Kan jy my skroewe vir my vasdraai?

Kan jy my skroewe vasdraaiKan jy my skroewe vasdraai? het in Huisgenoot van 10 Februarie 2005 verskyn. Op 4 Februarie het ek dit in die verbygaan by die hospitaal se snoepie gekoop na my ou moeder inderhaas daar opgeneem is. Ek kon dit nooit vir haar wys nie. 

“Kan jy my skroewe vir my vasdraai … kan jy my albasters vir my vind …”  sing Francois van Coke se opstandige rasperstem.  Ek sorg dat my kamerdeur bottoe is voor ek dit waag om f***fpolisiekar te speel.   Selfs hulle naam is verbode in hierdie ordentlike huis.  Maar hulle sê presies hoe ek voel:  deurmekaar, alleen, opstandig.  Simpel.

Ek is Mandi, ek is sestien en daar is ‘n skroef los in my lewe:  Ek gaan vanjaar weer eens nie ‘n enkele Valentynskaartjie kry nie.

My ma sien weer ander los skroewe.  Sy dink ek is siek.  Sy sê ek drink aanhoudend water en draf ‘n paadjie uit toilet toe.  Ek dink darem nie dis só erg nie.

Ek is ook moeg en humeurig en vet.  En dit ís so erg.

My ma besef natuurlik nie dis deesdae cool  om met jou eie tietiebottel met mineraalwater rond te loop en kort-kort ‘n slukkie te vat nie.  En baie drink lei tot baie piepie.  Logies.  Maar ma’s dink nie altyd logies nie.

Myne het haarself oortuig dis Tipe 2 diabetes wat glo deesdae so vroeg ontwikkel by kinders met ‘n ongesonde leefstyl.  Sy is heel moontlik reg, veral oor die leefstyl.  Ek haat dit as my ma so aanhoudend reg is.

Dis presies hoe sy is:  aanhóúdend.  Sy weet nooit wanneer om op te hou nie.  Sy hou  aan en aan met ‘n ding tot almal rondom haar bleek en bewend om genade smeek.  En haar haar sin gee net om te oorleef.

Soos ek gesê het, ek is sestien en ek is siek.  Dis nie net my pankreas wat blykbaar aan die oppak is nie, daar’s fout met my hart ook.  En met my longe.  Ek kry gruwelike aanvalle van hartkloppings en hiperventilering as ek na Marius Bester se lang wimpers om sy tjoklitbruin oë kyk.  Of na sy sonbruin kuite.  Of na die fyn blonde haartjies op sy voorarms.  Ter wille van my gesondheid is dit dus noodsaaklik dat ek my oë afhou van Marius Bester se lyf.  Maar ek kry dit om der dood nie reg nie.  Ja, jy’s reg:  ek dóód oor hom.

As ek nie my oë op hom kan lê nie, speel ek in my kop met ons name:  Marius en Mandi, Mandi en Marius.  Soos heuning lê die name op my tong;  soos ‘n nagtegaal sing dit in my ore.  Ons twee pas bymekaar soos korrelkonfyt en vars botter, soos wafels en roomys, soos gouestroop en katjiebotter.  (Nou weet jy ook sommer hoekom is ek vet.)

Nee, Marius is nie die rugbykaptein nie.  Hy is die landloopkampioen van die skool.

Ek is die boekwurm wat donkernag straataf strompel met sweetpak en tekkies om maer en fiks te word en die diabetesduiwel te probeer besweer.  Ek is onfiks en onsportief.  En ongelooflik skaam.

Suzie is my beste pel.  Suzie is (effens) vet en (baie) vrolik en ‘n wandelende inligtingsentrum.  Sy weet van jou sondes nog voor jy hulle gepleeg het.  Suzie sê Marius is ‘n joller wat soms lelik uithaak op parties.  Ek dink sy’s net jaloers.  Nie dat sy rede het nie; die ouens vrek oor haar.  Elke jaar Valentynskaartjies by die dosyne.  Sy laat haar nie afsit van ‘n ekstra paar kilo’s mensvleis aan haar lyf of ‘n dreigende vulkaan op haar ken nie.

