Fourie, Corlia – Die geheime kamer

Soos die jare aanstap word ek blykbaar sensitiewer/pieperiger/uitsoekeriger wat my lees- en kykgoed betref. (As student het ek nogal destydse naelbytflieks soos Towering Inferno gekyk – nou sal ek nie naby kom nie.) Dit maak my dus ook nie die ideale leser vir ‘n sielkundige riller nie. Maar ek het probeer. En glad nie so sleg gevaar nie – wat natuurlik aan die spesifieke boek te danke is.
Ons weet almal Corlia Fourie is Mikro se dogter en ‘n uiters bekwame skrywer wat al in ‘n hele verskeidenheid genres gewerk (en pryse gewen) het. Dit op sigself vervul my met verwondering, want ek het al so ‘n vae idee hoe moeilik (en gevaarlik) dit vir ‘n skrywer is om tussen genres te spring. Daar is maar net enkele skrywers wat dit in Afrikaans regkry.

Ek het die boek dus benoud aangepak – en sowaar heeltemal deurgelees. Wat alreeds ‘n groot pluimpie vir die skrywer is, want deesdae sit ek gou ‘n boek neer wat my nie regtig heeltemal vasgryp nie. Daar is eenvoudig te min tyd en te veel boeke … 🙂

Ek onthou hoe Corlia op die LAPA Leeskringoggend by Bloemdendal verlede jaar gesê het sy dink nie sy sal gou weer so iets skryf nie, want sy wil nie gou weer so bang wees nie. ‘n Mens raak beslis bang as jy hierdie storie lees. En geleidelik al hoe banger, want jy weet iets vreesliks moet êrens gebeur. Jy het egter nie die vaagste idee wát presies nie, want die ontvoerder is dan so beskaafd. En hy dra vir haar lekker kos aan en praat sag en mooi met haar …

Die een negatiewe resensie wat ek gelees het, het dit basies daaroor dat die ontvoerde  meisie nie genoeg vrees vir die ontvoerder (nogal ‘n Cloete!) toon nie. Persoonlik dink ek egter dit was juis die idee. Sy is ‘n sterk vrou en sy het besef blote vrees gaan haar niks in die sak bring nie, sy sal moet kyk of sy hom kan peil en ‘n manier kan vind om hom te uitoorlê. Op die agterblad word dit duidelik aangetoon dat dit gaan om die sielkundige stryd tussen die twee karakters. As sy bloot in ‘n bondel onbeheersde vrees verander het, was daar nie eintlik veel van ‘n storie nie.

Of sy wen? Nee, ek gaan jou nie sê nie. Lees maar self.

Lees gerus ook Annemarie van Niekerk se resensie op Books LIVE. Let veral op wat sy oor die slot te sê het …

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s