RSS

Schoeman, Odette – Swartskaap

Swartskaap is die debuutroman wat reeds bekendheid verwerf het as die roman wat Jeanne Goosen laat huil het. Hoewel die boek my diep geraak het, het dit nie daarin geslaag om my te laat huil nie (en ek dink nie ek’s  so tough soos Jeanne nie!).

Natuurlik breek die verhaal van die dogtertjie en haar boeties wat hul hele kinderlewe lank tussen hul ouers en allerhande familie rondgegooi word, ‘n mens se hart. Maar naderhand raak die ellendes net te veel, die klaarblyklike ongevoeligheid waarmee die kinders behandel word, net te erg om geloofwaardig te wees. Hoewel sulke optrede teenoor hulpelose kinders NOOIT goedgepraat kan word nie, moet die grootmense tog ook redes he vir hul gedrag en die boek sou sterker gewees het as dit ‘n bietjie beter toegelig is (hoewel ek besef dis in die eerste plek Claudie se verhaal).

Die boek laat ‘n mens natuurlik baie dink aan Jeanne Goosen se eie Ons is nie almal so nie, die boek van haar wat uit die hond se oogpunt vertel word (ek kan nie nou die titel onthou nie!) en ook aan Marlene van Niekerk se Triomf. Marita van der Vyver se Die dinge van ‘n kind kom ook in my gedagtes op. Almal is boeke wat gewone Afrikanerfamilies van ‘n klompie jare gelede se lief en leed as tema het. En die Afrikaner word beslis nie in rooskleurige terme geteken nie! Vir enigiemand wat nog steeds glo ons is eintlik ‘n bietjie beter as ander mense, is hierdie boeke goeie materiaal om jou gou-gou van jou illusies te beroof. Marita se boek werk darem ‘n bietjie sagter met die ou volkie!

Die tema van kindermolestering word deesdae so gereeld opgehaal dat daar al van ‘n nuwe genre gepraat word – die molesteringsgenre. Die magteloosheid en weerloosheid van dogtertjies slaan ‘n mens weer tussen die oë. Eintlik maar die magteloosheid en weerloosheid van die vrou as sulks – selfs Claudie se ma beweeg van een man na die volgende omdat dit vir haar die enigste manier van oorlewing is. Die toneel waar Claudie in die hof lieg dat haar pa niks aan haar gedoen het nie, het my die heel diepste geraak. En later waar sy sê al wat sy eintlik maar wou hê, was dat hy haar erkenning gee daarvoor – en ‘n eenvoudige dankie dat sy hom nie nog ‘n keer laat tronk toe gaan het nie.

Die magtelose liefde vir mekaar, ten spyte van al die onmin, haat en bedrog, bly vir my die grootste tema. Bloed bly inderdaad dikker as water. Die kinders bly lief vir hul ouers ten spyte van alles. En ‘n mens wil graag glo die omgekeerde geld ook, hoewel dit nie juis aangetoon word nie.

En die belangrikheid van keuses. Elkeen van die karakters maak hope verkeerde keuses en die wat later begin uitstyg uit hulle omstandighede, doen dit ook as gevolg van hul keuses. Maar die wat onder bly, doen dit ook uit eie (onbewustelike?) keuse. Selfs die kinders het steeds keuses in hoe hulle al hul ellende hanteer en doen dit dan ook verskillend uit die aard van hul verskillende persoonlikhede.

Nie ‘n boek vir as jy ‘n klein bietjie blou voel nie! Maar ‘n boek om te onthou. En vir die skrywer se part hoop ek nie die boek is so outobiografies soos ek vermoed dit is nie.

Lewer Kommentaar

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: