‘n Kwessie van balans het in Huisgenoot van 11 Augustus 2005 verskyn – in die dae toe ons nog radiowekkers voor ons beddens gehad het.
DIT MOET DIE RADIOWEKKER WEES. Elke oggend knap na 03:00 knipoog hy. Net één keer. Maar dan’s ek wakker. Helder wakker. En hónger daarby.
Ag nee! Dis alweer sulke tyd … Die deur na droomland is gesluit
Insomnia*
Tot my innige spyt het ek nie die geneigdheid om soos onse Koos liedjies of boeke te skryf as ek nie kan slaap nie. Al wat ék doen, is stres en eet.
Ek kyk die wekker boos in die oog. Hy sit rustig op my bedkassie en trek nie ‘n spiertjie nie. Ek draai links om 03:27. Ek draai regs om 03:47. Ek gaan toilet toe om 04:04. Die stram kraan is strammer as ooit. Die groot spieël se uitdrukking is dof; sy’s ‘n meisie vir die lig. Deesdae verkies ek haar in die donker, dan het sy geen mag oor my nie.
Die enkele trappie na die kombuis lê en wag vir my met sy gewone vermakerige grinnik. Maar ek is te vinnig vir hom. Hy gryp nog na my enkels, toe het ek alreeds die ketel ongemerk bekruip en in ‘n stewige greep beetgekry. Dié stoei verbete, maar die koue straal water in sy keelgat kry hom gou onder beheer. Altyd beter om ferm te wees, veral met deesdae se elektroniese jongelinge.
Insomnia
Jy’s die overture wat my ure begelei
Insomnia
Ek is wakker, dus is daar geen rus vir my
Insomnia
Terwyl ek wag vir die water om te kook, dink ek aan my pa. Koue winteraande is vir my sinoniem met stomende bekers soet rooibostee en met Pa.
Vir my pa was ek altyd goed genoeg. Nes ek is, klein fabrieksfoutjies en al.
Een enkele taxi, een enkele stopstraat, en ek is sonder die man vir wie ek altyd goed genoeg was. Dis al ‘n paar jaar en dis nog altyd seer.
Dis lankal nie meer winter nie, maar ek voel koud tot in my binneste gebeente. Ek vat my tee en kaastoebroodjie en gaan klouter terug in die bed. Toe bel ek my ma. Ek kan behoorlik vóél hoe sy skrik.
“Ma, ek kan nie met Francois trou nie,” snik ek skuins voor 5:00 in haar verstomde ore.
My ma is ‘n merkwaardige vrou. Sy herwin haar teenwoordigheid van gees blitsvinnig. “Dis goeie nuus, Sussie! En hoekom nie?”
Ek was onnosel genoeg om simpatie te verwag. Ek het gerieflikheidshalwe vergeet my ma het die liefde van my lewe beswaarlik een kyk gegee, toe’s hy kant en klaar afgekeur en afgeskryf.
“Sy ogies sit darem te na aan mekaar,” was al wat ek uit haar kon kry. Nou kliek ek eers sy het my maar net tyd gegee om self my fout agter te kom. En natuurlik gebid dat dit bars. Watter kans het die arme man dan nou eintlik gehad?
Ek snuif en sukkel, maar eindelik kry ek dit darem uit: “Hy … hy … hy sê ek moet my borste laat groter maak, Ma!” Nou blêr ek behoorlik. Die vernedering om dit selfs net vir my ma te sê!
En wat doen sy? Sy skater dit uit. “Ag, Sumientjie, my arme kind, Ma is so bly!”
“Mááá!?” Nou’t ek haar waarlik verloor.
“Ek was so bang iets vreesliks moes eers gebeur voor jy deur hom sien, my kind.”
“Maar dit ís vreeslik, Ma!”
“Natuurlik is dit vreeslik, Sussie, maar hy kon jou verneuk het, of getroud gewees het, of lang vingers gehad het.” Sy lag sowaar alweer.
