Terwyl die hele land rugby kyk, was ek salig (alleen) in die bed met ‘n (klein) steak, ‘n pakkie Liquorice Allsorts – en die DVD van Julie & Julia. Die verhaal van Julie Powell wat besluit om Julia Child se beroemde resepteboek in ‘n jaar deur te kook – en daaroor te blog. Die resultaat is ‘n bekoorlike vermenging van die twee vroue se verhale (albei waar). ‘n Plesierige fliek met heelwat om oor te dink …
Die entoesiasme waarmee Child (Meryl Streep) die lewe aanpak … Die lot van lang vroue … Die verhouding tussen vroue en hul ma’s … Die geheimenis van die liefde tussen man en vrou … Die passie vir kook (wat ek nie het nie) … Die onskatbare waarde van ‘n man wat sy vrou enduit kan ondersteun in wat sy aanpak … En nie bedreig voel as sy sukses behaal nie (Ek dink daar’s min van hulle) … Die begeerte om ‘n boek te publiseer … Die begeerte dat iemand dit moet lees (en geniet!) … Die vermoë om ‘n nee te oorleef en maar net weer te begin … Die inspirasie van ‘n rolmodel … Die verskil tussen daardie rolmodel in jou kop en in die werklikheid … En natuurlik die lekkerte van blogging!
As enigeen van bogenoemde jou aanspreek – gaan kry Julie & Julia. (Die Liquorice Allsorts is nie verpligtend nie – sjokolade sal ook werk!)
Kyk hier vir ‘n interessante resensie:
http://moniacal.wordpress.com/2010/06/10/blogging-and-boning-%E2%80%93-it%E2%80%99s-all-the-same/