Met My groot vet Griekse egskeiding (met ironiese verwysing na die film My big fat Greek wedding) bring Pat Stamatélos weer eens ‘n klompie kleurvolle karakters in haar lesers se lewens in.
Aanvanklik lyk dit (soos in sommige van haar ander boeke) na ‘n ligte komedie, in hierdie geval oor ‘n vrou wat nie van haar wegloopman geskei kan kom nie. Mettertyd kom meer nuanses egter na vore en word dit die verhaal van ‘n vrou wat weggegooi voel en probeer sin maak uit haar man se verdwyning, maar ook gaandeweg haar voete sonder hom vind en mettertyd besef sy wil hom nie weer terughê nie. Soos in van haar ander verhale getuig hierdie roman van ‘n intieme kennis van die Griekse kultuur en die eise wat dit stel aan iemand wat daar (of in enige ander kultuur) introu. Archie is oënskynlik ‘n moeilike, selfgesentreerde man vir wie dinge op sý manier moet verloop, maar mettertyd word die leser ook bewus van meer diepte in sy karakter. Hy is ook maar ʼn mens met sy eie vrese en onsekerhede.
Gugu die flambojante huweliksraadgewer, Catherine die getroue huishulp en vertroueling van Archie en Monica die bejaarde vriendin, bring telkens ‘n glimlag na vore, maar daar is veel meer diepte in hierdie karakters as wat die leser aanvanklik vermoed. Veral die twee swart vroue word oortuigend uitgebeeld en bly in mens se kop vassteek.
Die klem op besittings en etikette en Polly se kommer oor haar finansies terwyl sy lustig geld uitgee, kan mens verder verlei om hierdie vroue as vlak te beskou. Dit laat dink mens ook aan chicklit, waar dieper kwessies dikwels agter oënskynlike oppervlakkighede weggesteek word. (In die Engelse skryfwêreld word soms gepraat van ‘henlit’ vir chicklit wat oor ouer karakters gaan. Hierdie boek kan dalk in hierdie kategorie val – as mens nou sou aandring om dit in ‘n boksie te druk.)
Uiteindelik is My groot vet Griekse egskeiding veel meer as ʼn lighartige vertelling van die kaskenades van ʼn verskeidenheid aweregse vroue. Dis eintlik ‘n verhaal oor die skade wat stilbly aan menselewens kan aanrig en Catherine en Polly se diep pyn is wat uiteindelik hierdie leser sal bybly. Mens wil soms vir Polly ʼn dwarsklap gee omdat sy nie net gepráát het nie. Maar ons weet ongelukkig dis nie so eenvoudig nie. Vroue is dikwels te trots of te skaam (of ʼn ingewikkelde kombinasie daarvan) om te praat en ly dikwels jare lank vir sondes wat nie hulle sʼn is nie.
Hierdie leser hoop daar is nóg waar hierdie een vandaan kom!