Thersia Craven

  • Ouderdom: 68
  • Beroep: Afgetrede taalonderwyser
  • Huwelikstatus: Getroud
  • Waar woon jy? Bethlehem
  • Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) Eggenoot, seun en kleinseun
  • In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend? Ek sou nie my situasie as uniek of selfs besonder uitdagend beskou nie. Dit is wel (en was van die begin af) ‘n frustrasie om nie my oudste seun en sy gesin, wat skaars 3 kilometer van ons af woon, te mag besoek nie. Ek het my 2 kleinkinders in daardie gesin feitlik daagliks gesien, al was dit soms net vir ‘n paar minute. Ons het tevore een maal per week (gewoonlik Saterdagaand) saamgeëet en gekuier.
  • Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is? Aanvanklik, toe pres, Ramaphosa die inperking afgekondig het, het ek gevoel ons bly kalm, dink en beplan, rig ons in en hou by opdragte en instruksies. Teleurgesteld gewees dat my Kaapse kinders (met ons jongste kleindogter) nie einde Maart sou kom kuier nie en dat die Lady Grey Passiesspel afgestel is. Ons sou soontoe toer met ‘n groep hier uit die Oos-Vrystaat en my sus en swaer sou ons uit Graaff-Reinet daar ontmoet.
  • Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is? Vir die eerste 3 weke: Soos hierbo. Daarna: Ons byt op ons tande en gaan aan. My oupa het my geleer dat dit nie help om te wroeg, kla, bekommer oor iets waaraan jy niks kan doen nie.
  • Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring? My beplanning uitgevoer. Gesorg dat daar vleis in die vrieskas was, vars vrugte en groente in die huis, nie kruidenierswaretekorte is nie; niks opgepot nie; gesorg dat daar genoeg leesstof was.
  • Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander? Omdat my huishulp Woensdag 24 Maart die laaste keer ingekom het, was my huishoupligte meer. Gelukkig hou my man van kosmaak en hy is ook fluks met opwas. Ek het tog op die ou end nie so baie tyd vir lees gehad as wat ek gehoop het nie.
  • Wat was die moeilikste tydens vlak 5? Dit bly maar die feit dat ons nie by ons kinders hier in Bethlehem kon kuier nie. Dan ook dat ons nie oor die grens Karoo toe mag reis nie. Dat die koffiewinkels toe was en ons as vriendinne nie ons weeklikse kuier>ontlaai>herlaai kon doen nie.
  • Wat is vir jou positief tydens vlak 5? Die rustigheid waarmee ons ons dae deurgebring het. Laat gelê, baie gelees. Toe die aanlyn skoolwerk begin het, het ons matriekkleinseun rustig op sy eie aangegegaan
  • Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was? My manne was almal rustig. Die tieners hou in elk geval aanlyn kontak met mekaar. Teen April en Mei verby was, het ons matrikulant gesê die pelle begin mekaar nou mis.
  • Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar? Gelate, dog met die frustrasies.
  • Wat het jy die meeste gemis op vlak 5? Steeds my familie, vriendinne, ons leeskring, my oudste kleindogter se netbalseisoen … Nie goed nie – Mense
  • Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak? Kan nie rêrig onthou nie. Was dit tóé dat ons weer ‘n wyntjie mog koop vir by aandete? Ons kon steeds nie reis, of kuier by familie nie.
  • Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4? Oefen het vir diegene wat buite oefen makliker geword, nie waar nie?
  • Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4? Namens die rokers, dat NDZ vir CR kon veto.
  • Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het? 2x per week pilates
  • Het jy tydens vlak 5 geoefen? Ja, my pilates-instruktrise het een of twee maal per week vir ons ‘n klas op voice note (en later ook op YouTube-video) gestuur.
  • Hoe het jy dit gedoen? Op my eie in my huis met behulp van genoemde voice notes en videos. Nie so gereeld soos ek dit behoort te doen nie,
  • Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar? Belaglik wat die regulasies betref; tog verlig vir dié wat uit hulle erf/woonstel wou kom. Ek het gewoon aangegaan.
  • Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak? My matriekkleinseun kon op 8 Junie terug skool toe (Sy pa, wat by dieselfde skool onderwyser is, was toe reeds so 3 weke daar); my man het 3x per week weer my huishulp op die plaas gaan haal (Ons was baie bly om mekaar te sien); ons tuinman kon Woensdae per fiets die 5 kilometer van sy blyplek aflê om ons tuin aankant te hou.
  • Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek? Oor alles hierbo genoem.
  • Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek? Steeds namens die rokers dat hulle STEEDS deur NDZ se belaglikhede verniel word.
  • Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel? Goed. Soos altyd, nie vreesagtig nie. Verlang na my mense. Begin, umso länger umso mehr, geïrriteerd raak met die regering se belaglike regulasies en dreigemente,
  • Is jy finansieel erg geraak? Nee, deur die genade nie. Ons ontvang albei staatsdienspensioene; het nogal minder uitgegee; ons kon ons werksmense ten volle betaal en ek kon bydraes maak om mense wat voedselnood gely het of self employed is (veral spyseniers) te ondersteun.
  • Wat is nou vir jou die moeilikste? Steeds die gemis aan my mense.
  • Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is? Dat ek benadig is om rustig te bly en nie vreesagtig te wees nie.
  • Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA? Min of meer
  • Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19? Ek luister na die meeste van RSG se nuusbulletins.
  • Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel? Ek dink dit dra by tot ‘n gevoel van irritasie wat ek soms ervaar.
  • Bly jy op hoogte van die oorsese situasie? Ek luister na wat op die nuus is, maar broei nie daaroor nie.
  • Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel? Nie rêrig nie. Ek vra wel af en toe my niggie wat in Den Haag woon oor hulle situasie uit. My kleinseun se ma woon in Auckland, Nieu-Seeland, en hy hou ons met hulle persoonlike situasie op hoogte.
  • Hoekom? Hierbo beantwoord. Ons mense wat daar woon.
  • Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA  jou? Dit ontstel my nie. Die SA sterftegemiddeld van +/- 1,5% is baie laer as die wêreldgemiddeld. Boonop sterf meer mense jaarliks aan komplikasies van seisoenale griep. Ons is almal tog een dood skuldig.
  • Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin? Dalk nog beter beplan en my boekrakke regpak!
  • Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin? Weer rustig bly en my gang (met die beperkings) gaan.
  • Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het? JA
  • Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf? NEE