Resep vir depressie! ;)

oogHierdie resep waarborg vir my ‘n vinnige val tot diep in die depressieput. Joune sal waarskynlik anders lyk. Die verhoudings waarin die bestanddele gebruik moet word, sal ook van mens tot mens verskil.

WAARSKUWING: My tong was diep in my kies toe ek dit geskryf het. Moet asseblief nie letterlik opneem nie!!

· As jy alleen is, oortuig jouself jy is in elk geval nie lus vir mense nie. Konsentreer dan doelgerig daarop dat jy nie net alleen is nie, maar eintlik bitter eensaam. Moet onder geen omstandighede iemand nooi om saam met jou iets te gaan doen nie.

· Moet tog nie jou hare was nie, veral as jy ʼn vrou is.

· Belê in ʼn goeie voorraad trooskos. Hoe soeter en romeriger, hoe beter. As jy alreeds tot agter jou ore soet is, sal gemorskos ook werk. Hoe meer vet en/of suiker en/of sout, hoe beter. Moet tog onder geen omstandighede kafee toe stap nie, ry die paar honderd meter met jou motor en konsentreer daarop om deeglik skuldig te voel.

· Trek die somerklere aan wat effens stywer as verlede jaar sit. Of dié wat laas nog te groot was, maar nou perfek pas. Kyk gereeld in die spieël.

· Konsentreer om gereeld aan elke negatiewe ding in jou lewe te dink, veral dié waaraan jy niks kan verander nie. Sluit jou oë vasberade vir die vermoede dat jy wel iets kan verander aan die manier waarop jy dit hanteer. Maar dis eintlik verkieslik om heeldag in jou pajamas te bly, hoe ouer, hoe beter.

· Tel gereeld op jou vingers af hoeveel familie en vriende jy al aan die dood afgestaan het. Konsentreer op die vermoede dat ouderdom noodwendig eensaamheid beteken.

· Herinner jouself gereeld aan alles wat jy in die laaste dae van ʼn geliefde verkeerd gedoen het of nie gedoen het nie. Konsentreer daarop dat jy dit op geen manier ongedaan kan maak nie. En moenie eens dink daaraan dat jy dalk ook iets reg gedoen het nie.

· Dink diep en ernstig oor die feit dat jou vriende in elk geval mooiweersvriende is wat nie regtig in jou belang stel nie.

· Maak ʼn lys van jou familie se negatiewe eienskappe. Maak seker dat jy besef hulle gaan nooit verander nie.

· Terwyl jy aan die gang is, maak sommer ook ʼn lys van jou wederhelf se foute. Detail is hier belangrik.

· Moet onder geen omstandighede gaan stap nie, veral nie met ʼn hond nie. Vermy enige ander oefening met toewyding.

· As jy lees, lees ʼn dik, moeilike boek wat die lewe in al sy naaktheid blootstel. Vermy gelukkige eindes soos die pes.

· Pas dieselfde beginsels toe by die DVD’s wat jy gaan uitneem. Maar eintlik is dit beter om in die huis te bly en te kyk hoe die verf afdop.

· Spandeer ʼn paar uur op Facebook en konsentreer op jou vriende se foto’s waar almal jonger, mooier, maerder en gelukkiger as jy lyk. YouTube werk ook goed, daar is nogal heelwat gross goeters te kry.

· Kry ʼn koerant en lees soveel tragiese berigte as moontlik. Maak seker dat jy elke detail deeglik inneem. Dink agterna daaroor.

· Maak ʼn lys van al jou mislukkings in die verlede. En sommer een van dié wat nog op pad is ook.

· Maak ʼn lys van elke onreg wat jou al aangedoen is. Konsentreer veral op dié wat uit jou kinderjare kom, veral as jou ouers nie meer lewe nie.

· Moenie na musiek luister nie. Behalwe as jy van klassieke musiek hou, dan sal kommersiële Afrikaanse musiek dalk vir jou werk. En omgekeerd. Vermy Bruce Springsteen soos die pes.

· Moet tog nie ʼn handwerkie aanpak nie. Jy sal in elk geval net ʼn gemors daarvan maak.

· Stap deur jou woonplek en maak ʼn deeglike lys van elke klam plek of stukkie verf wat afdop of vensterraam wat geroes is. Maak ook sommer ʼn paar deure oop en kyk hoe deurmekaar jou kaste is.

· Stap deur die tuin (as jy een het) en konsentreer op die onkruid en die slakke. Ignoreer die voëls met toewyding. Hulle mis in elk geval net oral en skree ʼn mens soggens wakker. As jy per ongeluk ʼn skoenlapper raaksien, onthou net hy gaan binnekort en wurm wees wat jou plante opvreet. Alternatief: Dink met wrewel aan al die mense wat ʼn tuin het en dit nie waardeer nie, terwyl jy met ʼn potplant op die balkon tevrede moet wees.

· As jy dan ʼn oproep móét maak, bel die negatiefste mens wat jy ken. Gee hom/haar kans om al sy/haar probleme met jou te deel. Moenie vergeet om by die land en die politici en die toestand van die aarde ook uit te kom nie.

· Oortuig jouself die land is op die afdraande en niks en niemand kan ons red nie. Hiervoor help dit om die nuus op TV te kyk. Skakel vinnig af as daar dalk êrens ʼn soetsappige storie oor ʼn mooi diertjie of ʼn koninklike baba met ronde wangetjies of ʼn dapper gestremde persoon gewys word.

· O ja, as jy op antidepressante is, kyk ʼn slaggie of jy nie dalk daarsonder kan klaarkom nie. Moet tog net nie vir jou dokter sê nie.

· As jy in terapie is, maak ʼn lysie van die terapeut se foute. Bel sommer dadelik om jou volgende afspraak uit te stel of verkieslik af te stel. Of nog beter: Bly net weg, dan kan jy nog skuldig voel ook daaroor.

As jy nog oukei voel na dié lys, begin van voor af en doen dit hierdie slag ordentlik. As jy na ʼn tweede rondte nog vars en vrolik voel, het ek nie hoop vir jou nie.