In elk geval, my ma kry haar sin, soos gewoonlik.  Sy sleep my al protesterende met ‘n botteltjie vroegoggendpiepie dokter toe.  Dis om van te sterf.  Ek wens ek kan net wegraak.  Soos ‘n kakkerlak as jy die lig aansit.  Of ‘n vlieg as iemand die vlieëplak optel.  (Nou weet jy sommer ook ek gril vir enigiets met meer as vier pote.)

Die stokou dokter (Hy’s minstens vyftig) gluur my onheilspellend aan van onder sy  ruie wit wenkbroue.  Hy is glo dié spesialis op sy gebied, maar vir my lyk hy soos ‘n kindermolesteerder.   In my kop verf ek vir hom ‘n rooi pruilmondjie, vals wimpers en ‘n blonde pruik in.  En hoëhakskoene.   Dit werk vir ‘n rukkie.  Maar toe hy begin sanik oor babavet en fiksheid, toe help niks meer nie.  Die man het die sensitiwiteit van ‘n werfbobbejaan.  Ek gaan aan die ween en ek storm daar uit soos genoemde bobbejaan wat ‘n slang gewaar het.  (Ek doen darem nie wat bobbejane gewoonlik dan doen nie.)

Ook maar goed, want wie sit in die wagkamer toe ek daar instorm met die grasie van  ‘n vlugtende trop buffels?  Marius.  Kompleet met sy botteltjie.  Heeltemal nonchalant.  (Nou weet jy sommer ook ons gaan gereeld Wildtuin toe, nie dat dit nou ter sake is nie.)

Glimlag hy te pragtig vir my:  “O hallo Mandi!  Jy het tog nie dat ou dokter Louw jou ontstel nie?  Almal weet hy is meer blaf as byt, man!”

En ek?  My droomheld praat vir die eerste keer met my, en ek probeer koponderstebo by hom verbydruk en ontsnap.  Nog net die afstamp kom kort, dan was ek Joost se moses.  (Nie dat ek nou eintlik veel van Joost se afstamp weet nie; ek weet meer van sy lieflike kuiltjies.)  Maar ek hou nie rekening met my ma wat die agterhoede dek nie.

“My aarde, het jy ‘n vriend raakgeloop?”  koer sy in my ore.   “Gaan jy my nie voorstel nie, Mandi?”

My ma is nie net aanhoudend nie, sy is ook skraal en fiks.  Nie té maer vir haar ouderdom nie, dit sou ook oraait gewees het met my, maar gesond maer, móói maer.  Ek háát dit.  (Maar natuurlik is ek eintlik baie lief vir haar, wat die hele ding tamelik ingewikkeld maak.)

“Ma, dis Marius,” mompel ek deur my hare.

“O natuurlik, die atletiekster!”  My ma het ‘n skokkende geheue.

“Ma, dis landloop, nie atletiek nie!” fluister ek, reg om in die aarde in te sink.

“Ag toemaar, ons hardloop net deur die veld en nie al in die rondte om ‘n vervelige baan nie, Tannie.”  Hy skud my ma se hand en kyk haar reguit in die oë, te pragtig.

Nou is daar geen keer aan Moeder nie:  “En wat maak ‘n sportster soos jy dan by die dokter, Marius?”  Berge en heuwels sal nie genoeg wees om my te bedek nie.

“Ek moet maar gereeld kom, Tannie.  Ek is al van kleinsaf ‘n diabeet.”  Slaat my plat met ‘n slap snoek.

Nou het sy hom behoorlik aan die arm beet:  “Hoe wonderlik dat ons jou hier moet raakloop!  Ons dink Mandi kan moontlik ‘n geval van Tipe 2 diabetes wees.  Vertel tog vir haar dis nie ‘n skande nie, dis ‘n blote siekte wat bestuur kan word!”

“Ma-a-a …” kerm ek in die agtergrond, pers in die gesig van skaamgeit, ek is seker daarvan.

“Ek sal sommer later vandag nog by julle ‘n draaitjie kom maak, Tannie, ek weet waar julle bly.”

