met iemand en wees bereid om toe te gee vir sy menslikheid en gebreke. Begin ‘n nuwe werk en probeer bewustelik met almal oor die weg kom.
Want as jou verwagtinge nie onrealisties is nie, is jou teleurstelling nie so oorweldigend nie. As jou teleurstelling nie oorweldigend is nie, kan jy makliker maniere vind om dit te hanteer (lees ‘n boek, vergeef jou wederhelf se foute, gee toe vir jou kollegas se swakhede).
En as jy teleurstellings leer hanteer, is jou kans om onder in die put te beland, soveel minder.
Dit help ook om te onthou dat humor een van die beste hanteringsmeganismes is … Veral wanneer ‘n mens geleer het om vir jouself te lag.
VIND UIT WAT WERK VIR JOU!
Ek het die laaste paar jaar agtergekom ek kan heelwat meer doen om my gemoedstemming te beheer as wat ek altyd gedink het. ‘n Mens (en ek dink veral ‘n vrou) is mos maar geneig om te dink ons is tot ‘n groot mate uitgelewer aan ons emosies. Natuurlik is daar soms redes vir emosionele skommelinge waaroor ‘n mens geen beheer het nie, soos hormone of eenvoudig die gewone rampe en ellendes van die lewe. Maar ek het uitgevind deur te doen wat jy kan aan die klein dingetjies, kan jy jouself help om groter probleme beter te beheer. (Hettie Britz skryf na haar verkragting dat ‘n mens se gesondheidstoestand wanneer ‘n trauma jou tref, baie te doen het met jou hantering van daardie trauma.)
Dit bring natuurlik mee dat ‘n mens nie meer die verskoning het om ander dinge of mense te blameer vir jou mood swings nie. Wat my weer eens uitbring by die neem van verantwoordelikheid vir jouself. ‘n Mens is so geneig om na ander mense (veral jou arme man!) te kyk vir redding. En helaas is die ridders op die wit perde maar skaars! En die arme ridder het gewoonlik nie ‘n idee jy het hulp nodig nie – want gewoonlik is ons te trots om dit te sê. Ons wil so graag hê hulle moet sommer vanself wéét … J
Hier is my lysie van dinge waarna ek moet kyk as ek voel ek begin afgly in die put. (En ‘n mens moet vinnig optree, voor jy te diep gegly het om meer duidelik te kan sien!)
- Het ek vandag gesond geëet? En genoeg, maar ook nie te veel nie? Te veel suiker? Te veel koolhidrate?
- Het ek al oefening gehad? Verkieslik in die buitelug. Iets waarvan ek hou, nie iets wat lyding behels nie!
- Is ek besig met iets wat my bevrediging verskaf? ‘n Bedrywigheid wat vir mý sinvol is – nevvermaaind wat ander daarvan dink! Verkieslik iets skeppends. (Vir my tel huiswerk beslis nie as skeppend nie.) Dit kan ‘n ete se kook of ‘n kongres se reël wees … enigiets.
- Het ek al vandag vir iemand anders iets gedoen? (En nee, die gewone huistake vir my huismense tel nie.) Iets vir iemand wat in een of ander opsig minder gelukkig as ek is.
- Het ek al sinvolle kontak met mense gehad? Nie leë oppervlakkige of niksseggende praatjies (of skinder!!) nie – kontak wat dieper as die oppervlak strek.
- Het ek al gelag?
- Is daar musiek in my lewe? (En nee, dit hoef nie noodwendig Springsteen te wees nie!! Dit kan Beethoven wees – of Nicholas Louw as dit moet …)
- Is daar orde in my omgewing? Dit help selfs om net die rytjie skoene voor my kas haaks te skuif … En nee, ons praat nie van obsessiewe gedrag nie, net van doodgewone orde.
- Het ek vandag iets afgehandel wat my al lankal irriteer? Betaal ‘n rekening, sorteer vinnig die tydskrifte, skryf ‘n e-pos … Dit werk om dinge te kan doodtrek in jou dagboek. En trek hulle fisies dood, hard en duidelik.
- Is ek oormoeg? Plaas ek te veel druk op myself?