Ek sien dadelik Francois se vingers voor my; pragtig, soos die res van hom. Slanke, goed versorgde vingers wat ek dwarsdeur hierdie wonderlike winter verbete van my bates af gehou het. Het ek heimlik gevrees genoemde bates gaan geweeg en te lig bevind word? En ek dag dis van kuisheid! So kan ‘n mens nie eens meer jouself vertrou in hierdie bose ou wêreld nie.
“Maar ek het hom lief, Ma!” Dit pyn in my lyf as ek net dink aan ‘n lewe sonder hom.
“Maar het hy jóú lief, Sussie? Soos Pappa vir my lief was?”
Daar hét sy my. My pa was versot op my ma; hy het geen geheim daarvan gemaak dat sy vir hom pragtig was nie. En my ma is geskape met donderdye en twee minuskule ou molshopies, soos haar ma en dié se ma voor haar. En soos ek.
EK HAAL DIE WERK WEER eens leepoog en hoogs befoeterd. Soos die liewe duiwel dit wil hê, is dit nou juis dié week my beurt by Navrae. Gewoonlik geniet ek die spitsvondighede en onnoselhede van die studente; ek het self nog maar net-net daardie skoene ontgroei. Teenswoordig kyk ek hulle egter met wrewel aan. Lui, bedorwe en onverantwoordelik, de leste een van hulle. Veral die spul mansmense; dink almal hulle kan hul pad deur die lewe oop charm. Jammer, maar vir my werk dit nie meer nie.
Die een moet onmíddellik dié spesifieke boek uitneem. Nóú. Ja, hy weet dis op Reserwe geplaas, maar hy kan nie hier geswot kry nie, die plek se ambience is nie vir hom reg nie. Ek sweer hy het iewers ‘n onnosele ou meisietjie wat hom gedwee help opsommings maak. Of dit vír hom doen.
Die volgende een is weer boos oor sy boeke nié meer op Reserwe is nie. Wáár moet hy hulle nou in die grote biblioteek kry? Ja, die seminaar moes al verlede week ingewees het, maar …
Die klomp in die oop studiearea vry meer onderlangs as wat hulle swot. Die plek hang so dik van seksuele ondertone, ‘n ordentlike mens kan omtrent nie asemhaal nie.
Ja, jy’s reg, ek voel stokoud en my humorsin het my verlaat. En ek is veronderstel om so ‘n sonnige ou mensie te wees.
Die enigste ligpuntjie in my donker Afrika laat my darem nie in die steek nie. Gewoonlik knik hy bloot vriendelik in die verbygaan, die grys oë sag agter die brilglase.
Maar vanmôre halt hy by my toonbank. “Juffrou Retief, is iets verkeerd?” My naam staan natuurlik gespeld op my skamele bates vir algar om te sien.
‘n Sagte pienkerigheid slaan om sy ore uit. Ek kan my oë nie glo nie: Ben du Toit, dié Ben du Toit, bloos as hy met ‘n meisie praat!
Ek kry sommer lewe: “Wat bedoel u, Doktor?” Dit voel my ek het dae laas spontaan geglimlag.
“Jou glimlag is nie op sy plek nie, Juffrou.” My hart smelt in my ribbekas. Bekroonde digter, bekwame akademikus, en hy sien dit raak as een van die juniors by die universiteitsbiblioteek nie op haar stukke is nie. Dis meer as wat ek van my dierbare kollegas kan sê; hulle lewe vrolik voort, onbewus van my ellende.
Ek kan dit nie glo nie, ek fladder sowaar my wimpers vir die man. Pure instink. “Ek is jammer, Doktor, as u nie tevrede is met die diens wat u ontvang nie.” Kastig baie professioneel.