Vergete is die nare bloedtoetse wat nog kom, vergete is my vrees vir daardie daaglikse inspuiting wat jy – behoede my – jouself moet gee.  Swerms rooi hartjies skiet deur my brein.  Ek sweef agter Ma aan motor toe:  Marius Bester weet waar ek bly!  Marius Bester gaan by ons kom kuier, al moet ons dan oor ons kwale praat soos twee oues in hulle laaste dae.   Ek sal met hom oor die kleinkoekiebedryf in Argentinië ook praat as dit moet.  As ek net ‘n sinvolle woord kan uitkry!  Ek kan soms die simpelse goed sê.

Ek dans deur die res van die dag met ‘n lied in my hart en ‘n lag op my lippe, ore gespits vir die deuntjie van die voordeurklokkie.  Ek oefen my glimlag voor die spieël, trek elke halfuur iets anders aan.  Ek picture hoe ek en Marius by een van die vele (rowwe) jaarlikse Valentynspartytjies aankom.  (Ek is nog nooit genooi nie.)

Teen die aand begin ek stadig terugkeer  na Moeder Aarde.  Waar kom ek daaraan dat hy regtig bedoel het hy sal kom kuier?  Gawe ouens soos hy sê soms gawe goed net oor hulle so gaaf is, nie oor hulle dit regtig bedoel nie.

Ek tref die aarde finaal met ‘n indrukwekkende slag toe ek die volgende dag sien hoe hang Sanet Breedt aan Marius se lippe.  En aan sy arm, oop en bloot vir die hele skool om te sien.  Hoe minder ek hier oor Sanet Breedt sê, hoe beter.  Genoeg om te sê daardie Breedt is nié breed nie.

In my verbittering hardloop ek saans ná skemer my longe uit en vervreet my daarna aan al die soetgoed waarop ek my hande kan lê.  Wat natuurlik my ma van erg na erger dryf.  Jy mors met jou gesondheid!  Dis gevaarlik om so in die donker te gaan draf.  Die soetgoed is sleg vir jou.  En so aan.  En áán.  En AAN.  Asof ek nie al dié goed weet nie.

So gebeur dit dan dat ek een aand ‘n mede-nagsluiper raakloop.  Of liewer, raakdraf.  Letterlik.  Die slag is nie ‘n ligte slag nie, maar ons oorleef darem albei.  Fielie, van die nuwe gesin onder in die straat.  In matriek, soos Marius.  Nie te sleg as jy nie omgee vir ouens met name soos ‘n hond nie.  Kon netsowel Fido gewees het.  Elk geval, daar bots ek en Fielie dat net sweetdruppels spat.  Nee, hy gryp my nie stewig vas in sy sterk arms nie.  Ons herwin albei darem ons balans ná ‘n vreeslike armswaaiery en onbeholpe sidesteps en verleë verskonings.  Toe  staan en hyg ons ‘n paar oomblikke sprakeloos in mekaar se gesigte.  En begin dan natuurlik albei gelyk praat, van pure verleentheid:  “Haai, hoekom hol jy so in die donker rond?” vra ons vir mekaar.  En wil ons toe doodlag.

Hy is eerliker as ek, of dalk net dapperder:  “Ek is te skaam om bedags te gaan draf.”

“Hoekom dan?” glip dit uit my verraderlike mond.  Hy is nie vet nie.  Miskien ‘n bietjie mollig, of wat seuns ookal is.

Die stilte rek uit.  Ek kan myself skop.  Hoe kan ek so hans wees met ‘n ou wat ek van g’n kant af ken nie?  Sien hom soms van ‘n afstand by die skool, neus is altyd in ‘n boek, en dis ook al.  Bietjie nerderig, met ‘n ronde brilletjie.  Harry Potter noem die kinders hom.  Blykbaar gruwelik slim.  Ek ys as ek dink aan die onnosel goed wat ek soms (dikwels) kwytraak.  Soos sopas.

“Ek is te dik, en my wange dril as ek hardloop.”  Kan jy nou meer!  ‘n Slimkop in matriek net so skaam soos ek!

“Toemaar, meisies het erger goed as wange wat kan dril.”  Ek bloos my daar in die donker vuurwarm vir my eie vooraangeit.

So praat-praat het ons begin aanstap.  Hy loop ewe saam tot by ons hekkie.  Pure gentleman.  Mag my ma tog net nie iewers by ‘n venster uitkyk nie!  Sy is geneig om soms effens te oorreager waar dit haar enigstetjie aangaan, om dit nou sagkens te stel.