- Te min geslaap? Of dalk te veel?
- Het ek vandag iemand toegelaat om my te manipuleer of te misbruik?
- Het ek ja gesê toe ek moes nee gesê het?
- Is daar onsekerhede wat my teister? Kan ek dalk iets daaraan doen? Moet ek dalk iemand iets vrá i.p.v. net in angs en stilte wag?
Natuurlik verg dit vasbyt om sover te kom om actually iets te DOEN aan hierdie lysie. Maar glo my, dit werk!
Ek hoor graag van dinge wat vir ander mense werk. Onthou, hierdie is bloot my eie ondervinding – nie die alfa en omega nie!
DINGE WAT DEPRESSIE BEVORDER – KONSENTREER OP WAT VERKEERD IS:
Hierdie een hou verband met perfeksionisme, maar verdien ‘n hofie van sy eie. Ek was vir ‘n baie groot deel van my lewe baie skuldig hieraan. Miskien kan ‘n mens dit ‘n ander naam ook gee: ONDANKBAARHEID!
Uit ondervinding weet ek egter dit help nie baie om as jy onder in die put lê, vir jouself te vertel hoeveel dinge jy het om voor dankbaar te wees nie. Al wat gewoonlik gebeur, is dat jy nog skuldig voel ook – en dit laat sak jou net nog dieper in die modder weg. (Nou wonder ek sommer: Moet ‘n mens jouself nie so af en toe ‘n bietjie toelaat om vir ‘n rukkie – net ‘n kleeeiiin rukkie – lekker in die modder te rol en jouself behoorlik jammer te kry nie? Maar die gevaar is sekerlik dat dit dalk so lekker in die modder kan wees dat jy glad nie weer wil uitklim nie! ‘n Gemaksone bly ‘n gemaksone – al is hy hoegenaamd nie gemaklik nie.)
Ons kan dus perfeksionisties wees is in dié sin dat ons ontsteld raak wanneer ALLES nie REG is in ons lewens nie. Maar as jy mooi dink – wanneer is ALLES ooit reg in die lewe? Seker nie meer as af en toe vir ‘n paar oomblikke nie, tragies soos dit is. (Sien, dis hoekom ek romanses skryf – maar selfs daar weet ons There is no perfect endings – only perfect moments.) Dit klink dalk negatief en sinies, maar ek dink dis waar realisme inkom. Ons voer vandag ingewikkelde (en baie interessante!) lewens wat uit ontsettend baie aspekte bestaan – huwelik, kinders, werk, vriende, huis, troeteldiere, kerk, gemeenskap, familie, politiek, ens. ens. ens. En by al hierdie dinge is daar ‘n klomp veranderlikes betrokke, veranderlikes wat meestal mense is. En ons weet mos menseverhoudings is een van die wonderlikste, maar ook moeilikste goed op aarde. Dus: As die man gelukkig is, is een van die kinders dalk siek/moeilik/oorsee/aan die skei/aan die tandekry … As al die kinders (gelukkig het ons nie deesdae so baie nie!) die slag gelukkig is en die man dalk ook, het die hond vlooie of die skoonma kritiseer iets … As die man, die kinders, die skoonma en die hond gelukkig is, skinder ‘n vriendin van jou … As die man, die kinders, die skoonma, die hond en die vriendin gelukkig is, raak iemand in die familie siek … of iemand stamp jou kar, of ‘n potplant vrek … En as ALLES die slag VOLMAAK is – maak onse Julius een van sy wilde stellings! (Gevolgtrekking: Solank hy met ons is, kan ons maar vergeet van ‘n perfekte lewe. )
Dit kan dalk help om bloot (wanneer jy buite die put is, m.a.w. wanneer dit goed gaan) te oefen om rustig te bly wanneer daar dinge verkeerd loop en vir jouself hard en duidelik te sê dis normaal, dis die lewe. En dat ‘n mens meestal iets daaraan kan doen. Dit behels natuurlik dat ‘n mens se verwagtinge van die lewe effens laer word (ons het mos al gepraat oor onrealistiese verwagtinge). En ja, dit klink ‘n bietjie sinies. Maar dis nie dieselfde as om ‘n pynlike pessimis te word wat altyd die ergste verwag nie – dit beveel ek tog vir niemand aan nie (die meeste ons kry dit sommer vanself reg J)
Dit bring my by die gedagte dat dit nie die getal of grootte van die moeilikhede in jou lewe is wat ‘n mens depressief maak nie. Ons weet mos daar is mense wat ongelooflike smarte beleef en hoegenaamd nie depressief raak nie (Ek dink ons moet oppas om nie depressie met doodgewone, gesonde hartseer te verwar nie). Een van die naarste goed van depressie is juis wanneer jy goed weet daar is eintlik bitter min verkeerd in jou lewe – en jy voel nog steeds lus om onder die mat in te kruip en baie lank daar te bly. As ons nou kan werk daaraan om werklik op ‘n dieper vlak te AANVAAR daar sal altyd maar iets wees wat nie volmaak is nie, kan dit op die lange duur net voordelig wees. Dink ek.