Die pienk tintjie word ‘n graad donkerder: “Geensins, Juffrou, geensins. Ek sien net jy is nie so op jou stukke soos gewoonlik nie.” En weg is hy na sy gewone hoek waar hy elke vrye oomblik sit en werk. Waaraan weet ek nie. Kan ‘n volgende pryswenner wees. Op sy paar in die dertig jare ryg hy hulle soos krale aan ‘n snoer in. Hulle staan almal netjies op my rakkie, en word dikwels liefhebbend daar afgehaal. Hulle is propvol wonderskone liefdesgedigte.
DIE AAND SIT EK MY selfoon af en kruip vroeg in die katel. Maar ek slaap nie. Ek dink. Diep en eerlik, tot op die been. Wat ek daar sien, is nie vir my mooi nie.
Ek sal die liefde van my lewe moet afsê. Ek kan nie met ‘n man trou wat aan my wil laat sny vir sy eie plesier nie. Dit help ook nie veel dat ek ‘n vieslike vrees vir ‘n hospitaal het nie.
Maar hóé? Hoe kry ek myself sover? Hoe oorleef ek daarna?
Die afgelope winter was een lang fees. Francois weet hoe om ‘n vrou soos ‘n vrou te laat voel. Ek is in styl die hof gemaak, tot in die afgrond bederf. Ek het in ‘n stratosfeer ver bo die gewone sterwelinge gelewe. En ampertjies daarin geslaag om my ma se voorbehoude as onbenullig af te skryf.
Soos alle seisoene moes ook hierdie winter in die tyd oplos tot blote herinnering. Ek het niksvermoedend die mooiste, mooiste maand tegemoet getrippel. Reg vir die somer, liggies gesonbruin (wonderlike roompies wat ‘n mens deesdae kry), nuwe smaakvolle tweestuk, sonstrepies in die hare, de lot.
Dit was ‘n jubelende dag, die see so blou soos my lief se oë, die strande so wit soos sy stralende glimlag, my hart so sag soos die sagste malvalekker. Tot ek my sarong gemaak onverskillig laat val.
Toe sê die klop van my hart, die lied op my lippe, die glans in my oë vir my: “Ons sal iets aan jou borste moet laat doen voor ons trou.” En ek staan daar oopmond soos ‘n vis wat sy dam verloor het.
Behulpsaam gaan hy voort: “As jy gewig verloor, sal jou ou borsies heel verdwyn, ons sal moet help.” Dit suis in my ore. Gewig verloor? Help?
Praat mooi geduldig met my asof ek tien jaar oud is: “Jy gáán tog gewig verloor, Sumientjie, jy kan tog nie só trou nie …”
Nie só trou nie? Nie hóé trou nie? Die lankverwagte t-woord waai soos die wind by my verby.
Maar ek het waaragtig tjoepstil gebly. Hy het nie ‘n idee my ou wêreldjie het ophou tol nie; hy’t my lafhartige stilte sekerlik as instemming vertolk.
Wonderbaarlik het ek die dag oorleef en die veilige hawe van my woonstel gehaal. Waar ek nog steeds verward en verwond my letsels sit en lek. Gaan werk toe, doen die nodigste, en verder net tob, tob, tob …
Miskien is rou ‘n beter woord. Want gaandeweg besef ek iets het gesterf: my droom van ‘n huwelik soos my ouers s’n.
Ek ontpop as ‘n bobaas spekskieter; verskonings om Francois nie te sien nie rol soos heuning van my lippe. Snags dwaal ek rond en praat met die lewelose goeters in my woonstel en verorber berge trooskos en stel die bose dag van konfrontasie uit.
En bestudeer myself nakend in die spieël. Tot vervelens toe. Uit elke denkbare hoek. Daar is niks verkeerd met my oë of my spieël nie – ek is nie werklik oorgewig nie. Bietjie uit balans, ja, bietjie rond om die boude, baie effentjies by die boesem langs – maar lelik, skreiend, aanstootlik oorgewig? Aikôna!
Elke dag kyk Ben du Toit se sagte oë besorgd na my. Op die tiende dag van my foltering vra hy my vir middagete, bekoorlik pienk by die ore langs. Kan dit wees dat hierdie man met die wondermooie woorde ook maar skaam is soos ons gewone siele hier op aarde?