Die drawwery is skielik stukke lekkerder.  Sonder afspraak kry ons mekaar elke aand, hardloop tot ons moeg (of fedup) is, stap dan praat-praat terug.

Intussen het Sanet Breedt soos ‘n eksotiese orgidee vasgegroei aan Marius se arm.  Hulle twee is ‘n item, dis duidelik.   Ek maak my dae om deur in my kop prentjies te maak van al die nare goed wat met haar kan gebeur.  Soos ‘n moeder van ‘n zit  reg op haar ken.  Of ‘n harde swart krulhaar wat uit haar neus groei.  Of ‘n bultende pers spataar in die sagte waai van haar gladde bruin bene.

Alles tevergeefs:  Sanet word net mooier en mooier.   En Marius snel my nie te hulp in my waas van diabetes-angs nie.  Dis my ma wat inligting van die internet aflaai; dis my ma wat kloek en koer toe ek aanhou flou val by die bloedtoetse.  Ek skaam my byna dood.  Mandi die moroon kan nie sonder haar mamma nie.

Op ‘n dag loop ek my by die skool in Marius vas.  Pure ongeluk, rêrig nie aspris nie.  Vir ‘n wonder is die groeisel aan sy arm nie in posisie nie.  Hy kyk my vir een hemelse oomblik vas in die oë.  My hart stoot suiwer sjokolade deur my are.  “O hallo, Mandi!” groet hy, “Ek wou nog ‘n draai kom maak het, maar ek het nie jou adres nie.”

My sjokoladebloed verander in suiwer asyn.  “Siestog, en dis so moeilik om op te spoor!” bits ek.

“Haai, Mandi, is jy nou kwaad?” roep hy nog ewe agterna.

Natuurlik is ek kwaad.  Ek is briesend, woedend, verwilderd kwaad.  Leuenaar, tweegesig, manteldraaier, tweegatjakkals!  Mag ‘n aaklike moesie op sy wang uitkom, reg langs daai soenbare mond, dat Sanet haar morsdood gril.  Mag hy reg voor die wenstreep oor sy eie voete val; mag die naald môreoggend vassit in sy lieflike boud.

Suzie sê hulle het uitgemaak oor Sanet so jaloers is.  Suzie sê nou moet ek pounce.

Ek is nie meer lus vir pounce nie.  Ek mag ‘n pateet wees, maar ek het ook my trots.  Geen wurm is so laag soos die een wat beloftes maak en dit dan nie uitvoer nie.  Al is dit hóé klein.  Ek is klaar met Marius Bester.

Suzie sê ‘n meisie moet oppas om té picky te wees.

Tuis wag my ma my jubelend in.  Die toetse was negatief.  Ek het (nog) nie diabetes nie.  Maar ‘n hele kaboedel waarskuwings kom saam met die blye nuus: leefstylverandering dringend aanbeveel, gereelde matige oefening, gebalanseerd eet.  Gereeld laat toets.  Bla-bla-bla.  Ek is nie eens bly nie.  My hart is gebreek.

Ek gaan skool toe met die vaste voorneme om te vergeet van Marius Bester.   My voorneme hou skaars tien minute.  Dit kom tot ‘n onelegante einde toe sy graad 8-sussie die kaartjie kom aflewer.  Pragtige rooi hartjies:  Be my Valentine!   Uitnodiging na die Valentynspartytjie by Johan se huis.  My hart gaan in overdrive, die sweet slaan tussen my borste uit.

Suzie loer oor my skouer en sê die parties by Johan-hulle raak altyd rof.  En ek dag sy’s die een wat gepraat het van pounce.

Ek druk die mooie kaartjie summier terug in die kind se hand:  “Jou broer is lekker simpel!   Ek laat gebruik my nie om vir Sanet te spite nie!”  Ek is darem nie heeltemal dig nie.

“My broer is nie die spiteful  tipe nie, ek sweer.”  Sy’s duidelik aangesê om nie nee vir ‘n antwoord te vat nie.  Ek swig.  Tot my ewige spyt.

