
- Ouderdom: 49 (het in grendeltyd verjaar)
- Beroep: Vryskutjoernalis en skrywer
- Huwelikstatus: Getroud
- Waar woon jy? In ʼn klein nedersetting ʼn hele ent buite Upington.
- Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.)
Normaalweg is dit ek, my man en ons twee seuns (amper 20 en 23) met skoonpa (82) na wie ons ook omsien in sy huis langsaan (baie naby).
- In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?
Uniek sou ek nie sê nie, daar is talle ander mense in dieselfde situasie. Soos ek genoem het, moet ons na my skoonpa omsien wat Alzheimers het. Ons het ons eie swaarvoertuigonderneming wat reeds sedert verlede jaar swaar ly onder die sinkende ekonomie. Die inperking kon dus nie finansieel op ʼn slegter tyd gebeur het nie.
- Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?
Dis moeilik om te sê. Ek dink mens was tot ʼn mate tevrede met die wortel van die 21 dae wat aanvanklik voor ons neuse gehou is, dat mens weer normaal sou kon aangaan daarna.
- Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5) afgekondig is?
Wel, op 16 April is dit na 30 April verleng, so daar was nog nie sprake van vlak 5 nie, hoewel dit eintlik vlak 5 was. Ek het gekul gevoel, maar het toe al vermoed dis min of meer die patroon wat dinge voortaan gaan volg. Op 30 April het die Noord-Kaap na vlak 4 geskuif.
- Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?
Ek het nie baie goed anders gedoen lank voor die tyd nie, behalwe dat ek ʼn klompie boeke gekoop het en genoeg kruideniersware om vir die “21 dae” te hou. Ek het ook besluit om iets soos sjokolade en koeldrank te koop, wat ek normaalweg nie vir meer as een of twee keer se gebruik sou koop nie.
- Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?
Soos voorheen gesê, het ons nie geweet dis vlak 5 voordat ons na vlak 4 “gevorder” het op 1 Mei het nie. Ons het eredienste, familie en vriende die heel meeste gemis en kontak behou.
- Wat was die moeilikste tydens vlak 5?
Jy het gevra vir eerlikheid? Nou ja, ek gaan nie vir jou jok nie. Ek het elke oomblik gehaat wat ek die masker moes dra toe ek na die aanvanklike 21 dae genoop was om winkel toe te gaan. Ek is geen uitsondering nie, maar dit het my moeg gemaak en erg frustreer. Ek het woede ervaar oor die duisende mense in woonbuurte naby ons wat werkloos en verhonger by hul huise sit. Ons het saam besluit om ons huiswerker wat al 28 jaar vir ons werk, te bly betaal, al het ons nie geweet of ons dit sal kan volhou nie. Dit was byna onmoontlik om iemand op te spoor by wie ons kon toestemming kry (SAPD ingesluit) om noodsaaklike lanbougewasse te vervoer.
- Wat is vir jou positief tydens vlak 5?
Ons onafhanklike gemeente het floreer met geestelike voedsel deur die herderspaar op ʼn daaglikse basis via WhatsApp. Ook familie (wat maar min is) het meer kontak gemaak en behou. Vriende was net so kosbaar, al was dit per WhatsApp se video-oproepe. My gesin het werklik nie veel van die “werklike lewe” gemis nie, ons hou van mekaar en was nog nooit kwaad vir ons huis nie. Ons het dikwels gebraai en heerlik gesels. Die seuns het ʼn uitgebreide versameling flieks wat ons gereeld op hul ekstra groot skerm saam gekyk het. Ek het, anders as wat ek gedink het dit sou wees, minder gelees as wat ek gedink het ek sou en het nooit geskilder nie. Ek het baie genot daaruit geput om kos voor te berei en die huis skoon te hou.
- Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?
Nie anders as normaalweg nie. Ons gesin put nie ons hoop en vertroue uit omstandighede nie, al raak dit ons almal.
- Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?
Nie geweet dis vlak 5 nie. Ek het besef dat dinge lelik gaan raak – mens kan nie ʼn land sluit en verwag dat niks gaan versleg nie. Ek was kwaad omdat die grootste deel van die Noord-Kaap se inwoners reeds baie taai trek onder die steierende ekonomie, droogte en geweldig baie maatskaplike probleme. Kospakkies was net by sekere huise in die woonbuurt afgelewer. Ek het die huiswerker se salaris en kos vir haar geneem en besef dat mens dopgehou word.
- Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?
Net eredienste, familie en vriende.
- Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?
Dit het nie gevoel of baie verander het nie. Natuurlik kry ek toe, soos duisende ander op 5 Mei die slegte nuus – die hoofbron van my persoonlike inkomste, Caxton Magazines, laat weet dat hulle deur moet sluit. Daar was reeds twee van my verhale aanvaar vir publikasie in Mei en ek het reeds vooraf aan artikelvoorstelle begin dink vir wanneer ons weer kan werk. Ek het buite gaan sit. My emosies het tussen woede en hartseer gewissel. Ek het talle boodskappe uit verskeie oorde ontvang van mense wat my sterkte toegewens het, baie van hulle was mense oor wie ek artikels gedoen het vir Vrouekeur. My hart het veral gebloei vir die redaksie!
- Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?
Ek kan nie iets spesifiek onthou nie. Min het verander vir ons. Ek was besig om my oudste seun te help met sy finale dokumente om vir sy werk na die VSA te vertrek (hy sou voor die inperking vlieg, maar dis toe uitgestel). Net daarna dieselfde proses vir my man wat nie anders kon na die pak slae wat ons besigheid gekry het nie.
- Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?
Die gesukkel waarmee alles gepaard gegaan het. Niks was maklik en eenvoudig soos voorheen nie. Ek was kwaad as ek die vrees in mense se oë sien toe maskers verpligtend geword het. Ek wou vir sulke mense ʼn drukkie gee. Maar helaas mag dit ook nie gebeur het nie.
- Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?
Nee.
- Het jy tydens vlak 5 geoefen?
Nee.
- Hoe het jy dit gedoen?
N.v.t.
- Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?
N.v.t.
- Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?
ʼn Vlug na die VSA vir my seun en later vir my man, het elke dag nader aan moontlik gelyk. Mens het nooit geweet wat om die volgende dag te verwag nie, want daar was daagliks gerugte oor moontlike vlugte. Eindelik het dit toe skielik gekom. My oudste moes een Saterdagaand laat sy vlugkaartjie betaal toe daar eindelik ʼn vlug gerealiseer het. Die reëlings om Kaapstad toe te reis oor die provinsiegrense heen, was uiters frustrerend. Die owerhede het nie presies geweet hoe om dit te hanteer nie en ons is rondgestuur en het ure gewag en dan weer van vooraf verduidelik. Einde ten laaste het ʼn aanvanklik onwillige persoon by die polisie na ons geluister en die nodige dokumente uitgereik, nogal ʼn uitgerekte proses. Dit was vir my ʼn riem onder die hart dat sy ons glimlaggend afgesien het en haar seën oor my oudste uitgespreek het. Die proses het hom herhaal toe ons my man Kaapstad toe moes neem vir sy vlug die volgende week, vroeër as wat ons verwag het. Tydens vlak 4 was een van die uitdagings hoe om my man se paspoort by die konsulaat te kry en terug vir sy visa. Daar was ontsettend baie moets en moenies, maar ons het dit gedoen. My seun sʼn was reeds voor die inperking uitgereik. Albei het talle dokumente bykomend gekry wat voltooi moes word weens die inperkingsmaatreëls t.o.v. vlugte en hulle gesondheid. Ten spyte van al die bykomende regulasies en dokumente, het alles besonders glad verloop.
- Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?
Ek was dankbaar dat my seun kon vlieg vir sy werk in die VSA, hy het baie daarna uitgesien nadat hy verlede jaar ook daar gaan werk het. Vir my man se onthalwe was ek ook dankbaar. Dit was wonderlik om weer eredienste te kon bywoon, al die nuwe regulasies ten spyt. Ek was dankbaar dat ons huiswerker weer kon werk. Ek het haar geselskap baie gemis. Sy is baie lankal meer as net ʼn werknemer vir my. Haar eie vreugde was vir my kosbaar.
- Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?
Al die ure se papierwerk vir die reis na Kaapstad was oënskynlik onnodig. By padblokades is slegs vir die bestuurder se lisensie gevra. Al die teenstrydighede wat mens sien en hoor in hierdie tyd en die belaglikheid en sinneloosheid van sommige regulasies was nie vir my snaaks nie. Teenstrydige beriggewing wat vir feite voorgehou word het my laat wonder of ons IK’s dan só onderskat word.
- Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?
Ek ervaar nie buitengewone emosies nie. Die lewe is, buiten die inperking, in elk geval vol van verrassings en skokke.
- Is jy finansieel erg geraak?
Ongetwyfeld.
- Wat is nou vir jou die moeilikste?
Om te besluit wat ek beroepsgewys verder gaan doen. Ek dink nie tans baie daaroor nie.
- Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?
Geestelike verdieping en vertroue, nie in regerings en stelsels nie, maar in Jesus Christus alleen.
- Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?
Nie oormatig nie. Meeste nuus hoor of lees ek “toevallig”.
- Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?
Soms TV-nuus of Facebook, maar ek maak nie ʼn gereelde instelling daarvan om dit te kyk nie.
- Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?
Onbeduidend min.
- Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?
Soms hoor ek ʼn nuusbrokkie via my man en seun of niggie in die VSA.
- Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?
VSA, maar nie oormatig baie nie.
- Hoekom?
Soos vroeër verduidelik.
- Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?
Dit het geen invloed nie. Ek weet nie eens wat die sg. statestiek nou is nie.
- Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?
Niks.
- Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?
Alles. Oukei, dalk sou ek nie so baie moeite en tyd spandeer het om reisdokumente te bekom nie. Maar mens hou by die wet.
- Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?
ʼn Paar, ja.
- Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?
Nee.