LW. Weer eens beweer ek nie dis maklik nie. Ook nie dat ek dit altyd regkry nie. Ook nie dat ‘n mens dit gou-gou kan aanleer nie. Maar dis wel iets wat ‘n mens kan DOEN, al gaan dit sukkel-sukkel en neem dit eeue (Gelukkig is ons kanse deesdae goed om ‘n lang lewe te hê, so ons het baie tyd om te oefen.)
Mag ons almal hierdie week ‘n treetjie vorentoe gee op hierdie pad.
DINGE WAT DEPRESSIE BEVORDER: HOU BY BY DIE JONES’E – EN DIE VANNERMERWES
In my kursus as kleuterjuffrou het ons destyds geleer jy vergelyk nooit die voorskoolse kind met sy maats nie, maar altyd met homself. Dus: Hoe het hy gevorder tussen Januarie en Junie? Nie: Kan hy mooier teken as sy maatjies nie. Natuurlik gebeur dit in die praktyk nie altyd so nie. Dan sou ons in ‘n wonderlike wêreld gebly het. Dit kan ook noodsaaklik wees dat hy met sy maats vergelyk word, want as hy bv. iets glad nie kan doen nie wat al die ander al onder die knie het, is daar dalk fout met sy ontwikkeling.
Ons weet almal dit kan baie afbrekend wees om voortdurend met andere vergelyk te word. Ons weet ook dit gebeur. Selfs opvoeders wat van beter behoort te weet, maak hul nogal dikwels skuldig daaraan om broers of susters met mekaar te vergelyk. “Jou broer was so ‘n slim/sportiewe/musikale/whatever kind …” Nie goed vir die selfbeeld nie. En as die vergelykings ALTYD gunstig is, kan die ontvanger seker weer ‘n groot kop kry. (Figuurlik gesproke, bedoel ek.) Die vreemdste is dat dit dikwels nie ander mense is wat ons vergelyk met die kompetisie nie, maar onsself. Sy is mooier/maerder/ryker … Hoekom kan ek nie sulke mooi oë/hande/grade/kinders hê nie? Ons is hier dus weer eens ons eie grootste vyand. Want daar gaan ALTYD iemand wees wat slimmer/mooier/maerder/whatever as jy is. (Daar gaan ook altyd iemand wees wat slegter af is as jy, maar dit sien ons dikwels nie raak nie.) Jy plaas jouself dus weer eens in die posisie om te verloor.
Ons ou wêreld sou ‘n lekker plek gewees het as almal se selfbeelde sterk genoeg was om hulself te aanvaar presies nes hulle is. (Dit kan ook te ver gevoer word, wanneer so ‘n persoon glad nie bereid is om aan sy swakpunte te werk nie – Ek is so gemaak en so laat staan.) Maar ongelukkig is die meeste van ons (veral die manne! ) se ego’tjies maar bitterlik broos. Ons is dus maar voortdurend aan die vergelyk. Boonop is ons vergelykings dikwels heeltemal onrealisties. Ons gaan op veertig/vyftig/sestig helaas nooit weer sestien lyk nie! Dis nié net tieners wat onder groepsdruk ly nie!
Die beste wat ons seker kan doen, is om bewus te wees van hierdie slaggat en minstens oopoog deur die lewe te loop. Hopelik sien ons darem as ons in hom val, of miskien selfs net vóór ons val. En as jy weet jy’t geval, kan jy minstens probeer om weer uit te kom. Maar as jy nie eens besef jy’s die hele tyd aan die vergelykings tref nie, is daar nie veel salf aan jou te smeer nie.
Dus: Laat ons wake-up stap tussen die landmyne van onrealistiese vergelykings!
FEESTYD – GEVAARTYD!
Hierdie tyd van die jaar is alles erger. As jy bly is, is jy baie bly. (Of jy voel jy behoort eintlik BAIE bly te wees.) As jy hartseer is, is jy baie hartseer. Dinge is geneig om in uiterstes te gebeur en emosies geneig om intens te wees.
Vir depressievegters is dit ‘n gevaartyd. (Soos die lente vir sommiges.) Ons is mos hoeka goed met uiterste emosies, nie juis mense wat neutraal staan teenoor dinge nie, ook nie dinge louwarm ervaar nie.
Na my mening lê die grootste gevaar van die feestyd in die ou kwessie van onrealistiese verwagtinge. Die hele wêreld is (oënskynlik) so gelukkig … almal gaan see toe, of familie toe, hou partytjies, kry presente, eet oordadige maaltye … Nou hoekom voel ek dan nie so gelukkig soos die res van die wêreld nie? Ek gaan tog ook see toe en my matriekkind het deurgekom en niemand in die familie is dood nie … maar steeds kry ek dit nie reg om so stralend gelukkig te voel nie.
Ek probeer deesdae hard veg teen daardie begeerte om ALLES so VREESLIK WONDERLIK te wil hê. Want die lewe gee ons op sy beste hier en daar ‘n perfekte OOMBLIK. Die res van die tyd moet ons maar tevrede wees met effens (of heelwat!) minder as die volmaakte. Dit voel vir my ‘n mens moet bly wees oor die lekker en maar probeer om die minder lekker te aanvaar. Dan is jy nie so geskok as die familie nie almal in ekstase oor hul geskenke is nie, of as dit reën by die see of as die matrikulant ‘n ietwat uitrafel nie. En dan mors ‘n mens nie soveel energie met selfbejammering en wroeginge nie.
Nee, ek bepleit nie ‘n kleurlose lewe van vaal emosies en geen plesier nie. En ek bepleit definitief nie negatiwiteit nie. Ek dink net ‘n mens moet versigtig wees om intense emosies by jouself aan te blaas in hierdie tyd. En die vreeslike verwagtinge so ‘n klein bietjie probeer afskaal.
Dan is dit hopelik makliker om bloot dankbaar te wees vir wat jy het – en nie heeltemal in sak en as te sit oor al die ellende wat steeds in hierdie tyd in die wêreld is nie.
Baie raak beskrywing van hoe die depressie hom kom tuismaak in jou brein, en selfs ook in jou liggaam.
Ek stem saam dat die medikasie n groot stap is, en dit jou selfbeeld kan aantas. Ek het ook so gevoel, maar na ek dit gelos het, en weer slegte gevoelens en gedagtes gekry het, het ek besef ek moet dit gebruik. Ek stem dat medikasie nie genoeg is, dit is belangrik dat gedragsterapie ook toegepas moet word. Sielkundiges is ook belangrik, en meer belangrik, n sielkundige by wie jy aanklank kan vind.
My oorlede dogter het vir 18 jaar aan OCD gely, en was permanent op medikasie, wat haar selfbeeld nie goed gedoen het. Sy het, as jong kind, gevoel sy is abnormaal, en het soms soos sy ouer geword het, self die medikasie gestaak, met erge gevolge.
Sy is 4 jaar gelede in motorfietsongeluk oorlede. Haar dood het my depressie laat begin.
Dankie vir jou inligting, dit kan baie ander help, en selfs vir my ook help om dinge beter te verstaan.
Sterkte, en ek sien uit om meer te lees.
Cathy.
Cathy, lekker om van jou te hoor – en sterkte!