Ek versluk my amper en aanvaar op uiters onsjarmante wyse, onervare bakvissie se moses. Ons sit my uurtjie etenstyd gemaklik om in die kafeteria, mens sou nie dink ons is volslae vreemdelinge nie. Ek onderskep ‘n paar bewonderende blikke in sy rigting; dis soete balsem vir my beswaarde gemoed.
En so wragtag, sowaar as wat parra manel dra, by die eerste teken van opregte besorgdheid keer ek die hele sak patats in sy skoot om. Ek het self nie besef ek is so wanhopig nie – of miskien is dit bloot omdat hy ontpop as lid van ‘n skaars en kosbare spesie: ‘n man wat kan luister.
Francois is beter met praat as met luister.
Ben du Toit kyk my ernstig aan en spel die antwoord vir my uit: “Die liefde is veronderstel om blind te wees, Sumien.” So eenvoudig soos dit.
EK HUIL VIR OULAAS ‘N nag deur en voer laaste gesprekke met my meubels en toebehore. Toe maak ek – te lafhartig om te bel – per sms ‘n afspraak om Francois in die Blou Duif te ontmoet. Die Blou Duif is nie ‘n plek waar plebs uithang nie. Francois is ‘n bekwame jong regsgeleerde met sy oog op ‘n politieke loopbaan; hy moet op die regte plekke gesien word.
En sy vrou moet plankdun boude en ontwerperstieties hê. Ek moes dit tog geweet het. Miskien hét ek – diep, diep iewers waar ek nog ‘n bietjie verstand oorhet.
Daar is niks fout met my nie; ek is ‘n doodnormale jong vrou wat toevallig nie ‘n strykplank vir ‘n lyf gekry het nie. En nie sommer enige man hoef te vat net om nie alleen oud te word nie. So spook ek om myself moed in te praat.
In die gedempte atmosfeer van die spoggerige restaurant sal ek my saak kalm en saaklik stel. Geen scenes nie, belowe ek myself. Die moeilikheid is dat ek my voormoeders se humeur saam met hulle boude geërf het. My ma vertel hoeka graag die storie van haar ouma Susara wat die predikant van die werf af gejaag het toe hy haar toorn ontketen het. Was glo ‘n vreeslike skandaal.
Ek poeier en paint die hele middag voor die afspraak; ‘n meisie moet darem ‘n veldslag gewapen binnegaan. Toe ek eindelik (opsetlik) tien minute laat arriveer, staan Francois galant op, omhels my teer en wink die kelner nader vir sjampanje. Ek kry omtrent nie ‘n woord in nie.
Eintlik kry ek omtrent nooit ‘n woord in nie.
Ek kan nie die aand noual bederf nie, ek sal wag tot die nagereg, dink ek met my hart in my keel. My hande is klam gesweet, ek wil-wil hiperventileer. Ek tel stadig tot tien en bedwing die lus om die glas sjampanje in my angstige keelgat om te keer.
Ek kyk vir oulaas goed na die man oorkant my. Hy is so mooi, dit maak seer. Is ek nie te rigied nie, te gou om te oordeel nie? Wat as ek ‘n fout maak?
Hy glimlag met my, praat galant met die kelner oor die voorgereg. Sonder dat ek geraadpleeg word.
Die subtiele beligting en die strelende melodie van die gereelde vioolspeler laat my ‘n bietjie bedaar. Sal maar die kos geniet, na dese is dit weer terug steakhouse toe met my. Waar ek hoort.
Ek vat my sjampanjeglas fyntjies vas en ledig dit met ‘n klein, beskaafde teugie. En ietsie koels kom lê teen my lippe.
Die aardbol steek vas in sy spore, die sterre snak na asem. Oorkant die tafel kyk die man van my drome my triomfantlik aan.
Onder in my glas lê ‘n moeder van ‘n diamantring vir my en kyk.
Dis ‘n aaklige ring, heeltemal te groot en te swierig vir my.