Die date van my lewe is ‘n flop van begin tot einde.  Marius kom hopeloos laat by my aan, toe ek al vyf keer aan- en uitgetrek het en ál die soetgoed uit die yskas geëet het van pure stres.  Ek het uiteindelik gesettle vir die rooi toppie en die rooi hipster.  Dit is after all Valentynsdag.  Die magie wat onder die toppie uitsteek, is nie plat en bruin nie; dis sag en wit.  Ek lyk en voel soos ‘n baba-walrus wat sonbrand opgedoen het.

Die party ráák nie rof nie, hy begin sommer rof.  Die meeste kinders koek om die hubbly in die hoek.  Toe my neus die eerste walmpie optel, toe weet ek vanaand stook hulle hom nie met die gewone onskadelike flavours  nie.  Johan se ouers is nêrens te siene nie.  Die musiek laat die Polisiekarre na maatjies op ‘n Sondagskoolpiekniek klink. Ek is heeltemal uit my diepte uit.

Ek lig my (sagte wit) ken.  Ek gaan my nie in ‘n blik laat druk nie, nie eens vir Marius Bester nie.  Ek proe my Coke is gedokter en ek gee dit vir hom terug.  Ek ruik die dagga en ek weier om vir die sports ‘n trekkie by die hubbly  te vat.  Ek pik soos ‘n kobra toe hy sommer begin met ‘n close dance  en sy hand by my rooi toppie insteek.  Hy strip hom gruwelik en los my net daar.  My droom date, en hier sit ek:  muurblommetjie, aap, fool van die aand.

Die ergste kom nog:  Sanet arriveer met die glans van die Koningin van Skeba, aan die arm van … Fielie.  Binne tien minute hang sy weer op haar regmatige plek aan Marius se arm.  Lyk my sy kan g’n op haar eie regop staan nie.  Ek kán, al bars dit ook.

Maar wat het Fielie tog besiel? Ek dag hy is my vriend.

Ek krimp weg in my hoekie.  Ek verlang na my ma.

Die vernedering brand in my arme hart.   Ek sluip buitentoe met my selfoon.  Moroniese Mandi moet haar mamma bel.  Niemand gaan my eens mis nie.  Ek pas nie in nie.  Ek is ‘n freak.  ‘n Dik, dom freak.

“Kom, ons ry!”  My oorstuurde hart gaan staan omtrent.  Dis Fielie.  “Ek het net vir Sanet gebring, Mandi.  Sy was so hartseer; sy’s regtig erg oor hom.  Ek het eerlikwaar nie geweet jy is saam met hom nie.”

Ek ry saam.  Ek stort ‘n paar trane teen Fielie se bors.  En voel wonderlik getroos.  Hy gee my ‘n lekker druk voor ons deur.  Ek raak helemaal mal:  Ek nooi hom in en vertel die hele gemors vir my ma-hulle.  Arme Fielie is natuurlik die held van die huishouding.  Hy weet nie watter lat hy vir sy agterkant gesny het nie:  ek kan sweer die trouklokkies lui al in my ma se agterkop.

Ek vertel vir Suzie die smartlike verhaal van my held se swak gedrag in kleur en geur.   Sy sal wel toesien dat die hele skool ingelig word.

My hart is stukkend.  Maar ek vermoed hy gaan weer heel word.  Kort voor lank.

Ek en Fielie hardloop nie meer snags in mekaar vas nie.  Ons stap nou helder oordag flink en vinnig met ons arms 90 grade gebuig en ons gesigte in die son.  Ons drillende dele het al minder geword, en dit was in elk geval nie so erg nie, dit weet ons altwee nou.  Ons gesels sonder ophou.  Hy is so slim dat hy kan slim wees sonder om ander mense onnosel te laat voel.

En Fielie se naam is natuurlik eintlik Philip.  Mandi en Philip, Philip en Mandi.  Nie so sleg nie.  Pas nogal, soos bruinbrood en blaarslaai. Effens ongewoon,  maar ‘n mens raak gou gewoond daaraan.

Diabetes kan bestuur word, maar die liefde laat hom nie bestuur nie.  As hy jou wil vat, dan vát hy jou.

Ek spartel lankal nie meer nie.

My skroewe is almal stewig vasgedraai, my albasters veilig in hul sakkie.