Die kelner is sjarmant by met ‘n spesiale servetjie, hoog in sy noppies met sy aandeel in hierdie fiasko. Die monster van ‘n ring word bekwaam van sy sjampanjebad verlos en mik vir sy pad na my linkerhand.
Ek sit op albei my hande, skone beangste skooldogtertjie. “Ek kan nie die ring vat nie, Francois,” piep ek verleë.
“Hoekom nie, Sumientjie?” Sumientjie, my voet, net my ma noem my nog so.
“Ek wil nie met jou trou nie, Francois.” My stem klink yl en dun.
“Waarom nie, Sumien?” Sy stem styg so ‘n aksie.
“Omdat jy my nie regtig liefhet nie, Francois.” Ek voel ‘n ietsie sterker.
“Hoekom dink jy so?” Sy mooi gesig het rooi geword.
“Omdat jy aan my wil laat sny, dis hoekom. Ek is nie goed vir jou nes ek is nie … jy wil ‘n vertoonstuk hê, nie ‘n vrou nie …” Ek kom nou mooi op dreef.
Hy’s onmiddellik woedend. En nie meer heeltemal so mooi nie. “Ek reik ‘n helpende hand na jou, Sumien! Ek gee jou die kans om jouself te verbeter en jy klap daardie hand weg!” Sy stem is nie meer heeltemal so diskreet nie.
Myne ook nie: “Ek wil nie verbeter word nie! Ek wil ‘n man hê wat vir my lief is nes ek is … Ek laat my nie so verneder nie …” Ek is nou lekker aan die gang; grootouma Susara kyk sweerlik trots af op my. Hier en daar begin ‘n paar koppe diskreet na ons kant draai.
Ek laat my nie stuit nie. Ek vertel hom die waarheid en ek doen dit deeglik. En effens luid, moet ek erken. ‘n Dik stilte daal oor die plek, die violis se strykstok vries bo sy instrument, die kelners fluister ekstaties agter hul wit handdoekies.
En in die stilte klap iemand afgemete hande … een, twee, drie keer. Dit gee my die laaste bietjie krag vir die doodskoot.
Ek gryp my handsak en marsjeer waardig by die mooie plek uit. Buite spring ek holderstebolder in my karretjie en jaag na my ma toe en huil ‘n volle uur lank. My ma lag glad nie. Sy tap vir my ‘n skuimbad en dra soet tee aan. Toe sit sy my in die bed op Pa se plek langs haar.
Ons praat die nag om. Die volgende oggend is ek vaal, maar daar’s vrede in my stukkende hart.
Alleen sal ek seker maar moet oud word, maar ten minste is al die vleis aan my lyf outentiek, soos die Vader dit geskape het.
Vir Hom is ek immers goed genoeg.
DIS ‘N RILLER VAN ‘N dag by die werk. Ek is moeg en my oë brand en my hart brand veel erger, maar ek stry die goeie stryd verbete. Ek wys ‘n vasberade grynslag vir die wêreld en hoop die pyn in my hart sal ééndag minder word.
Ben du Toit is nie vandag op sy gewone plek nie. Ek het nodig dat iemand omgee, dat iemand rááksien. Die wêreld het genoeg van sy eie sorge; niemand steur hom aan my nie.
Tienuur kom ‘n yslike bos rose die biblioteek binne. Die studerende (vryende) menigte lig in afwagting die koppe. Die bos rose kom by Navrae tot stilstand. ‘n Verleë gesig met lieflike pienk ore kom te voorskyn.
“Jy kan baie trots wees op jouself, Sumien. Jy het jou woord uitstekend gedoen.”
Die applous! Hy was dáár!
Toeval? Bestiering? Maak nie saak nie; Ben du Toit met die sagte oë is nou híér vir my. En wie is ek dan om te kla?
* Uit: Insomnia – Koos Kombuis
Van die CD ‘n Jaar in die son van Koos Kombuis en Valiant Swart